kategorieë: Reis

Die Marly: speelplek vir sonkonings en koninginne

In die Kaap, so sê hulle, tel ou geld. Hier spog mense met familiebande en titels wat geslagte ver in die verlede instrek. Dit is nie te koop nie. Jy het dit of jy het dit nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar soms kan jy vir ’n wegbreekkansie jou verbeel jou bloed is blou. So bloubloed koninklik blou dat jy selfs hooggebore Kapenaars ’n jaloerse groen kan laat verkleur. Dié verruklike wegkomplekkie is in Kampsbaai.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die Marly.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Marley, soos in Bob Marley?

Nee. Marly, soos in Château de Marly.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Château de Marly?

Soos in Koning Louis IV, die Sonkoning wat Versailles gebou het, se eie private paleis.

Ver weg van die gedruis en gepolitiekery van Versailles het Louis die Veertiende vir hom ’n klein paleis laat bou waar hy in vrede saam met sy gunsteling courtiers kon kuier, jag en ontspan.

En hier, vierhonderd jaar later, kan moderne sonkonings en sonkoninginne net so lekker en luuks soos Louis IV in die Kaap kom uitspan.

Ás jy dié boetiekhotel kan kry, want jy moet weet waar om te kyk. En ás jy plek kan kry, want die Marly neem net twee-en-twintig gaste in hul elf vyfster suites. Niks en niemand meer nie.

Waar is dit?

Iewers tussen die Bay en Blues, digby die Umi, gaap die smal, onopvallende ingang van ’n parkeergarage. Kyk mooi. Dit is net verby die Emporium Gelateria. As jy verby Blues is is jy verby. As jy by die Theatre on the Bay verby is, is jy vér verby. Draai maar links, ry om die blok en probeer weer.

Nog ’n wenk: jy is op soek na ’n doodgewone, beton-oerwoud parkeergarage. Daar is niks van buite af wat voorspel wat binne op jou wag nie.

Dit is so reg in die tradisie van ware boetiekhotelle. Gewone hotelle, selfs vyfster plekke, kondig hulself in neonkleure aan. ’n Egte boetiekhotel doen dit nóóit nie. Sy naam flikker nêrens buite nie. Daar is dalk ’n klein naambordjie of ’n vlag of ’n voordeurmatjie. Iets subtiel. Net die ingeligtes weet waar dit is want hulle maak op word of mouth staat. Die Marly is reg aan die einde van die boonste vlak van die parkeergarage, met as aanduiding dat jy by die regte plek is net ’n pikswart, 5cm-dik fluweeltou.

As jy in die parkeergarage uitklim ruik jy die see. As jy jou kamer binnestap sién jy die see. Nie ’n veraf blou strepie op die horison nie. Nee, die branders rol reg voor jou op die sand uit. Jy’s drie verdiepings bo die straat. Hoog genoeg sodat jy niks van die gedruis van die verkeer en mense onder jou hoor of sien nie maar so naby aan die strand dat dit voel asof die sandsoom tot teenaan die balkon van jou suite loop.

Voor jou strek die wit strand uit, met branders wat uitrol en terugtrek in die nimmereindigende ritme van die see. Jy is in die hartjie van die hartjie van Kamspbaai. Op die Strip met sy dosyne vibey eetplekke en terselfdertyd so na aan die sand en see as wat kan kom.

Die verruklike Marly is intiem en baie persoonlik. As jy instap weet die personeel weet wie jy is, en groet gasvry asof jy familie is. Elkeen is so ingenome met hul Marly, en wys jou trots rond – die biblioteek en leeskamer met koerante, musiek en dvds op aanvraag, die beskutte swembad en poelterras, die privaat hysbak wat jou eksklusiewe toegang tussen die Marly en die restaurante gee.

Dan na jou kamer. Jy stap af in ’n ruim gang waar die mure en embellishments op elke kamerdeur hipermoderne Franse chic uitspel. Als is wit, greige, silwer, glas en spieël.

In jou kamer wag al die gewone geriefies … en ’n bietjie meer.

’n Privaat stoep so groot soos jou ruim suite met skuifdeure na die see met twee lieflike buitelêstoele en ’n koloniale sambreel waaronder jy soos ’n sonkoningin kan uitstrek, met ’n boek en/of sjampanje.

’n Regte slipper bath. Spierwit met silwer pootjies. Badkersies. ’n Reënstort. ’n Bath butler-diens.

En vanselfsprekend japonne en pantoffels, handdoeke, sepies en sjampoes, lugreëling, TV, internet. Jou eie Nespresso en ’n goed toegeruste yskaskroegie wat elke dag aangevul word en niks ekstra kos nie. En spieëls oral.

Snags kan jy met jou deur oopslaap, omring met die klanke van die see, of die klankdigte deure toesluit vir totale stilte. (’n Nota: Ons slaap oor op ’n Donderdagaand. Dit is régtig stil. Maar ons vermoed jy sal op 31 Desember heelwat meer van die naglewe hoor. Die concierge beloof egter dat die deure alle klank demp.)

Die bath butler is vir my nuut. Dié diens, wat vooraf bespreek moet word, beteken dat jy bederf word met ’n bottel sjampanje (alkoholies of nie-alkoholies) en ’n eksotiese bad-ervaring van die menu kies, met blomblare, lyfbotters en kerse in verskeie geure. Dit is die kersie op die koek, die finale tikkie wat jou jou laat verbeel dat jy Marie Antoinette se rinkelende laggie net buite die deur hoor opklink.

Dit is ’n ander wêreld. Waarlik ’n sjiek ruimte waarin jy kan rus en kuier soos dit jou behaag.

Bespreek by www.themarly.co.za

Kamers

See-uitsig op Kampsbaai hoofstrand of berg-uitsig van die Twaalf Apostels. Elkeen het ’n privaat buitestoep. Ingesluit is parkering, wi-fi, ontbyt by die La Belle Bistro & Bakery, komplimentêre kamerkroegie, Charlotte Rhys-produkte, volledige multimedia TV met volle bouquet van programme, iPod dok, internasionale en plaaslike kragpunte en koningsgrootte bed.
Die superluukse kamers het ’n afsonderlike sitkamer, ’n instap aantrekkamer, badgeriewe wat op die privaatstoep uitloop en ’n buite-Jacuzzi.

Fooie

Vanaf R2 800 buite seisoen vir die gewone suites (waarin ons gebly het) tot R10 100 in hoogseisoen vir die heel luukse suites. Fooie is per kamer, nie per persoon nie. Slegs twee persone per suite, met ’n maksimum van een kind per suite, teen R500 ekstra per nag vir ’n kind onder twaalf en R1000 vir ’n kind van 12-16. Wiegies op aanvraag.

Hoe om daar te kom

Naaste lughawe: Kaapstad lughawe. Reël vervoer met die Marly.
Of ry self. Aanwysings by http://themarly.co.za/location-camps-bay

Konferensiegeriewe

Vir 16-30 persone, teen R450 per persoon per dag, met ’n tweegangmaaltyd en drie versnaperingspouses ingesluit. Met al die konferensietoerusting en filmgeriewe.

Wat om te doen

• Bespreek ’n bath butler of gaan vir ’n massering of spa-behandeling by enige van die twee spa’s in die kompleks.
• Die Theatre on The Bay bied maand op maand van die beste teatervermaak in die land. Dit is net twee blokke ver van die Marly en veilig om te stap. Of reël vervoer met die Marly.
• Eet uit. Jy is in die hartjie van Kampsbaai met sy dosyne toprestaurante. Ons kan die Umi (hulle spesialiseer in sushi en seekos) en La Belle Bistro & Bakery aanbeveel.
• Swem. Veilige ryplek vir lyfplankryers en branderplankryers aan die noordekant. Maar bring jou eie bord en wet suit. Die water is koud – vir Suid-Afrikaners, altans. Ons het verskeie mense die oggend voor ontbyt sien swem – die regte raad om al die oordaad uit te balanseer.
• Stap langs die see
• Koop roomys by die Gelateria. (Die keuses is net so verstommend as die stywe pryse – van oreokoekieroomys tot klapperroomys in pragtige bakkies. Maar dit ís luuks en lekker vir oud en jonk.)
• Geniet ’n skemerkelkie by enige van die talle restaurante. Pryse begin by R30 en is nie buitensporig duur nie. Onthou dat stywe boetes gehef word as jy met drank op die strand betrap word.
• Kry die Micity-bus na die Waterfront (vir flieks, Robbeneiland, helikoptervlugte, bootritte na Houtbaai, inkopies, die mediese museum by die Somerset hospitaal, die Kaapse Oog), Melbosstrand, Tafelberg of die stad. Kry die roetekaarte by www.myciti.org.za Koop jou kaartjie tydens kantoor-ure weeksdae by die dorpsbiblioteek reg agter die Marly. R35 vir die kaartjie plus R30 vir rykrediet op jou kaartjie.
• Dagtoer met die Blou en/of Rooi Busse wat jou na al die beste Kaapse hoogtepunte neem, soos die Kasteel, Tafelberg, Kirstenbosch, Groot Constantia, verskeie museums en die Tuine. Die rooi bus stop regvoor die Marly. Jy kan die kaartjies net by die Waterfront koop. As jy nie jou eie vervoer het nie haal die Micity bus na die Waterfront en koop daar jou hop-on-hop-off kaartjie. http://www.hop-on-hop-off-bus.com

Jy is ook binne bereik van

• die wynplase van die Paarl, Stellenbosch en Franschhoek
• World of Birds in Houtbaai
• Kaappunt en
• Naby die vertrekpunte van die Argus, Two Oceans en Cape Town Marathon.

Twee laaste wenke

As jy vir ’n huweliksherdenking, verjaardag of wittebrood oorslaap noem dit wanneer jy plek bespreek. Die bestuurder sê hulle bederf altyd gaste wat ’n spesiale geleentheid gedenk.

En hou hul webwerf dop vir buiteseisoen aanbiedings.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

10 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

1 day Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.