kategorieë: In die nuus

Die waarheid oor ons water

Die nuus is nie goed nie. Die opskrifte in koerante laat jou hare regop staan: “Rioolvuil in drinkwater”;“Kommer oor uraan in water” of “Dae lank sonder water”. Daar is berigte oor die water wat heeltemal gaan opraak. Daar is plekke waar mense woedend en raadop is omdat hul munisipaliteite nie behoorlik werk nie.Daar is ’n gestryery tussen omgewingsaktiviste, wat optrede eis, en die staat, wat meestal ontken dat die probleme so ernstig is as wat “opportunistiese groepe” voorgee – volgens ’n persverklaring wat me. Nobulele Ngele, waarnemende direkteur-generaal van watersake, in September 2010 uitgereik het.En daar is mense soos die Cilliers’s. Corné en Sarel Cilliers woon tussen Fochville en Westonaria langs die Leeuwspruitrivier, stroomaf van die land se grootste goudmyne. Talle toetse het reeds bewys dat die Leeuwspruit besoedel is met afvalmynwater, wat allerlei swaarmetale bevat – ook goud en uraan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sarel (47) woon sy lewe lank in hierdie omgewing; die plaas Kalbasfontein, wat vandag ’n hele distrik vorm, het oorspronklik aan die Cilliers’s behoort, so ook die plaas waarop Kloofmyn nou is. Corné (32) het tien jaar gelede van die Oos-Rand hierheen gekom. Sy is ’n gekwalifiseerde wildbewaarder, maar die afgelope klompie jare in die klerebedryf en ook boervrou. Dit het begin met die honde, vertel Corné. Die afgelope vyf jaar is nege van hul  honde en ’n kat aan kanker dood. Haar stem is sterk, sy praat nugter, sonder sentiment. “Die kat was die ergste, die hele gesiggie was weggevreet. Toe die boerboel Mufasa. Hy was baie sterk. Dit het begin met iets soos ’n sproet onder die vel. Toe lyk dit soos ’n abses. Drie maande, toe’s hy dood. Brakenjan het nie lank gely nie, twee weke, toe’s sy dood.” So gaan dit aan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Dis moeilik om te sê wat die oorsaak is. Die kos? Die water? Maar iets is baie, baie verkeerd. Ons het vroeër groente gekweek  maar ons kan nie meer besproei nie, daar bly ’n wit poeier agter wat jy veral duidelik op die spinasie kon sien. “Ons het beeste gehad, maar hulle het begin aborteer. Ons skape het sulke klein, gebreklike dwerglammertjies gehad, hulle lyk soos klein foksterriërtjies.”Maar sy is die bekommerdste oor Sarel. Hy het vroeë Alzheimersiekte, sy oë is drasties aan die verswak en daar is probleme met sy geheue, abnormaal vir iemand so oud soos hy. Sy het baarmoederkanker gehad; tot laat verlede jaar is kankerletsels gereeld van haar baarmoeder geskraap. Sy is in remissie. Die hunkering na ’n eie kind is iets wat sy dikwels voel. Durf sy kinders hê? Maar Sarel huiwer: “’n Mens kan nie ’n kind in so ’n vuil wêreld inbring nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ek kan nie sê dis die water nie. Maar jy sien maar wat om jou gebeur,” sê Corné. ’n Mens kan inderdaad nie sê dis die water nie. Daar is te veel veranderlikes. Die skakel tussen swaarmetale en Alzheimersiekte is nog nie bewys nie en omdat kankers so lank kan neem om te ontstaan, is dit byna onmoontlik om te bewys wanneer en hoekom dit ontstaan het. Dit kan iets anders wees wat al dié probleme op Kalbasfontein veroorsaak. Maar hulle is nie die enigste mense langs die Leeuwspruit wat hartseerstories het om te vertel nie. Daar is René Laubscher, wie se vrou, Esmé, in 2008 aan kanker dood is, en wie setwee kinders, Jeanne en Constant, albei kanker gehad het maar nou gesond is. Daar is me. Nicci Simpson, wat ’n tehuis vir honden het: “Veertien honde en een kat. En” (sy huiwer effens) “my man,” sê sy.

Piet Rheeder (68) vertel hoe mooi die dam op sy plaas was, hoe groot die karpe was, hoe daar otters en voëls soos reiers en pelikane was, en honderde ganse en eende … En steeds is hy hartseer as hy vertel van sy vrou, Aletta, wat in 2001 aan kanker oorlede is. Piet se dam is die eerste reseptor stroomaf van ’n slikdam waar mynafval gestoor word. “Ek kan nie bewys dis die water nie. Ek blameer nie die myn nie,” sê hy. Nee, die nuus oor water is nie goed nie. Maar hoeveel van die stories is alarmistiese bangmaakpraatjies? Wilde aantygings? Of selfs, soos iemand anders van owerheidwee suggereer, ’n uitgebreide set van maatskappye wat water in bottels verkoop en “al die pad bank toe lag”?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat sê die kenners?

Helgard Muller, hoofdirekteur: regulering by die departement van waterwese sê Suid- Afrika is ’n waterskaars land en ons water móét behoorlik bestuur word. “Daar is twee aspekte aan die probleem: die hoeveelheid water en die gehalte daarvan. Wat die gehalte betref, is daar ook twee aspekte: die water in die riviere en die water in die krane. As daar in sekere riviere probleme is, is dit nog lank nie so dat daar ’n probleem in alle riviere of in die krane is nie.“Op sekere plekke is probleme onafwendbaar. Maar daar gaan nie skielik iets verskrikliks gebeur en dan is daar geen water nie.” Muller sê daar is baie kundigheid in die land en Suid-Afrika se waterkenners word hoog geag. Hy en ’n kollega het onlangs op uitnodiging van die Wêreldgesondheidsorganisasie aan ’n kongres oor waterbestuur in Montreal, Kanada, deelgeneem. “Ons beplan vooruit vir nuwe projekte, ons werk nou aan die Lesotho Hooglandprojek Fase II. (Die nuwe damme kan teen 2020 voltooi wees.) Ons kyk ook na hergebruik en na waar water bespaar kan word. “Ons departement se werk is deursigtig. Niemand het vyf jaar gelede mooi geweet waar ons staan met watergehalte nie, maar dit word nou bekend gemaak. Enigeen kan op ons webblad gaan kyk wat elke munisipaliteit se watersituasie is.”

Victor Munnik is die waarnemende beleidshoof van Mvula-trust, die grootste nieregeringsorganisasie wat met water gemoeid is, en bestuur ook ’n watergehalteprogram. Hy gee ’n historiese perspektief. “In die ou dae het die wet gesê die water behoort aan die eienaar van die rivieroewer. Nou sê ons wet die water behoort aan ons almal, en die staat is die bewaker daarvan.” Hy sê sowat 98% van die water is reeds toegewys, maar dat dit “baie doeltreffender gebruik moet word. Landbou kry byvoorbeeld meer as 50%. Maar veral in besproeiing is daar baie ondoeltreffende gebruik.”Victor sê die wetgewing oor nywerheidswater “word al beter”, maar daar is nie behoorlike toepassing van die wet nie. Hy beskuldig sommige nywerhede van moedswilligheid. “Hier teen Kersfees, wanneer personeel met verlof is en alles en almal meer ontspanne is, maak baie nywerhede gereeld hul tenks met besoedelde water in riviere leeg. Maar daar is ligpunte. Randwater, byvoorbeeld, beskerm hul opvangsgebied.”

En drinkwater?

Te min water is een ding, en dit is grootliks uit individue se hande uit. Tog voel dit asof daar hoop is met die belofte van meer water uit Lesotho, en moontlikhede van besparing op groot en klein skaal. Maar dis veral berig-te oor water wat ondrinkbaar is waaroor verbruikers bekommerd is. Carin Smit, ’n neurotoksoloog in Roodepoort en ’n stigterslid van die Stigting vir Skoon Water, verduidelik dat daar verskillende soorte besoedeling is en dat elkeen sy eie gesondheidsprobleme veroorsaak. Van rioolafval kan mense diarree, cholera, chroniese derminfeksies, parasiete (onder meer in die brein) kry; van suurmynwater wat toksiese metale soos uraan in die water laat oplos, kry mense onder meer kankers, dermkanaalsiektes sowel as genetiese mutasies wat tot verwronge fetusse lei. Die verhoogde voorkoms van mense wat as hermafrodiete, soos Caster Semenya, gebore word, is te wyte aan industriële afvalwater wat byvoorbeeld DDT bevat. Fosfaatbemesting wat in die landbou gebruik word, het uraan in. Die oorloopwater beland in strome en die watertafel.

“Alle besoedeling kan lei tot immuuninkorting en kankers,” sê Carin. Die winkelgroep Woolworths het onlangs sy kommer uitgespreek oor besoedelde water wat vir die besproeiing van groente en vrugte gebruik word. Sulke produkte is soms besmet met die E.coli-bakterie. Woolworths koop nie sulke produkte aan nie en is bekommerd dat die probleem sal toeneem. Helgard Muller erken dat daar probleme met besoedeling is: “Daar is probleme in riviere en damme soos die Laer Vaalrivier, die Olifantsrivier en die Hartbeespoortdam. Daar is ook probleme met munisipaliteite se watersuiwering. Maar alle water kan gesuiwer word. Dit kan wel duur wees en word steeds duurder.” Victor Munnik sê redelik onlangse navorsing wys twee derdes van munisipaliteite se rioolwerke werk nie behoorlik nie. Die departement van waterwese ken Blou Druppel- en Groen Druppel-status toe aan munisipaliteite vir die behandeling en monitering van drinkwater en rioolsuiwering onderskeidelik. ’n Stel vrae word aan die owerheid gestel, soos of hulle oor die regte personeel beskik en of hulle monsters neem. Die staat bied ook ondersteuning. Die probleem kom daarby dat plaaslike regerings vir die toepassing verantwoordelik is. En plaaslike regerings funksioneer nie altyd goed nie.

Wat kan jy doen?

Prof. Johann Tempelhoff, hoof van Noordwes- Universiteit se navorsingseenheid oor die kulturele dinamika van water, sê die Waterwet van 1998 maak voorsiening vir samewerking deur burgerlikes. Deur middel van waterforums oor die land heen kan enigeen inskakel by die bestuur van ons water, saam met die owerheid, sakelui en ander belanghebbendes. “Ek is betrokke by ’n paar sulke forums,” sê hy. “Ongelukkig werk dit nie altyd na wense nie. Die alternatief is ’n vorm van wateraktivisme. Die mees ekstreme voorbeeld hiervan – en ’n mens kan dit nie wetlik goedpraat nie – is die inwoners van Sannieshof in Noordwes, wat letterlik die munisipaliteit se dienste oorgeneem het.

“Save the Vaal Environment is meer gematig, waar die groep die munisipaliteit hof toe neem. ’n Mens moet kyk wat die beste plaaslike opsie is. Veral in landelike gebiede is dit soms nodig om so ’n forum te stig of gesamentlike optrede aan die gang te sit. “Soms is daar mense (soos ’n afgetrede boer of iemand wat iets van waterbestuur weet) wat ’n selgroep kan vorm en dienste aan munisipaliteite kan lewer en op dié manier bystand lewer. Ons gaan nêrens kom as mense net terugsit en kritiseer nie. Daar móét na oplossings gesoek word. “Veral in landelike gebiede, waar mense eers saam téén die owerheid kon optree, kan hulle sáám met die owerheid nog meer uitrig. Wanneer mense gemeenskaplik optree oor gemeenskaplike, werklike probleme soos die omgewing, dan vlieg politieke probleme dikwels by die deur uit. “Daar bestaan reeds diensgroepe soos die Rotariërs, die Landbou-unie en ander groepe wat naastediens lewer. Waar daar nie is nie, kan kerkgroepe begin optree. “Plaaslike owerhede is dikwels die bron van probleme in waterbestuur. Hulle gaan nog vyf tot tien jaar nodig hê om hul sake in orde te kry, maar ons het nie soveel tyd nie … Daarom moet ons nou optree.”

Wenke

  • Bespaar water waar jy kan, selfs op die vlak van kraan toedraai as jy tande borsel. Ons het nie water om te mors nie!
  • Ondersteun die Stigting vir Skoon Water. Hou jou oë oop vir produkte waarvan ’n deel van die wins in die vorm van Green Bucks aan dié stigting geskenk word. Hulle beplan om die werk van groepe wat op water fokus te koördineer en onder meer nywerhede, owerhede of selfs individuele amptenare wat nie hul werk doen nie, hof toe neem.
  • Kom op die hoogte van die watersituasi in jou omgewing. Lees koerante en gaan kyk op die departement van waterwese se webwerf,www.dwaf.gov.za by “My Water”.
  • As jy ’n geval sien waar water gemors of besoedel word, bel jou munisipaliteit (wees bereid om meer as een oproep te maak) of die departement van waterwese, of jou plaaslike waterforum.
  • Sluit aan by ’n waterforum, hulle het meer vrywilligers nodig. Kontak Victor Munnik by Mvula Trust via die webblad www.mvula.org.za of bel 011 403 3425 om te hoor van bestaande forums of hoe om saam met Mvula te werk, of die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing by www.fse.org.za As daar nie ’n forum is nie, gesels met mense en begin een.
  • Dis die regering se plig om ons water op te pas, maar die regering kan nie by elke kraan waghou nie – werk saam met hulle.


Beveilig jouself Verbruikers is nie heeltemal uitgelewer aan die owerhede nie; daar is baie wat mense kan doen om hulself te beveilig.

  • Belê in ’n goeie waterfilter; koop die beste wat jy kan bekostig.
  • Carin Smit raai mense aan wat in gebiede bly waar moontlike besoedeling is om ’n tru-osmose filtertoestel tussen hul huis en die munisipale bron te laat installeer.
  • Hulle kan hulle ook by ’n toksoloog laat toets vir swaarmetaal-oorlading. Deurmchilering, ’n spesiale soort ontgiftingsproses, aanvullings en dieet kan sulke mense,gehelp word. Besoek www.carinsmit.co.zavir meer inligting.
  • Kook jou water as jy enigsins vermoed dat daar bakterie soos E.coli in die water is.
  • Dis tragies dat alle fonteinwater – en dus gebottelde water – op die planeet waarskynlik nie meer 100% suiwer is nie, maar wanneer daar ’n probleem in jou kraanwater is, is dit baie beter as niks.
Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Nuwe karakter tref Arendsvlei soos ’n bom

Marissa Claasen vertolk die rol van Anna, wat al die pad uit Amsterdam vir Lee-Roy…

4 hours Gelede

Rolene Strauss deel haar storie oor MIV

Na die geboorte van haar eerste seun in 2017, het sy haar mediese studies voltooi…

1 day Gelede

“Mamma, jy speel nooit saam met my nie!” Hoekom speeltyd so belangrik is

Deur Tanya de Vente-Bijker “Mamma, kan jy asseblief kom speel? Asseblief, net ʼn rukkie? Jy…

1 day Gelede

Basiese kragsoppe

Ons Suid-Afrikaners hou van lekker vleiserige kragsoppe of “broths”, soos die Engelse dit noem. Dié…

1 day Gelede

Die twee kante van Luan Jacobs in ‘Diepe waters’

Vertel ons meer van jou karakter. Ek vertolk die rol van Damian. Hy is ’n…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.