Ronnie se lewe is op ’n mespunt, Hazel worstel met skuld en keuses wat haar lewe uitmekaar kan skeur, en die Louws se bestaan word voortdurend bedreig deur onsigbare vyande. Selfs die ligter oomblikke – soos die dorp se Bybel-vasvrakompetisie – bring nuwe konfrontasies en geheime aan die lig.
Ronnie se stryd en Hazel se dilemma
Ronnie se lewe is in ’n afwaartse spiraal, en sy toestand verswak met elke episode. Hy word by Christine se huis betrap, wat Hazel se twyfel oor hom verdiep. Tog deel hy later ’n waarheid wat haar diep raak en dwing om moeilike keuses te maak. Intussen raak Hazel se verhouding met Fabian ’n bron van groot spanning. Hulle word verskeie kere amper betrap, en haar skuldgevoelens begin haar oorweldig. JP en Jasmine se skokkende nuus plaas nóg druk op haar, en sy probeer Fabian uit die Louw-huis hou, maar hy kry steun uit ’n onverwagse oord.
Die Louws se vrees
Die Louws leef in voortdurende angs. Intimidasie, aanvalle en geheimsinnige voorvalle dwing hulle om hul veiligheid ernstig te oorweeg. Ruan se ondersoek lewer deurbraak ná deurbraak, maar plaas die familie net dieper in gevaar. Die spanning kook oor wanneer die Louws ’n onrusbarende ontdekking naby hul huis maak – en Hazel in ’n oomblik van paniek JP se geweer afvuur – ’n daad met verreikende gevolge.
Die Bybel-vasvrakompetisie
Terwyl bedreiging en onsekerheid oor die dorp hang, hou die Bybel-vasvrakompetisie almal besig. Dominee Wayne probeer die span bymekaar kry en selfs die anties betrek. Erica is vas oortuig dat sy die kaptein behoort te wees. Die soektog na ’n vierde lid sorg vir spanning en vermaak, en die dorp se mense raak op verskillende maniere betrokke by die kompetisie.
’n Maand van waarheid en gevolge
Oktober in Skemergrond wys dat niemand die gevolge van hul keuses kan ontsnap nie. Van Ronnie se broosheid en Hazel en Fabian se verbode verhouding, tot die Louws se stryd om te oorleef en die Bybel-vasvra se verrassings – dit is ’n maand vol draaie wat kykers op die punte van hulle stoele gaan hou.
Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Hier kom ‘n ding: Oktober bring nuwe karakters na Diepe Waters





