kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 4

Snorre om te tem

Emily het ’n manier om Liesl in ’n ding in te boelie. Mens sê nie vir haar nee nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Toe toe, ek gaan gou by die huis stort en aantrek dan kom laai ek jou op vir die vergadering met die produksiespan vir die renosterprojek.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Liesl se siel en lyf voel moeg. Die yskoue stortwater kan haar nie eens verfris nie. Daar is nie tyd vir ontbyt nie en sy gryp die halwe plak Lindt sjokolade van haar bedkassie as sy Emily voor die hek hoor toeter.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Kom Dolla, places to go and people to meet. Daar is juis so ’n handsome veearts wat wag om ook getem te word. Dink net, gratis behandeling vir daardie aardige brak van jou …”

Emily se stem laat die dowwe rooiwyn-hoofpyn dringender klop.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die Jeep kronkel deur die verkeer en Liesl probeer desperaat by haar vriendin se verbale diarree oor die projek hou.
Sy verstaan nog nie heeltemal wat Emily van haar verwag nie. Sy kry ’n sterk vermoede haar vriendin probeer haar net besig hou.

Om die departement dierkunde se raadsaaltafel sit reeds verskeie mense in druk gesprek en Emily mik vir die naaste oop stoele.

Die man met die rooi sonbrandneus en welige roesbruin wenkbroue langs haar steek sy hand na haar uit.

“Herman van Wyk, renosterkwak.” Sy vermoed sy groen oë vonkel oor hy dink die titel wat hy homself toedig is snaaks.

“Liesl, en ek weet nie wat ek hier doen nie,” lig sy hom in oor haar missie.

Met die vergadering in volle swang grom haar maag van die honger. Met elke grom loer die kwak moedswillig in haar koers. Sy haal die sjokolade uit om die monster in haar binneste te troos. ’n Growwe, harige hand breek vir hom ook ’n groot stuk af.

“Ek hoop nie jy gee om nie,” fluister hy.

Emily skop haar onder die tafel en knipoog vir haar.

Liesl voel hoe sy opstyg van verergdheid. Sy besluit net daar sy gaan beslis nie saam met Emily Mpumalanga toe nie. Sy het geen krag vir bruuske Neanderthal-mans met groot harige kuite nie.

Asof hy haar gedagtes hoor, strek Herman van Wyk die volle lengte van sy bruingebrande bene voor hom uit. Die kort sokkies by die stewels kontrasteer met kuite wat soos gestopte skaapboude uitbult.

“Liesl het ’n aaklige hond sonder maniere,” lig Emily hom teetyd oor haar in.

“Ons het ’n hondeskool by my praktyk,” bied hy beterweterig aan.

“Ek moet jou waarsku, Maks is dalk gekruis met ’n perd.” Emily en Mnr Kuite geniet saam die grappie.

“Vir wat is jy so simpel om die afstootlike man van Maks te vertel? Jy kon darem gesê het: Dit is Liesl, sy skilder! ” brom sy op pad huis toe.

“Die hond is mos ’n goeie aanknopingspunt as mens ’n veearts ontmoet. Ag Herman is oulik. ’n Vangs hoor! Hy is ’n oujongkêrel. Ek glo mens kan hom house train. He will clean up well!

“Em! Ek is skaars ontslae van een probleem, nou wil jy my opsaal met ’n ongetemde buffel.”

“Noem hom eerder ’n renoster, Liesl, die man het ’n groot passie om te keer dat renosterstropers als uitwis. Ons gaan op sy plaas die dokkie skiet.”

Na ’n ruk skater sy saam as Emily raad gee oor hoe mens Herman se snorbaarde en wenkbroue kan tem.

“’n Goeie skrop en bietjie room en daardie lyf kan nogal goed lyk in ’n mooi hemp en chino’s.”

“O genade, en daai hare kort ’n goeie sny en kam. Weet hy ooit wat ’n kam is?” voeg Liesl raad by.

Sy dink aan die pynlik netjiese Konrad wat altyd subtiel na naskeermiddel ruik. Sy kan nie meer onthou hoeveel huishulpe hy al laat vlug het oor sy onwrikbare voorskrifte oor hoe sy hemde gestryk moet word nie.

Maks is oordadig bly om haar te sien. ’n Paar verdroogde laventelbosse lê verstrooid op die gras.

“Het Mamma se seuntjie vanoggend baie pret gehad? Netnou gaan ek en jy ver stap!”

Maks stoot haar byna om met sy moddersnoet. Sy omhels hom en hy lek haar gesig dat die spoeg spat.

Sy geniet die aandag wat haar onnutsige reus in die park kry. Hy is ’n besondere groot Great Dane en geniet self al die aandag.

Terwyl sy stap probeer sy konsentreer op die natuurskoon en wil nie op Konrad en Isa fokus nie, maar telkens dwaal haar gedagtes. Sy kom nie eens agter dat hulle in ’n verlate deel van die park beland het nie. Eers toe die twee mans met pette diep oor hulle oë getrek uit die bosse voor haar inspring en sy in die loop van ’n pistool vaskyk, skrik sy terug na die werklikheid.

Your money and your phone!

Maks bespring die man met die pistool en in die gestoei hoor sy ’n skoot afgaan. Sy sien Maks se tande in sy arm insink en hoe hy die man soos ’n lappop skud.

Hy gooi die man neer en kry hom aan die been beet. Haar gille help niks, Maks hou wat hy het.

Die makker het laat spaander, maar die hulpelose man in Maks se greep kan eers deur die veiligheidswag en ’n paar omstanders bevry word.

“Jou hond bloei!”

Sy sien hoe Maks eenkant sit en die bloed van sy heup af probeer lek. Hy is gewond en kan nie weer opstaan nie. Als in Liesl breek en sy gaan sit langs haar bebloede hond. Sy gee nie om hoeveel mense haar rou snikke van skok en ou seerkry hoor nie.

“Moenie bekommer nie, die polisie is op pad en hulle sal jou met die hond help,” probeer ’n vrou troos wat ’n handdoek aanbied waarmee Liesl die bloeding probeer keer.

’n Vrees pak haar beet dat sy Maks kan verloor. Die hond het vir haar ’n steunpilaar in ’n moeilike tyd geword. Saans was dit net sy swaar voetstappe wat die stilte in die huis verbreek het. Dis sy nat snoet wat haar in lang nagte herinner het dat iets wat asem omgee.

Die polisie daag op en iemand kom buk oor Maks. Gewillige hande dra hom na ’n bakkie. Sy stompel agterna en klim saam met haar beseerde hond agterin. Sy hou sy kop op haar skoot en gesels met hom terwyl hulle ry.

Toe hulle uiteindelik stilhou, word Maks uitgelaai en in ’n gebou ingedra. Hy word tot in ’n teater gedra. Sy wil saam.

’n Hand keer haar.

“Wag, ons moet hom eers help.”

Sy herken die welige roesbruin wenkbroue.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.