kategorieë: InspirasieJou lewe

Dr. Ronél le Roux oor babamossies, ’n “briljante hings” en uitdagings op die dansvloer

Dr. Ronél le Roux oor voëltjiebabas, ’n “briljante hings” en uitdagings op die dansvloer deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf. Hooffoto Pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

1. Jy het as maatskaplike werker gekwalifiseer maar is nou ’n emosionele intelligensie spesialis. Hoe het die proses verloop?

Maatskaplike werk is grootliks gemik op terapie en hulp waar daar reeds probleme is. Ek en my kollega (ook ’n maatskaplike werker) het besluit om liewer voorkomingswerk te doen. Daarmee wou ons mense begin toerus om toekomstige uitdagings die hoof te bied.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Emosionele Intelligensie fokus veral op emosies en denke, maar sluit ook lewensvaardighede soos selfhandhawing, kommunikasie, konflikhantering, ens. in.

Dit keer nie noodwendig dat jy probleme en hartseer ervaar nie, maar rus jou toe om hierdie soort situasies beter te kan hanteer. In die laaste tyd wil ek baie eerder mense lei om sin te maak van hulle bestaan en om weer gelukkig te kan wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

2. Vertel van die kursusse wat jy en jou vennoot aanbied, en die boeke wat julle geskryf het.

Ek en my kollega/vennoot, Dr. Rina de Klerk-Weyer, bied kursusse in Emosionele Intelligensie aan. Sy fokus meer op groepe by maatskappye, terwyl ek verkies om met volwasse individue te werk op ’n een-tot-een basis. Ek verkies dit om met individue te werk, aangesien dit meer persoonlik is en die kursus aangepas kan word vir die spesifieke persoon se behoeftes. Dit is nie in ‘n groep moontlik nie.

Emosionele Intelligensie: ’n werkboek vir volledige menswees wat ons vir volwassenes geskryf het, gebruik ons as werkboek vir die kursusse. Hierdie boek is ook in Engels beskikbaar, en albei is beskikbaar vir aankoop by ons.

Ons het ook ’n boek geskryf gemik op die emosionele intelligensie vir kinders en tieners: Emosionele intelligensie vir kinders en tieners: ’n praktiese gids vir ouers en onderwysers. Ook in Engels by ons beskikbaar.

Ons is tans besig met ’n nuwe boek wat meer gaan fokus op heelword. Dit is nog in sy kinderskoene, maar ons is baie opgewonde daaroor. Ons oorweeg om die titel How to be whole in a broken world te maak. Die boek gaan fokus op verskeie aspekte, maar veral hoe om weer vreugde en liefde in hierdie wêreld te ervaar. Hou hierdie spasie dop!

Verder het ons kursusse beskikbaar op die “aanlyn-universiteit”, Udemy. Gaan kyk onder Dr. Ronél le Roux. Die kursusse is baie bekostigbaar.

3. Jy het ook ander boeke geskryf …

Ek en my mentor, Dr Heinrich Kleinschmidt, het saam ’n boek geskryf wat grootliks gaan oor die “stryd” wat daar dikwels bestaan tussen ons ego en ons siele. Dit is die ego wat ons dikwels laat strewe na meer en meer, veral materiële besittings. Dit laat ons onsself ook gedurig met ander vergelyk, kompeteer, evalueer en oordeel. Die gevolg is dikwels dat ons minderwaardig en onvergenoegd voel, asook onvolledig en ontevrede. Indien ons na ons siele begin luister, is ons meer  dankbaar en vervuld.

Ek het hierdie boek onlangs bygewerk en verander, en dit is op Amazon as ’n eboek beskikbaar. Die naam is Self-transformation and fulfilment. Overcome your ego and get closer to God.

Ek het ook onlangs klaargemaak met ’n vollengte liefdesverhaal: Sonde van die Vaders. Dit is ook ’n eboek op Amazon. Ek het dit baie geniet om hierdie boek te skryf, want dit beproef nogal die leser se geloof oor die lewe en of ons regtig net dié één lewe het …

’n Ander boek wat ek geskryf het, is gemik op die emosionele intelligensie van sportmense. Hierdie boek sal ek ook eersdaags opdateer en as ’n eboek publiseer. Die doel is om sportmense bewus te maak van hoe belangrik jou gedagtes en emosies is wanneer jy ’n sport beoefen, en veral voorberei vir kompetisies.

4. In ons podsending het ons gepraat oor jou werk met dobbelafhanklikes en hulle geliefdes. Hoe ervaar jy die terapie?

Die terapie met die dobbelafhanklikes is dikwels nogal dreinerend, aangesien die meeste kliënte nie die erns van die afhanklikheid besef nie en dikwels nie bereid is om dit werklik aan te spreek nie. Dit is ’n baie ernstige verslawing, soortgelyk aan alkoholisme, en daar is steeds mense wat nie besef dat dit so gevaarlik kan wees nie.

Wat dit steeds interessant maak, al doen ek dit al 18 jaar, is die feit dat ek ’n groot verskeidenheid mense sien: ou mense, jong mense, vrouens, mans, gegradueerdes en huishulpe … Dit is ’n verslawing wat enige een in sy kloue kan kry.

5. Vertel ons van jou nabymense.

My hart se punt is my twee kinders, wat nou reeds volwasse is. My seun, Leon, is ’n junior meganiese ingenieur en Anika, my dogter, doen animasie en motion design. Ek is op die randjie van die leë-nes sindroom! Gelukkig is die gevoel dat ek ’n groot taak suksesvol afgehandel het, oorheersend. Ek besef ook dat jy nooit ophou ma wees nie en ek sal beslis, vir solank dit moontlik is, altyd daar wees vir hulle!

Daar is ’n man in my lewe en sonder hom sou ek nooit by alles uitgekom het nie. Hy hou my voete op die grond en versorg my.

Dr. Ronél le Roux

6. Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat jy dit nie kan weerstaan om wesentjies wat jou pad kruis, te help nie …

My deernis vir klein en hulpelose wesentjies besorg my baie bykomende werk! Ek is tans besig om twee mossiebabas groot te maak. Die een was ’n geskenk van een my katkinders en die ander een het ek oorgeneem van iemand wat die baba in haar tuin opgetel het. Albei groei pragtig en eet byna al saad. Dit is baie bevredigend om sulke klein, hulpelose voëltjies groot te maak.

My diere is almal rescues. Ek het vier katte en twee honde. Hulle is die beste geselskap vir my, altyd om my, aanvaardend en liefdevol. Ek het ’n baie groot liefde vir die natuur en wilde diere ook. Dit is vir my heerlik om voëls te kyk.

My grootste wens is om nou ook in Suid-Afrika te sien dat sirkusse nie meer enige wilde diere op hulle program of perseel het nie.

7. Jy is ’n kranige baldanser! Vertel?

My dogter het op ’n baie jong ouderdom begin dans en ek het ure langs die dansvloer gesit. Toe sy begin het met ballroom en latin, het ek geweet dit is iets wat ek ook wil doen en ek het gedurende 2011 daarmee begin. Hierdie danse is ’n groot uitdaging en daar is min ander dinge wat soveel waarde vir my bring. Dit is my terapie en my gelukkige plek. Daar is soms suksesse en soms teleurstellings, altyd iets om by te leer en te verfyn. Ek is sommer nog baie ver van waar ek wil wees, maar ek sien myself al as ’n danser! ’n Mens word deeglik gekonfronteer met dit wat jy van jouself glo, ou oortuiginge waarin jy soms nog wil glo maar wat nie meer werk vir jou nie, veral nie op die dansvloer nie! Dit is die één plek waar mens ontslae kan raak van jou “hang-ups” en waar mens heeltyd aan jou selfvertroue kan werk.

8. Een van jou belangstellings was karate, of hoe?

Toe ek 9 of 10 jaar oud was, wou ek nog ’n sport begin beoefen en ek moes kies tussen ballet en karate. My ouer broer het reeds karate gedoen en dit was toe my keuse. Saam met die karate het ek ook atletiek gedoen, netbal gespeel en geswem. Die karate was egter ’n groot voorliefde en ek het gedurende my matriekjaar my swart gordel gekry. Dit was ’n wonderlike mylpaal en ek is regtig trots daarop. Natuurlik is karate en dans baie uiteenlopend, wat dans nog ’n groter uitdaging vir my maak. Ek was maar ’n taamlike rabbedoe toe ek jonk was, seker te danke aan my twee ouer broers. Op die dansvloer moet ek nou my vroulikheid ontdek en uitbou, terwyl ek maar ’n rabbedoe kon wees terwyl ek karate gedoen het!

9. En dan is daar perde …

Ek het ’n baie groot liefde vir perde en het ’n paar jaar twee van my eie gehad. Daar is min ervarings wat so deel van jou bly as om bloots in die veld op jou perd se rug te jaag! Natuurlik het ek ’n hele paar keer hard afgeval, maar darem elke keer weer opgeklim. Hulle het my ondersteun in moeilike tye en ek besef nou eers hoe ingestel ’n perd op ons emosies is. Ek stel belang in terapie met die hulp van perde en ek sou baie graag by ’n sentrum betrokke raak wat hierdie tipe terapie doen. Die liefdesverhaal waarmee ek tans besig is, het dit as tema. Daar gaan natuurlik ’n briljante hings en ’n baie aantreklike man in die storie wees!

10. Wat is jou lewensfilosofie?

  • Om liefde te kan ervaar, is altyd die moeite werd, al lei dit soms tot seerkry …
  • Moenie wegskram van nuwe ervaringe nie.
  • Skep en geniet gelukkige oomblikke. Dit word gelukkige herinneringe.
  • Ons is te alle tye verantwoordelik vir hoe ons situasies vertolk en daaroor voel. Ek kan besluit of iets my gaan ontstel of nie.
  • Ek probeer om altyd vriendelik te wees en deernis te hê, maar ek laat my beslis nie in ’n blik druk nie! Selfhandhawing is selfsorg. As ons nie sê wat ons pla nie, sal dit nie reggestel kan word nie.
  • Grense stel in alle opsigte is vir my baie belangrik. Ek sal nooit “ja” sê vir iets of iemand as ek weet my siel of liggaam gaan skade ly daardeur nie.
  • Gun ander mense hulle geluk en materiële besittings. Ons is almal saam op hierdie reis en jy weet nooit watter hartseer in ander se harte is nie.
  • Baie mense wil groot goed doen en groot veranderinge maak, maar kom nooit daarby uit nie. Klein dade van liefde en deernis is beter as om niks te doen nie. As jy nie die renosters kan beskerm nie, red dan ’n hond of kat of voëltjie!

Dr. Ronél le Roux: ronel@joyfuljourney.co.za of ronellr@mweb.co.za en www.joyfuljourney.co.za

Loer hier om nog lekker na Tussen Ons te luister

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.