Jan Hendrik van der Westhuizen is die eerste Suid-Afrikaner wat in 2016 ’n Michelin-ster ontvang het vir sy restaurant JAN in Nice, Frankryk, waar hy gaste met egte Franse flair en ’n tikkie Suid-Afrikaanse nostalgie bekoor. Sedertdien het JAN daarin geslaag om elke jaar sy ster te behou.
Ouma Wes se pampoenkoekies
Genoeg vir 30
Bestanddele
- 700 g (3 k) gaar fyn gedrukte pampoen
- 275 g (2 k) bruismeel
- 2 eiers
- 5 ml (1 t) sout
- 15 ml (1 e) bakpoeier
- olie vir braai
Karamelsous
- 15 ml (1 e) botter
- 375 ml (1½ k) suiker
- 200 ml melk
Metode
- Pampoenkoekies: Meng al die bestanddele. Die mengsel moenie te styf wees nie – voeg nog ’n bietjie melk by indien dit te styf is.
- Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en skep ’n eetlepel vol van die mengsel daarin. Braai vir 1 tot 2 min. aan elke kant, of tot goudkleurig.
- Karamelsous: Smelt die botter en suiker in ’n middelslagkastrol oor lae hitte tot dit begin karamelliseer. Voeg die melk by, terwyl jy roer.
- Kook tot alles gesmelt is. 5 Sit die pampoenkoekies met die karamelsous voor.
