kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 14

Ouma Alett

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Amelie is spyt sy het nie voor haar ouma Alett se dood van haar agtergrond geweet nie. Sy sou graag wou weet hoe haar ouma oor Amelia gevoel het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Vandat sy kan onthou, was haar ouma ’n liefdevolle teenwoordigheid in haar lewe en nou weet sy hoekom haar ouma haar altyd effens voorgetrek het. Hoe anders as jou kleinkind die ewebeeld van jou biologiese ma is? Boonop is haar naam ’n afleiding van Amelia Marceaux se naam.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Amelie onthou hoe haar ouma haar wilde rooi krulhare soms liefdevol gekam het en haar vertel het hoe bevoorreg sy is om sulke lieflike hare te hê. Amelie was as tiener rebels oor haar ontembare hare en dan het haar ouma haar met die mooiste haarknippe bederf om haar te paai.

Haar ouma het haar aangemoedig om Frans pleks van Duits op hoërskool te neem. Nou verstaan sy eers ten volle Alett se passie vir Frans. Sy was ’n puik Franse onderwyseres en was tot en met haar dood ’n toegewyde lid van Alliance Francaise in Johannesburg waar sy Frans aan volwassenes geleer het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

As jong student het Amelie saam met die universiteitskoor deur Frankryk getoer en sy onthou hoe opgewonde haar ouma daaroor was. Met haar terugkoms moes sy in detail elke oomblik van die toer aan haar ouma skets. Alett wou alles weet van Frankryk.

Amelie weet haar ouma het altyd daarvan gedroom om eendag ook Frankryk te kan besoek. Ongelukkig het die droom nooit waar geword nie.

Miskien wou sy haar wortels gaan naspoor of dalk haar biologiese ouma opsoek. Dis vir Amelie hartseer dat haar ouma se biologiese familie in Frankryk nooit die vreugde kon ervaar om haar te ontmoet nie. Alett was ’n fyn, talentvolle mens. Sy wonder of Amelia ooit foto’s van Alett na Frankryk gestuur het. Cecelia sê mos Amelia en haar ma het kontak behou.

Alett het nie in dieselfde weelde grootgeword as Amelia nie, maar sy het ’n gemaklike kinderlewe gehad. Haar aanneemouers het hul kinders tydens die Tweede Wêreldoorlog die beste probeer gee, maar daar was nooit ’n oormaat nie. Na skool het sy met ’n beurs onderwys op Potchefstroom gaan studeer en volgens Cecelia was sy op skool en kollege ’n goeie student. ’n Voorbeeldige kind wat haar aanneemouers baie trots gemaak het met haar prestasies op akademiese-, sport- en kultuurterreine.

As kind het Amelie aan haar ouma se lippe gehang as sy vertel het hoe sy met net drie rokke en een paar skoene in haar tas haar studies moes aanpak en hoe sy nie boeke kon bekostig nie en al haar werk in die biblioteek gedoen het.

Amelie blaai in ’n album na haar ouma se studente-foto’s. Alett was ’n fyngeboude mensie met ’n welige bos roesbruin hare, soel vel en ysblou oë. Dieselfde oë as Phillip Groenewald, besef Amelie noudat sy daaraan dink. Alett was eksoties mooi en volgens haar studentefoto’s baie gewild. Veral onder mans. Dit is ook duidelik sy het van dans gehou. Net soos haar biologiese ma, dink Amelie hartseer.

Alett se albums toon sy was ’n kranige tennisspeelster as student. Dis vir Amelie aan die foto’s duidelik dat Alett as jong meisie nie so flambojant soos haar biologiese ma aangetrek het nie.

Haar aangenome kleinsus, Cecelia, het skynbaar meer onder Amelia se mode-invloed verval. Alett self het haar hare in ’n kort welige haarstyl gedra en skynbaar ’n liefde vir eenvoudiger, meer klassieke klere gehad.

’n Foto van Alett en ’n vrou tref Amelie soos ’n bak yswater. Sy herken dadelik die wilgerboom met die kronkelstam. Die foto is geneem waar Mon Abri teen die rivier grens.

Elke keer as sy ’n foto van Amelia sien, kry sy koue rillings. Dit is vreemd om na jou spieëlbeeld te kyk.

Die twee vroue op die foto sit met hulle voete in die water. Hulle lag. Amelie kan nou die onmiskenbare ooreenkomste tussen ma en dogter sien. Fyn gelaatstrekke, hoë wangbene, smal neuse en daardie hartlike glimlag wat sy van beide geërf het.

Amelia en Alett lyk meer soos susters as ma en dogter. Miskien was dit ook die aard van hulle verhouding. Met ’n ouderdomsverskil van skaars sestien jaar was hulle waarskynlik meer vriendinne as ma en dogter. Volgens Cecelia het Alett en haar aanneemma ’n goeie ma en dogter band gehad.

Amelie begin die briefie in die bottel vertaal. Met elke woord wat betekenis kry, raak die knop in haar keel goter. Amelia moes baie na haar kind verlang het. Dit kon nie maklik gewees het om toe te kyk hoe iemand anders jou kind grootmaak nie. Al het sy met Alett kontak gehad, blyk dit uit die brief dat die gemis groot seer veroorsaak het:

My liefste Alett

Ek kyk na die sterre wat nou ook oor jou skyn. Hoe mis ek jou. Mag die wind my boodskappe na jou dra. Ek het jou wens onthou. Jou eie briefboom. Ek sit in elke bottel vir jou ’n wens.

Mag elkeen waar word.

Wees gelukkig jou liewe liewe meisie.

Soos altyd
Amelia

Een van die bome in die tuin is dus Alett se briefboom. Sy moes seker geweet het dat die bottels aan die ander bome briewe aan haar biologiese pa bevat.

Amelie wens sy het geweet wat Alett alles van Phil geweet het. Sy moes seker soms oor hom gewonder het al het sy ’n wonderlike aanneempa gehad. Alett het Amelie baie vertel hoe sy as kind saam met haar pa gaan visvang en jag het. Haar pa het ’n seun begeer en sy oudste dogter was by tye sy plaasvervanger. Saam met haar aanneemma het Alett geskilder en geweef. Sy was ’n gelukkige geborge kind in haar aanneemhuis en dit moes vir Amelia ’n gerusstelling gewees het.

In nog ’n album kry Amelia nog ’n foto van Amelia en Alett. Op die foto is Alett nog ’n klein dogtertjie en stap sy en Amelia hand aan hand langs die rivier. Die sowat een keer per jaar wat Amelia haar kind kon sien, moes ’n hoogtepunt in haar eensame bestaan gewees het.

Cecelia was nie daarvan bewus dat Alett ooit haar biologiese pa ontmoet het met haar besoeke aan Sederfontein nie. Amelie glo daar moes so ’n ontmoeting gewees het aangesien Phil gereeld na Amelia weggesluip het. Dit maak net vir haar sin dat Amelia hul liefdeskind aan haar minnaar sou wou wys.

Sy soek deur die albums na ’n moontlike foto van Phil. Die gehalte van die ou foto’s maak dit moeilik en Amelie het ook geen idée hoe hy gelyk het nie. Sy neem net aan dat Phillip baie na sy pa lyk want van wat sy gesien het, is daar nie veel ooreenkomste tussen die kort gesette Myra en haar lang seun nie. Amelie fynkam die foto’s dus vir ’n lang man.

Net as sy dink haar soektog is vrugteloos, kry sy ’n foto van ’n lang man en dogtertjie. Dit is beslis nie Alett se aanneempa op die foto nie want Amelie het al foto’s van hom gesien. Hy was kort en bles. Die man met die dogtertjie op sy heup is lank en fors gebou. Hy is nog bloedjonk op die foto, maar Amelie kry ’n lamheid op haar maag as sy Phillip se gelaatstrekke stadig begin herken. Dit moet Phil op die foto wees want dit lyk of die foto op Mon Abri se stoep geneem is.

Vir die eerste keer tref die gedagte Amelie dat sy en Phillip ’n bloedlyn deel. Haar ouma Alett en Phillip is halfbroer en suster! Hoewel die ouderdomsverkil tussen hulle baie groot is, wonder Amelie of Myra Phillip ooit van sy halfsuster, Alett, vertel het. Met die bitterheid wat sy van Phillip ervaar het, weet hy waarskynlik alles van sy pa se jeugliefde en sy ontrouheid.

Amelie besef dit kon nie vir Phillip maklik gewees het om in ’n huis groot te word waar jou pa snags wegloop na ’n ander vrou nie. Sy voel ook nie onsimpatiek teenoor Myra nie. Phil en Amelia se verhouding moes haar baie seergemaak het.

Amelie besef nou watter skok haar koms na Sederfontein vir die Groenewalds moes wees. Hulle het waarskynlik net nog ’n moontlike koper vir Mon Abri verwag en toe daag Amelia se ewebeeld op. Hulle het seker op grond daarvan afgelei sy en Amelia is verwant.

Amelie kan verstaan dat die Groenewalds haar juis oor haar verbintenis met Amelia uit Mon Abri probeer verjaag, maar dit maak steeds nie vir haar sin hoekom hulle vorige moontlike kopers ook wou afskrik nie. Daar moet ’n rede wees hoekom die Groenewalds nie wil hê iemand moet in Mon Abri bly nie.

Die speurder in Amelie wonder soms of daar nie nog geheime in Mon Abri is waarvan sy nie weet nie.

Dis vir haar vreemd dat die Groenewalds en die hele Sederfontein Mon Abri na Amelia se dood net so laat staan het. Buiten Magdel en haar man se rondloerdery en die enkele boemelaars wat dalk soms daar oornag het, het die huis deur die jare net so bly staan. Volgepakte stoor en al. Die Groenewalds het waarskynlik al die jare na Amelia se dood van die stoorkamer geweet. Dis vir haar vreemd dat hulle dit net so laat staan het. Hulle moes seker vermoed het dit kan dalk dokumente bevat wat op ’n verhouding tussen Phil en Amelia dui?

Die stories oor Amelia se spook wat in die maanlig met haar rooi rok in die tuin dans, is waarskynlik ’n dorpslegende wat deur die Groenewalds geskep is om snuffelaars by die huis weg te skrik.

As Myra so sterk oor Mon Abri gevoel het, kon sy dit sekerlik gekoop en gesloop het. Amelie weet dit is wat sy sou gedoen het as sy Myra was. Sy sou die huis wat haar hartseer verteenwoordig met die aarde platgevee het.

Dis lank na middernag as Amelie haar laaste glas wyn skink. Haar kop is te besig om te gaan slaap. Hoe meer legkaartstukkies sy ingepas kry, hoe meer gate doem voor haar in die storie op.

Sy sit en dink hoe Sederfontein en Mon Abri haar as’t ware nader getrek het toe sy op haar kwesbaarste was. As haar ouma Alett haar nie kleintyd al die stories oor haar lekker kuiers op Sederfontein vertel het nie, het sy waarskynlik nooit oorweeg om ’n huis op die dorp te gaan koop nie. Dis asof dit so bestem was dat sy daardie dag saam met Hannes verby Mon Abri sou ry. Sy weet nou dat sy nooit net verby die huis sou kon ry nie. Sy het nie ’n ander keuse gehad as om Hannes te vra om stil te hou nie. Mon Abri het haar nader gelok en toe sy die eerste keer deur die tuinhekkie gestap het, het sy geweet sy sal nie kan omdraai nie. Dis asof Amelia en haar huis wou hê iemand moet weer daar kom bly. Na die droom waarin Amelia aan haar verskyn het, weet sy sy moet die volle verhaal uitpluis, maar daar is tog iets anders, voel sy aan. Vandat sy en die kinders in die huis ingetrek het, is dit asof die ou huis tevrede glimlag. Die kamers is nou gevul met musiek en kinders wat lag en gesels. Buiten die geheime van die huis wat alomteenwoordig is, is daar ’n atmosfeer van vrede en geluk. Iets wat die ou huis waarskynlik in jare nie beleef het nie.

Amelie wonder of Mon Abri buiten Phil se nagtelike besoeke en Alett en haar gesin se enkele kuiers ooit ’n plek van lag en gesels was.

Mon Abri het nuwe lewe en Amelie is seker dit sou Amelia se goedkeuring weggedra het.

Lees hoofstuk 1-13 hier

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.