kategorieë: InspirasieJou lewe

The Breakthrough Experience – John Demartini

Dis nie aldag dat ’n man soos dr. John F. Demartini jou pad kruis nie. Hy het ’n ruim gees, ’n groot hart, uitgebreide kennis van sowat 260 vakgebiede en die wysheid van iemand wat verder as die meeste mense kan sien. Sy manier om grense oor te steek, word in sy leefwyse weerspieël. As internasionale spreker is John 300 dae van die jaar op reis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Gaan hy wel “huis toe”, is dit na ’n wooneenheid op ’n luukse skip, The World, wat die mooiste hawens op aarde aandoen. Dit lyk of alles wat dié eertydse chiropraktisyn aanpak ’n sukses is. Sy eerste praktyk het binne vier jaar tot vyf keer die oorspronklike grootte gegroei, en John het so ’n welvarende sakeman geword dat hy ook as sakekonsultant werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy boeke oor persoonlike groei is topverkopers en sy innerlike helingsproses, The Breakthrough Experience™, verander wêreldwyd duisende mense se lewens. John se multinasionale persoonlike en professionele ontwikkelingsmaatskappy bestaan onder meer uit ’n navorsingsafdeling en die Concourse of Wisdom School of Philosophy and Healing, waar studente gewone of afstandsonderrig kry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Eintlik klink dit net te goed om waar te wees. Is John met ’n goue lepel in die mond gebore? Glad nie. Om te kon kom waar hy vandag is, moes hy teëspoed en struikelblokke oorwin. Dis dalk juis sy eerstehandse ervaring van swaarkry wat hom so ’n geloofwaardige leermeester maak.

John is gebore met ’n hand en ’n voet wat binnetoe gedraai was. Van kleins af moes hy stutte dra. Dokters het gemeen hy sou nooit vinnig kon beweeg nie, maar deur suiwer wilskrag het hy homself leer hardloop. Op sewe het die volgende komplikasie kop uitgesteek: ’n leerprobleem.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy onderwyseres het in sy teenwoordigheid vir sy ouers gesê hy sou nooit behoorlik kon lees, skryf of kommunikeer nie. Hy sou maar op sport moes konsentreer.

“Met die hulp van ’n slimkop-meisiemaat het ek my laerskooleksamens geslaag,” vertel John. “Ek het haar oor elke stuk leeswerk uitgevra en onthou wat sy gesê het. Maar toe verhuis ons gesin van Houston na Richmond.

“In Houston was ek ’n goeie atleet. In Richmond was ek ’n slaansak vir boelies”

“Akademies kon ek ook nie vorder nie, en uiteindelik het ek my ouers gevra of ek skool kon los en Kalifornië toe ryloop om ’n branderplankryer te word. Hulle het gesien hoe die wind waai en ingestem. Ek was 14 jaar oud.”

’n Paar jaar lank het John die reusebranders van Kalifornië en Hawaii gery, in ’n tent gewoon en “alles wat laag genoeg aan die tropiese bome gegroei het, geëet.”

Onwetend het hy die saad van ’n giftige plant ingekry. Strignien het in sy liggaam opgebou en hom so siek gemaak dat hy uiteindelik vier dae lank bewusteloos in sy tent gelê het. ’n Vrou wat daar naby in die woud gewoon het, het op hom afgekom en hom versorg. Toe hy sterk genoeg was, het sy hom na die naaste gesondheidswinkel geneem. Daar het hy ’n plakkaat gesien wat sy lewe sou verander: ’n advertensie vir ’n praatjie deur dr. Paul Bragg, ’n naturopaat wat ’n revolusionêre invloed op die Amerikaanse gesondheidswese gehad het.

Dr. Bragg het ’n onuitwisbare indruk op die sewentienjarige John gemaak. Aan die einde van sy praatjie het hy almal wat daar was in ’n meditasie gelei sodat hulle hul lewensroeping kon ontdek. In dié geestestoestand het John sy droom geëien: hy wou die kosmiese wette (universal laws) bestudeer, veral met betrekking tot gesondheid en menslike bewussyn. Hy wou reis om hierdie kennis aan ander oor te dra en mense genees.

“Teen die einde van die meditasie was ek in trane. Ek het geweet: ek sou ’’n filosoof, leermeester en geneser word.”

Gou het hy besef watter hindernisse tussen hom en sy lewensideaal lê. “My drome het vêr buite bereik gelyk van ’n brandarm surfer wat pas by die dood omgedraai en met ernstige leerprobleme pleks van ’n matrieksertifikaat gesit het.”

Hy het die moed bymekaargeskraap om dr. Bragg om raad te vra. Die oplossing, het dr. Bragg gesê, was dat John elke dag van die res van sy lewe met oortuiging moes sê:

“I am a genius and I apply my wisdom.”

As jy dit kan “sien”, kan jy dit word, het hy John verseker. Die uiteinde was dat John op agttien huis toe is en met die hulp van woordeboeke en ensiklopedieë leer lees het. Hy het sy hoërskoolekwivalenttoets geslaag en formeel én op sy eie begin studeer.

“Ek het byna niks anders gedoen as gelees nie – soms tot agttien of twintig uur per dag. My ma se broer, ’n universiteitsdosent, het kratte boeke by ons huis laat aflewer. Kosmologie het my belangstelling in astronomie geprikkel, wat weer tot fisika, metafisika, teologie, mitologie, antropologie en ander gebiede gelei het. Nuwe wêrelde het vir my oopgegaan.”

Hy het ’n formidabele leesspoed ontwikkel. Sy rekord staan op 11 000 bladsye per dag. “Daardie dag het ek halfdrie die oggend begin lees, en tot middernag deurgedruk.” Hy lees steeds minstens drie uur per dag.

Gesels jy met hom, besef jy dis parate kennis dié. Raak net aan ’n onderwerp, en hy kom met interessante feite vorendag.

Ná hy sy B.Sc.-graad voltooi het, is hy as chiropraktisyn opgelei. Hy het die spreekkamer mettertyd vir die verhoog verruil en sy droom om dit met wêreldbekende leermeesters soos dr. Wayne Dyer en Deepak Chopra te deel, verwesenlik.

John is daartoe verbind om ander te inspireer om hul eie potensiaal raak te sien, hul lewensdoel te ontdek, hul harte oop te maak en ’n lewe te skep wat hul stoutste verwagtinge oortref. Hy verstaan nie net die kuns om mense tot groot hoogtes aan te spoor nie, maar staan reg met planne en praktiese oefeninge vir elke aspek en fase van die groeiproses. Omdat hy glo dat die hart, siel en kop saam baie meer as elkeen afsonderlik kan vermag, fokus hy op spirituele waarhede wat deur wetenskaplike navorsing gerugsteun en in die alledaagse lewe toegepas kan word.

Vir almal beskore

John is vas oortuig dat elkeen ’n uitsonderlike lewe kan hê en vir ander tot seën kan wees. “’n Betekenislose lewe of ’n waardelose mens bestaan eenvoudig nie. Daar is net mense wat nog salig onbewus is van hul innerlike roepstem. In elkeen van ons is iets onsterfliks wat ons wil opwek en lei om ons lewensdoel uit te leef. ’n Genius is iemand wat na dié binnestem luister.”

Alles goed en wel, maar waar begin jy om jou droomlewe te skep? Die kort antwoord is: omskep jou gedagtes, en die transformasie van jou gevoelens en jou lewe volg vanself. John verkondig nie sogenaamde positiewe denke nie.

“Om altyd op die positiewe te wil fokus, is onrealisties. Daardeur ontken jy ’n groot deel van die werklikheid.”

Hy wil juis hê ons moet alle kante van die werklikheid raaksien. Dis moeiliker as wat dit lyk! Toets jouself aan die volgende stellings:

*Eintlik behoort ek altyd gelukkig te voel.

*Hartseer hoort nie in my lewe nie.

*Ek behoort heeltyd geprys te word; kritiek is die laaste ding wat ek nodig het.

As jy jou met dié strewes kan vereenselwig, is jy seker maar soos die meeste van ons. En tog – wie se lewe lyk so?

“Elkeen van ons ervaar geluk én hartseer, lof én kritiek. As jy net die ‘goeie’ verwag, kan jy teleurstelling, ’n gevoel van mislukking en selfs depressie te wagte wees. Ek glo die oorsaak van ’n gebroke hart is ’n fantasie wat aan skerwe gespat het: iemand het eensydige verwagtings van ’n geliefde gehad, en is toe met sy of haar ander kant gekonfronteer.”

John vergelyk dit met ’n hoefystermagneet.

“Dit het twee pole. Al sny jy dit tien keer in die helfte, gaan daar nooit nét ’n positiewe pool wees nie. Dit geld ook mense, en dis wys om jou verwagtings in dié lig te ondersoek.”

Depressie, sê John, ontstaan dikwels wanneer iemand iets onrealisties wil hê of wees.

“Hulle blameer hulself of ander omdat hulle nie die onmoontlike kan regkry nie! ’n Doeltreffender benadering is om te aanvaar dat die werklikheid twee kante het, en ’n bewuste besluit te neem om albei kante te omhels. Om vervuld te leef, het jy die positiewe én die negatiewe, steun én uitdagings, samewerking sowel as konflik nodig.

Jy het ook ‘goeie’ en ‘minder goeie’ eienskappe. Jy is gaaf én goor, vol hoop én moedeloos, begrypend én ongeduldig. Dis normaal. Dit maak jou mens en dit laat jou groei.”

Hierdie gedagtegang is vir baie van ons vreemd. Ons is geleer om op die uitkyk te wees vir die negatiewe in ons en dit met hand en tand te beveg; só sou ons beter, liefdevoller mense word.

John verras sy lesers deur in sy boeke te wys hoe algehele aanvaarding van die werklikheid – presies nes dit is – tot innerlike vrede en deurleefde liefde vir jouself en ander kan lei. Onder die oppervlak van die realiteit sien hy ’n volmaakte orde of divine order raak.

Hy verduidelik dit teen die agtergrond van die kwantumfisika, maar dis ongelukkig te breedvoerig om in ’n kort tydskrifartikel weer te gee.

“Wanneer iemand tegelykertyd ’n positiewe en ’n ewe sterk negatiewe emosie ervaar, soos ekstase en intense emosionele pyn, kanselleer hulle mekaar uit om geboorte te gee aan ’n gevoel van omvattende liefde en lig,”

Wanneer ervaar ons gelyktydig ’n positiewe en ’n negatiewe emosie? “In elke situasie,” antwoord hy.

In The Breakthrough Experience verduidelik hy hoe die onsigbare volmaakte orde sorg dat ons áltyd ’n positiewe saam met ’n negatiewe ervaring kry om ons in ’n hartstoestand van volkome balans te bring. Maar ons saboteer gewoonlik die proses.

Skeefgetrekte verwagtings laat ons teen een van die emosies vaskyk, en ons mis die kans om albei emosies raak te sien en in ’n dieptetoestand van ware liefde te integreer. Hierdie soort liefde is meer as ’n positiewe gevoel.

“Dis ’n grootse belewenis wat moeilik in woorde uitgedruk word, maar altyd trane van dankbaarheid bring.”

’n Eenvoudige voorbeeld van hoe positiewe en negatiewe emosies in pare kom, is dié van ’n pa wat met ’n kind raas terwyl die ma die kind jammer kry. Die klein stouterd word terselfdertyd uitgedaag en gesteun.

Hierdie verstommende balans kenmerk ook ingrypende gebeure soos ongelukke en verkragtings. John se innerlike helingsproses, The Breakthrough Experience, is onder meer ontwerp om “slagoffers” te help om die gawe of bedekte seën in traumatiese gebeure te kry.

Dit kan aanvanklik wreed klink, maar die talle gevallestudies in The Breakthrough Experience wys hoe pynlike ervarings mense eintlik bevoordeel het deur hulle onafhanklik te maak of hulle ’n hartsbegeerte te gee om ander te help.

Ná so ’n helingsproses sien mense hulle nie meer as slagoffers nie, maar as geseëndes. Hulle vergewe altyd die een wat hulle te na gekom het, selfs ná jare van haatdraendheid. Dikwels verdwyn hul fisieke kwale spontaan, maar John benadruk dat hy dit nie waarborg nie.

Die belangrikste is om mense met die goddelike gawe van hul innerlike lig en liefde te herenig.

Nog baie meer

The Breakthrough Experience is nie die enigste aspek van John se werk nie. In sy boek How to make one hell of a profit and still get to heaven wys hy hoe jy finansiële en ander vorme van oorvloed in jou lewe kan skep. Die parmantige titel het niks met die algemene siening van die hiernamaals te doen nie.

“Hemel” dui op ’n hartstoestand van waardering, vervulling en die vermoë om die hier en nou te beleef – pleks van toekomsvrees of spyt oor die verlede.

“Dankbaarheid vir die seëninge van die lewe kweek die diep wete dat jy saak maak, dat jy ‘hoort’, en dat jy ’n betekenisvolle roeping het om te vervul.”

Nes in sy ander boeke is daar tientalle opdragte en oefeninge wat jou die werklikheid anders laat sien en gevolglik jou gevoelslewe en optrede laat verander. Dink en doen jy nuut, kry jy nuwe uitkomste – ook finansieel. In You Can Have an Amazing Life in Just 60 Days beskryf John sestig kosmiese wette wat jou lewe op geestelike, verstandelike, fisieke, professionele, finansiële, sosiale en gesinsgebied kan verryk of selfs kan omkeer.

Dié wette is algemeengeldende reëls wat hy teëgekom het op al die studievelde waar hy dit gewaag het. Hy wys onder meer hoe jy ’n meesterplan vir jou lewe kan skep en dit stap vir stap werklikheid kan maak.

Om dr. John Demartini en sy impak op die wêreld in ’n paar bladsye saam te vat, is nie so maklik nie. Jy moet hom eintlik op die verhoog sien of sy boeke lees. Sy diep waardering vir elke mens, hoogaangeskrewe of onbekend, kom die duidelikste in ’n persoonlike gesprek na vore.

John ken die soet én die suur. In Desember is sy vrou aan borskanker oorlede. Sy drie kinders sien hy min. Maar hy leef met passievolle oorgawe, raak maklik aangedaan en deel graag sy gawes met ander: veral die vermoë om die werklikheid te síén.

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.