kategorieë: Ons menseBekendes

Dinamiese Rozanne, van sukses tot sukses!

Rozanne McKenzie van sukses tot sukses! – Deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Verskaf

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

In Oktober 2018 het Rozanne McKenzie as ’n nuusleser by die Nuusdag om 8-span op eExtra aangesluit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Maar sy is reeds jare lank in die vermaaklikheidsbedryf het baie ervaring. Sy was ’n aanbieder op die weeklikse kuns- en vermaaklikheidsprogram Flits op kykNET, het Nasie in Gesprek op kykNET aangebied (asook die Engelse weergawe Nation in Conversation op Business Day TV en Soweto TV). Sy was ook aanbieder van die Afrikaanse ontbytprogram, Dagbreek op kykNET, en het ook meer as vyf jaar as veldaanbieder op die gewilde Afrikaanse joernaalprogram Kwêla gewerk.

Asof dít alles nie reeds indrukwekkend genoeg is nie, is sy deesdae ook op Jacaranda FM waar sy as verkeersaanbieder op The Workzone (weeksdae tussen 12 en 4) gehoor kan word.

Rozanne het al in verskeie televisiereekse soos Madam & Eve, Interrogation Room, Going up Again, Noah’s Ark en Erfsondes gespeel en verskyn in die rolprent Fugue and Freedom Day. Sy is ook ’n opgeleide danser wat reeds in verskeie verhoogproduksies verskyn het, onder meer Grease, King Lear, Miss Rock, The Great Gatsby, More Rooms en Babe: The Sheep Pig.

Rozanne is beslis ’n dinamiese doener en ’n werklike inspirasie. Maar wie is die vrou agter dié gewilde omroeper, aanbieder en ma van twee? Ons het gaan uitvind …

Was dit nog altyd jou droom om ’n aanbieder en omroeper te wees? Of hoe het dit gebeur?

Ek wou van kleins af ’n nuusleser word – dit was my grootste droom. Intussen het ek hier en daar ’n idee gehad om ’n kindersielkundige of marinebioloog te word (soos ‘n hele paar dogtertjies destyds), maar die kunste en die media het my altyd teruggeroep.

Waar kom jou liefde vir die kollig vandaan? Het jy nog altyd van die verhoog, optree en gesels gehou?

My liefde vir die kollig was nog altyd daar. Ek onthou ek was die eerste keer op die verhoog toe ek vier jaar oud was. Ek moes ’n rympie op my kleuterskoolkonsert opsê. Dit was toe al vir my so opwindend om voor mense te staan en te sien hoe hulle glimlag en vir my luister. Ek dink ek het toe besef dat die verhoog en praat ’n groot deel van my lewe sou wees. As enigste kind moes ek myself heeltyd vermaak en besig hou, so die gesels kom vanself. Vra net my ma!

Hoe het jy in die vermaaklikheidsbedryf beland?

Ek het op hoërskool drama as vak geneem en toe  besluit om drama en media op universiteit te studeer. Nadat ek my honneursgraad in drama aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, het ek vir ’n jaar as onderwyser gewerk (natuurlik met ’n paar gigs as aktrise hier en daar). Maar die onderwys was nie vir my nie! Ek dink dis ’n roeping en nie een wat ek verder wou volg nie. In 2006 het ek ’n rol gekry in die Barnyard-teater se produksie van Grease en van toe af het ek nooit regtig ophou werk nie.

My eerste ervaring as omroeper was as nuusleser op UCT Radio. Ek het dit só geniet, en dit het vir die eerste keer gevoel asof my kleintydse droom om ’n nuusleser te word dalk net waar kon word.

Wat is jou gunstelingonderhoud tot dusver as aanbieder/omroeper, en hoekom?

Die onderhoud wat vir my veral uitstaan, is die een wat ek op Kwêla met aartsbiskop Desmond Tutu gevoer het. Dit was ’n ongelooflike ervaring om dié legende te ontmoet en hy het so lekker gesels.

Ek het ook met Ellen Pakkies in Lavender Hill gesels. Om haar storie te hoor (en dit boonop in haar  omgewing) was vir my baie roerend. Ek kom ook van die Kaapse Vlakte af en die probleme wat destyds daar was, is steeds daar. Ek voel dat daar meer aandag aan die Vlakte se probleme gegee moet word sodat daar oplossings gekry kan word.

As jy een superpower kon hê, wat sou jy kies en hoekom?

Mmmm, dit sou beslis wees om myself te kan clone. Daar is soveel wat ek nog wil doen, sien en leer en daar is soms net nie genoeg ure in die dag nie!

Wat geniet jy die heel meeste van ma-wees? En watter wysheid wil jy graag aan jou kinders oordra?

Ek geniet ma-wees omdat dit vir my ’n groot uitdaging is. Jy het geen idee watter soort mense jou kinders gaan wees nie. Hulle is nie ’n fotostaat van jou nie, hulle is mense uit eie reg, wat jy moet leer ken en verstaan nes enige ander mens. Jou kinders is mense wat jy moet liefhê, ongeag wat of wie hulle is. Dis ’n groot verantwoordelikheid.

My kinders moet weet dat hulle iets het om vir die wêreld te bied en dat hulle alles wat hulle aanpak na hul beste vermoë moet doen, want as jy weet dat jy jou bes gedoen het, is dit al wat saak maak.

Kyk ‘n mens na jou en jou man, Chris Bishop, se Instagram-profiele, kom jy gou agter dat julle graag oefen en aktief is. Oefen julle graag saam? Volg jy ‘n spesifieke oefenprogram? En wat is jou gunstelingoefening?

Chris is die heel beste mens om saam mee te oefen. Hy is so fiks en so vinnig en hy moedig my aan om elke dag harder te werk. Ons maak tyd om een keer per week saam te draf – op die pad of saam ’n trail run te doen. Ons hardloop ook saam halfmarathonne. Hy bly by my, al kan hy baie vinniger klaarmaak. Chris is beslis die beste spanmaat!

Wanneer ek nie draf nie, oefen ek twee keer per week saam met my persoonlike afrigter, Merryl Theunis. Ons werk met gewigte en doen funksionele oefening of HIIT. Op die ander twee dae doen ek óf joga óf SWITCH-klasse, of ek oefen sommer op my eie. Ek hou werklikwaar baie van oefen. Dit help my om af te skakel en vir ‘n uur net op myself te fokus – nes meditasie.

Beskryf jouself in 3 woorde

Gedrewe, lojaal en passievol.

Wat is volgens jou die sleutel tot sukses?

Harde werk, respek en goeie voorbereiding.

  1. As jy hard werk, is daar níks wat jy nié kan doen nie.
  2. Respek vir die mense saam met wie jy werk, ongeag waar hulle in die proses inpas. Groet, wees betyds en wees vriendelik. Hoe jy mense hanteer, gaan verseker dat mense jou om die regte redes onthou.
  3. Dis ook baie belangrik, veral in dié bedryf, om goed voorbereid te wees. Goeie voorbereiding is die verskil tussen jou en iemand anders wat dalk ook die werk kan doen. As jy goed voorberei, bly jy een treetjie voor en sorg dat mense meer geneig sal wees om weer saam met jou te wíl werk.

Dié drie sleutels is na my mening die heel beste manier om ’n goeie reputasie te behou.

Wat is jou droom vir die toekoms?

My droom is om my loopbaan na die volgende vlak te neem en selfs groter gehore te bereik. Ek wil graag aanhou om te doen wat ek doen op televisie en radio. Ek is so bevoorreg om op albei platforms te kan werk – nie baie mense kry só ’n geleentheid nie.

Ek wil ook graag met motiveringspraatjies begin. Ek dink my storie is een wat mense kan aanmoedig om ’n sukses van hul lewe te wil maak. Ek is nie ’n miljoenêr nie, maar ek kon vir myself ’n lewe bou waarop ek baie trots is. Ek sal baie gelukkig wees as mense net kan hoor dat dit moontlik is om bo jou omstandighede uit te styg, en dat die plek waarvandaan jy kom, nie is waar jy moet bly nie.

Ek wil ook meer fokus op my onderneming, Rozanne McKenzie Media, en dit ontwikkel in iets wat ’n wonderlike nalatenskap vir my kinders kan wees.

En verder wil ek graag meer saam met my gesin reis, of dit nou in Suid-Afrika of oorsee is. Ons was onlangs almal saam in Barcelona en dit was heerlik!

Ek is in hierdie stadium onsettend gelukkig met my lewe en ek hoop om dit so te hou. Ek was vir ’n rukkie in ’n donker plek, en om nou wakker te word met ’n gesonde, gelukkige gesin en ’n glimlag op my gesig is reeds vir my ’n groot sukses!

Deel
Gepubliseer deur
Zoe Salzwedel

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 day Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.