kategorieë: Bekendes

Cher: Baanbreker

Die afgelope 33 jaar het sy met die een trefferliedjie ná die ander haar plek in die kollig behou.  In ’n wêreld waar jonkheid alles is, het Cher haar ikonstatus en volharding te danke aan daardie onbepaalbare eienskap – suiwer sterstatus. Sy is ’n fassinerende kombinasie van talent, harde werk en ’n verbete vasbeslotenheid om vir meer as ’n blote kostuum bekend te wees – eienskappe wat in die mededingende Hollywood van haar die uitverkore ontvanger gemaak het van ’n Oscar (vir Moonstruck), ’n Grammy, ’n Emmy en ’n People’s Choice Award. Cher is ’n baanbreker. Sy het met jonger mans uitgegaan toe so iets nog skandalig was. Aan die modefront het sy onder meer bell bottoms gewild gemaak en ’n storm ontketen toe sy op televisie verskyn het in ’n uitrusting wat haar naeltjie wys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hoewel Sonny dikwels gesien is as die swakker skakel in die verbintenis, het hy in werklikheid hul professionele én private verhouding beheer. Cher vertel dat sy Sonny ontmoet het toe sy 16 was. “Ek was ’n massa ongefokusde energie sonder ’n enkele plan met my lewe. Sonny het my onder hande geneem en soos prof. Henry Higgins met Eliza Doolittle in My Fair Lady, my ontwikkel. Hy was my held. Ek het aan sy lippe gehang. Ek het so baie by hom geleer. Ek dink nie daar sou ’n Cher gewees het as dit nie vir Sonny was nie. Ons het baie pret gehad; ons was bitter snaaks as ons bymekaar was.” Hulle is in 1975 geskei. Cher is later met Gregg Allman getroud. ’n Seun, Elijah, is uit die huwelik gebore. Haar dogter by Sonny, Chastity,het  ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan en is nou bekend as Chaz. Sonny was ’n kongreslid toe hy in 1998 in ’n ski-ongeluk dood is. Sonny was dalk verantwoordelik vir die aanvanklike vorming van die jong Cher en die rigting wat hy aan haar lewe gegee het, maar dis die vrou wat met eie krag en deursettingsvermoë gegroei en ontwikkel

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Cher het tot ’n formidabele ster ontwikkel wat ’n legende in haar leeftyd geword en sukses op verskeie gebiede in die vermaaklikheidswêreld behaal het. Sy is nou op die drumpel van sewentig en dit lyk nie of sy van plan is om uit te tree nie. Sy bly ’n trekpleister in Las Vegas waar sy haar eie vertoning het en in stampvol teaters optree. Cher speel in Burlesque teenoor Christina Aguilera as die eienares van ’n klub wat die geite van opkomende sterretjies en haar eie geldprobleme moet hanteer. Sy sing, dans en staan nie ’n treetjie terug vir die jonger meisies nie. Ondanks hul skoonheid en jeug, is dit Cher wat die fokuspunt is in die tonele waarin hulle saam verskyn. In die nabyskote is daar feitlik nie ’n plooi op haar gesig te siene nie en haar hoë wangbene is steeds indrukwekkend. Ek neem aan dat sy vullers, Botox en ’n operasie of twee aan haar gesig laat doen het, maar presies wat, sal ’n mens nooit weet nie. Maar wat jy voor jou sien, is ’n pragtige, rare verskynsel wat baie soos die jong, sonbruin meisie van die jare sestig lyk. Sy is nie meer die verpersoonliking van jeugdigheid nie maar sy het iets anders bygekry: ’n tydloosheid, amper asof dit onmoontlik is om ’n bepaalde ouderdom aan haar te koppel.

Hoekom het jy tien jaar gewag voor jy weer ’n rolprentrol aanvaar het?

Ek het dié karakter volkome verstaan. Dit het gevoel asof ek haar soos die palm van my hand ken. Ek wou veral graag in ’n fliek sing en het nie gedink dat dit ooit weer sal gebeur nie. Daar was vroeër net nie ’n draaiboek wat my belangstelling geprikkel het nie.

Jy het ’n baie lang loopbaan gehad. Wat dryf jou?

Niks dryf my nie. Ek is eintlik baie lui. Baie van die aanbiedings wat ek kry, klink vooraf na pret en daarvoor sê ek maklik ja – net jammer alles werk in die praktyk nie altyd só lekker uit nie! Ek weet daar gaan ’n tyd kom wanneer ek nie meer sal kan optree nie. Ek het juis in Maart ’n voetoperasie ondergaan. Ek is op die oomblik nog op die krukkelys.Maar ek geniet my werk en sal aanhou daarmee tot ek nie meer kan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Toe jy die Oscar vir Moonstruck gewen het, het ons gedink dat jy op jou toneelspel gaan fokus, maar toe verdwyn jy weer van die skerm af?
Ek wou van die begin af toneelspeel, maar niemand wou my ’n kans gee nie. Tot Robert Altman op die toneel verskyn het – hy was nie bang om iets nuuts te doen nie. Toe hy met sy eerste Broadway-produksie besig was, het almal hom gewaarsku: “Moenie vir Cher in jou stuk gebruik nie. Hulle sal elke beweging van haar bestudeer. Dit sal ’n nagmerrie wees.” Maar hy het my in elk geval gekies. Dis hoe my verhoogloopbaan begin het. Vroeër wou niemand my ’n kans gee nie.

Hoekom nie?
Selfs ná Mask het almal gesê, ja, sy is talentvol, maar haar kêrels is te jonk, en sy trek nie paslik vir ’n aktrise aan nie. Ek het ’n sekere beeld gehad en mense het nie gedink ek kan iets anders wees nie. Ek het my rol in Silkwood in die loop van ’n middag gekry. Mike Nichols (die regisseur) het baie gesukkel met my karakter en wou haar uit die fliek skryf tot hy en Meryl Streep my op die verhoog gesien het. Hy het kom vra of ek saam met Meryl in ’n nuwe rolprent wou speel. Toe sê ek ja. Dadelik. Hy wou weet of ek nie eers wou seker maak waaroor die storie gaan nie, maar ek het nie omgegee nie. ’n Paar dae later sê hy vir my: “Ek wil hê jy moet weet jou karakter is gay – ’n oulike gay vrou.” Ek het steeds nie omgegee nie. Mense dink ek het my loopbaan vooruit beplan, maar alles het net in plek geval. Dis hoe die lewe is. Jy kan planne maak maar dinge werk altyd anders uit as wat jy voorsien het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit lyk of jy trots is daarop om ’n sterk vrou te wees. Hoe maklik en lekker is dit regtig?
Ek dink nie ’n mens word as ’n sterk vrou gebore nie. As jy die regte rolmodelle en die innerlike potensiaal het, is dit soos ’n plantjie wat water kry en versorg word – jy groei en word sterker. Ek dink elke vrou wat sterk is en nie bang om haarself te wees nie, kan ’n rolmodel wees. Ek hou daarvan om ’n vrou te wees, maar ek hou ook van mans. Ek dink hulle is wonderlik, maar ek dink ons is ’n bietjie beter, sterker ook (lag). Mans is soos nagereg. Dis heerlik, maar jy wil nie elke dag nagereg eet nie. Maar soms los ek die hoofgereg en eet dadelik die poeding.

Wat was die laagste punt in jou lewe? En hoogtepunte?
Dit was ’n reuse-laagtepunt toe ek en Sonny geskei is. Ek het nie ’n werk gehad nie en ek het nie die vaagste benul gehad wat ek met my lewe wil doen nie. Ek het elf jaar lank op hom staatgemaak – ek het hom ontmoet toe ek 16 was en ek was 27 toe ons uitmekaar is, maar eintlik was ek steeds 16 jaar oud. Ek het reuse-foute gemaak, boonop voor almal, soos die advertensie waarin ek en ’n vriendin verskyn het om ’n produk te onderskryf. Almal het vir my gelag en ná die hele episode kon ek twee jaar lank nie werk kry nie. Dit was voordat bekendes soos Julia Roberts in Lancôme-advertensies verskyn het. Dit was ’n nagmerrie. Een van my hoogtepunte was die Oscar wat ek vir Moonstruck gewen het. Dit was ’n bevestiging van die gehalte van my werk as aktrise. Meryl (Streep) was so opgewonde om my onthalwe. My hele familie was daar en my kinders was nog klein. Ek was nog altyd ’n reuse-aanhanger van Audrey Hepburn en die aand toe ek bekroon is, loop ek daar in haar vas. Sy het vir my gesê: ”Ek is so bly jy het gewen.” Ons het ’n ruk daarna selfs gekorrespondeer. Maar ek kon nooit besluit of ek die blyste was dat ek die Oscar gewen het nie, of omdat Audrey bly was dat ek bekroon is nie.

Het jy al kleinkinders?
Ek wens ek het kleinkinders gehad! Maar ek het nou twee seuns en nie meer ’n dogter nie. Dis regtig moeilik om daaraan gewoond te raak. My ander seun is ’n kunstenaar en Chaz skryf en maak dokumentêre prente.

Die liedjie wat jy in Burlesque sing, “You Haven’t Seen the Last of Me”, is ongelooflik. Kon jy jou daarmee vereenselwig omdat jy ook nou op die kruin van jou lewe en loopbaan is?

Nee, beslis nie. Ek het op veertig reeds alles geweet wat ek vir ’n leeftyd nodig het. Ek het nie nodig om enigiets by te leer nie. Wat oorbly, is die gang van die tyd. Die rede hoekom vroue hulle met die liedjie kan vereenselwig, is omdat ons almal pyn ken; die opstaan ook; ons weet hoe dit voel om nie op te gee nie; om aan te hou veg. Maar ons bly vroue – sag, hoewel ons soms ook hard moet wees. Dis die perfekte liedjie. Weer eens, ek het nie gedink dat ek in die stadium van my lewe nog bekend gaan wees nie, of nog sou lewe nie. ’n Mens kan nooit sê wat gaan gebeur nie.

Dis vir my interessant dat jy ná vyf dekades waarin jy ’n legende in die bedryf geword het, op stel glo meer saam met die mense wat agter die skerms werk as die sterre gekuier het.
Ek kom nog altyd goed met die produksiespan oor die weg. Ek het baie pret saam met hulle. Ek geniet ook die akteurs se geselskap, maar dit kan soms vervelig word. Die persoon wat die meeste energie op stel het, skep die atmosfeer wat daar heers. Ek het probeer om vir Ex-Tina (dis my naam vir Christina Aguilera) te wys dat sy met die regte houding en energie by die stel moet opdaag. Dit maak dinge ook lekkerder vir jouself. Dit neem net ’n paar minute per dag en dis meer pret om vriende met die mense te wees as om hulle net te ignoreer.

Een van jou grootste treffers was “If You Can Turn Back Time”. Wat sou jy verander het as jy die tyd kon terugdraai?
Ek sou moontlik baie goed anders gedoen het … maar dis ook maar goed ek kan nie dinge verander nie. Ek het al die goeie en slegte episodes in my lewe nodig gehad. Dit het my gemaak wie ek is.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.