Deur Karlien Meiring. Foto’s: kykNET/Verskaf
Met die tweede seisoen van Een keer om die son wat reeds kykers se harte aangryp, is dit veral Leandri van Wyk se storielyn wat diep tref. Die slim, pligsgetroue tiener, vertolk deur die talentvolle jong aktrise Alma van Heerden, staan voor groot uitdagings, en dit lyk of haar gesondheid ’n ernstige rol gaan speel.
Wat baie kykers dalk nie weet nie, is dat Alma self as tiener haar eie siektestryd moes deurmaak toe sy in 2018 met leukemie gediagnoseer is en gevolglik haar graad 10-jaar moes laat wag om chemoterapie te ontvang.

Sy erken dat haar eie pad met siekte haar gehelp het om Leandri beter te verstaan. “Ek dink my diagnose het dit makliker gemaak om in Leandri se headspace te kom,” vertel Alma. “Hoewel ek nie doelbewus uit my eie trauma geput het vir die emosionele tonele nie – elke keer wat ek dit probeer het, het ek vir myself begin lag – het ek wél Leandri se manier om die diagnose weg te stoot baie goed verstaan. Daardie amperse ontkenning van die realiteit. Ek het self geweier om heeltemal te erken dat ek siek was, want ek was bang mense begin my sien as ’n siekte in plaas van ’n mens.”
Daardie ervaring het ook haar lewensuitkyk permanent verander. “Mens vat nie sommer die lewe as vanselfsprekend ná so ’n storie nie.”

Hoewel Leandri se emosionele tonele intens is, was dit ironies genoeg iets heel anders wat Alma die meeste op stel laat sweet het. “Leandri is mos ’n vreeslike slimkoppie, so sy gooi sommer mediese begrippe rond asof dit niks is nie! Daar was een toneel waartydens ek niks woorde kon onthou nie, en as ek dit onthou het, het ek dit nog verkeerd uitgespreek ook!” lag sy.
Wanneer sy oor die ooreenkomste tussen haarself en Leandri praat, meen sy. “Ons is vir seker baie dieselfde as dit by hardkoppigheid kom. Ek sal daarvan hou om te dink ek’s so slim soos sy, maar sekere tonele het my lelik aarde toe gebring!” Sy voeg by dat sy in haar eie lewe baie energieker is as haar karakter. “Ek is ’n verskriklike fiksheid-freak, ek love ’n draffie en ’n gim-sessie. Ek is oortuig Leandri sal dit glad nie as ’n bederf sien nie!”
Alma vertel Leandri se reis hierdie seisoen het baie te doen met aanvaarding. “Daar is só baie verandering in haar lewe, en sy moet dinge aanvaar al breek dit haar hart nóg verder.”

Te midde van al die drama hoop Alma dat kykers iets kosbaars uit die Van Wyks se storie sal saamneem. Volgens haar lê die kern van familie juis in saamstaan, selfs wanneer woorde ontbreek. “Wees daar vir mekaar. Al is dit te moeilik om te praat, jou teenwoordigheid is genoeg.”
Alma vertel dat om weer saam met die rolverdeling te kon werk, was vir haar ’n “amazing” ervaring en een wat gebou het op wat sy reeds in die eerste seisoen geleer het. “Ek het in seisoen een geleer om myself en Ivan Botha (die reeks se regisseur) se keuse om my vir die rol te kies, te vertrou. Ek was soms hard op myself, maar Ivan en die span het my nooit laat twyfel dat ek verdien om daar te wees nie.”

Aanlyn ken haar volgelinge haar as @almathedinosaur, en die storie agter die naam is ewe eg en menslik. Ná haar diagnose moes sy ’n skooljaar herhaal en is sy in ’n graad onder haar oorspronklike groep geplaas. “Ek het soos ’n frieken dinosaur gevoel in daai tyd,” vertel sy. “Een aand kon ek nie slaap nie en verander toe my naam. Die volgende dag het ek heeltemal daarvan vergeet, maar toe is dit nou maar so. My universiteitsvriende het my later ‘Alma the dino’ gedoop, so nou los ek dit maar!”
Intussen het sy ook ’n groot mylpaal verlede jaar bereik deur haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi, al het dit gemengde emosies gebring. “My studentejare was ongelooflik, so toe ek daai toga moes aantrek, was ek sommer heeltemal depressief. As ek my sin kon kry, was ek nog ’n student vir die res van my lewe en act net so tussenin!”
View this post on Instagram
Ná lang dae vol emosionele tonele bestee Alma, ’n Amanzimtoti-boorling, graag tyd saam die mense wat haar voete op die aarde hou. “Ek eet en gesels met my gesin en my kêrel. Hulle was elke dag ná stel reg om my te laat lag en ’n bietjie nonsens te gesels. Dis daai goed wat mens plat op die aarde hou.”
Hoewel daar nog nie nuwe rolle voor die kamera wag nie, beteken dit nie sy sit stil nie. Sy het onlangs ’n nuwe kreatiewe rigting begin verken. “Ek het ’n videokamera opgetel! So mense kan my dalk ’n bietjie agter die skerms sien hierdie Varsity Cup-seisoen. Ek het by Maties Rugby betrokke geraak om my kamera- en redigeringvaardigehede te oefen.”
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Jessie Buckley betower in Hamnet en ’n Oscar wink
