kategorieë: OuerskapJou lewe

Boekuittreksel: Vyf ankers wat jou kind veilig laat voel

Versorg deur Mariette Snyman. Foto Pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dié uittreksel kom uit Hettie Brittz se boek, “Kweek kinders met heel harte” (Lux Verbi, 2018), ’n praktiese gids om jou kind in vandag se tye reg groot te kry. Hettie verduidelik hoe ons, terwyl ons ons kinders beskerm teen die dinge waarvoor hulle nog nie gereed is nie, hulle ook weerbaar kan maak teen seerkry en gevare.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ankers en sinkers vir jou kind se eiewaarde

“Kinders se vermoë om, ongeag hulle omstandighede, die lewe te hanteer en te blom is daarin gewortel dat hulle ten minste ’n veilige plekkie sal hê (’n woonstel; ’n kamer; ’n skoot …) waar hulle in die liefdevolle geselskap van ’n ander persoon kan ontdek dat iemand hulle liefhet en dat hulle self kan liefhê. Wanneer kinders in hulle vroeë jare hierdie skat ontdek, kan hulle in gesonde volwassenes ontwikkel.” – Fred Rogers

Ankers of sinkers beïnvloed ’n kind se eiewaarde geweldig. Kinders met gedragsprobleme het dikwels geen ankers waaraan hulle kan vashou nie. Daar is verskeie sinkers in die lewe wat jou kind en sy of haar eiewaarde negatief kan raak. Ons moet daarom probeer om vir ons kinders ankers in plaas van sinkers te gee. Ankers gee vir ons kinders ’n staanplek in die son, maar nie ’n ereposisie in die heelal nie. Dit bring balans in hulle lewe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vyf ankers om jou kind se eiewaarde te bou

  1. Ons wil jou baie graag hê

Die eerste anker wat ons vir ons kinders kan gee, is die versekering dat ons as ouers ons kinders graag wil hê. Ek dink ons sê te maklik vir ons kinders: “Ag, as jy maar ’n seuntjie was,” of: “Ek wens ek het jou gehad toe ek jonger was,” of: “Ons het jou nie eintlik beplan nie.” Ons besef nie dat dit ons kinders se heel belangrikste anker in die lewe kan wegneem nie.

Sê daarom gereeld vir jou kinders: “Ek is bly jy is ’n seuntjie.” “Ek is bly ons het jou gekry.” “Ek kan my nie indink hoe die lewe sonder jou sou gewees het nie.” Sulke boodskappe versterk ons kinders se eiewaarde en laat hulle met die gevoel dat hulle behoort.

  1. Ons is hier vir jou

Die tweede anker is om ons kinders te verseker ons is hier vir hulle. Ankerlose kinders ervaar dat hulle ouers afwesig is en dat hulle nie op hulle ouers kan staatmaak nie. Ons as ouers skep dalk hierdie ervaring by ons kinders deur nie in die nag vir hulle op te staan as hulle ’n nagmerrie gehad het nie, of deur ons kinders te los om ’n krisis waarvoor hulle nie toegerus is nie self te hanteer.

Ons as ouers kan op baie maniere onbetrokke by ons kinders wees. Ons kan hierdie anker terugbring in ons kinders se lewe en dit stewig aan hulle lewensboot vasmaak deur ’n paar gebeure te identifiseer wat ons kinders bang, senuagtig of opgewonde kan maak. Dink dan hoe jy jou ondersteuning en belangstelling op ’n tasbare manier aan jou kind kan oordra. Jy kan saam met jou kind by die tandarts se spreekkamer ingaan in plaas daarvan om in die wagkamer te wag. Jy kan gesonde peuselhappies aandra terwyl jou kind leer en later sy of haar uitslae op ’n spesiale manier vier.

3. Jy is hier om ’n rede

Die derde anker is om aan ons kinders die versekering te gee dat ons in hulle toekoms en potensiaal glo. Ons kan hulle gereeld herinner: Jy is hier om ’n rede. Wanneer slegte nuus ons as ouers onderkry, is dit belangrik dat ons nie ons negatiwiteit oor die toekoms met ons kinders sal bespreek nie. Kinders wil hê dat ons in hulle sal glo én in hulle potensiaal om eendag ’n gelukkige en sinvolle lewe te geniet, selfs al glo ons nie in die toekoms van ’n regering of ’n instansie nie.

Wanneer jy ’n talent in jou kind raaksien, sê dit vir hom. Wanneer jy ’n gawe in jou kind raaksien, maak haar bewus daarvan. Gee ’n naam aan hierdie talent of gawe sodat jou kind sal weet: Hierin lê my toekoms opgesluit. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek sien jy is ’n fantastiese probleemoplosser. Jy maak die beste van ’n slegte saak.” Selfs sulke eenvoudige opmerkings gee vir kinders die anker dat ons in hulle glo.

Kinders se name is ook belangrik. As jy oor jou kinders se name gebid het en glo dat hulle name iets oor hulle toekoms sê, bevestig dit elke nou en dan vir hulle. Dalk het iemand ’n profesie, ’n Skrifgedeelte of ’n gebed oor jou kind geskryf. Julle albei kan dan hieroor nadink wanneer julle aan die toekoms twyfel. As jou kind ’n familienaam het, belig die positiewe eienskappe van die ander mense in die familie wat daardie naam dra. Bid saam met jou kind dat daardie mooi eienskappe  ook in sy of haar lewe sal ontwikkel. Kinders wat deel voel van ’n mooi geskiedenis én toekoms ervaar nie so maklik dat hulle waardeloos is nie.

’n Geankerde kind is ’n kind wat dit goed kan hanteer om nie altyd heel bo-aan ’n lys te wees nie

4. Ons aanvaar jou foute

’n Vierde anker het ons ontdek deur met kinders te gesels. Hulle het vir ons gesê hulle voel die groot rede hoekom hulle ouers hulle verwerp, is dat hulle te veel foute gemaak het. Niks wat hulle gedoen het, was ooit goed genoeg nie. Deur ons kinders se foute te aanvaar en dit gereeld vir hulle te sê, skep ons vir hulle ’n veilige omgewing. Verseker jou kinders “Jy kan maar weer probeer. Dit maak nie saak dat jy dit nie nou reggekry het nie.” Of: “Ek dink jy het jou bes probeer. Kom ek help jou en dan probeer ons weer.” Dit bied aan jou kinders groot sekerheid en laat hulle veilig voel by jou.

5. Die wêreld draai nie om jou nie

Die laaste anker is om nie by ons kinders die vals idee te skep dat die wêreld om hulle draai nie. Baie van ons dink kinders is stewig geanker wanneer hulle in hulleself glo en vir hulle regte opstaan. Die waarheid is egter dat hulle dikwels nie die middelpunt van ’n situasie gaan wees nie. ’n Geankerde kind is ’n kind wat dit goed kan hanteer om nie altyd heel bo-aan ’n lys te wees nie.

Skep vir jou kinders ’n omgewing waarin hierdie behoeftes vervul word, en jy sal gebalanseerde en gelukkige kinders grootmaak.

Sinkers wat jou kinders se eiewaarde vernietig

Daar is ongelukkig ook verskeie manier waarop ons as ouers, sonder dat ons dit bedoel of beplan, ons kinders in hierdie lewe kan laat sink.

1. Ons vergelyk ons kinders met ander

Die eerste sinker is om ons kinders met ander te vergelyk. Dit is ’n fout wat ons maklik maak, want soms is daar broers, susters, niggies of neefs wat beter in iets vaar as ’n spesifieke kind in die gesin. En as ons ons kinders nie met iemand in die familie vergelyk nie, is daar waarskynlik presteerders by die skool soos wie jy heimlik wil hê jou kind moet wees. Elke kind verdien dit om as ’n individu gesien te word. Geen kind verdien dit om met iemand anders as net hulleself vergelyk te word nie. Ons kan sê: “Jy hardloop nou al baie vinniger as verlede jaar,” eerder as om te sê: “Jy hardloop nou al vinniger as jou boetie.” Met hierdie laaste opmerking sê jy daar is ’n kompetisie tussen die twee kinders en hierdie kind moet altyd ’n tree voor die ander een wees voordat julle op hom of haar trots sal wees of tevrede sal wees met sy of haar prestasie. Dit breek enige kind.

Lees ook: Bou jy of breek jy jou kind se selfbeeld?

2. Ons oorbeskerm ons kinders

’n Tweede sinker is dat ons ons kinders oorbeskerm. Oorbeskermende ouers is ouers wat kinders nie gun om te wys waartoe hulle in staat is nie. Dit ontneem kinders van ’n stukkie identiteit wat uiters belangrik is sodat hulle stewig geanker sal wees en vooruit kan gaan in die lewe. Dit is vir ons as ouers baie moeilik om toe te kyk hoe ons kinders in ’n situasie beland wat vir hulle moeilik is en wat hulle laat swaarkry. Ek dink byvoorbeeld aan die keer toe ek gekyk het hoe my kind sokker speel en duidelik kon sien dat die ander kinders hom nie kans wil gee om die bal te skop nie omdat hy ’n vorige bal wat na hom toe aangestuur is, verkeerd geskop het. Alles in ’n ouer wil jou op daardie veld laat storm en sê: “Gee my kind ’n kans!” Dit is in ons aard, maar om nie aan ons kinders die geleentheid te gee om vir hulleself op te staan en te sê: “Gee my nog ’n kans” nie, is om hulle te laat sink in die lewe.

Ons is ook oorbeskermend wanneer ons ons kinders nie die gevolge van hulle dade laat dra of reëls wat oortree is met dissipline opvolg nie. Die uitkoms van oorbeskermende ouers kan insluit:

  1. Hierdie kinders ken en aanvaar nie gesag nie en het dikwels min respek vir volwassenes.
  2. Hulle wil gerespekteer word, maar respekteer self niemand nie, want hulle is gewoond daaraan dat die lewe om hulle draai.
  3. Hierdie kinders kan die vryheid wat hulle later in hulle lewe kry nie hanteer nie, want hulle ouers het altyd hulle lewe vír hulle bestuur.
  4. Hulle glo hulle is altyd reg.
  5. Hierdie kinders blameer ander vir hulle foute, want hulle het nie geleer om self verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie.
  6. Hulle raak so gewoond aan die uitgebreide ondersteuningstelsel wat hulle ouers se aandag, tyd en geld jaar ná jaar vir hulle bied dat hulle nie daarvan kan loskom nie. Wanneer hulle al lankal onafhanklik moes gewees het, kan hierdie kinders nog nie op hulle eie voete staan nie.

“Red mense wat onwillig is om hulleself te help, en hulle sal soos ’n aansteeklike siekte aan jou klou.” – Mason Cooley

Betrokkenheid se definisie is om te besef dat ouerskap ’n rol is wat ons nooit sal ontgroei nie

  1. Ons is onbetrokke by ons kinders

’n Derde sinker is die omgekeerde van oorbeskerming, en dit is wanneer ons onbetrokke is by ons kinders. Betrokkenheid se definisie is om te besef dat ouerskap ’n rol is wat ons nooit sal ontgroei nie.

Onbetrokkenheid is om met ons lewe aan te gaan asof ons kinders dit nie vir altyd verander het nie. Daar sal nooit ’n tyd aanbreek dat ek en jy na iets in ons kinders se lewe kan kyk, terugtree en sê nie: “Dit het niks met my te doen nie.”

Wanneer ons vir ons kinders sê: “Dit het by die skool gebeur en het niks met my te doen nie,” of: “Jy is nou al ouer as 18 en moet dit self hanteer. Dit het niks met my te doen nie,” laat ons ons kinders so weerloos dat hulle dalk nie die volgende uitdaging in die lewe sal wil aanpak nie. Hulle sal immers weet ons is nie daar om vir hulle hulp en raad te gee nie.

Onbetrokke ouers stel minimale eise en reageer ook weinig op hulle kinders. Die uitkoms van afwesige ouers kan insluit:

  1. Hierdie kinders beleef in die uiterste gevalle verwerping omdat hulle ouers hulle nie genoeg vertroetel en versorg het nie.
  2. Hulle soek aanvaarding in enige oop arms.
  3. Volwassenheid gebeur met rukke en stote, want hierdie kinders moet onafhanklik optree, maar voel nog nie gereed nie.
  4. Hierdie kinders voel hulle kan gesagsfigure nie vertrou nie omdat hulle nie ’n vertrouensverhouding met hulle ouers ontwikkel het nie.
  5. Hulle besef nie dat hulle as mense waarde dra nie omdat hulle ouers se afwesigheid die boodskap oorgedra het dat hulle nie hulle ouers se tyd, moeite of liefde werd is nie.
  6. Hierdie kinders beleef die wêreld as ’n afsydige en eensame plek waarin elkeen na sy eie belange moet omsien – ’n “dog eat dog”-wêreld.

Kinders wat grootword met minder is kinders wat moeiliker ondergekry sal word

4. Ons ly aan die droomkind-sindroom

’n Vierde sinker noem ek die droomkind-sindroom. Dit is wanneer ons as ouers ’n beeld van die ideale kind of droomkind het. Ons glo elke kind móét vyf of ses spesifieke eienskappe besit om sukses in die lewe te kan behaal. As een of twee van ons kinders nie meer as vier uit ses van die eienskappe het nie, is hulle nie ’n droomkind nie. Dit is baie onregverdig om ons kinders in ’n boksie te probeer indwing, en dit laat ’n kind vinnig sink in die lewe.

5. Ons bederf ons kinders

Die laaste sinker waarteen ek ouers wil waarsku – en jy mag my maar outyds noem – is om kinders te bederf. Hoe meer ons aan ons kinders gee, hoe meer verwag hulle van ons en die lewe en hoe moeiliker sal dit vir hulle wees om kop bo water te hou. Kinders wat grootword met minder is kinders wat moeiliker ondergekry sal word. Hulle bagasie is minder. Die skadelikste maniere waarop ons ons kinders kan bederf, sluit in:

  • Hulle hoef nie te wag nie.
  • Hulle hoef nie te spaar nie.
  • Hulle hoef nie hulle speeltyd, TV-tyd of kuiertyd kort te knip nie.
  • Hulle hoef nie hulleself besig te hou nie.
  • Hulle hoef nie opdragte te gehoorsaam as hulle nie wil nie.
  • Hulle mag kla wanneer iets nie is soos hulle dit wou gehad het nie.
  • Hulle hoef nie sonder iets klaar te kom as hulle ouers dit kan bekostig nie.
  • Hulle hoef niks met iemand anders te deel nie.
  • Hulle hoef niemand te dien sonder om vergoed te word nie.
  • Hulle hoef niks te doen as hulle moeg of siekerig voel nie.
  • Hulle hoef niks weg te gee waarvan hulle nog baie hou nie.
  • Hulle hoef nie te sukkel nie.
  • Hulle hoef nie tweedehandse klere te dra of met tweedehandse speelgoed of fone tevrede te wees nie.
  • Hulle kry wat hulle maats het net omdat hulle maats dit het, nie omdat hulle dit nodig het nie.
  • Hulle verlore of gebreekte besittings word outomaties vervang.

Lees ook: Hoekom dit goed vir kinders is om meer te speel

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.