kategorieë: InspirasieJou lewe

Die seisoen van omgee

Nerine Gardiner: Girl With Cake

Nerine en die kleurryke koeke waarmee sy ’n verskil in iemand se lewe probeer maak, het die land aan die praat. Die oud-Kapenaar, wat met die sanger Vaughan Gardiner getroud is, woon deesdae in Johannesburg. Sy sê sy het haar van  kleins af oor alle afvlerkvoëltjies ontferm. “Ek het op hoërskool vir my ma gesê ek wil graag eendag in noodlydende gebiede gaan werk sodat ek ’n stem kan gee vir dié wat nie gehoor word nie. Ek het later, nadat ek selfs by die Verenigde Nasies om ’n pos aansoek gedoen het, besef dat ek nie noodwendig dramatiese dinge hoef te doen om ’n verskil te maak nie. Ek moes net my oë oopmaak en die nood om my raaksien.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Net voordat ek Girl With Cake begin het, het ek deur ’n moeilike tyd gegaan en het baie woede in my rondgedra. Ek was teleurgesteld en seergemaak en het besluit dat mense eintlik sleg is. Maar die wyse woorde van ’n ou kennis het my laat besef dat ek myself ook benadeel deur al hierdie negatiewe gevoelens saam te sleep. Ek het besluit om weer na die mooi in mense te begin soek. Dit het my nie lank geneem om te besef daar is ongelooflike mense daar buite nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In Nerine se familie is koekbak ’n liefdesgebaar. Van kleintyd af het sy en haar ouma Rina saam koeke versier en daar was altyd ’n koek in die vrieskas vir wanneer Nerine kom kuier.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“En wanneer my ma bak, kan jy die liefde proe”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

In Januarie verlede jaar het Nerine die eerste keer die strate as Girl With Cake ingevaar. “Dit het vir my gevoel asof die hele land kwaad was. Daar was soveel negatiwiteit. Ek het ’n koek gebak en dit in my motor gelaai maar was onseker oor waarheen vorentoe. In die middel van Kaapstad het ek ’n hawelose man onder ’n boom sien sit. Sy gesig het opgehelder toe ek vir hom die koek en ’n plastiekvurkie gee. Ek het dadelik geweet dit was wat ek voortaan sou doen.

“Elke koek het sy eie storie. So ook elke ontvanger daarvan. Die sesde koek wat ek gebak het, sal my bybly. Die okkerneutkoek het Boudoir-beskuitjies en ’n halwe kilogram Chuckles bo-op gehad. Ek was baie trots op die skepping en het verwag dat die ontvanger – wat aan ’n stukkie droë brood sit en kou het – my lof sou besing wanneer ek die koek vir hom gee. Maar hy het net gevra of ek ’n sak het waarin hy die koek kan wegsteek. Hy het twee dae laas geëet en was bang iemand vat die koek by hom af. Dit het my hard geslaan. Hy was so weerloos en uitgelewer aan die elemente dat daar geen vreugde meer in hom was nie. Ek het daardie aand geleer om nie te gee met verwagting nie. Dit gaan nie oor my nie, maar net oor die brose siel aan die ontvang-kant van die koek.”

Met koek nommer sewe het borge betrokke begin raak. Groot winkel-groepe stuur dose vol komberse en warm klere wat saam met Nerine se koeke uitgedeel word. Almal doen dit anoniem en nie vir publisiteit nie. Nerine bak voort. Elke koek het ’n kettingreaksie van goeie dade tot gevolg. Mense word geraak en raak daagliks by die onbaatsugtige projek betrokke. Daar is immers iets aan ’n mooi, oordadig versierde koek wat jou vir ’n oomblik die lelik in die lewe laat vergeet.

Besoek Nerine se blog vir meer inligting.

Elsabè Esterhuizen: Adaliah

Die band tussen die fyn Elsabè en haar aanneemkind, die sesjarige Bongi, is byna tasbaar. Sommige kinders is vir ’n tydjie in haar sorg, en ander, soos Bongi en haar ander aanneemseun, die 12-jarige Nolan, word vir ewig familie. Elsabè was van kleins af ’n omgeekind al het sy ’n lewe van uiterste armoede geken. Weens die swaarkrydae kon sy ook nie haar skoolloopbaan voltooi nie en moes sy in die pakhuis van die provinsiale hospitaal op haar tuisdorp, Belfast, gaan werk. Hier het sy daagliks soveel ellende gesien.

Veral die lot van die kinders het haar hart geraak. Ná haar egskeiding jare later het sy en haar twee kinders na Schweizer-Reneke verhuis. “Ek het in ’n apteek gaan werk en finansieel  werklik swaargekry,” vertel sy. “Ek het hier ook my huidige man, Philip, ontmoet. In dié tyd het ek by ’n uitreik-aksie van die kerk betrokke geraak en na Namibië gegaan waar ons na verwaarloosde kinders omgesien het. Met hul armpies om my nek, het ek geweet ek het my roeping gekry.”

In 2004 het sy Nolan ontmoet. “Hy het ’n hospitaalkamer met my suster se kind gedeel. Elke keer wanneer ek gaan kuier, het hierdie verwaarloosde kind dieper in my hart gekruip. Nolan was in daardie stadium reeds 22 keer gehospitaliseer. Hy was amper drie jaar oud, maar kon nog nie praat of loop nie. Die maatskaplike werker was op soek na ’n huis vir hom, maar dinge het nie rooskleurig gelyk nie.”

“Ons het hom vir rukkies huis toe geneem, en elke keer wanneer hy moes teruggaan, het die trane geloop.”

Elsabè en Philip, wat 14 jaar ouer as sy is, het reeds vier kinders gehad en sy het gevoel die aanneem-voorstel moes van hom af kom. Hy het toe die saak aangeroer en hulle het die seuntjie wettig aangeneem. “Drie jaar nadat ons Nolan ingeneem het en gesien het hoe Jesus ’n stukkende seuntjie deur liefde kom heelmaak, het ons ons huis as ’n plek van veiligheid geregistreer. As Nolan in sy traumatiese babadae in so ’n huis kon bly, sou hy baie pyn gespaar gewees het.”

Adaliah is in 2008 gestig. Die naam beteken, “hemel, herberg en beskerming in God”. Elsabè wys niemand weg nie. Sy neem tienerverslaafdes, ongehude ma’s en babas onder haar vlerk. Hoewel hulle ’n gedeelte aangebou het waar die babas versorg word, kampeer daar dikwels ’n tiener of twee in haar woonkamer. “Die tieners is ’n uitdaging, maar ek het die gawe om onvoorwaardelik lief te hê. Hierdie omgee is dikwels die towersalf vir stukkende mense.”

Adaliah is grootliks selfonderhoudend, want die staat ken net ’n klein toelaag per baba aan hulle toe. Gelukkig is die hawe op Swellendam waar die inwoners dikwels inspring en help.“Ons het tot nou reeds 143 nuwe huise vir ons babas gekry – dikwels van oorsee. Dit is so wonderlik as een van my vele kinders nuwe ouers kry, maar my trane loop elke keer wanneer ek moet afskeid neem.”

Vanessa Cunningham: Township Animal Rescue

Vanessa is van kindsbeen af gewoond aan daaglikse besoeke aan die townships. Haar ma, Jillian, was ’n diere-aktivis met ’n missie. Terwyl Vanessa so saam met haar ma diere in die stof-strate opgetel het, het sy geweet dit is wat sy vir die res van haar lewe wou doen.“Ek het ná skool veeartse-nykunde gaan studeer, maar ná twee jaar besef ek is nie ’n student nie. Ek het my rugsak gepak en is oorsee en het eers nege jaar later teruggekom.

“In my tyd oorsee was my ma maar deurentyd by Animal Welfare betrokke. Ek het in die buiteland ook as vrywilliger by diere-instellings gewerk en het ’n borg gekry wat tienduisend pond vir dierewelsyn in Suid-Afrika geskenk het. Ons het die geld gebruik om ’n mobiele kliniek, wat my ma ontwerp het, aan die gang te kry.”

In 2004 het hulle uiteindelik op hul eie die Township Animal Rescue begin. Vanessa en Jillian het gevoel dat die townships aan die agterspeen suig. Weens ’n groot agterstand in die opvoeding en bewusmaking van diere-eienaars, kom hulle daagliks op verwaarloosde diere af. Heelwat van hierdie diere het by Vanessa aan huis beland.

“Met sewe honde onder my dak het die bure genoeg gehad! Ek kon ook nie verblyf kry waar my hondefamilie welkom sou wees nie. Toe trek ek na die township Nomzamo buite Somerset-Wes. Ek is met ope arms verwelkom, want hulle het ook al my gesig geken. Veral my dogtertjie, Amy, het die townshiplewe geniet. Hier was immers meer maatjies as ure in die dag!”

Met hul daaglikse omswerwinge in die kronkelpaadjies van die townships, leer hulle ook van mense se nood. “Ons is dikwels die enigste mense met vervoer, of ’n selfoon en wat hulp kan verleen of ontbied. Ek het in hierdie tien jaar baie vriende – en ongelukkig ook vyande – gemaak. Ek is een aand aangerand en het ernstige beserings opgedoen.

“Dit is nie ’n maklike roeping nie.”

“Soms wil ek net tou opgooi. Jy probeer verandering teweeg bring, maar beland keer op keer maar in dieselfde situasie. My rug is dikwels teen die muur en die frustrasievlakke en hartseer loop hoog. Dan kry jy skielik ’n oproep wat op ’n gelukkige einde uitloop; soms steel die hond wat jy red jou hart; en ander kere sien jy die dankbaarheid van die eienaar.”

Vanessa het net een boodskap vir dierelief-hebbers: “Sterilisasie. So bekamp jy diere sonder heenkome – die wortel van die kwaad,” sê die passievolle hondema. Anatole France het dit gelyk gehad toe hy gesê het: “Tot jy ’n dier liefgehad het, bly ’n deel van jou siel altyd onvervuld.”

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.