kategorieë: Ons menseBekendes

Boer Willem en Sanel: Wie nie waag nie, wen nie!

Boer Willem en Sanel: Wie nie waag nie, wen nie! – Deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Verskaf

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Met sy lekker aksent, stoute glimlag (en diep kuiltjies!) en passie vir sy boerdery, is dit heeltemal te verstane dat Sanel met die eerste oogopslag, halsoorkop verlief geraak het op Willem Pool van Clanwilliam. Dié gebore Kapenaar boer reeds nege jaar lank op die rooibosteeplaas, Langbergpunt, en het sy hoërskoolloopbaan by die Augsburg Landbougimnasium op Clanwilliam voltooi. Vandag deel hy sy moderne plaashuis met die eenjarige skaaphond, Tessa, en die huiskat, Oxo, maar oor naweke kuier die blouoog, spontane Sanel ook te lekker saam.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sanel Prinsloo (of “klein pikkewyn” soos Willem na haar verwys) het op die klein myndorpie Mooinooi in die Noordwes grootgeword, en het gematrikuleer aan die Hoërskool Brits, waar sy ook in die koshuis was. Daarna het sy aan NWU in Potchefstroom onderwys studeer. Sanel is die oudste van drie kinders – sy het ’n jonger suster van sestien, Lu-Mari, en ’n dertienjarige boetie, Drikus. Haar pa is n sakeman op Brits en haar ma Johnelle die hoof by ’n kleuterskool. En nes haar ma, is Sanel lief vir kinders en die onderwys, en het sy aan die begin van 2020 as ’n graad R-onderwyser op Leipoldtville begin skoolhou – dít slegs 60km van haar boer Willem se plaas in die Wes-Kaap.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ons gesels met die verliefde paartjie oor hulle planne vir die toekoms, die nadele van ’n langafstandverhouding en waarom hulle besluit het om vir dié maatsoekreeks in te skryf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Willem, eerstens moet ons vra, dink jy Tessa het die nuwe dame in jou lewe aanvaar?

Beslis, Sanel het definitief Tessa se hart gewen! Tessa is eintlik baie erg oor haar – sy loop gedurig agter Sanel aan, en is vreeslik beskermend teenoor haar.

Waarom het jy besluit om vir Boer Soek ’n Vrou in te skryf, Willem?  En hoekom spesifiek vir die 12de seisoen?

Die tannies op die dorp raak tog vreeslik besorgd oor ’n mens as jy begin om hier na dertig se kant toe te  staan. En verlede jaar toe sê hulle vir my, “Willem, jy’s nou 29 en ons dink dis nou die ideale tyd om vir Boer Soek ’n Vrou in te skryf. ” Ek het lank daaroor gedink en besluit om tog wel die kans te vat en in te skryf vir dié program.

Ek is 29 – die tannies het gemeen dat 30 dalk té oud gaan wees vir van die dames – en daarom het ek besluit om maar vir die 12de seisoen in te skryf en nie nog ’n jaar te wag nie. Boonop het ek iemand gesoek om lief te hê… En Boer Soek ’n Vrou het na ’n goeie platform gelyk om mee te begin, want jy sit hier (op die plaas) en weet nie noodwendig van die beskikbare dames daarbuite – of hulle van jou nie!

Op die ou end van die dag het ek die sprong geneem, want ’n mens moet waag om te kan wen.

Sanel, jou kamermaat het namens jou die brief aan Willem geskryf …  Hoe het jy gevoel toe jy uiteindelik ná die gekonkelry uitvind waarmee sy besig is? Sy het jou opwinding oor “Boer Willem” se video uitdruklik beskryf, so nou wil ons weet, wat was jou eerste indrukke van Willem terwyl jy na sy inskrywingsvideo gekyk het?

Ek was ek in die eerste plek baie verbaas dat hulle werklik toe nou só iets gedoen het, want ons het eintlik maar nog altyd gespot dat een van hulle my vir Boer Soek ’n Vrou gaan inskryf. Maar ek het nooit in my wildste drome gedink dat hulle dit werklik sou doen nie, en boonop het ek nog altyd gesê dat ek nooit in my lewe aan so iets sal deelneem nie.

Toe ek nou later uitvind waarmee my familie en vriendinne besig is, het ek volgehou dat ek weier om daaraan deel te neem… Maar my vriendin het my uiteindelik oortuig om ten minste net die brief te lees wat sy geskryf het, en dit was toe vir my so mooi dat ek my ma daar en dan gebel het om te hoor of hulle nou regtig ernstig is daaroor dat ek moet voortgaan met die inskrywing.

“Ja Sanel, dis ’n kans wat mens kan vat. En jy’t niks regtig om te verloor nie” het sy my gerusgestel.

Steeds het ek nooit gedink dat dit sou uitdraai soos wat dit het nie, en is ek eintlik baie dankbaar dat my ma my wel aangemoedig om hieraan deel te neem.

As ons dan nou heeltemal eerlik moet wees, was my eerste indrukke van Willem presies soos my vriendin dit op die brief beskryf het.

’n Uittreksel uit die brief:

“Ek skryf hierdie brief namens my kamermaat, Sanel, want jou mooi glimlag het ons harte kom steel, maar veral Sanel s’n. Ek wens jy kon die glimlag op haar gesig sien toe jou video opkom. Haar hele gesig het opgehelder en sy het sommer op die bed gespring. Haar eerste woorde was ‘Sjoe!’ met ’n stoute laggie daarby.”

Ek het gehou van Willem se video, en ek het gedink dís nou ’n man wat sy dinge agtermekaar het. Hy het gelyk soos iemand by wie ek maklik sou kon aanpas en iemand wat ook maklik by my familie sou inpas, want dit is vir my baie belangrik!


Willem, wou jy nog altyd boer, of het jy op ’n stadium ander planne gehad? Op watter ouderdom het jy besluit om ’n boer te word, en hoe het jy op boer met rooibostee besluit?

Ek wou eintlik maar nog altyd geboer het. Ons het ’n familieplaas net buite Lutzville en ons het baie daar gaan kuier, maar nooit self die geleentheid gehad om daar te kon boer nie. Van ’n jong ouderdom af het ek my eie groentetuintjies gemaak en altyd diere aangehou – spesifiek hoenders en honde, maar eintlik enige ding wat leef en beef.

Ek het my hoërskoolloopbaan by die Augsburg Landbougimnasium op Clanwilliam voltooi en ek wil amper sê daar het die droom van boer vir die eerste keer werklik na ’n realiteit begin lyk. Na skool het ek hier in die Clanwilliam-omgewing begin werk, en dis mos nou maar eintlik rooiboswêreld. En hoewel ek nooit regtig beplan (of daaraan gedink het) om met rooibos te boer nie, het dit eintlik maar net gebeur. En uit die hele verskeidenheid (sitrus-, skaap-, bees- of aartappelboerdery) het rooibos op die ou einde ’n spesiale plekkie in my hart gekry. Ek het baie vinnig lief geword daarvoor om met dié spesiale en unieke bossie te boer.


Sanel, wat is volgens jou opinie die drie belangrikste pilare van ’n suksesvolle verhouding (of huwelik)? En hoekom?

Respek – As julle mekaar respekteer, sal jy nie die ander persoon te na wil kom, seermaak of teleurstel nie. Jy sal altyd hulle belange in ag neem en goed probeer wees vir hulle.

Kommunikasie – As julle nie goed met mekaar kan kommunikeer nie, gaan julle verby mekaar leef en eintlik die hele punt van ’n verhouding mis. Kommunikasie speel ’n baie belangrik rol in die sukses van ’n verhouding, hoe julle tydens die goeie, maar ook die slegte situasies met mekaar kan kommunikeer.

Geloof en liefde – Op die einde van die dag dink ek geloof en liefde loop hand-aan-hand, want as jy die Here lief het (en julle Hom in julle lewe en verhouding verwelkom) gaan dit makliker wees om mekaar ook as mense lief te hê en te aanvaar.

Smoorverlief: Sanel Prinsloo en Willem Pool

Willem, wat is die vreemdste ding wat jy in jou Boer Soek ’n Vrou-inskrywingpakkies gelees (of ontvang) het?

Een dame het vir my ’n koppie gestuur – ’n koffiebeker met ons gesigte saam in ‘n hartjie. Dit was nogal vreemd gewees, want ek is nie sulke goed gewoond nie. So ja, dit het nogal ’n blywende indruk gelaat…

En die vreemdste ding wat een van die dames vir my in haar brief geskryf het, was dat sy haar “verlede, hede en toekoms in my oë kan sien”.


Sanel, sou jy ooit kon raai dat jy liefde op dié manier kon vind?

Nie in my wildste drome nie! Ek het eintlik nog altyd gedink dit is taamlik vreemd om vir so iets in te skryf, maar toe ek nou self vir Boer Soek ’n Vrou inskryf, het ek probeer om nie daaraan te dink dat die teleurstelling later net soveel groter kan wees juis omdat geen van jou gevoelens en emosies privaat is nie – jy deel eintlik maar alles met die res van Suid-Afrika! Ek het glad nie ’n “gelukkige einde” verwag nie, ek het maar net die kans gewaag en heel per ongeluk die liefde gevind.

Sanel, jy het van Mooinooi getrek na Leipoldtville om nader aan Willem te wees. Hoekom? En was dit ’n moeilike besluit?

Ek het nie eintlik kans gesien vir ’n langafstandverhouding nie. En ek het ook besef dat ek as onderwyseres nie oor naweke die tyd gaan hê om aan ’n nuwe verhouding te bou nie. In die onderwys is naweke mos maar vol sportbyeenkomste en kultuurgebeure, en het ek nie kans gesien daarvoor om hom slegs een keer elke twee of drie maande te sien nie. Ek voel dat jy ’n verhouding (veral ’n splinternuwe verhouding) ’n regverdige kans moet gee, en afstand plaas baie onnodige druk op mens – daarom het ek besluit om die stres van ’n langafstandverhouding heeltemal uit te skakel. Dis vir ons baie lekker om nou dinge saam te kan doen en ervaar, want toe ek op Mooinooi gebly het, het ons 1 400km van mekaar af gebly en was die realiteit dat ons min in mekaar se geselskap sou wees. Nou bly ons slegs 60km van mekaar af en geniet elke oomblik van saamwees.

Om Mooinooi vir Leipoldtville agter te laat was aanvanklik ’n baie moeilike besluit gewees om te neem, want al my mense is op Mooinooi en dit is ’n realiteit dat jy ’n hele lewe, goeie vriendskappe en die veiligheid van naby jou familie wees, agterlaat. Ek moes vinnig vrede maak met die feit dat ek my familie en vriende (wat elkeen die wêreld vir my beteken) minder sou kon sien, maar die vooruitsig van nader wees aan Willem, het my vinnig gerus gestel. Vandag is ek nie vir een oomblik spyt hieroor nie.

Wat is vir julle die moeilikste deel van ’n langafstandverhouding? En wat het julle al daaruit geleer?

Sanel: Ek het vreeslike FOMO (Fear Of Missing Out)! Ek hou daarvan om deel te wees van gebeure en soveel as moontlik te ervaar. So, dit was vir my vreeslik erg om te weet dat ek nie alles saam met Willem kan doen nie. Aan die begin van ons verhouding (spesifiek toe ons nog so ver van mekaar af gewoon het) moes ons ook vinnig leer dat kommunikasie regtig belangrik is, want ’n misverstand kan baie maklik inglip as ’n mens mekaar min sien. Jy leer ook vinnig om elke oomblik wat julle wel saam spandeer te koester en ten volle te benut.

Willem: Vir my was dit die verlange. O jinne, ek het haar verskriklik verlang! En om sonder haar te wees was die heel ergste. Ek het geleer dat dit baie beter is om nader aan mekaar te bly, want jy ry jou bakkie se wiele stomp agter dié vroumens aan.

Willem, wat is die belangrikste ding wat jou deelname aan Boer Soek ’n Vrou vir jou geleer het?

Jy moet altyd nét jouself wees! Dit help nie jy skryf in vir só ’n program en jy gee iets voor wat jy nie is nie. As jy gaan inskryf en iemand probeer wees wat jy nie is nie, begin jy die besigheid klaar op die verkeerde voet, en hoe kan jy tog dan nou iemand wil wees wat jy nie is nie? Dis ook glad nie regverdig teenoor die res van die deelnemers en die program se kykers nie.

Wees net getrou aan jouself en dan sal al die ander dingetjies in plek val, en kan jy hopelik ook ware liefde vind.

Sanel, beskryf vir ons jou ervaring van die hele proses van Boer Soek ’n Vrou? Hoe het jy die emosies, die “wat asse” en die spanning van iemand voor ’n kamera leer ken, ervaar en hanteer?

Dit was ’n absolute gewees! Dit was baie anders as wat ek verwag het, hoewel ek moet erken dat ek ook nie heeltemal seker is oor wat ek verwag het nie. Maar dit was vir my baie lekker om die hele proses enduit te kon voer, en fisies, emosioneel en psigiese deel te kon wees van die 12de seisoen van Boer Soek ’n Vrou. Ek het dit regtig geniet en vreeslik baie daaruit geleer.

Die hele proses was nie noodwendig vir my “spanningsvol” gewees nie, maar dit was ook by tye nie altyd lekker nie, veral wanneer jy besef iemand gaan binnekort moet huis toe gaan of dat mense regtig kan seerkry.

Die “wat asse” is nogal interessant as ek nou kyk hoe alles terugspeel – ek het net weer besef dat dinge gebeur soos wat dit moet.

Willem, wat was jou eerste indrukke van Sanel tydens julle eerste ontmoeting  (die vyfminuut-blitsafsprake)?

Sjoe, dit is baie lank terug! Wel, ek onthou ’n klein meisietjie (met ’n nommer drie skoen) wat op my afgepyl het en ’n stywe drukkie kom gee het. En dat daar tydens ons gesprek verskriklik baie gegiggel en gelag is.

My eerste indrukke was dat dié klein meisietjie verskriklik baie en onophoudelik kan praat. Die vyfminuut-blitsafspraak het blitsvinnig verby gevlieg met al haar geselsery, en ek wou net nóg hê.

Maar ja, baie praat, jong. Liewe genade! Sanel kan nie ophou praat nie – nou nog nie!


Willem, beskryf Sanel in 3 woorde.

Dis baie moeilik, want daar’s baie woorde … Maar kom ons sê maar spontaan, omgeemens en pragtig-van-binne-en-buite (met koppeltekens dat dit ook een woord is!)


Wat is julle planne vir die toekoms?

Sanel: Op die ou einde het ons albei vir Boer Soek ’n Vrou ingeskryf om iemand te ontmoet, en dit het toe nou gelukkig vir ons so uitgewerk. Ons het nie sommer in ’n ligsinnige verhouding ingestorm nie – dit is vir ons albei ’n saak van erns. En dis belangrik om mekaar nou beter te leer ken, en as die tyd reg is seker maar uiteindelik te trou. (Sy lag.)

“Hoor nou weer hoe skimp sy vir ’n ring!” laat Willem van hom hoor. Sanel is egter vinnig weer reg met ’n antwoord. “Hy jok! Hy sal tog wens dat ek moet begin skimp vir ’n ring. Ons planne vir die toekoms is egter om ’n lewe saam te bou en hopelik eendag gelukkig saam oud te word.”

Willem: Vir eers is ons net daarop gefokus om mekaar beter te leer ken en dan iewers langs die pad seker maar ’n ring, trou en soos Sanel sê, hopelik ’n gelukkige toekoms saam.

Boer Willem en Sanel: Wie nie waag nie, wen nie!

Sanel, jy en Willem verskil sewe jaar … Speel dié feit ’n rol in julle verhouding?

Nee, ek sal nie noodwendig so sê nie. Ek sal wel dikwels spot en sê dat hy baie oud is, maar dis net grappies. Dis nie eers ’n kwessie nie. Hy is nog jonk van gees en het baie lewenservaring, en ek het nog altyd gesê ek gaan eendag iemand in my lewe hê wat heelwat ouer is as ek, want ek hou van volwassenheid is. Dis vir my baie lekker dat hy al sy dinge agtermekaar het en nie meer besluiteloos is oor wat hy in die lewe wil hê nie.


En laastens wil ons graag weet, watter raad het julle vir toekomstige boere wat dalk nog huiwer of hulle die kans moet waag om vir
Boer Soek ’n Vrou in te skryf?

Willem: Ek dink dis beslis ’n uitstekende platform as jy iemand wil ontmoet en bereid is om jouself daarbuite te sit. Jy moenie skaam of teruggetrokke wees nie, want dan gaan dit nie regtig werk nie. Maar as jy regtig iemand wil ontmoet en bereid is om die kans te vat, sal ek dit definitief vir enige iemand aanbeveel. Dis ’n baie lekker reis om aan te pak – jy ontmoet nuwe mense, sien nuwe plekke en vind dalk net die liefde van jou lewe. So as jy nie net by die huis wil sit en wag vir die regte een om oor jou pad te kom nie, pak die bul by die horings, en skryf in vir Boer Soek ’n Vrou.

Sanel: Ek sal nooit die hele ervaring as iets minder as ’n avontuur beskryf nie. My ma se woorde sal my altyd bybly “Jy het niks om te verloor nie.”

Ons is grootgemaak met die ingesteldheid dat wie nie waag nie, sal nie wen nie. So as jy regtig iemand sien wat jou aandag trek, waag die sprong en skryf in. Jy sal immers nie weet wat kan gebeur as jy nie probeer nie. Partymaal moet jy jou trots in die sak steek en iets buite jou gemaksone doen – moet dit nie te veel oordink nie, skryf net, want wie weet, dalk werk dinge perfek uit.

Vir nog lekker onderhoude, klik hier.

Deel
Gepubliseer deur
Zoe Salzwedel

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.