kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 9

Die huilende nar

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Herman is die volgende paar dae nie by die spreekkamer nie. ’n Jong veearts neem in sy plek waar terwyl hy op sy plaas gaan voorbereiding doen vir die verfilming van die renosterprojek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Liesl voel vreemd teleurgesteld oor sy afwesigheid. Roxy peper haar met vrae oor Dr Harry se blou oog en hulle lag heerlik oor mans wat soms nie kan slaag om hulle oerdier te onderdruk nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy gaan kuier elke dag vir Maks en sy en Roxy drink baie bekers soet tee uit die Dr Harry bekers.
Nuuskierigheid oor Herman se doen en late en sy private lewe word onderdruk. Netnou lyk dit of sy belangstel. Sy maak haarself wys dat sy net effe verlief voel omdat sy gevlei voel oor Herman haar verdedig het. Emily sal net moet verstaan dat sy nie meer deel van die renosterprojek kan wees nie. Muisneste is die laaste ding waarvoor sy nou krag het. Herman is buitendien ’n geswore oujongkêrel en hy het nog nie juis getoon hy het enige romantiese intensies nie. Met al haar vreemde gedrag die afgelope dae neem sy hom ook nie kwalik nie.

Om haar kop verder deurmekaar te krap, lig Roxy haar een oggend in dat Konrad Maks se volle rekening vereffen het. Sy skraap al haar moed bymekaar om hom te bel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Dankie, maar dit was nie nodig nie,” knoop sy die gesprek aan.

“Ek het belowe. Hoe gaan dit met die brak?”

Hy noem niks van die clash of the titans nie en sy wil hom ook nie uitvra oor die gebreekte neus nie. Sy vererg haar oor haar haar hart vinniger klop soos elke keer as Konrad in ’n onbewaakte oomblik wys hy gee darem nog ’n bietjie om. Gaan sy ooit van die “vrou in haar liefde verlaat”-sindroom ontslae raak? Dit maak haar woedend dat hy nog die soort uitwerking op haar het.

“Kan ons gaan koffie drink? Ek het iets om met jou te bespreek.”

Liesl byt op haar lip want haar eerste gedagte is om hom te vra om Isa asseblief nie saam te neem nie. Sy hoop nie Konrad wil weer aan die egskeidingsooreenkoms verander nie.

Terwyl sy beplan wat om na die koffie-afspraak met haar eks aan te trek, wonder sy of sy nie tog maar haar haarstyl meer modern moet maak nie. Die lang hare in ’n poniestert of sommer met ’n knip opgesteek, is seker nie die toonbeeld van goedversorgdheid nie? Sy lig haar hare in ’n bondel op en teez dit effe om te kyk hoe sy sal lyk met Big Hair. Haar krulhare het nie uitnodiging nodig nie en sy lyk gou soos ’n countrysangeres. Sy besluit om dit so te los. Haar lippe kry ’n wulpse rooi lipstif. Sy trek een van Erna se styfpassende T-hemde aan en dwing haar agterstewe in een van haar kind se jeans in. ’n Kort denimbaadjie en Erna se matriekafskeidsandale, die hoogste hakke in die huis, rond die prentjie af. Die olieverf-spatsels op haar naels word afgeskrop en in Erna se laai kry sy blou naellak.

Sy glimlag moedswillig vir haarself in die spieël. Miskien sien Konrad vandag wat hy mis?

Hy sit by sy gewone tafel by Fago in Sandton. Gewoontedier, dink sy as sy nader stap. Die plek sit gepak met die gryspakmanne, soos sy hulle noem. Sy kan sien Konrad skrik as hy haar nuwe voorkoms sien. Hy kyk rond. Seker bang iemand sien sy eens voorstedelike vroutjie se make over. Maar hy sê niks.

“Ek het besluit om Stilbaai vir die kinders te gee. Dis hulle plek,” breek hy die ys. “Hulle was so gelukkig daar.”

Liesl kyk hom vierkant in die ysblou oë. “Ons was ook gelukkig daar.” Sy sal hom dwing om te onthou hulle was ook eens gelukkig … en verlief.

Hy probeer haar blik ontwyk, maar gee oor. “Ja, ons was … op ’n tyd.”

Sy goedversorgde hande speel met die koppie. “Is jy ernstig oor die veearts?”

Haar mond val byna oop van verstomming. Is Konrad dalk jaloers?

“Daar is niks tussen my en die veearts nie. Hy het my brandewyn vir die skok gegee en dit het my gevang. Toe neem hy my huis toe en slaap in die sitkamer om seker te maak ek is veilig. Hy het vir my ontbyt gemaak en in die swembad gespring om af te koel.”

Konrad roer sy koffie stadig. “Hy het ’n oog op jou, ek ken daardie kyk in ’n man se oë.”

Die biets in haar wil na vore tree en hom verwyt dat alle mans nie dwalende oë het nie.

“Hy is nie die soort man wat vir ’n vrou sal val wat in sy spreekkamer uitgepass het van te veel drank nie.”

Konrad vat haar hand, en steier effens vir die blou naellak.

“Wees versigtig, Lies, ek wil nie hê jy moet seerkry nie.”

Haar mond is droog van die skok. Hoe kan hy, wat haar die seerste van alle mense gemaak het dit sê? En vir wat noem hy haar Lies? Hy het dit in jare nie gedoen nie. Sy bedwing haar emosies deur met die servet te speel.

Gelukkig begin hy oor die kinders praat. Sy sluk ’n paar groot slukke koffie asof dit die bewing in haar sal kalmeer.

“Het Ludwig jou vertel sy rugbyspan gaan in Frankryk toer? Ek hoop iemand daar sien sy talent raak. Baie Suid-Afrikaners speel daar. Maar die mannetjie sal ook aan sy akademie aandag moet gee.”

Die opgepofde hare begin Liesl irriteer en sy probeer dit uit haar gesig vee. Sy voel skielik soos ’n gek met die terterige voorkoms. Wat het haar besiel? Probeer sy soos Isa lyk? ’n Snedige stemmetjie in haar binneste spot dat sy nie die myle wat die jare op haar gelaat het, kan uitvee nie.

Konrad lig sy hand senuagtig om iemand te groet. Die stem agter haar is bekend.

“Konrad, Isa! … O, ekskuus, hallo Liesl?”

Barry Verdoorn is een van Konrad se direkteure. Die waardige man is duidelik ontsenu oor sy verwarring. Hy bekyk Liesl openlik verstom oor die verandering in haar voorkoms. Dit moes die Big Hair van agter gewees het wat hom laat dink het dit is Isa. Hy maak homself gou uit die voete.
Sy kan sien dit was vir Konrad ’n verleentheid. Hy haat sulke situasies. Dit kom uit sy arm kinderjare. Toe hulle nog gekommunikeer het, het hy haar vertel hy het op hoërskool al besluit hy gaan suksesvol wees en niemand gaan hom ooit weer van sy statusposisie afstoot nie. Met die ding met Isa het sy dikwels gewonder wat haar bydrae dan tot sy status is? Sy weet die gryspak-manne in Konrad se kringe gebruik ’n minnares as statussimbool, maar ’n effe smerige affair wat op ’n egskeiding uitloop? Sou hy trots daarop wees? Barry se vriendelike groet aan “Isa” maak dit duidelik sy word deur die high brass by die myngroep aanvaar as Konrad se metgesel. Arme Gerben. Hoe sou hy EMCO funksies hanteer met sy eksvrou aan sy baas se sy?

Konrad is sommer dadelik haastig terug kantoor toe. Die irritasie vlam oor sy gesig. Hy trek sy baadjie aan en trek sy hempsmoue netjies. Onbewustelik voel hy of sy das nog reg sit. Sy kan sien hy stoom.

“Vir wat het jy vandag soos ’n nar aangetrek? Jy het ’n gek van my gemaak voor Barrie! Wat gaan met jou aan, Liesl? Ek ken jou nie meer nie! Jy gaan nie daardie veearts vang as jy soos ’n tert lyk nie.”

Konrad kon haar netsowel in die maag geskop het. ’n Doodsheid spoel oor haar. Sy wil Konrad vra hoekom dit oukei is dat Isa so lyk. Sy wil hom vertel dat sy so aangetrek het omdat hy skynbaar daarvan hou. Sy wil hom vertel van die tye wat sy verraad haar desperaat laat smag vir aanvaarding.

Maar daar kom geen geluid uit nie.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.