Beeld van ’n vrou: Miriam Makeba

Beeld van ’n vrou: Miriam Makeba deur Corlia Fourie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Miriam Makeba, die Suid-Afrikaanse sanger wat die wêreld met haar talent verower het, was nie net bekend om haar sang nie. Sy het haar ’n paar keer by die Verenigde Nasies teen apartheid uitgespreek. Sy was ook bekend as ’n vrou wat ander gehelp het veral ander uitgeweke Suid-Afrikaners. Nie net in New York waar sy jare lank gewoon het nie, maar ook later in Guinee in Afrika.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

En tog was sy ná die dood van Bongi, haar enigste dogter, baie hartseer omdat sy haar kind alleen in Guinee moes begrawe. Waar is al die mense wat ek altyd gehelp het, het sy gewonder. Maar haar toe daarin berus dat dit die lewe is. En voortgegaan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy is in 1965 Amerika toe om haar sangloopbaan te bevorder, en meer as dertig jaar het verstryk voordat sy weer hierheen kon terugkeer. Nadat sy haar teen die apartheidsregering uitgespreek het, is haar paspoort herroep. Heelwat ander lande, soos Kuba en Frankryk, het vir haar paspoorte en/of spesiale reisdokumente gegee.

Miriam Makeba is in Johannesburg gebore as Zenzile Miriam Makeba, die sesde kind van Christina Nonkomendelo Jele (’n Swazi) en die enigste kind van Caswell Mpambane Makeba (’n Xhosa). Haar pa, ’n onderwyser, het gesukkel om werk te kry en haar ma het hulle onderhou met die geld wat sy as huishulp verdien het. Haar ma het ook onwettig bier gestook. Toe Miriam 18 dae oud was, is haar ma betrap. Sy kon nie die boete betaal nie en moes ses maande tronkstraf uitdien. Miriam is saam tronk toe. Intussen het haar pa in Nelspruit werk gekry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hy is ses jaar later oorlede en Miriam het by haar ouma, haar ma se ma, gaan bly sodat haar ma kon werk. Daar was soms min kos, maar haar ouma, en haar ma as sy daar was, het altyd ’n plan gemaak sodat die kinders nie honger gaan slaap het nie.

Sang was die een goeie ding van Sondagskool en kerk, sê Miriam in The Miriam Makeba Story. “Ek was so lief vir sing. Niemand moes my twee keer nooi nie. Die huis was altyd vol sang. My ouma en my ma kon albei sing. My ma het al die tradisionele instrumente die mondfluitjie, die congas en tromme gespeel. Wanneer sy tuis was, het sy vir ons liedjies en danse geleer.”

Maar dis haar broer Joseph wat haar werklik ’n liefde vir musiek geleer het. Hy het klavier en ook die altsaxofoon gespeel en ’n groot versameling plate gehad. Wanneer sy vriende kom kuier, het hy die maer meisie ingeroep en gesê: “Kierie, kom sing.”

Sy het ook jare lank in ’n koor in die township gesing. Die dirigent, Joseph Motuba, het haar en twee ander meisies as ’n trio afgerig en vir eisteddfods ingeskryf. Deur haar sang het sy selfvertroue gekry.

Op skool het dit nie so goed gegaan nie. Haar ma het hard gewerk sodat sy haar skoolopleiding moes voltooi, maar Miriam het uiteindelik opgeskop om ’n huishulp te word om ekstra geld te verdien.

Sy het sedert haar skooldae met James Kubayi (Gooli) uitgegaan. Die eerste keer toe hulle seks het, het sy swanger geword. “Ek dink nie ek het baie van daardie dinge geweet nie.” Ná Bongi se geboorte het James jaloers geword en Miriam begin slaan. Uiteindelik het sy hom verlaat. Toe het sy haar voorgeneem dat ’n man haar nooit weer sleg sal behandel nie.

Haar ma, wat intussen ’n sangoma geword het, het Bongi opgepas sodat Miriam kon gaan werk. Haar eerste werk in Johannesburg was om die taxi’s van haar ouer niggie se man skoon te maak. Maar nie vir lank nie. Die niggie se seun en sy maats het haar gevra om die hoofsanger van hul sanggroep, The Cubans, te word. Die leier van ’n destydse bekende groep, die Manhattan Brothers, het Miriam raakgesien en gevra om saam met hulle te sing. Hulle het dikwels opgetree en ná ’n rukkie kon Miriam haar eie huis in Mofolo Township huur en kon sy haar ma en Bongi daar geldelik versorg.

Maar haar lewe op die verhoog was nie net glans nie. “Dit was nie die korrekte ding vir ’n vrou om op te tree nie. Ordentlike gesinne het geweier dat hul dogters die verhoog betree. Mense het vir my ma gevra hoe sy dit kon toelaat.”

Die Manhattans het ook buite Suid-Afrika bekend geword en in destydse Noord- en Suid-Rhodesië (Zambië en Zimbabwe vandag) opgetree. Destyds moes swartmense ’n nagpas gehad het as hulle snags in Suid-Afrika rondgery het. Omdat die Manhattans onafhanklike kunstenaars was, het hulle nie werkgewers gehad wat vir hulle sulke passe kon gee nie. Een aand op pad van Pretoria na Johannesburg het die polisie hulle voorgekeer. Haar broer Joseph het in Afrikaans verduidelik dat hulle sangers is. Die polisiemanne het hul motorligte aangeskakel en gesê: “Sing dan.” En hulle hét.

Aan die einde van die jare vyftig het Miriam en Hugh Masekela, haar toekomstige eggenoot, mekaar ontmoet toe hulle saam in King Kong opgetree het. Daardie jaar het sy ook in ’n anti-apartheid dokumentêre rolprent, Come Back, Africa, van die onafhanklike rolprentmaker, Lionel Rogosin, gespeel. Sy het die première van die prent by die Venesiese Rolprentfees bygewoon en daarna na Londen gereis waar sy Harry Belafonte ontmoet het. Deur sy toedoen is sy na Amerika waar roem op haar gewag het. Sy het baie van haar beroemdste treffers, soos “Pata Pata”, “The Click Song” (“Qongqothwane” in Xhosa) en “Malaika” daar gesing.

Harry Belafonte het soos ’n ouer broer teenoor haar opgetree. Voor haar eerste optrede het hy haar aangesê om haar hare reguit te laat maak. Maar toe sy tuis in die spieël kyk, het sy nie soos Miriam gevoel nie en haar kop onder die kraan gedruk. Harry het haar ook aangesê om mense in die oë te kyk, “maar in my kultuur kyk jy af as jy met ’n man of ’n ouer mens praat en dit was vir my te moeilik.”

“In Amerika het ek gou agtergekom dat ek anders, besonders is. Dit was my krag. Ek het besluit dat ek net met musiek van Afrika iemand sal kan wees. Ek was die eerste Afrika-kunstenaar wat in Amerika opgang gemaak het.”

Toe sy in New York na ’n eie woonstel trek omdat haar dogter, Bongi, by haar sou kom woon, het sy besef dat sy vir die New Yorkers baie vreemd is. Omdat sy nie ’n motor gehad het nie, het sy die baba wat sy vir vriende opgepas het, op haar rug vasgemaak, haar tas op haar kop gesit, twee sakke in haar hande gedra en die sypaadjie gevat. New Yorkers het langs haar stilgehou en verstom gevra waar sy vandaan kom.

Kort nadat Bongi by haar aangesluit het, is haar ma in Suid-Afrika dood. Miriam wou die begrafnis bywoon, maar by die Suid-Afrikaanse konsulaat moes sy hoor dat haar paspoort herroep is. Nadat sy haar in 1963 by die Verenigde Nasies teen apartheid uitgespreek het, is haar Suid-Afrikaanse burgerskap en haar reg om na Suid-Afrika terug te keer, teruggetrek.

Uitgesluit uit Suid-Afrika het ander Afrikalande haar met ope arms ontvang en sy het baie konserte op dié vasteland gehou. Binne enkele jare het sy in Tanzanië, Ethiopië, Soedan en Ghana gesing. In Amerika was sy vriende met beroemdes soos Marlon Brando en Nina Simone.

Te midde van die werkdrukte het sy servikale kanker opgedoen en haar uterus is verwyder. Sy was baie hartseer omdat Bongi die enigste kind sou bly.

Sy en Hugh Masekela, wat ook in New York gaan werk het, het verlief geraak en hulle is in April 1964 getroud tydens ’n klein onthaal wat Bob Ballard van RCA Victor vir haar by sy huis in Connecticut gehou het.

Ná die troue het sy, Hugh en Bongi in ’n pragtige huis in New Jersey ingetrek. Sy en Big Brother, soos sy Harry Belafonte genoem het, het daarna deur die organisasie South African Students Abroad (SASA) heelwat Suid-Afrikaanse studente en musikante met geldelike probleme gehelp. Sy het ook musiekaande in haar huis gehou en groot maaltye vir die jongmense gekook. Oliver Tambo het al die uitgewekenes ontmoet toe hy in New York was en hulle aangemoedig om sterk te staan.

“Dit was moeilik om dié soort druk te verwerk en as uitgewekene in ’n ander land te moes leef,” het sy gesê, haar harde werk en die sukses wat daarop gevolg het ten spyt. Van die ander uitgewekenes het in daardie stadium met drank en dwelms deurmekaar geraak. Baie het depressief geword. Ander is dood, soos die jong joernalis Nat Nakasa, wat selfmoord gepleeg het toe hy agtergekom het dat hy nie kan teruggaan huis toe nie.

“Dit het ook my en Hugh se huwelik vernietig. Die fout wat ons gemaak het, was om te trou. Ná net twee jaar was ons huwelik op ’n einde.” Sy het hul huis verkoop en New York toe getrek.

In 1966 het sy en Harry Belafonte ’n Grammy gewen vir die beste folk opname met “An Evening With Belafonte/Makeba”. Miriam sê dat sy die beeldjie in haar omswerwinge verloor het. Sy het darem nog ’n foto daarvan. In die beginjare het sy nie baie van kopiereg geweet nie en vir sommige van die liedjies wat sy gekomponeer het, het sy niks gekry nie.

“My lewe is soos ’n klimtol, soms is ek bo en soms heel onder.” Die laagtepunt van hul sukses as sangpaar het gekom toe sy en Harry stry gekry en daarna nooit weer saamgewerk het nie.

Met ’n konsertreis na Guinee het sy Stokely Carmichael (hy het later sy naam na Kwame Turé toe verander) van Trinidad ontmoet. Hy was betrokke by swart politiek in Amerika en die “Ere-eerste Minister” van die Black Panthers. Haar verhouding en troue met Stokely het vir die Amerikaners ’n omstrede kwessie geword, met die gevolg dat Miriam se kontrakte gekanselleer is.

Sy en Stokely, tien jaar jonger as sy, het in 1969 in Guinee gaan woon. Sy was 36 en ’n ouma, want Bongi het op sestien ’n baba gehad. President Ahmed Sékou Touré en sy vrou het vriende van die Carmichaels geword. Daar was heelwat politieke onrus in Guinee, maar Miriam het probeer om haar huishouding so gewoon moontlik te bestuur. Weer was hul huis in Villa Camayene die toeloop van talle studente en uitgewekenes wat Miriam kos gegee en getroos het. Intussen het sy voortgegaan om in Afrika en Europa op te tree.

Tien jaar nadat sy en Stokely getroud is, was daar ’n ander vrou in sy lewe en is hulle geskei. Bongi het by haar ma gaan bly en ná haar derde baba saam begin toer. Sy was ’n talentvolle liedjieskrywer en sanger uit eie reg. Bongi se jongste seun, Themba, is aan ’n koorssiekte dood toe Miriam hom versorg het. Toe Bongi by die huis kom, was sy so ontsteld dat sy daarna nooit weer heeltemal gesond was nie. ’n Jaar ná haar dood in 1985 het Miriam in Brussels gaan woon.

Twee jaar later het sy in Paul Simon se Graceland-toer opgetree. Kort daarna is haar outobiografie Makeba: My Story gepubliseer.

In 1990 het Nelson Mandela haar oorreed om na Suid-Afrika terug te keer, en 31 jaar nadat sy uit Suid-Afrika weg is, het sy met haar Franse paspoort en ’n Suid-Afrikaanse visum na Johannesburg gereis. Sy het ’n heldeontvangs by die lughawe gehad en daarna is sy deur die stad na haar broer (hy is intussen oorlede) se huis in Mzimhlophe geneem waar sy hartlik verwelkom is en moes toyi-toyi. “Ek weet nie hoe om te toyi-toyi nie, maar omdat almal dit gedoen het, het ek hulle net gevolg.” En sy het gedoen wat sy al die jare wou doen … na haar ma se graf gegaan.

In 1992 het sy vir die eerste keer weer in Suid-Afrika opgetree. Sy is entoesiasties ontvang en oral waar sy gegaan het, het mense haar herken en uitgeroep: “Mama Makeba, Mama Afrika.” Toe het Miriam besluit om vir goed huis toe te kom.

Op 9 November 2008 is sy in ’n hospitaal in Rome aan ’n hartaanval oorlede nadat sy op die verhoog inmekaargesak het.

Haar musiek sal nog lank bly voortleef.

Bronne: ‘The Miriam Makeba Story (Miriam Makeba in Conversation with Nomsa Mwamuka)’. STE Publishers, 2004. Verskeie webwerwe.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.