Beeld van ’n vrou: Zsa Zsa Gabor

Beeld van ’n vrou: Zsa Zsa Gabor deur Alita Steenkamp.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die titel van Zsa Zsa Gabor se outobiografie wat sy op 74 geskryf het, One Lifetime is not Enough, som in vyf woorde die lewensuitkyk van dié onblusbare vrou van Hongaarse afkoms op. Sy het nooit van ’n uitdaging weggeskram nie, en was ook bekend vir haar wonderlike sin vir humor. Sy was ’n gereelde gas op televisie-kletsprogramme en het altyd met ’n kwinkslag of wat vorendag gekom. Toe een van haar gashere haar diamante bewonder, het sy vinnig teruggekap: “Oh, dahlink, zese are just my vorking diamonds.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Zsa Zsa was nege keer getroud, onder andere met Conrad Hilton van die Hilton-hotelgroep. Een van haar huwelike het bloot 24 uur geduur voor dit ongeldig verklaar is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy het presies geweet hoe om ’n man te bekoor en volgens Zsa Zsa het selfs manne soos president John F. Kennedy, of Jack soos sy na hom verwys, en prins Philip, koningin Elizabeth van Brittanje se man, op ’n keer probeer om haar in die bed te kry.

Sari Gabor is op 6 Februarie 1917 in Boedapest gebore, die middelste dogter van Vilmos en Jolie Gabor. Reeds as baba het sy tevrede geluidjies gemaak wanneer ’n man oor haar wiegie buk. Sy was maar twaalf toe ’n man haar vir die eerste keer behoorlik gesoen het. Hy was die koleman en die swart kolle op haar gesig het verklap wat die twee gedoen het. Haar ma was woedend: “This girl will come to a bad end,” het sy voorspel. Zsa Zsa, ’n gebore rebel, het net daar besluit sy sal alles in haar vermoë doen om haar ma verkeerd te bewys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Op 15 wen Zsa Zsa die Mej. Hongarye-titel, maar sy was nog te jonk en moes die kroon afstaan. As troosprys stuur haar pa haar en haar ma na Wene waar haar lewe ’n interessante kinkel gemaak het. Binne ’n dag of twee ná hul aankoms in die musiekstad het Zsa Zsa ’n rol in ’n Weense operette The Singing Dream losgeslaan. Sy het dadelik geweet wat sy met haar lewe wou doen.

Op 15 trou sy ook met Burhan Asaf Belge, ’n Turkse regeringsamptenaar. As afskeidsgeskenk gee haar pa, ’n handelaar in edelgesteentes, vir haar ’n diamantring van 10 kar. en sê: “My liefling, jy is so pragtig. Moet nooit ’n kleiner diamant as dié van enige man aanvaar nie.”

Dis raad wat sy inderdaad gevolg het.

Volgens Zsa Zsa was sy ses maande later steeds ’n maagd. Maar nie vir lank nie. Kemal Ataturk, die president van die pas gestigte Turkse Republiek, het haar kort daarna van haar maagdelikheid ontneem.

Oor haar minnaar Ataturk skryf Zsa Zsa: “Hy het my geleer van liefde, intrige en passie. Tog het hy al die verhoudings wat ek later met ander mans gehad het, geruïneer. In Turkye was Ataturk ’n god vir al die vroue, en hy het my liefgehad. Vir die res van my lewe het ek bly soek na ’n ander god wat hom in die skadu sou stel.”

Toe Ataturk sterf, besluit Zsa Zsa haar tyd in Turkye is verby en in 1941 is sy Amerika toe.

In Amerika ontmoet die 17-jarige Zsa Zsa vir Conrad Hilton, stigter van die beroemde Hilton-hotelgroep en stem in om met hom te trou – die feit dat hy 61 jaar oud was ten spyt. Toe sy een aand droomverlore in sy arms lê ná ’n heel romantiese avontuur in die slaapkamer, het sy gedink dat sy uiteindelik die god gevind het wat vir Ataturk kon onttroon. “Waaraan dink jy?” wou sy by Conrad weet. “Aan die nuwe hotel wat ek besig is om te koop,” het hy gesê, en Zsa Zsa het besef dat dié tog nie die droomhuwelik gaan wees nie.

Wat natuurlik nie in haar outobiografie na vore kom nie, is dat Conrad gou agtergekom het dat Zsa Zsa dol was daarop om geld te bestee. Hy het haar tot $250 per maand beperk.

Toe sy later met hul dogter, Fransesca, swanger was, het sy een aand na ’n vertoning van die akteur George Sanders gaan kyk en summier besluit hy gaan haar volgende man word. Nog voor Fransesca se geboorte was sy reeds van Conrad geskei.

Oor haar huwelik met George, skryf Zsa Zsa: “Ondanks die jare van hartseer en tragedie wat deel van ons huwelik was, was dit nie ’n verkeerde besluit nie. As ek my lewe oor kon hê, sou ek weer met George trou. Hy is enig in sy soort.”

Die huwelik was stormagtig, en Zsa Zsa het nie daarvan gehou dat George haar afgeraai het om ’n aktrise te word nie. Hy het gedink sy is te dom en dat sy nie talent het nie.

George was in Londen vir rolprentwerk toe ’n aanbieder van ’n Amerikaanse televisiekletsprogram Zsa Zsa nooi om die kykers se vrae wat per brief ingestuur is, te beantwoord. Een jong vrou wat haar verlowing verbreek het, wou weet of sy die ring moet teruggee. “Gee die ring terug, dis goeie maniere, maar hou die diamant.” Tipies Zsa Zsa!

Zsa Zsa was oornag ’n sukses en ’n week later was sy op die voorblad van Life én Cosmopolitan en binne ’n maand het MGM haar ’n rolprentkontrak aangebied. Toe George ná ’n maand terugkeer uit Londen, was sy vrou ’n ster wat met haar eerste rol $10 000 per week verdien het. George kon Zsa Zsa nie daarvoor vergewe nie en hul huwelik het begin wankel.

Zsa Zsa se groot deurbraak het met Moulin Rouge (1951) gekom. George, fanaties jaloers, het geweier om haar na die première te vergesel en daardie aand ontmoet sy die groot playboy Porfirio Rubirosa. Hy was gou haar minnaar. Al was daar voorvalle van geweld, was albei dol op die lewe, avontuur en opwinding. Solank as wat die verhouding gehou het, het hulle genoeg daarvan gekry.

Een van die snaakse voorvalle waarna Zsa Zsa in haar outobiografie verwys, het gebeur toe sy in Italië aan die prent Blue Contessa gewerk het. In dié film noir speel sy ’n skamel geklede seksgodin wat met twee poemas aan ’n leiband moet paradeer. Alles loop reg tot die roofdiere haar yorkie op haar sekretaris se skoot raaksien, losruk en op die hondjie afpyl. Dié het intussen so vinnig soos hy kon straat-af laat waai met ’n byna naakte Zsa Zsa agterna terwyl sy vir al wat sy werd is, skree: “Stop die poemas, hulle gaan my hondjie opvreet!” Die Italiaanse mans van Napels kon bloot sug: “Bella signora!

Daarna was daar ’n paar opwindende jare as losloper met ’n string kêrels, sommige bekend, en ander bloot manne met baie geld, soos die miljoenêr Hal Hayes wat met hul kort verlowing vir haar ’n diamantring van 40 kar. gegee het. Die ring het sy, snaaks genoeg, teruggegee.

In haar outobiografie vertel sy hoe Frank Sinatra ná ’n aand uit daarop aangedring het om by haar te slaap. Hy het die hele nag aan haar kamerdeur geklop en vroeg die volgende oggend, toe Zsa Zsa nie wou hê haar kind moet sien Frank is steeds in die huis nie, het sy teësinnig ingestem.

Richard Burton, daarenteen, het gesorg vir drie opwindende dae en nagte en Zsa Zsa beskryf hom as ’n wonderlike minnaar.

Sy was smoorverlief op Sean Connery: “Ek wens ek het Sean ontmoet toe ek 17 was. As dit gebeur het, sou ek nou nog met hom getroud gewees het en ons sou tien kinders gehad het. Sean is die perfekte man vir my.”

Die skatryk sakeman, Herbert Hutner, haar vierde man, het haar met juwele oorlaai. Sy vertel van ’n halssnoer van $2 miljoen, peervormige diamantoorbelle van $150 000 en ’n ring van $3 miljoen wat sy na ’n geselligheid gedra het. Herbert was verskriklik gelukkig, maar Zsa Zsa het soos ’n gevangene gevoel en al depressiewer geword.

Drie jaar later het sy die aantreklike Joshua Cosden jr ontmoet en skielik was haar hart weer wild aan die galop. Teen haar ma en susters se sin, skei sy van Herbert en trou met Joshua. Sy het gou besef die huwelik gaan nie werk nie, want vir Joshua was sy sosiale status al wat saak maak. Toe sy naam van die sosiale register geskrap word omdat hy met ’n aktrise getroud is, was die huwelik ná ses maande op die rotse.

Zsa Zsa se huwelik met Jack Ryan, ontwerper van die Barbie-pop, duur sewe maande, want hy was veels te losbandig na Zsa Zsa se sin. Losbandige mans is nooit goeie minnaars nie, verklap sy in haar outobiografie.

Die prokureur wat haar egskeiding van Jack behartig het, Michael O’Hara, word haar sewende man. Met haar besoek aan Las Vegas om haar skeibrief te teken, trou sy en Michael in dieselfde kapel waarin sy en Jack sewe maande tevore getroud is. Toe Zsa Zsa sien hoe die eienaar van die kapel na haar kyk, het sy soos Bloubaard gevoel. Haar huwelik met Michael het vyf jaar gehou.

Zsa Zsa noem Felipe de Alba haar eggenoot nommer agt en ’n half. Hul huwelikseremonie is op ’n boot voltrek. Frank Jameson, wat met haar suster Eva getroud was, het besef Zsa Zsa het ’n impulsiewe besluit geneem en opdrag gegee dat die huwelikseremonie voltrek moes word wanneer hulle agt seemyl buite die hawe was. Vir ’n seehuwelik om wettig te wees, moes die skip minstens 12,5 seemyl van die land af wees. Om alles te kroon was Zsa Zsa se egskeiding van Michael nog nie afgehandel nie en haar huwelik met De Alba is 24 uur later nietig verklaar.

Haar laaste en negende man is prins Frédéric von Anhalt, 26 jaar jonger as sy. Die gegons oor hul huwelik, ten spyt, was die twee in Augustus vanjaar 25 jaar getroud. Volgens Zsa Zsa het Frédéric sy titel gekry toe prinses Marie van Duitsland hom aangeneem het nadat haar seun, kroonprins Carl Franz von Anhalt, in ’n motorongeluk gesterf het. Ander bronne sê hy het die titel gekoop en daarom is Zsa Zsa nie regtig ’n prinses nie. Oor die ouderdomsverskil trek sy bloot haar skouers op: “Ek kan glad nie onthou hoe groot die verskil is nie. Party mense is disleksies en kan nie lees nie. Ek is so as dit by ouderdom kom. Ek glo die oomblik wanneer ’n vrou die ouderdom begin vrees, gaan sy oud word.”

Zsa Zsa het in 1989 weer eens die voorblaaie wêreldwyd gehaal toe sy die verkeersbeampte Paul Kramer geklap het. Haar weergawe is dat hy haar rondgepluk en gevloek het en sy haar bloot verdedig het. In haar outobiografie lees jy natuurlik nêrens van die keer in 1968 toe sy ’n portier in Londen geklap het, of by ’n ander geleentheid in Majorka van ’n vliegtuig gesit is omdat haar hotelrekening nie betaal is nie. Net so word die oop bottel drank verswyg wat ná die voorval met Kramer in haar motor gekry is.

Sy is uiteindelik tot 72 uur tronkstraf gevonnis, sy moes ook ’n boete betaal en 250 uur gemeenskapsdiens doen. Laasgenoemde was volgens Zsa Zsa glad nie vir haar ’n straf nie, want vanweë haar loopbaan was sy by liefdadigheidsprojekte betrokke.

Zsa Zsa, wat beslis haar ma se goeie gene gekry het, (haar ma is eers op honderd dood), het ongelukkig teëspoed gekry toe sy in 2002 in ’n motorongeluk was. Haar haarkapper het die motor bestuur. Daarna was sy aan ’n rolstoel gekluister en vinnig het ander gesondheidsprobleme gevolg.

In 2005 het sy ’n groot beroerte-aanval gehad. In 2010 het sy uit die bed geval en moes ’n heupvervanging ondergaan. Weens swak bloedsomloop het sy gangreen in haar been gekry en haar regterbeen is in Januarie vanjaar, kort voor haar 94ste verjaardag, geamputeer. In Mei was sy drie dae lank in ’n koma nadat haar voedingsbuis probleme gegee het, maar steeds klou sy aan die lewe.

Vir hul 25ste huweliksherdenking het Frédéric ’n banier oor Sunset Boulevard in Los Angeles laat span met die woorde: “Prince Frédéric & Princess Zsa Zsa, 25 years and counting.” Die banier, wat ’n maand lank daar gedrapeer was, het hom $68 000 gekos. Nie baie slim as jy dink dat Zsa Zsa byna haar hele fortuin in die Madoff-skandaal in Amerika verloor het nie.

Talle mense het Zsa Zsa deur die jare as ’n koelbloedige fortuinsoeker uitgekryt en sy het baie vyande, veral onder Hollywood se ander skoonhede gemaak.

Maar dat sy besonder passievol oor die diere in haar lewe was, kan niemand ontken nie. Daar was altyd ’n hond of twee aan haar sy en haar laaste sjitsoe-hondjie is vroeër vanjaar dood. Sy het ook nog tot baie laat in haar lewe op haar pragtige perd, Silver Fox, gery. In 1984, met die opening van die Olimpiese Spele in Los Angeles, het sy die stadion op dié manjifieke dier binnegery. Oor Silver Fox sê sy: “Hy het my baie meer plesier as enige van my mans verskaf.”

Sonder die kleurryke Zsa Zsa, haar diamante, haar string mans en minnaars, haar skoonheid maar ook haar liefde vir kinders en diere, sou die wêreld ’n veel valer plek gewees het.

Sy het inderdaad haar ma se voorspelling verkeerd bewys, nes sy graag wou.

“Eendag, lank gelede, was ek ’n klein meisietjie wat die koleman gesoen het en haar ma het gesê: ‘Van hierdie kind sal daar niks kom nie.’ Wanneer ek nou terugkyk, hoop en bid ek dat ek my ma verkeerd bewys het. In my hart glo ek ek het. Nie omdat ek ’n rolprentster en ’n prinses is nie, maar omdat ek altyd probeer het om my lewe, hierdie een leeftyd, met liefde te lewe.”

Bronne: ‘One lifetime is not enough’, Zsa Zsa Gabor, assisted by Wendy Leigh, (1991) Headline Book Publishing
http://www.cbsnews.com/stories/2011/06/16/ap/entertainment/main20071555.shtml
http://www.nndb.com/people/530/000025455/
http://www.glamourgirlsofthesilverscreen.com/show.php?id=99

Deel
Gepubliseer deur
Melissa-Jade Myburgh

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.