kategorieë: Leef gesondGesondheid

Dun haartjies?

Is dit jou ma se skuld?
Ons raak ook bles, net op ’n ander manier. Waar mans se haarlyn al hoër opskuif en ’n groeiende vleiskuif wys, word ons hare oraloor yler. Mans en vroue erf die gene hiervoor by ons ma’s.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Kan jy haar blameer?
Kyk bo-op jou kop en spesifiek om jou middelpaadjie, want dis waar jou hare eerste yler gaan word as ’n bles toekoms op jou wag. Aan die begin wys blesheid makliker by mans, maar teen tagtig het bles vroue en mans byna ewe min hare op die kop. Dan het nege uit twaalf mans ’n einakroon, teenoor sewe uit twaalf vroue.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoewel jy die algemeenste geen vir blesheid van jou ma erf, is daar minstens twee ander stelle gene by haarverlies betrokke, wat jy van enige van jou voorsate  kon geërf het. Nog nie lus vir ’n bles, of dan nou yl hare, nie?
Jy kan jou gene DHT (een van die testosteroonhormone) en die reseptore waarop dit inwerk, fnuik, of minstens stuit. Die maklike roete is met pilletjies met die aktiewe bestanddeel finasteried (net vir mans) of ’n haarspoelmiddel met monoxidil (vir mans en vroue). Jy moet hiermee begin voor jou hare werklik yl is, want dit red net bestaande hare. Maar begin nóú. As jy eers die hare verloor het, is hulle weg. Dit werk ook net terwyl jy dit gebruik … maar dit werk. Altwee kom teen ’n prys: party mense wat monoxidil gebruik, kla dat hul kopvelle jeuk en/ of van skilfers.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

En dit neem tyd, want jy moet jou kopvel twee keer per dag behandel. Finasteried is meer kommerwekkend: dis teratogenies (dit veroorsaak geboorte-afwykings by babas) en vroue wat swanger is, of nog swanger wil raak, moet letterlik nie eens aan die pilletjies vat nie. Daar is selfs vrae of babas van mans hierop dalk ook aangetas kan word. Daarby het dit by tot 18% van mans erektiele disfunksie tot gevolg. Studies in Brittanje en Swede wys die probleem bly, al staak hierdie slagoffers die medikasie. Die kans op manlike borskanker kan ook nie uitgeskakel word nie.

Wat van natuurliker maniere?
Jy kan ook jou DHT effens verlaag deur doodgewone oefening wat jou insulienvlakke en dus jou hormoonvlakke so goed moontlik hou, mits jy intensief oefen. ’n Stappie om die blok deug nie. ’n Laevetdieet met genoeg proteïen kan dalk voorkomend wees. Verruil dus die lekker vet vleis, spek, sjokolade en koek vir amandels, grondbone, laevetvleis soos hoenderborsie sonder vel en steak minus die vet randjie.

Is dit die Pil?
Jou hormone het ’n groot invloed op jou hare maar die Pil sal hulle eerder laat groei. Tog, as jy staak, kan jy tydelik meer hare verloor. As jy skielik hare verloor, kyk beslis wat die afgelope drie maande ten opsigte van jou hormone gebeur het. Groot skommelings soos met swangerskap, ’n bevalling en die menopouse lei dikwels tot haarverlies. Sodra jou hormone na normaal terugkeer, behoort jou haredos binne drie maande uit te groei. En as dit nie gebeur nie? Soms help hormoonterapie, as jy dit mag gebruik. Maar jou gene en DHT-vlak gaan ook ’n rol speel en dus is daar nie ’n waarborg nie.

Of dalk jou skildklier?
Haarverlies is een van die vroeë tekens van skildklierprobleme. Jy het moontlik ’n onderaktiewe skildklier as jy saam met haarverlies ook koulik, moeg en depressief is, en bros naels, ekstra gewig en ’n droë vel het. Simptome wat ’n ooraktiewe skildklier verklap, is nie net haarverlies nie maar ook gewigverlies, bewerigheid, depressie, hiperaktiwiteit, angstigheid, hartkloppings en naarheid. Laat jou dokter of ’n endokrinoloog jou help. Op die regte medikasie kan jou hare binne drie maande herstel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Het jy alopecia areata ‘aangesteek’?
Min is bekend oor hierdie soort haarverlies, buiten dat die meeste lyers heeltemal gesond is en dat jy ’n groter risiko daarop het as iemand in jou familie ook al sy/haar hare verloor het … en dat jy dit hoegenaamd glad nie kan aansteek nie. Sommige mense raak heeltemal haarloos, terwyl ander kolle hare verloor. Die goeie nuus is dat die hare by sowat die helfte van mense vanself en sonder enige behandeling binne ’n jaar teruggroei. Maar dit kan ’n paar keer in jou leeftyd gebeur, en ongelukkig is kortisoon en ander medisyne wisselvallig suksesvol. Interessante hulp van Moeder Natuur: daar is voorlopige klein navorsingstudies wat wys dat dit kan help om laventelolie in die kopvel te masseer.

Is dit werkstres?
Haarverlies weens stres word “telogene effluvium” genoem, en nie net werkstres nie maar ook intense emosionele en fisiologiese stres, soos die dood van ’n geliefde, emigrasie, hoë koors, ’n groot gewigsverlies, intense diëte en selfs chirurgie kan veroorsaak dat jy so te sê oornag al jou of baie hare verloor. Hoe gebeur dit? ’n Haar het ’n leeftyd van drie fases: die “geboortefase” waartydens die haarfollikel gestimuleer word om ’n nuwe haar te vorm, ’n groeifase wat drie jaar duur en ’n rusfase van een tot ses maande waartydens die haar uitval en die follikel rus. Jy het tegelykertyd hare in al drie fases, en dus is daar altyd nuwes wat die oues se plek inneem. Maar met stres word al, of baie van jou hare, onmiddellik in die rusfase ingedwing, waarna hulle kort voor lank uitval. Die meeste van jou follikels is dus op een slag in die rusfase … en jy haarloos. Die oplossing is doodeenvoudig om die bron van jou stres raak te sien en die nodige te doen om dit te hanteer of uit te skakel, waarna jou hare binne ’n maand of twee behoort uit te loer.

Is dit jou haarkapper se skuld?

Ja sowaar … maar jy het waarskynlik self jou haarstyl gekies. Hare in die Afrika-haarstyl gevleg “trek” die hare en kan jou haarfollikels seermaak, waarna hare van beskadigde follikels uitval. Jou hare sal normaal teruggroei wanneer jy die vlegseltjies of ander styl losmaak, mits die follikels nie permanent beskadig is nie.

Sit jou dokter of apteker daaragter?
Nie direk nie – maar hul voorskrifte kan haarverlies veroorsaak. As jou hare uitval ná jy met nuwe medikasie begin het, vra uit of dit dalk die oorsaak kan wees. Litium vir bipolêre depressie en medikasie vir hoë bloeddruk, cholesterolbeheer, artritis, aknee (soos Roacutane), tiroïedprobleme en trisikliese middels vir depressie, en chemoterapie en radioterapie vir kanker en blootstelling aan gifstowwe, is berug hiervoor. Maar jou hare herstel meestal volkome sodra jy die sondaar staak. Dis nou as jy kan, want meestal weeg die genesende voordele swaarder as die haarverlies. Maar gesels met jou dokter, in geval jy ’n alternatief kan gebruik. Talle siektes soos diabetes, lupus en vitiligo kan ook tot haarverlies lei. Hieraan kan nie jy of jou dokter of jou apteker veel doen nie. Haarverlies is eerder ’n tydige waarskuwing dat iets iewers skort. ’n Geheim: Haarverlies is ’n permanente of tydelike newe-effek van anaboliese steroïede – en verklap menige sportman se sondes.

Is dit die prys vir jou vegetariese leefstyl?
Dit kan wees. Kitsdiëte, fratsdiëte, bulimie en anoreksie veroorsaak gou-gou ernstige tekorte aan yster en proteïen (vleis en vis), wat tot haarverlies kan lei.

Nog drie vrae …

1. My hare groei welig … op my ken. Dit gebeur veral ná veertig, en dui aan dat jou hormoonbalans verander het. Wat kan jy doen?

  • Laser hulle weg. Onthou, jy moet hulle laser voor hulle grys is; daarna werk die gewone soort lasers nie meer nie.
  • As jy bo veertig is, is die eerste tekens van die menopouse normaal; onder veertig nie. Raadpleeg jou dokter.
  • ’n Haartangetjie is tydgetoets … en werk baie goedkoop uit.

2. Sal ’n pil help?

Redaksielid Anet Schoeman wat Nativa se Hair, Skin and Nail Complex getoets het: “Dit werk. Toe ek ná so drie maande hierop haarkapper toe is, was sy verras oor al die nuwe hare op my kop. Ek het glad ’n kuifie onder my kuif gehad.” Hoe sal dit help? Daar is perdestertkrui in, wat ryk is aan silika wat goed is vir been, naels en hare; dit bevat verskeie aminosure, die boustene van proteïen, en ons weet ’n tekort aan proteïen word aan min hare gekoppel; daar is metionien met swael in, wat nodig is om proteïene en kollageen in die liggaam te maak; en dit bevat ook kelp wat ’n ryk natuurlike bron van voedingstowwe is.

3. Werk die laserkam?

Die LaserHairMaxComb is die allernuutste opsie om jou hare terug te bring. Hierdie borsel met sy ingeboude laser kos ’n yslike R4 350 en is in die VSA en Australië goedgekeur as “veilig” – met ander woorde dit sal nie jou hare of kopvel beskadig nie maar dit waarborg nie dat dit help nie. Wat is sover bekend? Ons het die navorsing daaroor op PubMed gaan soek, en dis wat ons kon kry: By nege kinders met altesaam dertig alopecia areata-kolle op hul koppe, het 60% van die kolle binne twee jaar verdwyn. By sewe volwassenes wat met ’n laserborsel behandel is, was die gemiddelde verskil by die behandeldes en die onbehandeldes nie statisties beduidend nie (wat beteken waar daar verbetering was, kon dit toevallig gewees het, en nie danksy die terapie nie).

Maar die aantal deelnemers was baie min en by party hét dit gewerk. Die navorsers noem hulle vermoed dat die kam om een of ander rede vir party mense betreklik goed werk maar vir ander glad nie. By ’n private praktyk in Maitland, Florida in die VSA, is 110 pasiënte vir ses maande met die laserkam behandel. Die publikasie noem bloot haargroei was statisties beduidend beter in die behandelde groep as in die ander groep, sonder enige verdere besonderhede.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Oogsiektes onder die vergrootglas: Wat jy moet weet

Deur Christa Swanepoel Oogsorg begin reeds van geboorte af. Pas ná geboorte moet ’n pediater…

16 mins Gelede

Die beste eierbroodjie

Die beste eierbroodjie Lees ook: Spek-en-eier-pasta

2 hours Gelede

Is jy ’n perfeksionis? Hoe vind jy balans?

Deur Maretha Botes Perfeksionisme is ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant motiveer dit jou…

18 hours Gelede

Besoek Stellenzicht se unieke ekowyn-pod vir ’n uitsonderlike wynproe-ervaring

Soos jy aankom, word jy deur welige wingerde en groen heuwels begroet. Die wyn-“pod” self…

20 hours Gelede

Geurige roerbraairys

Hierdie geurige roerbraairys kry die lekkerste dadel-en-sjerrie-hoender by.

23 hours Gelede

Die beste gebruik van herfsblare in jou tuin

Die helder skakerings van oranje, rooi, geel en bruin blare gedurende die herfs is werklik…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.