kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 33

Knipmes

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Amelie kruip ’n paar dae onder haar duvet weg vir die wêreld. Sy dink na oor die aaklige warboel waarin haar lewe beland het. Sy het uit Johannesburg gevlug om weg te kom van haar toksiese huwelik en haar buffelagtige baas. Sy wou rustigheid op die platteland kom kry. Vir haar en die kinders. Nou is haar lewe ’n groot gemors.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die afgelope tweede dekades het sy deur ’n liefdelose huwelik gestrompel. Renier se flirtasies by sy geliefde korporatiewe netwerksessies het die boodskap duidelik aan haar oorgedra dat sy nie aantreklik genoeg is nie. Nie vir hom nie en ook nie vir ander mans nie, het hy een keer vir haar gegil nadat hy haar deur die gesig geklap het oor sy gedurf kla het oor sy afwesigheid as pa en eggenoot.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die noodlot speel ’n wrede spel met haar, dink sy. Hy weet hoe uitgehonger sy is vir liefde en aandag. Die swak plek in haar mondering was die ideale geleentheid om haar die afgelope twee maande in twee mans se arms laat beland. Dit moes hom groot plesier verskaf het om te sien hoe maklik sy geswig het en hoe diep seergemaak dit haar gelaat het.

Sy neem haar voor om voortaan weg te bly van mans en haar lewe alleen aan te pak. Dis veiliger.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dis vir haar vernederend dat haar dogters besef wat met haar gebeur het. Sy sou hulle so graag die wreedheid van die lewe wou spaar. Die seuns is gelukkig onbewus van wat aangaan en dink net hulle ma het griep.

Die dogters dra tee aan en troos. Hulle kom sit bosse blomme in haar kamer neer en trek soms die gordyne oop dat die sonstrale kan inkom.

Amelie weet nou hoe dit voel om in ’n diep depressie in te sak. Daar is ’n gevoel wat soos ’n baksteen op die krop van haar maag lê. Haar hart pyn en sy sluk swaar aan die emosies wat uit haar keel wil borrel.

Sy voel verraai. Iewers in haar lewe moes sy ’n verskriklike ding gedoen het om hierdie straf te verdien. Hoe kan so ’n vernedering haar ’n tweede keer oorkom? Eers Phillip en nou Adrian? Die ooreenkoms tussen die twee ervaringe is byna onwerklik.

Is die liefde haar dan nie beskore nie? Sy het gedink Renier het haar deur die jare seergemaak, maar hierdie seer is vir haar erg. Sy het vir die eerste keer in jare weer gehoop op geluk.

Sy voel soos ’n gek as sy dink aan hoe sy in haar swak oomblikke gedagdroom het oor ’n rustige lewe saam met Adrian. Sy sin vir humor, sy sagtheid. Alles was so perfek.

Die vermoede wat haar die seerste maak, is dat Adrian haar met sy sjarme oorrompel het as deel van sy ma se plan om haar weg te hou van die erfporsie.

Hy het natuurlik met ’n verskuilde agenda Suid-Afrika toe gekom. Toe tref die geluk hom terwyl sy kwesbaar was na die val van die krans.

Al die ure in die hospitaal langs haar bed? Die klein geskenkies? Die sagtheid in sy stem. Die ruk aan haar ingewande as sy pikswart oë vir haar glimlag.

Wat ’n absolute gewetenlose mens. Hy en sy ma en sy Franse godin lag seker nou lekker oor haar swakheid want haar huidige gemoedstoestand is seker presies wat hulle wou bereik. Hulle wou haar so plat slaan dat sy te verneder voel om teen hulle te veg vir die erfporsie.

Sy wonder ook of Adrian nie dalk tog die Cezanne gekry het nie. Sy was nie heeltyd by hom terwyl hy in die stoor gesoek het nie.

Die Franse boef het waarskynlik die skildery gekry en besluit om haar sommer ’n goeie knou te gee voor hy met sy skat landuit gevlug het.

Sy begin ernstig twyfel aan haar oordeel. Met Phillip het sy van die begin vermoed hy het ’n donker streep wat hy wegsteek, maar met Adrian het sy haar heeltemal misgis. Hy is die laaste man van wie sy so ’n bruuske barbaarse optrede verwag het. Die teleurstelling brand vernederend in haar.

Adrian het soos ’n lafaard landuit gevlug nadat hy haar byna verkrag het. Soos haar woede begin bedaar, besluit sy sy gaan die Marceaux tog opdraande gee en veg tot op die laaste vir haar ouma Alet se deel van die erfporsie. Sy gaan Adrian ook goed laat verstaan dat wat hy aan haar gedoen het, is uiters onaanvaarbaar.

Sy wroeg ure aaneen voor sy die epos aan Adrian skryf.

“Ek was nog nooit so teleurgesteld in ’n mens nie. Die feit dat jy gevlug het, toon jy het darem ’n effense gewete en dat jy weet jy het verkeerd opgetree. Ek weet nie hoe sulke gedrag in jou land bekend staan nie, maar hier by ons is dit wat jy gedoen het ’n kriminele oortreding.

Ek is spyt ek het myself kwesbaar gemaak vir ’n sadistiese man soos jy. Ek kan nou verstaan hoekom jy nog nooit getroud is nie. Ek weet nie van veel vroue wat gewelddadige optrede aanvaarbaar sal vind nie. Tensy hulle masochisties is.

Jy en jou ma kan eersdaags skrywe van my prokureur te wagte wees. Ek gaan baklei vir my ouma se geld. En as jy die Cezanne gekry het voor jy gevlug het, sal ek jou laat aankla van diefstal. Glo my, hier het julle nou ’n geveg begin wat julle nie op voorbereid was nie. Ek gaan nie so maklik lê nie.

Ek is bly ek weet nou wie en wat jy is. Jy het al die elemente gehad waarvan ek in ’n man hou, maar jou optrede in die stoorkamer het jou ware kleure getoon. Ek stel voor jy gaan sien ’n sielkundige. Jy is ’n baie siek mens.”

Die antwoord kom vinniger as wat sy verwag het.

“Amelie, Ek dink die stamp teen jou kop in die kloof het meer skade aangerig as wat jou dokters dink. Ek weet nie of ek en jy van dieselfde gebeure praat nie. Ek het gedink ons samesyn in die stoorkamer was sag en liefdevol. Ek het nogal gedink dit is wat liefdemaak is.
Ek wil nie uitwei oor jou optrede voor my vertrek nie. Ek is net so teleurgesteld in jou. Ek het dit nie van jou verwag nie.

Ek het nagedink sedert ek terug is. Ek weet nou hoekom ek nie getroud is nie. Dit is oor vroue soos jy.

Jy is ? gevaarlike vrou en ek dink nie jy weet dit nie. Jy lok mans uit. Jy speel eers die ontwykende spel en dan vang jy mens in jou net en verwoes mens se emosies. Ek wonder hoekom is jy so? Haat jy mans so intens na jou mislukte huwelik?

Ek kan nie glo ek het geval vir jou slinksheid nie. My ma was reg. Jy is maar net ’n fortuinsoeker. Jy het my doelbewus uitgelok omdat jy jou tande in ons geld wou inslaan.
Ek is ook spyt ek het my hart vir jou oopgemaak. Vir die eerste keer in baie jare het ek ’n vrou gekry met wie ek gedink het ek ’n band kan hê. Wat ’n teleurstelling. Jy is net soos ander vroue.

Ek het jou geglo toe jy gesê het daar is niks tussen jou en Phillip nie. Maar na wat ek gesien het, weet ek jy en daardie barbaar verdien mekaar.”

Die epos laat Amelie verward voel. Dit voel of sy en Adrian van twee verskillende gebeure praat. Hy laat dit klink of sy iets verkeerd gedoen het! Dit is waarskynlik deel van sy manipulerende taktiek. Hy doen iets allerverskrikliks en dan verplaas hy die skuld na sy slagoffer.

Amelie staan op en gaan stap in die tuin. Amelia se blou bottels koggel haar klingelend in die wind. Sy sweer hulle lag saam oor haar vernedering.

Sy wonder hoe dikwels het Amelia ook so hier in die tuin geloop en huil. Eintlik is hulle so eners. Sy en Amelia. Liefde is nie vir hulle beskore nie.

Miskien was dit ’n fout om so in Amelia se ellende vasgevang te word. Dalk moet sy die siklus breek.

Sy gaan haal ’n skêr in die huis. Sy loop van boom na boom en knip die blou bottels los. Hulle sal nie meer hul treurige boodskappe deur die wind kan stuur nie.

Sy pak die bottels in ’n krat en dra dit stoorkamer toe. Sy wil vandag daardie stoor se deur sluit. Dit is beter as al die geheime wat dit bevat, dig gesluit word.

In die streep sonlig wat oor die stoor se vloer val, sien sy iets blink. Dit is ’n knipmes. Op die hef is ’n goue plaatjie waarop ’n naam gegraveer is: Phillip Groenewald.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.