kategorieë: Verhoudings

Ek leef saam met ’n boelie!

Boelies boelie meestal net waar hulle voel dat hulle die mag en beheer het. Ander mense sal dikwels nie eens weet of glo dat iemand geboelie word nie, want die afknouer doen dit agteraf, meestal nie voor vriende of familie nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die meeste kinders terg mekaar en sê dikwels kwetsende dinge, maar namate hulle groter word, leer hulle empatie en morele redenering en optrede. Oor die algemeen hou kinders in ’n stadium op daarmee en tree sensitiewer op.
Maar boelies hou doelbewus daarmee aan omdat dit vir hulle die mag gee om te kry wat hulle wil hê …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Baie mense wil nie erken hulle word geboelie en emosioneel afgetakel nie. Hulle beskryf eerder hul verhouding as emosioneel onbestendig en vol konflik, of dat hul maat hulle domineer en beheer, of emosioneel, baasspelerig, koppig en sterk is. Jy word geboelie as jou maat jou aan sy begeertes onderwerp, en jou met verkleinering, kritiek oor nietighede, intimidasie, manipulasie, dwang, vrees of skuldgevoelens beheer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Boelies kan nie hul eie foute en tekortkominge in die oë kyk en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Hulle probeer sover moontlik die aandag van hul swakhede of probleme aflei. Johan* vertel dat sy vrou hom koud en ongevoelig behandel, hom ignoreer en kla oor al die dinge wat hy verkeerd doen. “Sy gooi koue water op al my planne, idees en toenadering. Sy skop ’n kabaal op wanneer sy nie hoor wat sy wil hoor nie. Sy blameer my vir haar loopbaan wat net nie aan die gang kom nie. Ek is die oorsaak van haar ellendige lewe. Ek luister nie na haar nie; ek ondersteun haar nie. Sy is moeg en het nie krag vir intimiteit nie. Ek stel glo net in die bed in haar belang. Sy druk my weg, hard en duidelik. En wanneer sy nou mooi op my battery gepiepie het, soek sy toenadering – net wanneer ek so kwaad, seergemaak en verwerp voel en werklik nie in die bui daarvoor is nie. Dan raak ek nie meer aan haar nie, is ek koud en verwerp ék haar – wat dan net haar volgende rede is om my weg te druk. Ek kan nie wen nie.”

Nie alle boelies vloek en skreeu nie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Party boelies is baie gesofistikeerd. Hulle skree en vloek nie. Hulle ignoreer jou, krul ’n lip, lig ’n wenkbrou, skimp, gee fyn, seer stekies, of reageer met koudheid, trane en stilpstuipe. Dit laat die ander persoon moedeloos, magteloos, gefrustreerd en woedend voel en dié reageer dan skerp, wat hom die skuldige maak, “want ek het niks gesê nie”.

Jy en jou pogings is net nie genoeg nie

Alle boelies laat jou voel jy is net nie goed genoeg nie, verkleineer jou en laat jou aan jouself twyfel. Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie en hoeveel jy doen en gee nie – dis nie genoeg nie. Hy verwag jy moet dit waarmee jy besig is, dadelik los en aan sy behoeftes aandag gee, al is dit vir jou hoe ongeleë of ongerieflik. Jy voldoen net nie aan die verwagtinge nie: Jy doen nie genoeg moeite met haar, die huis, die kinders nie; jy stel nie genoeg in haar en haar werk belang nie; jy is nie betyds genoeg nie; nie romanties genoeg nie; nie maer genoeg nie; maak nie genoeg tyd vir haar nie; maak nie genoeg geld nie; ondersteun nie genoeg nie … die lys is nimmereindigend.

Word jy geboelie?

  1. Word jy gekritiseer, geskel, gevloek, geblameer of verkleineer oor nietighede?
  2. Is elke argument of probleem jou skuld?
  3. Aanvaar hy net nie verantwoordelikheid vir sy optrede nie en is altyd reg?
  4. Is die duiwel los as sy nie haar sin kry nie?
  5. Moet jy toestemming kry om dinge te doen?
  6. Is jou en jul ontspanningsaktiwiteite meestal beperk tot sy voorkeure en belangstellings?
  7. Beheer jou maat grootliks die toegang en besteding van geld?
  8. Raak jou maat ontsteld wanneer jy ’n ander standpunt of mening het?
  9. Word argumente so gevoer dat jy uiteindelik die “skuldige” is wat om verskoning vra?
  10. Loop jy op eiers en bestuur dinge so dat jou maat tog net nie ontsteld of geaffronteer word nie, hoewel jul lewe maar ’n mynveld bly waar jy enige oomblik op ’n myn kan trap?
  11. Geld daar verskillende reëls? Jy moet toestemming vra, hy hoef nie. Jy mag sekere dinge nie doen of sê nie, maar sy mag?
  12. Jou besluite of behoeftes word verwerp en nietig, onnodig verklaar?
  13. Vrees jy dikwels haar reaksie? Is haar reaksie onvoorspelbaar?
  14. Is sy verwagtinge onrealisties en laat hy jou dikwels skuldig en net nie goed genoeg voel nie?
  15. Word jy gedreig dat hy sy goed gaan vat en loop, of dat jy jou goed moet vat en loop?
  16. Word jy “gestraf” met stilstuipe, weerhouding van intimiteit, geld of ander dinge as jy nie volgens sy wil optree nie?
  17. Is jy die objek van verkleinerende grappies of sarkastiese aanmerkings?
  18. Isoleer sy jou en beheer en manipuleer sy jou kontak met ander mense en jou familie?
  19. Doen jy huishoudelik meer as jou deel, maar kry min erkenning en baie kritiek daarvoor?
  20. Maak jy verskonings vir sy onsensitiewe aanmerkings of selfs wrede optrede?

Boelies is bang dat ander mense sal agterkom hoe hulle met hul maats mors en dat hulle hul eie swakhede en tekortkominge sal moet erken, verander en die gevolge van hul dade moet dra. Juis daarom is dit dikwels baie moeilik om hulle by kundiges te kry wat hulle en die verhouding kan help.

Hoe lyk ’n boelie?

Boelies …

  • probeer ander uit ’n magsposisie beheer verkleineer, manipuleer en intimideer om te kry wat hulle wil hê
  • is ongelukkige mense, dikwels moeilik, kwaai, kwaad, verontreg, hartseer of jaloers
  • besef of erken nie die uitwerking wat hul gedrag op ander het nie
  • is altyd reg, blameer ander vir hul foute en rasionaliseer hul optrede
  • sien ander as verkeerd, onbekwaam, emosioneel onstabiel
  • ander het hulp nodig, nie hulle nie
  • aanvaar nie verantwoordelikheid vir hul foute nie
  • haal hul mislukkings, woede en frustrasie op ander uit
  • erken nie dat dit moontlik is om op ander maniere op te tree nie
  • het dikwels in ’n wanfunksionele huis grootgeword, of ’n huis waar daar ook geboelie is, of is as ’n kind geboelie.

Madri* vertel dat sy in haar huwelik gevoel het sy is in ’n voëlhok waarvan hy die sleutel het.

“Hy het bepaal wanneer en of ek kan uitkom om te vlieg en vir hoe lank. Ek wou ’n veilige nes hê waarheen ek kon terugkom. By die werk was ek ’n leier, ’n sterk vrou met ’n MBA, maar by die huis ’n suutjiespoep wat na sy pype dans en op eiers loop. Sy reaksies was heeltemal onvoorspelbaar. Iets wat vandag nog reg is, is môre ’n reuse-probleem.

Hy was soos ’n sjokoladebedekte, giftige skerpioen wat ek heeltyd met handskoene moes hanteer sodat die angel net nie
uitkom nie. Maar voor ander was hy pure sjokolade, gaaf en soet, galant en joviaal. Hy sou aanbied om vir almal te betaal nadat ek die vorige dag oor die kole gehaal is oor onnodige uitgawes. In die bed was ek weer wonderlik, en het hy mooi en liefdevol met my gewerk. “Ek was volgens hom die oorsaak van ons huwelikspanning, sy depressie en sy onlogiese emosionele reaksies. Ek mag hom net nie ontstel nie, dan word hy depressief of plofbaar. Ek het nooit geweet of ek iets kon beplan nie, want ek is nie seker hoe sy gemoed gaan wees nie. Die kleinste dingetjie kon hom ontstel. As hy hom vervies, sal hy dit op die motor uithaal – in eerste rat tot 70 km ry, roekeloos om draaie jaag, vinnig stop. En as ek dit sou waag om iets te sê, sal hy antwoord ek dryf hom daartoe om teen die naaste boom vas te jaag. Die vrees, my onsekerheid, kan ek nie beskryf nie. Of hy sou sommer op die snelweg stilhou en sê ek moet uitklim. Al gaan ons saam iewers heen, het ek later altyd gesorg dat ek ’n stel huissleutels, genoeg geld en my kredietkaart by my het. “Ná so ’n voorval word ek met stilstuipe gestraf. Hy kon my dae lank heeltemal ignoreer, by my verbystap asof ek ’n meubelstuk is en glad nie op my vrae reageer nie terwyl hy lekker met ander gesels. Of hy het gedreig om dinge nie te betaal nie.

“As ek saamspeel, gaan dit betreklik goed in ons verhouding. Maar selfs dit was moeilik, want sy optrede was nie konsekwent en voorspelbaar nie. Ek het later aan myself en my oordeel begin twyfel; begin glo ek is die oorsaak van sy reaksies. Hy het soveel dinge wat ek gedoen het, gekritiseer. Dikwels was dit fyn stekies. Ek hou van interessante kos. As gaste my komplimenteer sou hy reageer met: ’net jammer vir al die stokke en blare in die kos’. “Ek het begin huil toe ’n terapeut my probeer oortuig het ek word geboelie en emosioneel mishandel. Ek is so lank so afgekraak dat ek aan my smaak vir meubels, klere, aan myself, my persepsies en persoonlikheid begin twyfel het. Op die oppervlak het hy goed vir my gesorg – die finansiële dinge. Maar emosioneel het hy nie vir my gesorg nie, inteendeel, hy het my byna emosioneel gebreek. Hy het selfs op ’n dag vir my pa gesê hy hoef nie bekommerd te wees nie, want as ek in ’n gestig beland, sal hy mooi na my kyk. Hy het my laat glo daar is fout met my.

Stop jou maat se geboelie

  • Erken jy word geboelie en besluit om dit te stop.
  • Vra jouself af waarom jy in die verhouding bly? Wat is jou vrese? Wat kry jy uit die verhouding?
  • Hou rekord van sy of haar optrede en van gebeure wat jy kangebruik wanneer jy die kwessie met hom of haar gaan bespreek.
  • Gesels met iemand wat jy kan vertrou – ’n wyse familielid, ’n geestelike leier, terapeut of sielkundige – iemand wat jou gevoelens kan verstaan en jou kan help om perspektief te kry dat jy jou nie net die dinge verbeel nie.
  • Praat met jou maat. Hy moet besef wat hy doen en wat jy beleef. En eis dat hy sy gedrag verander. Stel grense en gevolge as hy dit nie doen nie en hou daarby.
  • Eis dat julle saam ’n kundige gaan spreek.
  • Gee ’n afsnypunt vir die verandering. Onthou, verandering gebeur nie oornag nie.
  • Bly kalm wanneer jou maat jou uitlok. Sy soek reaksie. Moenie haar toelaat om jou te manipuleer sodat jy beheer verloor nie.
  • Sorg vir jouself. Doen lekker goed. Soek mense op wat jou met respek en deernis behandel en jou in jouself laat glo.
  • Gaan ook vir terapie om jou geloof in jouself en jou selfbeeld te herstel.

Mense, verhoudings en kommunikasiepatrone mkan verander. Daar is meestal mhoop. Maar jy kan nie iemand anders
verander nie, hy of sy moet dit self doen. As jou maat nie wil erken sy het ook ’n probleem nie en weier om hulp te kry, kan jy hulp kry en leer om dit te hanteer. Maar dis moontlik eerder in jou eie belang om ook hulp en ondersteuning te kry om die verhouding te verbreek en daarby te hou, en om ’n heel mens met selfvertroue en selfrespek te wees en te kry wat jy nodig het

Kenmerke van ’n slagoffer

Mense wat geboelie word, is geneig om:

  • nie altyd selfgeldend te wees nie
  • baie te verduur
  • maklik te vergewe
  • ’n groot behoefte aan aanvaarding en goedkeuring te hê
  • werklik vir ander om te gee en onbaatsugtig te wees
  • moeilik nee te sê
  • goedgelowig, eerbaar, lojaal en betroubaar te wees
  • idealisties, optimisties, kreatief maar ’n bietjie naïef te wees
  • ’n lae selfbeeld te hê
  • ander se afkeer en woede omdat hulle nie goed genoeg is nie, te internaliseer.

Boelies is dikwels verbaal baie oortuigend en praat met gesag. Hulle is selfs gewapen met sogenaamde sielkundige kennis en sal sielkundige terme gebruik om jou probleme te diagnoseer. Jy is emosioneel labiel, oorsensitief, depressief, onstabiel en paranoïes. Hulle ontken wat hulle gesê of gedoen het en laat jou glo jy verbeel jou en versin dinge. Dis jy wat nie respek het nie, onsensitief is en nie werklik omgee nie. Afknouers sal aanhou en jou verkleineer en wanneer jy dan ontplof, is jy die een wat verkeerd is, en moet jy vir jou optrede om verskoning vra – nooit sal hulle toegee dat hul optrede jou daartoe gedryf het nie.

Waarom bly mense by boelies?

  • Omdat hulle die boelie liefhet.
  • Omdat hulle dikwels afgesonder is van ander mense en familie is wat hulle sou kon ondersteun.
  • Om finansiële redes.
  • Ter wille van die kinders
  • Hulle vrees alleenheid – dis moeilik om alleen te wees in ’n samelewing wat vir paartjies gemaak is.
  • Omdat hulle die boelie glo en nie dink enigiemand anders sal vir hulle lief wees nie.
  • Hulle is bang vir wat die boelie aan hulle kan doen as hulle dit sou waag om weg te gaan.
  • Hulle is depressief en het nie die energie, moed of selfvertroue om weg te gaan nie.
  • Hulle is so gewoond om in die boelie se behoeftes te voorsien en weet nie eens meer wat hul eie behoeftes en regte is nie.
  • Hulle voel te skaam en voel hulle het misluk omdat hulle nie die verhouding kon laat slaag nie.
  • Hulle kry die boelie jammer en glo hy het haar nodig.
  • Hulle glo dis hulle skuld – as hulle beter mense was, sou die boelie nie so opgetree het nie.

So lyk gesonde verhoudings

  • Jy kan jouself wees en uitleef.
  • Daar is wedersydse vertroue en respek.
  • Albei word waardeer en kry erkenning.
  • Julle kommunikeer gemaklik en openlik en kan van mekaar verskil.
  • Daar word in albei se fisieke en emosionele behoeftes voorsien.
  • Verantwoordelikhede word gedeel.
  • Albei ervaar wedersydse aanvaarding, respek en liefde.
  • Julle geniet mekaar se teenwoordigheid en wil tyd saam deurbring.
  • Jy, jou maat en die verhouding groei en ontwikkel.
  • Liefde is ’n lewenswyse wat gehoor, gesien en gevoel word.

Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.