kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 6

Die vyedief

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die son is skaars op of Buks blaf histeries agter die huis. Amelie loer by haar kamervenster uit. Vanaf die tweede verdieping kan sy sien iets by die vyebome ontstel die hond.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Sjuut, voertsek!” hoor sy ’n gedempte stem in die vroegoggendstilte. Buks steur hom nie aan vermanings nie. Hy blaf en knor al kwaaier. Amelie sien hoe hy onder die vyeboom in storm. Sy hoor benoude gille. Dan is daar stilte as Buks en die boomklimmer mekaar ’n paar sekondes betrag. Dis net genoeg om Buks ’n tweede asem te gee. Dit klink nou of hy die mens in die boom wil verskeur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Jos, Ugo,” roep sy. “Julle hond het iemand in ’n vyeboom in die tuin vasgekeer. Kom help!”

Gewapen met ’n raket en Mia se hokkiestok volg die seuns Amelie op ’n veilige afstand die vrugteboord in.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Buks is baie bly om sy mense te sien en om sy dapperheid te toon, klouter hy teen die stam uit tot in die eerste mik van die reuse vyeboom. Amelie begin hard lag as sy die spektakel in die tweede mik van die boom sien: Magdel Els.

“Môre, môre! Wat maak jy in my boom?”

Magdel lyk soos ’n vrugtedief wat op heterdaad betrap is. Trouens, die vol mandjie vrugte onder die boom toon sy is wel skuldig aan die daad.

“E … ek dog ek hoor iemand in julle tuin. Jy weet, met die spokery en so het ek gedink ek kom kyk liewer voor iemand julle uitmoor.”

Jos en Ugo staan en proes onder die boom. Amelie kry Buks aan sy nekband beet en trek hom uit die boom terwyl sy hom paai.

“Mooi so ons honne, mooi so.”

“Hy het my amper verskeur! Hy is gevaarlik, daai hond van julle.”

Amelie vryf Buks oordadig-prysend.

“Ja, hy is, hy is opgelei om indringers vas te trek.”

“Pleks trek hy die ware skelm vas wat in julle tuin was. Nou jaag die simpel hond my. Ek wou maar net kom kyk …”

“En ons is so dankbaar vir jou bekommernis, Magdel. Ek hoop Buks vang die vrugtedief volgende keer. Kyk, hy het sy mandjie onder die boom vergeet. Hy wou seker konfyt gaan kook met al die vet geelperskes en vye. Jossie, vat die mandjie vir Mamma in die huis in. Ons sal maar die vrugte moet eet wat die vrugtedief gelos het. Bring vir die tannie sommer ’n glas water vir die skok. Ek kan sien die vrugtedief en Buks het haar laat skrik.”

Magdel klim sukkelend uit die boom. Haar mollige lyf is beslis nie meer gewoond aan bome klim nie.

“Laaste keer wat ek julle probeer help,” mor sy en trek haar rok reg.

“Maar ek waardeer dit, Magdel, regtig. Mens kry nie meer bure wat oor ’n heining sal klim om hul bure te beskerm nie. Ag, die arme mens was dalk honger en die bome se takke breek skoon van al die vrugte. Jy moet net sê as die seuns vir jou ook van die vrugte moet pluk. Ek sal die vrugtedief se mandjie leegmaak en sorg dat die seuns later vanoggend vir jou die vetste vye en perskes pluk.”

Magdel se pof wange is rooi van die opwinding. Sy sluk die glas water wat Jos aandra, gulsig af. Amelie geniet die oomblik terdeë.

“Ek sien julle pak die stoorkamer uit? Net ’n spul ou rommel, het my ou man gister vir my gesê. Hy sê vir my, Magdel, sê hy, daai mense gaan vir jare wegry aan die gemors wat ou Amelia vergaar het.”

“Nee wat jong, ons gaan niks wegry nie. Ons gaan alles hou. Daar is kosbare oudhede en waardevolle dokumente in die stoor.”

“Waardevol? Dis dan net stukkende ou goed. My ou man … Hy sê dis flenter stoele en bokse met ou boeke.”

“Miskien moes hy dieper in die stoor gekyk het, daar is trommels met kosbare skatte.”

Amelie lê moedswillig klem op die woord “skatte”.

“Skatte? Watse skatte?”

“Goed wat duisende rande werd is as jy weet waar om dit te verkoop. En die dokumente en briewe. Dit gaan al die geheime van Amelia Marceaux oopkrap.”

Amelie kan sien Magdel vat die aas.

“Amelia se geheime? Wat weet jy van haar geheime?”

“Al die antwoorde is in haar dokumente en briewe.”

Amelie byt haar kies effe oor die wit leuen. Magdel hoef nie te weet sy het nog nie die briewe gelees nie.

“Jy speel met vuur. Los die mal ou vrou se goed. Sy gaan vir julle uitspook.”

“Nee, Magdel, sy gaan ons nie uitspook nie. Ons gaan haar help om tot ruste te kom. Ek gaan haar storie in ’n boek skryf sodat almal kan lees wat op Sederfontein met haar gebeur het.”

Magdel se klein ogies rek so groot soos wat dit seker moontlik is om te rek.

“Vir wat los jy alles nie soos dit was nie? Ons het nie moeilikheid op die dorp nodig nie. Ons het vrede vandat ou Amelia dood is. Jy wil nie oorlog maak teen Myra Groenewald nie, dit kan ek jou belowe. Niemand wen ’n oorlog teen Myra nie.”

Magdel stap haastig die tuinpaadjie af om by die voorhekkie uit te gaan. Amelie, die seuns en Buks is op ’n drafstap agter haar.

“Pleks klim jy sommer weer oor die heining, Magdel! Lyk my hy is hoeka al platter gery. Seker die vrugtediewe!”

Buks groet sy slagoffer by die hek met ’n laaste grommerige blaf.

Amelie en die seuns staan nog by die hek en lag toe Hannes stilhou.

“Hallo! Klaar ingetrek?”

“Nog besig jong, kom drink gou bietjie koffie. Jammer ons is nog in ons nagklere. Ons moes gou ’n vrugtedief vaskeer.”

“Magdel Els? Ek sien sy is haastig hier uit.”

Amelie vertel hom laggend van die spektakel in die vyeboom. Die lang maer man maak hom tuis by die kombuistafel terwyl sy die ketel aanskakel.

“Kom, hier is lekker stadsbeskuit.”

Buks gaan sit voor Hannes en bedel. Amelie probeer keer.

“Gaan nou, Buks, jy het genoeg aandag vir die oggend gekry.”

“Los hom, klink my jy het ’n goeie waghond hier op ons dorp nodig.”

Twee beskuite later, begin Hannes uitvis of al die stories wat hy op die dorp hoor het van Amelie du Raan en haar kinders waar is.

“Hoor jy het Albert de Lange op die koöperasie se stoep aangerand? Nou het jy al jou kanse om ’n ryk boer vas te trek verbeur want die boere glo nou vas jy het ’n swart gordel in karate.”

Amelie het van die eerste oomblik wat sy en Hannes saam in sy kar geklim het om huise te gaan kyk van die man gehou. Hy het ’n goeie sin vir humor en ’n innemende geaardheid. Sy voel vreemd genoeg sy kan hom vertrou.

“Dit was nie moeilik om die besope man ’n sensitiewe skop te gee nie. Hy en sy vriende lyk in elk geval nie na my soort nie. Te .. jy weet .. te veel soos boere?”

“Ek dog dan dis wat jy op die dorp kom maak? Altans, dis wat die skinderbekke sê jy hier kom maak het.”

“Wat? Sê hulle ek het ’n ryk boer kom soek? Nou het ek als gehoor! Ek het dan pas uit die skeihof gestap! Sê vir hulle ek het met groot moeite pas van een ryk man ontslae geraak en ek sien nie kans vir nog een nie.”

“Ek sal die nuus by die tannies van die dorp oordra. En Phillip Groenewald? Jy het seker al gehoor hy los geen vrou uit nie?”

“Hannes! Jy grap seker? Jy weet mos die man sou my eerder uit die dorp begelei as om by my aan te lê. Sy ma hou buitendien klaar nie van my nie.”

“Ek hoor weer jy het Myra amper in die hospitaal ingedryf? Die tannies van die dorp sê jy het soos ’n tierwyfie by die Groenewalds tekere gegaan?”

Amelie en Hannes skater soos hulle lag.

“Hoe oorleef jy dit op hierdie dorp, Hannes?”

“O ek? Ek is nog net tien jaar hier. Die meeste beskou my steeds as ’n buitestaander. Jy sal nog sien mens raak nie maklik hier deel van die gemeenskap nie.”

“En jou gesin? Is hulle gelukkig hier?”

“Dis net ek. Ek vlieg solo deur die lewe.”

“O, ek het nie bedoel …”

“Mens, dis niks erg om die dorp se oujongkêrel te wees nie. Ten minste dra die tannies baie koek aan.”

“Seker veral die met hubare dogters?”

“Vergeet dit, die hubare dogters op die dorp hang net by die koöperasie uit. Dis waar die ryk hubare boere is, jy sien.”

Hannes trek Magdle se mandjie nader en begin invaar in haar sappige ryp vye.

“Ek vat ’n paar om vye-tert te gaan bak, hoor?”

“Vye-tert?”

“My ma se resep, as jy en jou kinders my vir ete nooi, bring ek dit vir nagereg.”

Amelie is ’n minuut uit die veld geslaan. Haar keel trek toe by die gedagte van ’n vreemde man vir aandete. Maar die man is nie heeltemal vreemd nie. Dis Hannes. En hy lyk heel onskuldig.

“Dit klink vir my na ’n goeie plan, Hannes, maar jy beter sorg dat dit ’n groot tert is. Onthou ek het vier kinders.”

“Die kinders? Gaan hulle aanpas hier? Die mense is baie eng. Ek het jou gewaarsku.”

“Ugo en Lolla is goed aangepaste kinders en hulle het baie selfvertoue, ek het hulle voorberei op die rassisme wat kan opduik, maar soos jy nou al weet, die mense op die dorp is klaar skrikkerig vir my. Ek dink nie hulle sal gou met my kinders moeilikheid soek nie.”

“Ek weet, Amelie, maar jy het nie ’n idee hoe aaklig die mense op die dorp kan wees nie. Hulle staan saam. Hulle het Amelia se lewe hel gemaak.”

“Wat weet jy als van haar? Van Amelia Marceaux?”

“Ek het haar net ’n paar keer gesien. Sy het soos ’n kluisenaar geleef. Het al haar kruideniersware in ander dorpe gaan koop. Die enigste mense wat haar regtig geken het, was die Room Katolieke gemeenskap van die township.”

“Die ding tussen haar en die Groenewalds? Dink jy daar was iets tussen haar en Phil Groenewald?”

Hannes gee ’n droë laggie.

“Dit my liewe mens, is die groot vraag op die dorp. Die groot vraag wat niemand durf vra nie. En die wat die antwoord ken, sal nie daaroor praat nie.”

Amelie vertel Hannes van die briewe, maar sê vir eers niks oor die foto’s van die jong Amelia nie.

“Ek het nog nie begin lees nie, maar ek is seker in haar dokumente en briewe gaan daar antwoorde wees.”

“Weet die Groenewalds van die briewe? Ek meen, weet hulle jy het dit gekry? Ek is seker daarvan as hulle geweet het die ou stoor bevat iets anders as rommel het hulle al kom grawe. Jy beter versigtig wees, daar staan dalk goed in daardie dokumente wat jou en die kinders se lewens in gevaar kan stel.”

Amelie weet Hannes is waarskynlik reg, maar dit voel of sy nie regtig beheer oor die situasie het nie.

Dis asof Mon Abri en sy geheime haar en die kinders reeds in ’n soort web vasgevang het.

Lees hoofstuk 1 tot 5 HIER.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.