kategorieë: Reis

Eietydse luukses, ouwêreldse romantiek

Naam
Carina Stander

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Waar ons was
Royal Malewane Lodge

Wie almal daar was

Carina Stander en Gerrit van Niekerk

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ligging
Royal Malewane is geleë in die Thornybush Private Natuurreservaat wat deel uitmaak van die Groter Kruger Nasionale Park, ongeveer 50km vanaf Hoedspruit in die Limpopo Provinsie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Soort akkommodasie
Luukse safari lodge met spa.

Tariewe
Verblyf en álle etes, drankies, wasgoed en wildritte is ingesluit by die tarief. Skakel ontvangs by 015 793 0150 of stuur ‘n e-pos na info@royalmalewane.com

Atmosfeer

Ontspanne luuksheid. Uiters stylvol, gerieflik, romanties. Wild en wonderlik.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wanneer
27 en 28 Junie 2014

Waar ons oorgeslaap het

Luukse dubbelsuite.

Wat het dit onvergeetlik gemaak?
Dit was loshande die beste, ekovriendelikste wildritte waarop ons nog ooit was, met ’n meesterspoorsnyer en supergekwalifiseerde veldgids/ “scout” wat die lyftaal van die diere aan ons vertaal asof dit Swati of Spaans is. Die gidse se begrip en diep liefde vir die natuur is buitengewoon. Ons het in die veld stilgehou, teleskoop uit, die kring om Saturnus gesien. Ná die tyd het ’n borrelbad, vonkelwyn, kerslig en kaggelvuur in die slaapkamer op ons gewag. En die uitmuntende sjef het spesiaal ’n donker sjokoladekoek met vars kersies gebak vir my mooi man op sy veertigste verjaardag.

Wild en wonderlik

En so het my man, Gerrit, sy middeljare binnegegaan: net die twee van ons vir twee aande by die fantastiese Royal Malewane, terwyl ons seuns saam met Ouma en Oupa in die Krugerwildtuin daar naby vakansie hou.

Royal Malewane lodge en spa, ’n privaat natuurreservaat van 1 500 hektaar, is ’n droom van Afrika-elegansie. In die ruim grasdak-sitkamer word mens begroet deur twee lewensgrootte bronsbeelde van jagluiperds deur die bekende beeldhouer, Dylan Lewis, asook Persiese tapyte, vars blomme en antieke meubels van leer en hout. Die pragtige slaapkamer en badkamer kyk alkant uit oor die veld en die deure maak oop op ’n privaatswembad met gemakstoele onder ’n grasdakkie.

Die veld is ongewoon groen vir die winter toe ons teen laatmiddag op ’n wildrit vertrek. Vanaf die oop Landrower voel ons één met die maroelabome en louwarm lug. Die neushoringvoël en hamerkop wat verbyswiep, maak deel uit van die meer as vyfhonderd voëlspesies by Royal Malewane. Voor ons in die pad is die modderlywe van olifante. ’n Jong bulletjie hang uit saam met ’n een-en-twintig-jarige rampokker. Deur sy ore te flap en te stofbad, waarsku hy ons om pad te gee, verduidelik veldgids Juan Pinto (38), en onmiddellik respekteer hy die olifant se wens. Spoorsnyer Wilson Masiya (63) knik goedkeurend.

Nicolette van Brakel, operasionele direkteur van die Veldgidsvereniging van Suid-Afrika wat juis daardie dag op ’n werksbesoek by Royal Malewane was, vertel dat Juan en Wilson die bes opgeleide wildgidsspan in die land is. Juan is ’n Veldgidsvereniging “scout” (’n kombinasie van Spesiale Kennis en Vaardighede met Gevaarlike Diere-kwalifikasie en Senior Spoorsnyer-kwalifikasie). Juan is ook ’n spesialis voëlkenner en is as direkteur by Royal Malewane dikwels betrokke by die opleiding van safarigidse. Skouer aan skouer vorm hy en Wilson al vir jare ’n besonderse sterk span. Die bejaarde Wilson het sedert sy kinderjare in Mosambiek ’n ontsaglike kennis van spoorsny opgedoen en is tans die enigste meesterspoorsnyer in Suid-Afrika.

’n Ent verder draf drie vlakvarke met vlagsterte deur die veld. ’n Witrenoster en haar kalfie wei vredig aan die gras, skaars drie meter van ons af. Die renosterbaba se stomp neusie, wye ore, plooimond en klein ogies laat hom aartsonskuldig lyk. Sy ma kieliekrap hom met haar horing en dit lyk asof hy dit baie geniet. Horings is ’n allerbelangrike deel van renosters se kommunikasie, daarom word dit hier by Royal Malewane nie verwyder nie, maar met gif ingespuit om die diere teen jagdiewe te beskerm.

In die ondergaande son gloei die gras oranjegeel toe ’n trop buffels met trotse sekelhorings reg voor ons oor die pad stap. Die kalfies is nog wollerig. ’n Dominante buffelkoei besluit oor alles wat die trop aanvang – wanneer hulle moet wei, waar hulle mag slaap. Juan parkeer die Landrover in ’n oopte en ons knibbel aan biltong en neute en sluk ’n koue Savanna af. Hy haal die teleskoop uit, sodat ons Venus, die ring om Saturnus en ander planete en mane van nader kan bewonder.

Dit is reeds stikdonker toe ons die groot wit tent met die honderd of wat lanterns in die middel van die bos bereik. Al dertig lodge gaste en die gidse sit aan by ’n lange tafel vir ’n heerlike sesgang-ete. Ons kuier alte lekker met Nicolette en Juan. En sowaar, daar verskyn sjef Michael met ’n donker, bittersoet sjokoladekoek versier met vars kersies, spesiaal gebak om my mooie man se veertigste verjaardag te vier!

Omdat daar geen heining of skans tussen mens en wildernis is nie, begelei ’n gids jou ná donker op die plankpad tot by jou suite. En daar wag ’n verdere verrassing toe op ons: ’n Victoriaanse pootjiesbad vol borrels! Op die Persiese tapyt langs die bad is koue vonkelwyn, kerse en roosblare in ’n kring gepak. Die kaggelvuur in die slaapkamer gooi ’n flikkerlig oor die hemelbed.

’n Koloniale droom

Die volgende oggend slaap ons tot 8:30 – bykans twee en ’n half uur langer as wat ons ooit tuis kan inlê! Uitgerus neem ons die voetpaadjie na die ontbytplek. Mak njalas staar ons agterna, houtgerus. Njalas is lieflike bokke. Hoe spesiaal om hulle van naby te kan bekyk – die kolletjies op die wange, die donker wimpers, fyn gesiggie, die dun swart strepie op die rug en stertpunt. Die hele trop njalas is mak, maar gesond menssku.

Ontbyt is op die ruim houtdek wat uitkyk oor die watergat. Vars bessies, aarbeie, kiwis, vars kersies, gevulde omelet, interessante konfyt (soos gemmer en anys), croissants, ’n handvol soorte kaas, vonkelwyn met vrugtesap en moerkoffie. Hierna maak ons ’n draai by The Waters – ’n pragtige spa omring deur die bos. Ek en Gerrit gim saam-saam en duik in die 25meter-lange swembad. Die spa spog ook met stoomkamers, Afrikabaddens, terapeutiese masserings en vele ander pamperlang-behandelings.

Skaars vertrek ons op die wildrit, of ons pad kruis met ’n swartrenoster en haar kalfie – twee van die slegs 2 000 swartrenosters ter wêreld! Sy wikkel haar ore terwyl ’n bosluisvoël dit skoonpik. Ja, daardie ore volg ons beweging oral, selfs nadat sy aan die slaap raak.

Daar is ’n soet grasgeur in die lug en die silhoeëtte van doringbome teen die oranjepienk son. Juan word oor die radio geroep, en skielik raak hy haastig en ry oor slote, terwyl Wilson aan die voorpunt van die voertuig sit en links en regs ’n pad deur die veld met ’n panga oopkap. En wat ’n verrassing! ’n Trop van sewe leeus is in ’n oopte besig om wakker te word ná hulle namiddagslapie. Omdat dit die tyd is voordat hulle jagtog begin, is hulle rustig, maar paraat. Liefdevol skuur die ma en dogter hulle koppe teen mekaar. Daar is nog twee sussie-welpies, ’n tannie en ouma met reuse kloue. Een van die welpies bekruip die ma van agter, versigtig om nie op die blare te trap nie… en spring dan karboem! op haar rug. Haar boetie is ’n maanhaarleeutjie van so veertien maande oud en is kort op haar hakke. Vir ’n volle halfuur lank volg ons die trop se doen en late. Ja, met ’n afstand van skaars drie meter tussen hulle en ons oop voertuig. Maar met Juan en Wilson wat die lyftaal van die leeu-adel beweging vir beweging aan ons vertaal, kan ons nie anders as om veilig en uiters geseënd te voel nie.

Een vir een maak die diere van die donker nou hulle verskyning – nagapie, muskeljaatkat, kiewiet. Dit is ’n koue aand, en ons smelt omtrent van dankbaarheid oor die warm sjokolade met Amarulalikeur waarmee ons ingewag word by die lodge.

Met aandete vertel Keilan ons meer oor die wynlys – hy het immers vir vier jaar op ’n wynplaas gewerk. ’n Voormalige tuinier, Vincent, is ’n uitlander in wie die lodge veertien jaar gelede soveel potensiaal gesien het, dat hulle hom opgelei het as sjef. Saam met sy elegante vrou Thandi, wat ons as kelnerin bedien, maak hulle ’n voortreflike span. Ons smul behoorlik aan Vincent se oondwarm amandel-en-appelkoos-brood, springbok carpaccio bedien met parma grano en basiliekruid-olie, Karoo-lamsrak met roosmaryn en pistachio, afgerond met bessie soufflé.

Ná ’n borrelbad kuier ek en Gerrit vir oulaas op die sofa voor die kaggel in die slaapkamer oor ’n koppie heuning-en-gemmertee. Soveel eietydse luukses, soveel ouwêreldse romantiek. Wat ’n wonderlike wyse om die begin van die middeljare te vier!

www.theroyalportfolio.com
info@royalmalewane.com
Tel 015 793 0150
Faks: 015 793 2879

Foto’s:
Carina Stander en Gerrit van Niekerk

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

2 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

1 day Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.