Deur Martjie Roos
Om saam te woon pleks daarvan om te trou, is deesdae al hoe meer ’n tendens en opsie vir talle paartjies wat in ’n liefdesverhouding is. Sommige paartjies verkies om weens praktiese of finansiële redes saam te bly, dikwels met die bedoeling om mekaar eers beter te leer ken voordat hulle die groot en permanente stap neem om te trou.
Wat die rede ook al is, die saamblyery kan nadelige en negatiewe gevolge vir ’n paartjie inhou as hulle uitmekaar dryf of as een van die twee partye te sterwe kom en daar nie ’n kontrak gesluit is nie. As ’n paartjie besluit om saam te bly, moet hulle eers om die tafel gaan sit om oor sekere belangrike sake te besluit, want die saamblyery kan byvoorbeeld finansiële implikasies en komplikasies vir albei partye inhou. Die paartjie moet net soos getroude paartjies sake soos hul finansiële bydraes en verantwoordelikhede onder die loep neem. Belangrike sake soos die afbetaling van skuld en watter komplikasies kan opduik as een van die partye te sterwe kom, moet ook bespreek en deurdink word. Vrae soos of daar voorsiening gemaak moet word vir onderhoud vir die ander party as die verhouding beëindig word of een van die lewensmaats sterf, moet ook gestipuleer word, veral as die een party finansieel afhanklik van die ander een is.
Die prokureur Dawid Matthee van Matthee Attorneys Ingelyf, raai paartjies aan om eers ’n goeddeurdagte saamwoonooreenkoms in samewerking met ’n prokureur op te stel. “Die konstitusionele wetgewing in Suid-Afrika beskerm nie ’n individu as ’n saamblyverhouding beëindig word of een van die partye sterf nie. Om hierdie rede is dit baie belangrik om ’n bindende kontrak tussen die twee partye te hê. Albei partye moet ook presies weet wat elkeen se regte, verpligtinge en verantwoordelikhede in die ooreenkoms is,” sê hy. “Elke paartjie se omstandighede, bates en laste verskil van ander paartjies s’n en daarom moet hulle nie net ’n kontrak van die internet of ’n standaard kontrak gebruik nie. Hulle moet verkieslik ’n kontrak opstel wat in al hul spesifieke behoeftes voorsien en na hul onderskeie belange omsien sodat elkeen se regte individueel beskerm word,” voeg hy by.
EIENAARSKAP VAN BATES
Daar is volgens Dawid ’n paar belangrike aspekte wat in ag geneem word as so ’n saamwoonkontrak opgestel en gesluit word. “Eerstens moet die eienaarskap van bates bepaal word. Die paartjie moet vooraf stipuleer wie wat besit. As die paartjie enige eiendom soos ’n woning of huis saam gekoop het of besit, moet daar oorweeg word wie wat sal kry of erf as die verhouding tot ’n einde kom of as een van die twee partye te sterwe kom.” As daar nie presies aangedui word wie wat besit nie, kan die een party verantwoordelik gehou word vir die ander een se skuld of die paaiemente van byvoorbeeld ’n motor, eiendom of lening.
Dit is ook belangrik dat bewyse van fakture of bankstate van alle aankope gehou word. “Dit kan ingewikkeld raak, want die een kan byvoorbeeld die motor koop en die ander party finansieel onderhou terwyl sy of hy die kos of gebruiksartikels aankoop. As hul paaie skei, is daar nie klinkklare bewyse van al die onkostes wat tydens die vennootskap aangegaan is nie en dit is ’n klassieke voorbeeld van die een party wat dan slegter daarvan afkom as die ander een,” sê hy.
Om albei se geld in een bankrekening in te betaal, kan ook nadelige gevolge hê as ’n paartjie se paaie skei, waarsku hy. “Ek raai saambly-paartjies aan om liefs hul eie persoonlike bankrekenings apart te behou, maar hulle kan wel tekenregte op die ander se bankrekenings verkry. As een van die twee partye sterf, kan sake gekompliseerd raak sou daar gesamentlike verpligtinge (skulde) wees en een vir die skuld, ’n lening of oortrokke rekening van die ander verantwoordelik gehou word.”
ONDERHOUD
Paartjies wat vir jare saamgewoon het en nie ’n saambly-ooreenkoms opgestel het nie, kan teëspoed optel as die een te sterwe kom en die oorlewende byvoorbeeld nie vir ’n onderhoudstoelae teen die boedel kan eis nie, soos in die geval van die Volks vs Robinson-saak. Mev Robinson en mnr Shandling het sedert 1985 tot 2001 saam gewoon en mnr Shandling het mev Robinson al die jare onderhou. Ná sy afsterwe het hy aan Robinson ’n geringe nalatenskap nagelaat en sy het ’n eis teen die boedel ingestel. Haar eis is ná ’n appèl in die konstitusionele hof verwerp omdat die oorlewende in ’n saambly-liefdesverhouding nie as oorlewende kragtens die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) kwalifiseer het nie.
“As die paartjie ’n kind of kinders saam het, kan die ma onderhoud van die biologiese pa eis as die paartjie se paaie skei. As die man nie die biologiese pa is nie, kan sy nie onderhoud vir haar kind eis nie, tensy die man die kind of kinders aangeneem het,” verduidelik hy.
ERFENIS
Die partye in ’n saamwoonverhouding kan ook nie van die oorlede party erf, ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging, waar die eerssterwende nie ’n testament nagelaat het nie. “Daarom is dit baie belangrik dat elkeen ’n testament opstel.”
Die oorlewende mag ook dalk nie as ’n begunstigde in die pensioenfonds van die lewensmaat kwalifiseer nie. Die partye kan meestal die tekortkoming in ’n behoorlike testament aanspreek.
Uittree-annuïteite, aftreefondse sowel as bewaringsfondse is onderhewig aan artikel 37C van die Pensioenfondswet. Volgens Jaya Leibowitz, senior regsadviseur van Allan Gray, kan die lid van die fonds afhanklikes soos ʼn lewensmaat of ander begunstigdes benoem, maar ná die afsterwe van die lid neem die trustees van die betrokke fonds die finale besluite oor die begunstigdes nadat hulle al die afhanklikes in ag geneem het. “As daar byvoorbeeld minderjarige kinders uit die saambly-vennootskap gebore is, kan die trustees besluit die kinders moet afhanklikes wees en moet ook begunstig word. Aftreefondse maak nie deel van die boedel uit nie. Lewende-annuïteite val weer onder die Langtermyn Versekeringswet van 1998 en betaal ná afsterwe van die polishouer aan die begunstigdes uit wat deur die afgestorwene benoem is. Indien daar geen benoemdes is nie, word die fondse direk aan die boedel oorbetaal.”
Mediese fondse se beleide en reëls verskil wel. ’n Lid van ’n mediese fonds kan sy of haar lewensmaat as afhanklike aanwys, maar dit hang af van die mediese fonds se regulasies of die afhanklike nog steeds op die mediese fonds kan bly as sy of haar lewensmaat sterf. “Dit is raadsaam dat paartjies die reëls en spesifikasies vooraf van hul betrokke mediese fonds vasstel as hulle ’n afhanklike benoem.”
Inkomstebelasting is minder gekompliseerd, meen Dawid. “Elke individu word deur SARS vir sy of haar verdienste en inkomste aanspreeklik gehou.”
Uiteraard kan dit tyd neem om al die verskillende kwessies met die ander party uit te klaar, maar dit sal albei partye net meer gemoedsrus gee as daar ’n saambly-kontrak in plek is wat ’n regverdige verdeling van albei partye se bates en belange verseker.
So loop ’n saamblyery skeef
Sunette* (55) het haar ekskêrel vier maande geken toe hulle besluit het om saam te bly. “Ek en Karel* het saam ingetrek met die oog daarop om binne ’n paar maande te trou. Dit het prakties ook net meer sin gemaak dat ek by hom intrek, omdat hy sy onderneming van sy huis af bestuur.”
Sunette het al haar meubels verkoop of weggegee, want Karel het al die nodige huisware gehad en haar meubels en besittings sou net oorbodig in sy huis wees. Sy het haar meenthuis verhuur en letterlik net met haar klere en ’n paar ander persoonlike besittings by hom ingetrek. “Ek het ná ’n maand se saamblyery besef dit was eintlik ’n yslike fout, want die prentjie van saamwoon wat ek in my kop gehad het, het glad nie met die werklikheid geklop nie. Maar ek was nogtans blind, want dit was vir my wonderlik dat dit nie nou net oor myself en my behoeftes in die lewe gaan nie, maar dat dit nou oor ‘ons’ gaan.”
Toe Sunette mettertyd besef die saamblyery gaan nie op ’n huwelik uitloop nie en al hoe meer rooi ligte begin flikker het, het sy besluit om die verhouding kort te knip en haar tasse te pak. “Ons het ongelukkig glad nie ’n saambly-ooreenkoms gesluit nie en ek het baie tydens die drie jaar wat ons saamgewoon het verloor. Ek moes byvoorbeeld weer vooraf meubels en huisware aankoop en dit het my finansieel lank gevat om weer op my voete te kom. Ek het nie net finansieel baie verloor nie, maar ook emosioneel. Ek het my selfvertroue verloor en my drome het ook in die hek geduik. Tydens die proses het ek wel baie duur lewenslesse geleer en ook besef hoe noodsaaklik dit is om ’n ooreenkoms op te stel voordat ek my weer daarin begewe om saam met ’n lewensmaat te woon.”
*skuilname
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Julie-uitgawe móét lees!