kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 33

Die kunskenner

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Na dae se slaap en energiedrups voel Liesl sterk genoeg om self die twee Botox Barbies en die Arabiese knoeiers aan te pak. Roxy en Erna kom haal haar by die hospitaal.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Dok Harry stuur dié,” kondig Roxy aan en stop ’n papiersak in haar hand. Tien plakke donker Lindt-sjokolade, ’n CD met boeremusiek, nog ’n Dr Harry-beker en ’n halfjack brandewyn. Bo-op ’n CD met tangomusiek is ’n kort nota in sy spykerskriffie:  “As al die drama verby is, stick ek jou vir ’n tango in Argentinië.” Agterop die CD is ’n brosjure van Buenos Aires opgeplak. Die roete na Sin Rumbo, een van die stad se oudste tango-joints is omsirkel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ons het klaar geloer,” beken Roxy. Erna giggel saam.

“Oom Harry is nogal romanties!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Roxy voeg by: “Jissie ja, ek het al gedog my baas is net nice met perde en honde.”

Liesl voel sy bloos soos ’n skoolmeisie. Haar hart klop vinniger as die dag in die grot toe Harry haar so styf vasgehou het. Sy vermaan haarself oor haar muisneste tydens so ’n lewenskrisis.

“Stil julle, ek en Harry verstaan mekaar. Hy is die beste pel wat ’n ou drama queen soos ek kan hê.”

By die huis wag Minet Grimbeek, Emily se produksie-assistent, hulle in. Sy is soos ’n kloon van Emily en mens kan sien sy floreer as daar iets is wat sy moet orden en organiseer. Sy het ’n legger gereed, volledig met foto’s van die hang van die skilderye en ’n lys punte wat Liesl die dag van die uitstalling stap vir stap moet volg.

“Hansie Viljee se spyseniering is die beste en baie trendy. Minimalisties, stylvol en bekostigbaar want die mense gaan immers nie om hulle dood te eet nie, aldus Hansie. Die universiteit se kunssentrum het versterkings vir die sekuriteit gereël en Emily het persverklarings en foto’s aan die media gestuur. O ja, teen jou kas hang drie rokke. Em sê jy moet een kies.”

Liesl voel of ’n mini Emily- tsoenami oor haar gespoel het, maar sy is ook diep dankbaar. Veral toe Minet haar nog ’n legger met haar reisrelings na Dubai in die hand stop.

“Genade Minet, hoe kry jy en Emily dit reg om altyd so hiper georganiseerd te wees? My kop is so los op my lyf dat ek, selfs al was ek op my beste, nooit hierdie reëlings in ses maande sou kon tref nie. Dankie, dankie!”

“Ma moet nou net nie weer begin tjank nie, kom ons gaan pas die rokke aan!” Por Erna en Liesl verstom haar hoe sterk en kalm haar kind is. Sy voel aaklig dat sy so emosioneel en broos is en voel dat sy haar kinders in die steek laat.

Emily bars by die deur in met vonkelwyn en ’n dekadente sjokoladekoek.

“Streskos! Kom meisies, sny die koek dat ons ons gemoedere kan kalmeer. Ek het ’n versnapperingkie nodig na al die editwerk aan die renoster-dokkie. Jy speel ook ’n rolletjie daarin, Liesbet. Lekker skote waar Harry jou by die kloof af sleep en jy langs die water sit en tjank.”

“Em, jy sal my weer in die kliniek laat beland! Los my deel van die drama maar uit.”

Emily skater en skink die glase vol borrel-terapie.

“Nou wil jy al die juicy stuff uitsny? Ek dog net ek kan die dokkie in ’n dramatiese fliek omskep. Iets soos ‘Krisis in die Kloof’.”

“Nee man, kom ons noem dit ‘When Harry dragged Sally’ dan maak ons dit ’n opvolg van daai fliek waarin Meg Ryan so orgasmies hiperventileer in die restaurant,” voeg Roxy by en soos die volkelwyn vloei, word die ‘draaiboek’ van die fliek geborduur.

Roxy boots Meg na met elke happie sjokoladekoek wat in haar mond smelt en Liesl word gedwing om in die noupassende skemerkelkrokke te paradeer.

“Die goed is te kaal en styf vir my!” kla Liesl en hou ’n turkoois-blou nommertjie in die lug.

“Ag hou op kla met ’n witbrood onder elke arm, Liesbet. Jy is so maer soos ’n riem na al die drama. Eintlik haat ek jou daarvoor, maar terwyl jy nou so ’n lekker lyf het, laat ons dit afshow! Ek het eintlik klaar besluit daardie tukoois enetjie is die regte een om Harry se hormone te jump start. Pas by jou blousel-blou oë. Jy weet vriendin, wat ek nie kan verstaan nie, is hoe meer drama en snot en trane daar in jou lewe is, hoe dieper blou raak jou oë. En gelukkig het jou hare darem nou in ’n skaflike styl gegroei nadat jy dit so versnipper het.”

Almal oee en aa oor die turkoois-rokkie wat Liesl se netjiese borste en slanke lyf sensueel toevou. Soos die res van die week se reëlings word ook dié besluit uit Liesl se hande geneem en word eenparig besluit sy sal dit die aand dra!

‘Ek kan gewoond raak aan die gemaklike leefstyl waarin ek geen besluite hoef te neem nie. Sonder julle sou ek in duie gestort het.’

Emily snork kamma verontwaardig. “Skep die pap terwyl dit reën, meisie, want na die uitmergelende drama gaan jy my big time skuld hoor! Aarde, eens het ek gedog jy is my boringste vriendin. Nou is jy die ultimate drama-magneet! Maar ek kla nie, jy hou die lewe interessant!”

Met die groot dag van die uitstalling loop alles glad soos net ’n Emily-masjien kan loop. Liesl stap ’n paar uur voor die opening stadig deur die uitstalling. Elke skildery het ’n storie wat agter die doek afspeel. Sy onthou elke emosie van elke kwashaal. By die heel laaste skildery steek sy vas. Dis die een waaraan sy die nag van die pille-drama gewerk het. Die styl verskil dramaties van haar ander fyn werk. Die kwashale is robuust en dramaties. Presies soos iemand sou verf wat ’n paar rooiwyne en ’n hand vol kalmeerpille in het, dink Liesl en draai vraend na Emily.

“Die een was mos nie vir die uitstalling bedoel nie! Kan ons dit afhaal. Dis aaklig!’

Emily keer. “Nee Liesbet, dis die eerlikste werk in jou reeks. Dis hoekom ons dit BROKEN noem. In jou wyn-en-pille-waas het jy jou emosies rou en naak uitgebeeld. Wag net, jy sal sien die kunsresensente gaan daarvan hou. Selfs ou suur Margaret Awerbach gaan vanaand hier wees. Sy het vanoggend gebel om seker te maak jy gaan vanaand hier wees.”

“Margaret! Nee! Sy het nog nooit van my gehou nie! Ons kom van universiteit af saam en sy het toe al gesê ek lewer ‘pretensieuse kommersiële werk’. Ek kan haar woorde nog presies onthou!”

Met Emily, Roxy en Erna wat soos ’n laer om haar getrek is, stap Liesl met bewende bene by die opening van haar langverwagte uitstalling in. Daar is baie meer lede van die media as wat sy verwag het. Dis beslis nie net kunsjoernaliste nie.

‘Liesl! Liesl! Hoe gaan dit met jou man!” vra ’n bebaarde man terwyl hy ’n TV-kamera tot byna in haar gesig druk. Die universiteit se sekuriteitsmanne het lanklaas soveel opwinding beleef en vra baardman om tru te staan.

“Dames en here, die kunstenaar sal na die opening vrae beantwoord by ’n perskonferensie. Geen vrae oor haar man of EMKO sal beantwoord word nie, dankie!’ Emily lyk so kwaai soos net sy kan lyk. Met ’n gemor staan die harde-nuus media eenkant, maar dit keer nie die flitsende kameras nie.

“Jy is fymis!” fluister ’n bekende stem in Emily se oor. Herman!

“Moenie spot nie, weet jy hoe bewe my bene?”

“Ag ou merrie, enige vrou wat ’n renosterstroper teen ’n krans kan weghol, kan die media hanteer.”

Liesl is verbasend kalm as sy die gaste verwelkom en die uitstalling open. Sy is baie dankbaar vir die volledige brosjure wat sy laat druk het want sy sien nie kans om oor elke skildery uitgevra te word nie.

Toe staan die vrou skielik in haar volle flambojante glorie daar: Margaret Awerbach!

“Hallo Liesl, ek sien jy verf nie meer net kosmosblommetjies en visserskuitjies nie. I like I like! Ek het altyd geweet jy steek ’n ware kunstenaar agter jou prentjies weg.”

Liesl voel hoe haar kalmeerpil se werking by die sekonde verminder. Margaret is ’n imposante figuur in ’n kleurryke drapering wat geen mens kan miskyk nie. Tientalle goue armbande klingel om haar polse as sy haar wynglas lig om ’n heildronk op Liesl se “nuutgevonde talent in te stel”.

Waar sy die krag vandaan kry, weet Liesl self nie, maar sy maak haar ruggie reguit en kyk Margaret vierkant in die oë.

“My maggies Margaret, is dit sowaar jy? Ek het jou byna nie herken nie! Ons was so jonk toe ek jou laas gesien het. Ja nee, die jare laat ons ook nie onaangeraak nie né?”

Sy beduie met haar hand iets vir Margaret.

“Ekskuus? Waarna beduie jy so?”

Liesl buig vorentoe en fluister vertroulik in Margaret se koers: “Margaret, daar sit iets groen aan jou tande vas, ek dink dis slaai of iets …”

Margaret ruk onthuts al vier haar kenne in proporsie, draai om, en maak spore na die kleedkamer.

Liesl hoor ’n onderdrukte laggie. Sy draai om en kyk vas in die aantreklike gesig van ’n man met silwergrys hare en skelblou oë. Hy steek sy hand uit na haar.

“Michael Saunders …”

Liesl weet dadelik wie dit is. Haar bene raak effe jellierig. Die einste Michael Saunders op wie sy as jong kunsstudent so beenaf was. Dis nou voor Konrad se tyd. “O ja, van die Saunders kunssaal?”

“Net so, ons was saam op universiteit, onthou jy?”

Asof sy kon vergeet …

“Ek het jare laas iemand raakgeloop wat ou suur Margaret op haar plek kan sit. Wel gedaan!” Hy klingel sy glas teen hare.

“Ek het gewonder wanneer jy ’n groot uitstalling gaan hou. Was hoog tyd! Ek is bly die uitstalling is nie gekanselleer …e jy weet …”

Liesl weet waarop die gesprek afstuur: die EMKO-skandaal. Sy lei sy aandag af.

“En, hou jy van wat jy sien?”

“Kragtige werk! Ek hou veral van die een: BROKEN. Dit staan uit bo die ander.”

Liesl wil nie aan die mooie man beken dat sy die skildery in ’n wyn-en-pille-waas geskilder het nie.

“Ek het hom reeds gereserveer en hy gaan saam met my huis toe. Ek sal graag meer oor die skildery wil hoor. Koffie volgende week?”

Liesl kan nie glo wat haar ore hoor nie. Toe sy ’n student was, sou sy floutes van opgewondenheid gekry het as Michael haar uitgevra het. Blikskottel, dink sy, sy tydsberekening is so verkeerd.

“Ek is ongelukkig volgende week oorsee. Kan ons dit ’n ander keer maak?”

Michael neem haar hand in syne en sy bewe tot by die some van die styfpassende rokkie.

“Ek het reeds jou nommer, liewe Liesl, jy sal weer van my hoor.”

Michael verdwyn tussen die gaste.

“En wie is dié Gril Gawie?” Harry het ’n bordjie wat boepens staan van die crudites.

“Is hier nie behoorlike kos vir ’n honger mens nie?”

Liesl verstom haar dat twee uiterstes soos Harry en Michael dieselfde planeet bewandel.
Michael, met sy netjiese linnebroek en sportbaadjie … en Harry wat lyk of hy sy katkisasiepak agter uit sy klerekas gegrawe het.

“Dis Michael Saunders, hy het my duurste skildery gekoop en my uitgevra vir koffie.” Sy sê dit byna uitdagend want sy is vies dat Harry so snedig kan wees oor ’n aantreklike man wat haar bene steeds bietjie jellierig maak.

“Ons was saam op universiteit en sy ouers besit een van die grootste kunshandelaars in die land.”

“Mmm … indrukwekkend. Ek moet hom eendag oornooi plaas toe sodat sy vel ’n bietjie son kan kry.”

Liesl besef Harry is jaloers!

Haar gedagtes kry skaars kans om in te sink toe haar oog iemand aan die oorkant van die vertrek tussen ’n malende groep mense raaksien.

Isa!

Of is dit sy?

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.