kategorieë: OuerskapJou lewe

Besige ouer, eensame kind

Gevoelens van isolasie en eensaamheid is die rede waarom vier duisend Britse kinders Childline verlede jaar gebel het. Selfs sesjariges, en kinders binne ’n liefdevolle gesin het die organisasie hieroor gekontak. ’n Tiener wat ingebel het, het gesê sy het daaraan gedink om haar lewe te beëindig omdat niemand werklik vir haar omgee nie en sy altyd eensaam is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hedendaagse ouers moet maar soms die rieme dun sny om werk en gesin in 24 uur in te pas, en om vele take gelyktydig te doen het, helaas, die kenmerk van ons tyd geword.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ouerskap op ’n drafstap kan kinders geïsoleerd laat voel,” sê Nikki Bush, kreatiewe ouerskapkenner en skrywer. “Ons moderne leefstyl het tot gevolg dat ouers ongelukkig minder tyd met kinders op die mat speel en meer tyd in die motor deurbring.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ouers is selde gefokus op die oomblik wanneer hulle by hul kinders is. Jy is dalk in liggaam teenwoordig, maar as jy nie op ’n emosionele vlak ook met jou kind interaksie het nie, is jy so goed soos afwesig.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Laat kinders jou help

As gehawende ouers hul kinders ná werk oplaai, begin die tweede werk vir die dag. Dan is dit ’n groot versoeking om kinders voor die televisie, rekenaar of tablette te parkeer sodat jy ongehinderd kan kos maak en weer jou varkies op hok kry.

“Hokaai,” sê Nikki, “ouerskap moenie net ’n aspek van ons lewe wees nie, dit moet deel wees van wie en wat ons is. Besige ouers loop gevaar om nie meer emosioneel in kinders te belê nie, wat kinders geïsoleerd laat voel. Die geheim is om die doodgewone in iets besonders te verander.”

Nikki sê huistakies bied die ideale geleentheid om pret met jou kind te hê en hulle boonop te leer om selfstandig te wees en vaardighede te bemeester. Maak dit prettig sodat ongeduld en reëls nie die ervaring bederf nie.

Ouerskap moet ’n avontuur wees

“Ouerskap is ook deel van jou eie ontwikkelingsreis en moet ’n avontuur wees. As jy ’n gewoonte daarvan maak om jou kinders in jou daaglikse ritme in te sluit, leer hulle selfdissipline en word dit makliker om dinge saam met hulle te doen. Onthou, die dinge wat jy kleintyd met hulle doen, is die boublokke vir ’n gesonde verhouding wanneer hulle tieners is,” sê Nikki. Dis moeilik om ’n verhouding met ’n nukkerige 13-jarige te bou.

“Kinders moet voel hulle het waarde en dat hulle deel van iets groter soos ’n gesin is. Moderne gesinne kom in vele vorms en gedaantes, maar dis belangrik dat jy ’n tree wegstaan van jou dolle program en beplan hoe jy koptyd vir jou kinders gaan inruim. Kinders weet wanneer jy emosioneel inkoop in tyd saam met hulle.”

’n Ma vertel hoe haar vyfjarige haar oor die vingers getik het deur te sê: “Ek weet Mamma luister nie wanneer sy net so ‘hmm’ sê nie.” Kleuters draai ook dikwels ’n ma se gesig met die handjies na haar toe om seker te maak sy luister.

Onthou om te luister

Kinders kan soos draaiorreltjies babbel wanneer jy hulle by die skool of elders oplaai. As jy moeg is, kan jy maklik afskakel en net so nou en dan “oe” en ah” sonder om ’n woord te hoor wat hulle sê.

“Dis juis nodig om tussen die lyne te luister wanneer kinders met jou praat,” sê Nikki. Soms is die belangrikste dinge die goed wat hulle nié sê nie. Dis ’n bewuste besluit om in die oomblik te wees en werklik te luister en waar te neem en jou tyd en ruimte met hulle te deel.

Kinders het nodig om dinge te verbaliseer voor hulle sin kan maak van die wêreld, en as julle saam in die motor is, het jy die ideale geleentheid. Maar as jy heeltyd selfoonoproepe beantwoord terwyl jy saam met die kinders in die motor is, of jou gedagtes worstel met dinge by die werk, is hierdie geleentheid verlore.

Pixabay

Ons jaag hul ontwikkeling aan

Kinders het tyd nodig om geborge te voel. Ouers is so gefokus om alles in die kortste moontlike tyd gedoen te kry dat hulle dieselfde van kinders verwag.

“Kinders se ontwikkelingsproses is stadiger en hulle moet tyd kry om hul sukses te geniet en die vaardigheid vas te lê voor hulle ’n nuwe uitdaging aanpak. Ouers gun hulle nie die vreugde van oorwinning oor iets wat hulle vir die eerste keer reggekry het nie, maar por hulle dadelik na die volgende ding aan. Ouers doen dit met die beste bedoelings. Ons sê hulle is ryk aan liefde, maar arm in tyd. En elkeen se situasie en persoonlikheid verskil. Dus is dit belangrik dat jy dit vir jóú laat werk.”

Die spelterapeut

Daar is wel net 24 uur in ’n dag, maar die tyd wat jy nou in jou kind belê om sy emosionele beker te vul, kan ’n belangrike belegging wees in ’n tiener wat goed aangepas en geanker gaan voel.

Elize Cronjé, ’n spelterapeut van Durbanville, verduidelik dat kinders tot op omtrent 13 speel as ’n taal gebruik om hul emosies te verbaliseer. “Dis hoekom dit belangrik is om op hul vlak te speel om hul emosionele stem te hoor. Daar is soveel druk op hedendaagse ouers om toe te sien dat hul kinders presteer, selfs op laerskool al, dat ouers se kontak met kinders grotendeels op skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite gefokus is.

“Huiswerk slurp ouers se tyd saam met hul kinders op. In teorie moet ouers 15 minute per dag in ’n kind se wêreld deurbring. Dit klink dalk min, maar vir ’n besige ouer met meer as een kind word dit byna onmoontlik. Ouers probeer vergoed deur geskenkies en eetgoed te koop, of kinders meer tyd voor skerms toe te laat.

“Hou op om skuldig te voel,” sê Elize. “Al staan jy net 15 minute per week af, gaan dit genoeg wees. Maar dan moet dit tyd wees wat werklik saak maak. ’n Kind se ‘wêreld’ is ’n plek waar die kind in beheer is en daar geen reëls vir die spel is nie. Dit beteken nie die afwesigheid van gewone dissipline nie, maar eerder dat die kind die vryheid moet hê om kreatief te wees. As sy die boom pers wil inkleur, moet jy nie reghelp nie. Vra haar wat se speletjie julle gaan speel. Moenie voorstelle maak nie. Sorg dat jy op die kind se fisieke vlak kom deur saam met haar op die vloer te sit of albei by ’n tafel.”

Elize waarsku ouers om nie in die strik te trap om jong kinders vir ’n fliek of melkskommel te neem vir hierdie spesiale tyd nie.

“Dis net deur spel wat hul emosies uiting kry en hoewel julle albei pret gaan hê deur dinge saam te doen, gaan jy steeds geen insig in hul emosionele wêreld kry nie. En die bonus is dat hierdie spelery, in teenstelling met fliek en melkskommels, nie ’n sent kos nie.”

Pixabay

Speel met hulle

• Die eerste en belangrikste reël is dat jy op alle vlakke teenwoordig moet wees. Stel jou selfoonwekker en wys vir jou kind dat julle 15 minute saam het. Dit beteken géén foonoproepe of ander afleidings nie.
• Dit moet interaktief wees. Julle moet met mekaar kommunikeer.
• Wees op jou kind se vlak – op die grond op die mat vir kleintjies. Groter kinders kan saam met jou by ’n tafel sit. Maak ook seker dat jou taalgebruik aandui dat jy emosioneel op haar vlak is.

Lekker speletjies

Dink terug wat vir jou as kind lekker was.

• Lê saam met kind in die tuin, park of op die balkon en kyk na die wolke. Kyk watter beelde julle in die wolke sien.
• Speel wegkruipertjie en praat terwyl jy na haar soek. “Ek wonder waar het Lia weggekruip? Is dit agter die kas? Is dit onder die bank … So behou jy die interaksie en bou jy opwinding.
• Badtyd kan ’n heerlike tyd wees vir interaksie. Dan kry jy sommer twee vlieë met een klap. Of laat jong kinders saam met jou bad en maak dit ’n speletjie.
• Eet saam en gesels met kinders. Vra hulle uit oor hul dag. Nikki Bush sê haar kinders moes eers iets soet (iets wat lekker was) vertel wat die dag gebeur het en daarna iets sout (iets wat skeef geloop het, of nie lekker was nie). As dit onmoontlik is om elke aand saam te eet, doen dit oor naweke en kry kinders betrokke by die maak van iets soos ontbyt. As jy ontspanne is, is dit maklik om gewone takies in ’n speletjie te verander.
• Kry gesinsrituele wat kinders spesiaal laat voel, soos dat hulle beurte maak om elke aand kerse aan te steek, en uit ’n spesiale verjaarsdagbord eet wanneer hulle verjaar.
• Speel naweke bordspeletjies en kaart. Kinders geniet dit vreeslik en dis so belangrik vir kinders om saam met jou pret te hê en saam te lag.
• Laat almal idees in ’n bottel gooi vir dinge wat julle gesin saam kan doen wanneer daar tyd is. Kyk dan op ’n Vrydagaand na die naweekbeplanning. Jy sal verbaas wees hoeveel tyd jy het as jy vooraf beplan. Dit kan wissel van ’n legkaart bou tot ’n uitstappie
• Maak ook tyd vir jou en jou geliefde. Dis nodig dat kinders sien julle koester mekaar. As jou eie emosionele beker vol is, is die uitdagings van ouerskap ook makliker.
• Kies jou tyd reg. As jy doodmoeg by die huis instrompel, is jy nie dadelik in die regte kopruimte om jou volle aandag aan kinders te gee nie.

Speletjies in die motor

As jy kinders sover kan kry om op pad huis toe te lag en gesels, is almal meer ontspanne as julle tuis kom. Jy ook.

• Speel rymspeletjies soos: Ek soek ’n woord wat rym met “hond”. Die een wat reg antwoord, kan dan die volgende woord kies.
• Twintig vrae. Jy dink aan iets en die kinders het twintig vrae om vas te stel waaraan jy dink.
• “I spy with my little eye”. Die kinders moet raai wat jy gesien het.
• Woordassosiasies: Stoel, tafel, bord, kos … Elke nuwe woord moet ’n assosiasie met die volgende een hê.

Lees ook: Maak geldslim kinders groot

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.