kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 30

Komplikasies

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die verlore skildery spook die volgende dae in die hospitaal by Amelie. Sy weet sy en die kinders het al deur die meeste kratte in die stoorkamer gegaan. Daar was wel ’n paar skilderye, maar sy glo sy sou ’n Cezanne erken het as daar een was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Adrien daag tydig en ontydig by die hospitaal op en skynbaar kan die verpleegsters ook nie sy skitter-glimlag weerstaan nie. Hulle was net die eerste dae ná die stoeigeveg met Phillip skrikkerig vir die lang donker man, maar nou laat hulle hom buite besoektye toe. Een middeljarige suster ag dit haar plig om Amelie elke dag oor die aantreklike Fransman te kom uitvra. Dit is nogal amusant om te sien hoe sy met Adrian flirt as hy opdaag. Hy weet natuurlik dié vrou vind hom aantreklik en buit die situasie uit, weet Amelie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy maak voor Adrian of sy besoeke haar irriteer, maar sy vang haarself elke keer uit dat sy lê en wag vir sy vasberade voetstappe wat die gang af kom. Elke keer met ’n klein geskenkie wat hy spesiaal uitgesoek het: ’n Veldblom, ’n vinknessie wat afgeval het of ’n mooi veer. Dit is onweerstaanbaar romanties, maar sy hou haar gedagtes op hok dat dit nie te ver op rooskleurige terreine ronddwaal nie. Sy het genoeg probleme soos dit is.

Met diep dankbaarheid pak sy uiteindelik haar goed om huis toe te kan gaan. Sy wil aan die boek begin werk … en na die Cezanne begin soek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vanselfprekend het sy reeds begin dagdroom oor wat sy alles met die miljoene sal maak as sy wel die kunsskat sou kry. Sy sal nooit weer in Renier se oë hoef te kyk nie en haar kinders sal oorgenoeg hê om mee te gaan studeer en ’n goeie lewe kan begin. Arianne droom seker oor dieselfde miljoene, dink sy wrewelrig. Wat ’n geldgierige vrou! Asof sy nie reeds genoeg geld het nie!

Die kinders wag haar op die stoep in. Dit is lekker om hulle en Mon Abri weer te sien. Dié plek is ondanks al die drama nou haar huis.

Die dokter het gesê sy sal nog ’n paar dae in die bed moet bly en haar stil gedra, maar die nuuskierigheid oor die skildery treiter haar.

Ugo en Jos dra al die verweerde ou die skilderye al morrend van die stoor af na haar kamer sodat sy dit kan bestudeer. Nie een is naastenby ’n Cezanne nie en Amelie voel hoe haar denkbeeldige miljoene verdwyn.

Daar is nog ’n paar kratte wat hulle nie deeglik deurgegaan het nie, maar sy sal haar nuuskierigheid moet in toom hou tot sy self in die stoor kan gaan krap.

Die kinders deel haar opgewondenheid oor die geheime skildery en sy is dankbaar dat dit sommer ook ’n opvoedkundige geleentheid inhou. Mia en Lolla het als oor Cezanne gaan oplees en Jos het nagevors oor hoeveel miljoene die skildery kan inbring as dit opgeveil word. Ugo het reeds ’n inkopielysie gereed van wat hy alles met die miljoene wil koop.

Laatmiddag draai Adrian sy huurmotor se neus by Mon Abri se hek in. Amelie sien deur haar kamervenster hoe hy sy tasse uitlaai. Wat op aarde dink die man doen hy? Hy wil tog seker nie by Mon Abri kom intrek nie?

Tipies Adrian klop hy nie eens nie. Hy stap in en plak sy bagasie in die voorportaal neer.
“Wat maak jy hier? Het die dorpshotel jou uitgeskop?”

Sy kan sien hy is verstom oor haar insig.

“Hoe het jy geweet?”

“Jy speel! Is jy regtig uitgeskop?”

“Daardie spul is vriende met daardie barbaarse boer wat my in die hospitaal aangerand het. Hulle het op my gepik. Elke keer as ek oor hulle swak diens gekla het, het die bestuurder gesê ek is welkom om na die gastehuis te trek. En waaragtig kom gee hy my vanoggend die visitekaartjie van ene Brenda Olson se gastehuis en lig my in dat hulle sal verkies dat ek uitboek! Kan jy dit glo!”

Amelie bars uit van die lag. Die bedorwe ryk Fransman is gewoond om in die beste hotels ter wêreld te bly en hier gooi ’n tweester-hotelletjie in die Vrystaat hom uit!

“Ek glo hulle het seker goeie rede gehad om jou uit te gooi? Wat het jy aangevang?”

“Hierdie plattelandse mense is ook niks gewoond nie. Hulle hou nie juis van aksie nie.”

“Watter soort aksie?”

“Jy sal nie glo watter swak whisky het hulle in daardie simpel kroeg nie. Dit proe soos badwater.”

“En toe sê jy vir die eienaar, Boetman Derksen, sy kroeg se whisky is sleg?”

Sy sien Adrian is weer verstom oor haar heldersiendheid.

“Hoe het jy geweet?”

“Want ek sien jy het ’n nuwe blou oog.”

Sy lag dat haar harsingskuddingbenewelde kop pyn as Adrian haar vertel hoe Boetman hom aan sy kraag oor die kroegtoonbank geruk het en hoe die twee van hulle ’n gesellige stoeigeveg in die kroeg gehad het.

“Wat makeer jou? Het jy in ’n barbaar verander noudat jy in Suid-Afrika is? Die tweede vuisgeveg in ’n week in ’n dorpie waarin nooit niks opwindends gebeur nie!”

Adrian mik met sy tasse teen die trap op.

“In watter kamer kan ek slaap?”

“In nie een nie! Hoekom gaan bly jy nie by Brenda se gastehuis nie?”

Hy staar haar verstom aan asof hy nie kan glo ’n vrou weier om hom slaapplek te gee nie.

“Jy bedoel dit seker nie? Moet ek in ’n aaklige gastehuis gaan bly terwyl ek in my tante se huis kan kom bly? By familie!”

“Ons is nie regtig familie nie en dit is nie meer jou tante se huis nie. Ek het dit by jou gekoop. Onthou? Buitendien, Brenda se gastehuis is pragtig. Ons het self daar gebly toe dit by Mon Abri gespook het.”

Adrian se swart oë spot met haar.

“Spook? Ag nee! Nou sal ek by jou in die kamer moet gaan slaap. Ek is baie bang vir spoke!”

Sy laat haar nie deur die Fransman onthuts nie.

“Kom, ek gaan maak vir jou tee in die kombuis sodat ek jou kan vertel hoe die Groenewalds my uit Mon Abri probeer spook het.”

Adrian is goeie geselskap. Sy het lanklaas so lekker met ’n man gesels. Hy neem die teemaak-proses oor asof hy al jare in Mon Abri bly. Hy maak vir homself ’n toebroodjie en kom sit uitgestrek langs haar op die bank in die sonkol van die kombuis.

“Toe, wanneer gaan ek en jy na tant Amalia se skildery soek?”

“En, as ek dit kry, gryp jy dit en spring op die eerste vliegtuig na jou mammie toe?”

“Ek het meer ’n vliegtuig na ’n eksotiese eiland nodig. En ek sal jou saamneem. Ek dink al wat ’n opgestresde vrou soos jy nodig het is ’n paar dae van goeie passie op ’n eiland.”

Amelie vererg haar. Die man bedoel tog seker nie hy dink sy het seksuele frustrasies nie? Hoe arrogant!

Asof hy gestuur is, kom Hannes by die kombuis in. Hy retireer ’n sekonde as hy die lang man sien wat langs Amelie sit. Dit is immers die plekkie wat hy vir homself opeis elke keer as hy by Mon Abri kom kuier.

“Hannes! So bly jy is terug van die Kaap af!”

Hannes druk haar vas.

“Ja, en ek hoor jy maak groot sports as ek weg is?”

Amelie stel hom voor aan die Franse erfgenaam van Mon Abri met wie hy al so lank onderhandel oor die erfporsie.

Sy merk dadelik op dat hulle nie beste vriende gaan word nie. Hannes is duidelik nie beïndruk met die Fransman wat haar gereeld vasdruk en haar hande soen nie.

“Meneer Marceaux, onthou om dokumente by my kantoor te kom teken voor jy terug vertrek. Dan hoef ek dit nie Frankryk toe te stuur nie. Dit sal goed wees om die laaste papierwerk van Mon Abri af te handel.”

Adrian staan op en slaan sy arm om Hannes se skouer.

“Ek wil jou net spesiaal bedank vir wat jy vir my gedoen het.”

Hannes lyk verward.

“Ek was maar net die agent.”

“Maar as jy nie Mon Abri aan hierdie beeldskone vrou verkoop het nie, het ek haar nooit ontmoet nie.”

Amelie kan sien Hannes wil uit Adrian se greep loskom. Hy lyk ongemaklik.

“Jy kon seker nie glo die huis wat jy geërf het is aan ’n familielid verkoop nie? Ek kan sien julle het die familiebande weer opgetel?”

Amelie hou die stywe gesprek tussen die twee mans dop. Dis ongelooflik hoeveel kinkels haar lewe gekry het. Vir soveel jare het sy vaal en onaantreklik gevoel want Renier het dit duidelik gemaak dat sy geselskap by die netwerksessies na werk baie aantrekliker is as sy.

Nou staan daar twee mans in haar kombuis wat mekaar soos twee kapok hane staan en uitkyk: Goeie, dierbare Hannes … en die gevaarlik aantreklike Fransman.

Sy wens die lewe was minder gekompliseerd. Hoekom kan dit nie die betroubare Hannes wees wat haar hormone tokkel nie? Hoekom juis die Fransman wat haar kop op warrelwindtoere neem na plekke van passie waarvan sy lankal vergeet het?

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.