kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 34

Debat

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

’n Tsoenami van emosies tref Amelie toe dit tot haar deurdring dat dit Phillip was wat haar in die stoorkamer oorval het en nie Adrian nie. Hoe kon sy so ’n fout maak? Die man in wie se arms sy was, het haar immers herinner aan daardie aaklige dag toe Phillip haar so verneder het?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Daar woed ’n hewige debat in haar kloppende kop. Enersyds kasty sy haarself oor die gebeure en andersyds soek sy versagtende omstandighede vir haar domheid.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy het verkeerdelik afgelei dit is Adrian wat haar van agter in die skemerte omhels en voel nou soos ’n gek dat sy haar so met volle oorgawe aan die omhelsing oorgegee het. In die rosige waas van haar hemelse ervaring die vorige dag saam Adrian in die stoorkamer het sy gedink dit is weer hy. Sy pak die skuld op die tinteling toe sy die hande om haar middel voel gly het en die mond die sagte plekkie in haar nek gesoek het. Nes Adrian. Haar wese het gehoop en gedink dit is hy. Maar toe neem die liefkosings ’n drastiese wending en die hemelse vreugde wat sy die vorige dag ervaar het, verander in ’n ontnugterende vlaag angs waarin sy uit die grypende hande wou ontsnap.

Die ander sy van die debat beskuldig haar sy moes geweet het die ruwe gevoellose aanraking kan net van iemand soos Phillip Groenewald kom. Dit is net hy wat so ’n wrede spel met ’n vrou sal speel. Die Adrian wat sy leer ken het, is sag en vertroetelend. Hy het haar die vorige dag in die stoor met ongelooflike teerheid en liefdevolheid behandel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Amelie wonder wat het Phillip in die stoorkamer gaan maak. Hy wou dalk gaan rond krap vir dokumente wat na sy pa verwys en toe kry hy haar in die skemerte. Hy kon seker sy geluk nie glo dat hy weer die kans kon kry om haar te verneder nie.

Dit is vir haar moeilik om te begryp hoekom Phillip voel hy moet haar herhaaldelik straf vir wat Amelia aan sy ma gedoen het. Sy glo dit is deel van sy taktiek om haar vir eens uit die dorp weg te jaag. Na wat sy alles van Phillip op die dorp gehoor het, is dit sy manier van met vroue werk. Hy is ’n rokjagter met ’n skynbaar sadistiese streep. Dis duidelik dat hy geen respek het vir vroue nie.

Sy beken aan haarself dat sy tydelik vir sy aantrekkingskrag geval het. Hy het iets fassinerend aan hom. Maar haar mening oor hom het daardie vreeslike dag drasties verander. Sy twyfel nie dat Phillip geen romantiese bedoelinge met sy optrede teenoor haar het nie. Geen normale man hanteer ’n vrou soos hy nie. Vir hom is dit wraak op iemand wat dit durf waag om in sy familie se verlede rond te krap. Sy besef nou tot watter laagheid hy in staat is. Daar is iets groot fout met die man! Daar is ’n gewetenloosheid aan sy optrede. Hy is beslis in staat tot gewelddadige optrede. Dié besef maak haar bang. Sy wonder of hy besef hy het dié keer te ver gegaan? Dalk gee hy nie om nie? Miskien dink hy sy sal nie die moed hê om daaroor te kla nie?

Sy word elke keer yskoud as sy besef hoe naby sy aan verkragting was. Die feit dat hy haar net daar gelos het nadat sy geval het, is die ergste. Hy moes geweet het sy is beseer. Watter soort mens los ’n bewustelose vrou op die vloer van ’n stoor en laat spaander?

Sy lei af dat Adrian die gebeure nie enduit sien afspeel het nie. Hy sou haar beslis nie net daar laat lê het nie.

Sy laat die gebeure oor en oor in stadige aksie in haar kop afspeel. As Adrian die eerste paar minute van die gebeure in die stoorkamer waargeneem het, kan sy hom nie kwalik neem dat hy dink sy en Phillip het ’n passievolle verhouding nie. Dit wat sy as ’n gruwelike aantasting van haar waardigheid beskou het, moes vir hom na ’n oomblik van passie gelyk het.

Sy kasty haarself vir ure oor die gebeure. Sy onthou die reuk van die veld aan sy klere. So anders as die geur van wingerd aan Adrian. Dan was daar die onverwagse ruheid. Hoe kon sy dink dit is Adrian?

Sy besef Adrian is waarskynlik nou vir ewig uit haar lewe uit. Hy moet dink sy is ’n los vrou wat met hom gespeel het. Iemand wat elke dag saam met ’n ander man in die stoorkamer karfoefel.

’n E-pos met ’n verduideliking van die situasie klink vir haar na die regte ding om te doen, maar dit gaan vrek moeilik wees. Veral na sy hom so erg aangeval het in haar vorige e-pos! Sy besef nou hy dink sy verwys na die simfonie wat hulle saam in die stoorkamer gespeel het. Dit moet vir hom vreemd wees dat sy dit nou soos ’n poging tot verkragting laat klink. Hy moet dink sy is effe gek!

Sy besluit sy gaan enige romantiese emosies wat sy teenoor Adrian Marceaux gehad het, uit haar kop verban. Na die aaklige gebeure sal hulle verhouding nooit weer kan herstel nie.

Sy voel darem hy hoef ook nie so intens aanvallend in sy e-pos te gewees het nie. Dit was ’n baie bitsige e-pos wat hy gestuur het. En al het hy waarskynlik rede gehad om af te lei sy en Phillip het ’n passievolle ontmoeting gehad, kon hy haar darem kans gegee het om te verduidelik. Vir wat het hy soos ’n gekweste skoolseun gevlug? Is hy dan so ’n sensitiewe siel? En ja, dan is daar nog die kwessie van die Cezanne. Miskien het die Fransman tog die skildery gekry en daarmee gevlug na sy Mamma toe! Wat het hy dan in die stoor gaan soek toe hy op haar en Phillip afgekom het? Wou hy alleen na die Cezanne gaan soek?

’n Klein deeltjie van haar hoop dat Adrian na haar gaan soek het. Dat hy soos die vorige dag haar liefdevol in sy arms geneem het.

Dié gedagte is egter ’n vae piepgeluidjie teen die dawerende wete dat sy Adrian waarskynlik nooit weer sal sien nie. Sy ego as man is gekwes en die sensitiewe Fransman sal haar dit nooit vergewe nie.

Deur die kloppende hoofpyn wat haar sedert die hou teen die kop agtervolg, help nie veel om haar beter te laat voel nie. Na die val van die krans het die hou in die stoorkamer seker finaal haar brein deurmekaar geskud, glo sy. Sy sal drasties iets aan haar lewe moet doen as sy nog waardigheid wil behou, want sy weet sy sal nie nog Renier se genoegdoening ook kan hanteer nie. Hy sit reeds en wag dat haar lewe op Sederfontein finaal inmekaarval.

Sy moet beken dat sy toenemend vermoed Renier is reg. Die wete hang nou al vir weke oor haar kop: haar lewe is ’n chaos en sy sal vinnig iets daaraan moet doen. Dit begin die kinders beïnvloed.

Sy besef sy sal die nuwe verwikkelinge ten minste met Lolla en Mia moet bespreek want dit is onregverdig teenoor Adrian dat hulle dink hy sal ’n vrou so met disrespek behandel. Sy kon sien haar dogters was ontnugter dat die aantreklike Fransman waarvan hulle so baie gehou het, eintlik ’n boef is.

In haar wroeginge voel Amelie baie jammer vir haarself. Sy wil so graag gelukkig wees en dit voel al meer vir haar dat geluk haar nie beskore is nie. Die geluksgodin het beslis haar mes in vir haar, voel sy. Dis die enigste afleiding wat sy kan maak oor haar lewe sedert sy Sederfontein toe getrek het.

Miskien kan sy verskoon dat sy vreeslik uit oefening is op die gebied van die liefde. Miskien is sy een van daardie mense wat moet wegbly van romanse af. Haar geskiedenis met Renier en die wipplank emosies van die afgelope weke is ’n sprekende voorbeeld dat sy die vrotste oordeel in menseheugenis het oor mans.

Sy neem haar voor dat sy finaal klaar is met mans. Sy kan haarself duidelik nie vertrou nie. Sy vertrou beslis ook nie meer die noodlot se houding teenoor haar nie. Hoe anders? Die oomblik as sy regtig ’n man kry waarvan sy baie hou, tref ’n kurwebal haar met mening.

Sy besef haar enigste uitweg is om die intriges wat al digter in die konkoksie van chaos van haar lewe weef, te probeer ontrafel.

Haar besluit oor die eerste stap, skok haar, maar sy besef sy sal daarmee voort moet gaan ter wille van haar eie waardigheid.

Sy gaan Phillip Groenewald konfronteer. Sy gaan ’n klag teen hom lê. Sy sal sorg dat hy nie met sy onaanvaarbare gedrag wegkom nie. Hierdie stap sal ook vir haar dogters ’n belangrike les leer.

Daarna gaan sy tog ’n kort, saaklike e-pos aan Adrian stuur om verskoning te vra vir haar vals beskuldiging.

Sy gee haarself nie kans om weer oor die saak te dink nie. Sy klim in haar kar en kies koers in die rigting van die Groenewalds se plaas.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.