kategorieë: Bekendes

Emma Thompson: Plat op die aarde

Emma Thompson is net soos die karakters wat sy speel: slim, sonder nonsens, met ’n fyn humorsin en ’n kandoen- houding wat jou laat wens sy was jou vriendin sodat jy op haar knoppie kan druk as jy ’n krisis het. Die 49-jarige vrou met haar mooi kurwes en pragtige Engelse vel word in elke medium as ’n aktrise van formaat gereken en is onder meer met ’n Oscar-toekenning vir haar draaiboek vir Sense and Sensibility vereer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Albei haar ouers was ook akteurs. Haar ma, Phyllida, verskyn nog gereeld in Emma se flieks en haar suster, Sophie, is ook ’n aktrise. Die 1,74 meter lange aktrise het ná haar studie aan Cambridge sommer gou rolprentsukses behaal, maar het eers internasionaal bekend geword vir haar rol in Dead Again onder regie van Kenneth Branagh. Sy is in 1989 met Kenneth getroud, maar die huwelik het net ses jaar gehou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy het vinnig opgang gemaak en een van die gesogste aktrises in Hollywood geword. Sy het haar eerste Oscar vir Howard’s End ontvang, en talle benoemings het later gevolg. Die intellektuele projekte wat sy aangepak het, het haar van haar tydgenote onderskei, maar sy het nogtans gereeld in groot, kommersiële prente soos I am Legend gespeel. Sy het onlangs ook in flieks wat vir die jonger mark bedoel is, verskyn, soos die Harry Potter-prente waarin sy die rol van die deur-die-blare professor Trelawney vertolk het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy het ook lewe gegee aan die geliefde Nanny McPhee-karakter wat sy vir die groot skerm aangepas het. Emma bly tans in Londen saam met haar man, akteur Greg Wise, wat sy met die maak van Sense en Sensibility ontmoet het. Hulle het ’n dogter, Gaia.

rooi rose het in Los Angeles met haar gesels oor haar nuwe fliek, Last Chance Harvey, waarin sy saam met Dustin Hoffman verskyn. Die storie gaan oor twee verstote volwassenes wat by mekaar uitkom en die verandering wat dit in hul lewe teweegbring. Dis ’n romantiese komedie met ’n onverwagse tikkie sjarme en hartseer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Kan jy verlief wees op ’n man wat korter is as jy?
Beslis. Ek was al verlief op drie mans wat korter was as ek, insluitende my eerste man.

Hoe was dit om saam met Dustin Hoffman te werk?
Dis hemels. Ons het saam gewerk aan Stranger than Fiction en het dit so geniet dat ons weer iets gesoek het om saam te doen. Ek het begin dink dat dit nie gaan gebeur nie, maar toe ek hierdie draaiboek kry, het ek dadelik gevra dat hulle dit vir Dustin moet stuur. Ek het nie geweet of daar iets van gaan kom nie, maar gelukkig het dit, en dit was net wonderlik.

In die fliek is daar ’n oomblik waar jy deel van ’n groep is, maar jy lyk eensaam. Het jy al ooit alleen gevoel, al is jy saam met mense?
Ja, vir seker. Toe ek jonk was, het ek nie juis maklik by ander mense ingeskakel nie. Ek het om baie redes soms soos ’n buitestander gevoel. Vanweë my soort beroep kry ek baie aandag en word ek by alles ingesluit, maar ek het nog altyd met die buitestander geïdentifiseer. Toe ek op skool was, kon ek nooit saam met die ander kinders die onderwysers terroriseer nie. Dis wreed – ek kan nie bystaan en kyk hoe ander mense uitgesluit word nie, en dit gebeur nogal gereeld in ’n stad soos Los Angeles. Die rolprentbedryf het altyd ’n manier om jou klein te laat voel. Dit was nie ooglopend dat jou en Dustin se karakters by mekaar sou pas nie.

Op watter soort man raak jy gewoonlik verlief?
Daar is baie verskillende soorte verliefdheid. Om later in jou lewe verlief te raak is baie anders as toe jy jonger was. As ek terugdink aan my vroeë verhoudings, dink ek eerste aan Ken. Ek het op hom verlief geraak omdat hy my baie aan my pa laat dink het. Hy was baie snaaks en het hom uit sy werkersklasagtergrond opgewerk, hy het homself opgelei en hy het ’n pragtige stem gehad. Hy het steeds (lag) hy is mos nie dood nie! Dis verskriklik hoe jy oor jou eksman kan praat, so asof hy al onder die grond is. Hy is baie lewenslustig en is ’n baie goeie akteur – ek het op sy energie en sy vaderlikheid verlief geraak. Maar aan die ander kant was ek in my twintigerjare ook al verlief op ’n korterige, punk-rock-mannetjie met ’n bles. Sy naam was Red Stripe, dis eintlik sy verhoognaam – hy was deel van die a cappella-groep The Flying Pickets. Hy het baie oogomlyner gedra, met kruisbande en kortbroeke sonder ’n onderbroek … so daar was maar altyd ander redes hoekom ek op iemand verlief geraak het.

Hoe kom jy deur ’n moeilike dag?
Ek bly steeds oorkant my ma. Sy is baie betrokke by ons. Ek het nog dieselfde leefstyl as wat ek altyd gehad het. Ek los die agterdeur oop. Sit ’n pierinkie melk buite – asof ek ’n krimpvarkie wil nader lok! Ek bly in dieselfde straat van ek sewe jaar oud is – al is dit nie meer in dieselfde huis nie. Dit is nogal eksentriek! Ek dink dit het te doen met die feit dat my pa so jonk gesterf het, en omdat ek altyd naby my ma wou wees om na haar te kyk. Mnr. Camelli, die werktuigkundige wat sedert my kleintyd herstelwerk aan ons motors gedoen het, is ook nog hier. Hy het my gereeld oor my lewe of my groot besluite gekonfronteer – toe ek teen die Golf-oorlog betoog het, het hy geskree ek moet huis toe gaan, want ek kan nie alleen die wêreld verander nie. Of toe ons geskei is, het hy gevra hoekom ek nog nie ’n baba het nie! Ek moes ’n wye draai loop om hom te vermy. Sulke goed hou my voete plat op die aarde.

Is dit regtig moontlik om ware liefde te ontdek as jy ouer word? Is jy gelukkig getroud?
Ek is. As mense ouer word, is daar twee faktore wat ’n verhouding beïnvloed. Dis enersyds moeiliker, want daar is minder keuses, maar aan die ander kant is jou kanse groter om iets waardevols raak te loop. Jy het teen hierdie tyd al al die verkeerde goed in ’n verhouding gedoen. Daar is so baie wat verkeerd kan gaan. Ek was eintlik baie gelukkig. My ouma het gesê jou hart is nie goed as dit nie al minstens tien keer gebreek is nie. Dit maak jou wyser en laat jou beter besluite neem. Maar dit maak jou ook minder aanpasbaar. Dis dan moeiliker om die veeleisende aspekte van die liefde te hanteer. Dit raak ook moeiliker om verlies te hanteer. So, jy is slimmer, jy kan beter reageer omdat jy jouself beter ken, maar aan die ander kant wonder jy: Sien ek regtig weer hiervoor kans? (Lag.)

Jy het gesê dat jy ’n jaar wil afvat?
Almal sê ek kan dit nie bekostig nie omdat ek ouer word. Maar ek dink weer dat ek tussen nou en 55 nie so vreeslik gaan verander nie – behalwe as daar iets drasties gebeur. Ek dink nie my gesig sal heeltemal ingee voordat ek minstens 65 is nie – ek hoef my nie oor oud word te bekommer nie. Rolprentwerk neem vreeslik baie van jou tyd in beslag en as die vervaardiging verby is, is daar nog die bekendstellings bekendstellingswerk ook. Ek wil ook nie teaterwerk doen terwyl my kind jonk is nie. Die ure is te sleg – ek sien haar nooit en ek is altyd uitgeput en in ’n slegte bui. Ek is ’n oggendmens. Ek hou ook van skryf. Ek is mal daaroor om iets te skep. Ek kan net so maklik in my skryfwerk opgaan as in optredes. En as ek skryf, hoef ek nie ’n ander karakter te word nie, of met ’n spul klere en grimering te spartel nie. Ek kan enigiets doen met die karakters wat in my kop lewe. Op dié manier geniet ek dit om van optredes verlos te wees sonder dat dit te veel opoffering verg. As ek nie geskryf het nie, sou ek seker maar steeds moes optree.

Vertel ons van jou dogter. Hoe hou sy daarvan om ’n bekende ma te hê?
Sy hou nie baie daarvan nie, nie van roem of die newe-effekte daarvan nie. Dit maak te veel inbreuk op haar lewe. Sy het ook ’n rolletjie in Last Chance Harvey – sy is die kind wat sê: “Jy besef jy is by die kinders se tafel?” Ons het in die Dorchester-hotel gebly en gewerk. As sy klaar was vir die dag, het sy kamer toe gegaan, kamerdiens gebel en kos bestel, in die bed geklim en gelê en TV kyk terwyl sy eet. Dit was haar ervaring van rolprentwerk. Sy was mal oor kamerdiens! Ek het haar gevra of sy steeds van die werk sou hou as daar nie kamerdiens was nie, en sy moes erken dat dit dalk nie die beste beroep vir haar is nie. Haar twee droomberoepe is kelnerin en kunstenaar. Die kelnerinstorie is haar pa se skuld! Hy het haar geleer mengeldrankies maak toe sy baie jonk was. Sy maak die beste Bloody Mary’s in die wêreld. Dié vaardigheid het nogal ’n opskudding by die skool veroorsaak. Toe die klas onlangs ’n werkaansoekvorm moes voltooi, het al die ander kinders ontvangsdame of so iets normaals ingevul, maar sy het gesê dat sy mengeldrankies in ’n kroeg wil bedien, en al die drankies gelys wat sy kan maak (lag). Ek het gedink die welsyn gaan enige oomblik aan ons deur klop. Sy is baie snaaks.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

5 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.