kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Belê in jou huwelik

Belê in jou huwelik deur Anet Schoeman

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Het jy al ooit gewens jy het aanwysings saam met jou trouring gekry sodat jul huwelik op geoliede wiele kon loop? As jou huwelik vir jou onhoudbaar geword het, moet jy mooi dink voor jy tou opgooi, waarsku die kenners. Mense kies meestal weer dieselfde soort maat wat jou met dieselfde probleme gaan opsaal as kwessies nie iewers uitgepluis word nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hier is twee beraders se wenke om die liefdesdans vloeiend te maak:

Liefde met die eerste oogopslag is ’n mite, sê Kobus van der Merwe, huweliksberader en Imagokenner van Pretoria. Jy’t gedink hy’t jou gekies oor jou pragtige oë, hoë wangbene, sin vir humor. Ja, dit ook, sê Kobus, maar daar is baie meer komplekse en onbewustelike oorwegings wat jou keuse vir ’n lewensmaat bepaal.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Lees ook: Word weer hartsmaats

Hoewel fisieke aantrekking ’n groot rol speel, is die deurslaggewende oorweging gewoonlik iemand wat leemtes in jou lewe aanvul. Kobus sê ons kinderjare en die manier waarop ons grootword, verteenwoordig ’n groot element van ons psige. Kritiek in daardie broos tyd laat ’n merk op jou wat jy probeer aanvul met ’n lewensmaat wat nie die “dooie kolle” het nie.

Dit is nie noodwendig groot, traumatiese gebeurtenisse nie – bloot hoe ons opvoeding en plek in die gesin ’n invloed op ons emosionele samestelling het. En die sibbe ervaar dieselfde omstandighede verskillend. Jy voel dalk ontoereikend omdat jou broer altyd die uitblinker was. Jou suster onthou dit nie eens nie.

Hy gebruik die voorbeeld van die verantwoordelike hoofmeisie wat met die skool se rebel uitgaan. Sy voel sy kan nooit “speel” nie omdat van haar verwag word om korrek te wees, en nou kies sy ’n minder verantwoordelike ou wat die lewe nie so ernstig opneem nie.

Kobus sê ons soek maats wat vir ons troos sal bied vir daardie dinge wat ons dalk ontbeer het – “iets wat weggeraak het onder die invloed van druk, skande of vrees. Jy raak eintlik verlief op die dinge wat vir jou verlore geraak het. Die heling kom as jy verlief raak op iemand wat emosioneel anders is”.

Nou goed, jy’t die maat gekry wat jou bekoor en jou emosionele ruimtes aanvul, is dit ’n waarborg vir lewenslange geluk en liefde?

Nee, die huwelik is ’n delikate eierdans wat gedurig in die regte rigting gestuur moet word. Die bedankings vir die trougeskenke is skaars afgehandel, of die rosige waas van verliefdheid begin verdamp. Selfs navorsing bevestig die chemiese agteruitgang van die liefde ná die troue. Binne twee en ’n halfuur ná die troue daal die serotonienvlakke en styg die dopamienvlakke soms, het ’n studie getoon. Die dronkenskap van die liefde verdwyn – en vir die eerste keer sien jy die ander een vir wat hy werklik is.

Sodra mense van hul verskille bewus word, ontaard dit dikwels in ’n magstryd waar een verwag dat die ander soos hy moet word, sê Kobus. Dis gewoonlik hier waar die huweliksbootjie in ’n stroomversnelling kom en waar konflikhantering gaan bepaal wat van die verhouding word.

Lees ook: 5 dinge wat niemand jou vertel voordat jy trou nie

Praat daaroor

Onthou, sê Kobus, konflik is nie sleg nie. “In ’n gesonde verhouding probeer mense oopkop dink en is hulle nie bang vir konflik nie. Die geheim is om konflik in woorde om te sit. Dan is daar geleentheid vir groei in die verhouding. Gelukkige pare leef nie hul pyn uit deur goed rond te gooi of stilstuipe te kry nie, maar verwoord hul griewe sodat elkeen iets daaruit kan leer en die verhouding kan groei. As paartjies nie die vermoë het om verskille in taal om te sit nie, draai hulle parallel en leef by mekaar verby. As julle die situasie langer as ses maande laat aanhou, kan dit julle duur te staan kom.”

En jy dink verniet jy kan met ’n egskeiding jou probleme soos ’n naelstring afbind. “Mense kies keer op keer dieselfde soort mens, juis omdat hulle ’n maat soek wat hul emosionele tekortkominge gaan aanvul,” verduidelik Kobus.

pexels

Die ‘derde persoon’

Wat meestal gebeur, is dat mense nie maniere het om die konflik en vervreemding te hanteer nie en ander aktiwiteite kry om “af te skakel”. Dit beteken nie noodwendig ’n verhouding nie; dit kan ’n aktiwiteit wees wat die persoon uit die huwelik neem, soos om ure voor die televisie te sit, rekenaarspeletjies te speel, liewer met vriende te kuier, langer ure te werk, of op jou kinders te fokus. Dit skep natuurlik die teelaarde vir ’n verhouding.

Lees ook: Verhoudings: Swaai uit vir hierdie slaggate

“’n Mens kom ongelukkig nie jou eie verlore deel so gou agter as wat jou maat dit raaksien nie,” sê Kobus. “As jou maat vir jou sou uitwys dat jy nie verantwoordelikheid wil aanvaar nie, wil jy dit ook nie hoor nie. Die sleutel is dat julle na mekaar moet luister en oop vir dialoog moet wees. As dit na harde werk voel, is dit grotendeels omdat jy eers jou vrees vir kritiek moet oorkom.”

Reageer op mekaar

Studies bewys ook dat verhoudings baie krisisse kan deurstaan as mense op mekaar se toenadering reageer, soos as jou maat jou in die verbygaan aanraak en jy kyk op en glimlag. Of as julle in die bed lê en jy skuif jou voet teen syne en hy erken dit met ’n beweging van syne. Kobus sê navorsing het getoon dat as jy op 80% van hierdie “impulse” reageer, dit jou verhouding kan red, selfs as ander aspekte van die huwelik nie so gesond is nie. Maar as jy op so min as 30% reageer, het dit ’n negatiewe impak op die huwelik.

Blaas nuwe lewe in jul verhouding

  • Luister ’n slag. Dis goed en wel om oor jul probleme te praat, maar soms is dit belangriker om te luister wat jou maat te sê het. Moenie net brand om jou eie storie te vertel nie.
  • Verandering bring vars pret. “Onthou, die bekende maak verliefdheid dood,” waarsku Kobus. “Jy moet die onbekende skep om passie te laat opvlam. Moenie oor en oor dieselfde dinge doen en by dieselfde restaurant gaan eet en op dieselfde plek vakansie hou nie.
  • Wat is my aandeel? Gee elke nou en dan ’n tree terug en kyk wat jou aandeel in jul droom of nagmerrie is. Dalk sluit jy jouself deur een of ander optrede (soos deur eindeloos televisie te kyk) uit die verhouding uit omdat dit nie lekker is nie. Vra jou af wat jy kan doen om die verhouding te verbeter.
  • Leer om liefde te ontvang. Dis net so belangrik om liefde te ontvang as te gee, sê Kobus. Die maniere waarop julle liefde gee, verskil ook vanweë die manier waarop julle grootgeword het. Leer om jou maat se liefde en geskenke in die regte gees te ontvang.

Lees ook: Hoe om beter oor seks te praat

pexels

Hanteer konflik só

Elsabe van Niekerk is ’n pastorale berader van Randburg en help baie paartjies ter voorbereiding vir die huwelik, verryking binne ’n verhouding, sowel as krisishantering. Sy gee raad oor hoe om jou verhouding op ’n goeie voet te hou.

Konflikhantering is gewoonlik die lakmoestoets vir die verhouding. Hanteer dit reg en die verhouding groei, sê Elsabe. Hanteer dit verkeerd, en jy kry vervreemding en beland in ’n doodloopstraat.

Hier is ’n lysie reëls wat baie pyn en lyding kan voorkom.

  • Wag ’n bietjie: As emosies hoog loop, loop adrenalien ook hoog, en sê of doen jy maklik iets waaroor jy later spyt is. Maak binne 24 uur ’n afspraak met mekaar waar julle albei kalm gaan wees, en sê vooraf waaroor jy kwaad is.
  • Identifiseer die kwessie: Identifiseer die probleem sodat jou maat ook daaroor kan dink. Soos: “Dit maak my baie ongelukkig as jy my in die steek laat sonder om my vooraf van veranderinge in jou program te vertel.”
  • Kies die regte tyd: Moenie die saak aanroer as albei reeds laat is vir werk nie, of sodra die ander een saans stokflou by die huis instap nie. Dit moet ’n rustige tyd wees waar albei op die probleem kan fokus.
  • Kies die regte plek: Moenie mekaar in die openbaar in ’n restaurant takel nie. Hier is geen wenners nie.
  • Begin altyd positief: Ja, al is dit moeilik. Soos: “Ek weet dat jy baie hard werk en ek waardeer dit … ”
  • Bly by die kwessie: Moenie oor ander goed ook begin baklei nie, anders gaan hierdie een ook soos ’n rondomtalie geen eindpunt hê nie.
  • Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie: Sit ’n wag voor jou mond en kyk eerder vorentoe as agtertoe.
  • Moenie mekaar se persoonlikhede aanval nie: Of name noem nie.
  • Respekteer dit wat vir die ander een belangrik is: Moenie jou maat se punt afmaak as dit nie vir jou so ’n belangrike kwessie is nie.
  • Moenie beledigend wees of skel nie: As jy die grense oorskry, is dit vir jou maat maklik om dieselfde te doen.
  • Moenie emosionele speletjies speel nie: Bly weg van uitsprake soos: “Ek kan mos niks reg doen nie.” “Ek is altyd verkeerd.”
  • Moenie passiewe aggressiewe gedrag openbaar nie: Moenie jou aksies gebruik om jou woede op ’n ander manier te toon nie. Dus, moenie aspris stadig regmaak vir ’n geselligheid sodat julle laat is nie.
  • Moenie in die regter se stoel klim nie: “Hoe kon jy dit aan my doen?” “Hoekom het jy my verneuk?” Los die veroordeling en probeer liewer ’n oplossing kry.
  • Vermy ’n driehoek: Moenie ’n derde persoon as getuie by jul konflik insleep om te “getuig” nie. Julle moet dit oplos.

Vyf planne vir ’n gesonder verhouding

  • Skep lekker tye. Maak seker julle het genoeg lekker tye saam. Maar dit verg beplanning. Maak ’n reëling dat elkeen ’n beurt kry om een keer per maand (of week) iets lekkers te beplan. Werk vooraf ’n begroting uit as geld skraps is.
  • Konflik is nie sleg nie. Dit hang af hoe jy dit oplos. Konflik wys die skaafplekkies in die verhouding uit, en gee jou die geleentheid om dit op te los voor dit ’n monster word. As julle verskille positief kan oplos, verbeter jul intimiteit.
  • Sê hoe jy voel. Behoeftes in die huwelik moet duidelik uitgestippel word. Moenie verwag jou maat moet aanvoel iets is fout, of wat jou verwagtings is nie.
  • Seks is baie belangrik. Almal het verskillende behoeftes en dit kan tot onmin en vervreemding lei as julle nie aandag daaraan gee nie. Praat daaroor om ’n balans te kry wat vir albei werk.
  • Paartjies moet leer om hul verskillende persoonlikhede positief aan te wend. Die een wat georganiseerd is, moet dalk eerder die administrasie doen.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.