kategorieë: ReisOntspanning

Frankryk: Beleef Bordeaux met ’n riviervaart

Teks en foto’s deur Ilse Zietsman

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Knyp jouself, herinner ek myself steeds as ek aan my riviervaart – ’n Connoisseur Cruise met Uniworld Boutique River Cruise Collection – deur Bordeaux terugdink.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

So ook as ek aan talle aspekte van die vaart en die totale belewenis dink. ’n Volle dag wat aan Sauternes, die ikoniese Franse dessertwyn met sy kenmerkende goue kleur, gewy is, was ’n gróót bederf. Ek kon nie genoeg kry van die kronkelpaadjies tussen wingerde en chateaus deur nie. ’n Besoek aan die eksklusiewe Konjakhuis van Remy Martin was sommer drie knype werd. Woorde ontgaan my steeds om die asem-wegslaan argitektuur sowel as die interaktiewe uitstallings van die Cité du Vin (’n wynmuseum in die stad van Bordeaux) te beskryf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die weelde op die River Royale, ons rivierboot – en die Franse wyne en sjampanje wat soos die olie in die Bybelse weduwee se kruik nooit opraak nie – dra nog verder by tot dié gevoel.

Om só ’n lekkerbekvaart te kon beleef, wil my ook die woord wat die meeste op sosiale media deur geveinsdes gebruik word, laat opper. Ja, ek was geseënd om daar te kon gewees het. Ek bieg egter dadelik dat ek nie (daarmee) verwaand wil wees nie, maar dat ek wel so ’n bietjie spog. Glo my, jy sal ook as dit jou te beurt val.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die riviervaart het in Bordeaux afgeskop. Op die dag wat jy aan boord gaan sowel as die laaste twee dae van die vaart het jy genoeg tyd om die stad van Bordeaux op jou eie of met ’n gids te verken.

Bo en behalwe Bordeaux meer die River Royale in Pauillac, Patiras, Blaye, Bourg en Libourne vas.

Die River Royale vaar op drie riviere: die Garonne-, Gironde- en Dordogne-rivier. So leer passasiers die Médoc-wynroete ken. Daar is verskeie besoeke aan chateaus wat met wynproeë en keldertoere gepaardgaan.

Van waar die River Royale by die Quai des Chartrons vasmeer, kan jy na die hart van Bordeaux stap

Beleef Bordeaux

Inkopieslawe kan maar ’n nota maak: Bordeaux het die langste inkopiestraat, Rue Saint Catherine, in Europa. Hierby het ek – helaas – nie uitgekom nie.

Behalwe vir ’n nagrit in ’n oopdekbus het ons met ’n trem vanaf die Quai des Chartrons waar die River Royale vasgemeer was, na die hartjie van die stad Bordeaux gery. Hier het ons die res van die dag omgeëet, of so het dit gevoel.

Dit was darem terwyl ons rustig deur wandelhalle en systraatjies gedrentel het. As ons nie aan kaviaar, Franse beleë kaas, roompoffertjies en rum-gegeurde koekies gepeusel het nie, het ons ons aan imposante Gotiese kerke waarbinne die atmosfeer amper tasbaar is, verwonder.

Tong-in-kies kuns en dekor in Bordeaux

Paulliac is puik

Château Mouton-Rothschild, sekerlik een van die bekendste wynlandgoedere ter wêreld, is in die Paulliac-distrik wat jou onmiddellik n aanduiding gee in watter uitgelese geselskap – en wingerde – jy jou bevind.

Vanuit die dorpie Paulliac lei al die paaie nie na ’n bekende Italiaanse stad (soos Rome) nie, maar na ontelbare mooi afdraaipaadjies van die een chateau na die ander. Ons het ons vergaap aan die Franse platteland en aan dorpies soos Margaux, Saint-Julien en Saint-Estèphe.

Sonsondergang in Nieu-Akwitanië

Prettig op Patiras

’n Besoek knap voor skemer aan Patiras-eiland en -vuurtoring streel sommer ’n paar sintuie. Die Patiras-vuurtoring wat meer as 150 jaar gelede op die eiland opgerig is, is nie net vir faroloë (vuurtoringentoesiaste soos ek) strelend op die oog nie – heelwat van my mede-reisigers klim tot bo en kyk oor die riviermonding uit. Die strelende klanke van ’n kitaar wat getokkel word, is steeds dofweg hoorbaar waar ons heelbo staan terwyl ons mik vir selfies of mekaar vra om ’n foto te neem.

Onder wag vars artisjokke – waarvoor die Amerikaners in ons groep hul neus optrek – ons in. Ook verfrissende droë rosè waaraan ons teug voor ons luiweg terug na die boot draal.

’n Besoek aan Blaye

Die sitadel of klipvesting van Blaye dateer uit die sewentiende eeu. Sommige van die mure is tot tien meter dik. Binne die stadsmure is die ruïnes van ’n middeleeuse kasteel, ’n klooster, keisteenpleintjies, platdakhuisies en kuns- en snuisterywinkeltjies te sien.

Net buite die stadsmure van Blaye word daar twee dae per week oggendmark gehou. Die verskeidenheid kosstalletjies sal lekkerbekke se monde laat water. Tussen die seekos (verskillende soorte krappe, oesters en garnale) en groente en vrugte (komkommers, blomkool, perskes, nektariens en pampoene) is sonhoede, antieke blikversamelings, afdroogdoeke met katmotiewe, versamelaarsboeke en, les bes, matrasse te koop.

Bourg is ’n belewenis

Volgens legende het Koning Louis XIV as jong knapie saam met sy ma die dorpie Bourg in 1650 besoek. Toe die jongeling verby ’n boom waaraan ‘n ryp vy hang, stap, was hy verskriklik lus daarvoor, maar hy was te kort om die vy by te kom. ’n Hulpvaardige monnik het hom opgetel sodat hy die vy kon pluk. Destyds was dit egter streng verbode om die koning aan te raak en daarom is die monnik gearresteer. Die koningin het egter later die monnik vrygespreek.

Om die geleentheid te herdenk, het die plaaslike inwoners ’n lekkerny ter ere van die gebeurtenis begin maak. Tot vandag toe word vye gedoop in sjokolade, bekend as Bourg-vye, verkoop.

Ons dink eers na die tyd daaraan dat ons ons vriende met ons terugkeer met Remy Martin-konjak en Bourg-vye kon bederf het. Dalk gebruik ons dit nog as ’n verskoning om terug te gaan!

Die Gascogne sitkamerkroeg op die River Royale

Dis lekker in Libourne

Tot redelik onlangs was Libourne nog ’n slaperige dorpie wat min aftrek by toeriste gekry het. Deesdae is Libourne egter besig om te ontpop in ’n gewilde dorp om te besoek sonder dat die rustige plattelandse karakter verlore gegaan het.

Op ’dorpsdae’ word daar boeremark gehou. Dis wanneer dorpenaars na die hoofplein en omringende straatjies stroom om vars blomme, heuning, plaasbrood, vleissnitte, wildesampioene, groente en vrugte aan te koop.

Daar’s ook ’n binnehuise mark met vis-en-seekoshandelaars en kaastoonbanke wat jou na Libourne wil laat emigreer.

Knyp ’n tydjie af om ’n draai by een van die menige skoenwinkels, ’n klein dog steeds eksklusiewe tak van Galeries Lafayette en Sephora (vir grimering met speelse name soos Drunk Elephant en Urban Decay) te maak.

Dis egter nie of jy iets nódig het om jou aan só ’n lekkerbek-riviervaart te laat terugdink of hunker nie. Daarvoor is die herinneringe (aan smake en andersins) genoeg. ’n Paar tossel-en-bandjie-sandale was egter nie te versmaai nie. #sêmaarnet.

Die nagliggies van Libourne

Niemand wil regtig na die tyd daaroor praat nie, maar na afloop van só ’n lekkerbek-vaart span jou broek ’n bietjie stywer.

Hoe kan dit nou anders met geregte soos die sjef se keuse van hors d’ oeuvre wat uit foie gras (eend- of ganslewer) met vyekonfyt, gerookte salm, blini (gevulde suurdeegpannekoekies; enkelvoud blin) met roomkaas en kaviaar, en piekelkomkommers in dillesous bestaan? Om nie te praat nie van gerookte eendborsie met kersie-compote, varkkotelette met dragonsous en Peer Belle Hélène (vanieljeroomys met ’n geposjeerde peer, warm sjokoladesous, Chantilly-room en geroosterde amandels) wat op ’n ’gewone aand’ aan boord in die Le Bordelais Restaurant my keuse van geregte uitmaak. Hoe kan ek vergeet van die kreef thermidor wat by die gala-afskeidsete voorgesit is?!

Elke maaltyd op die River Royale was keurig voorberei

Terug by die huis het ek reeds van die resepte in Bea Tollman (die president en stigter van die Red Carnation Collection waarvan Uniworld Boutique River Cruise Collection deel is) se boek A Life in Food in my kombuis uitprobeer. So hou ek die herinneringe aan die riviervaart en die Bordeaux-wynstreek in Frankryk lewend.

Ilse Zietsman was ’n gas op die Connoisseur Cruise van Uniworld Boutique River Cruise Collection.

Kyk na die riviervaarte wat tydens 2018 aangebied word by: www.uniworld.com/za/

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.