kategorieë: Leef gesondGesondheid

Gesondheidswense vir partytjies en die feestyd

Gesondheidswense vir partytjies en die feestyd deur Salomé Delport. Foto: Unsplash

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ek wens my maag is plat en nie so seer en opgeblaas nie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jou goeie fee antwoord … Die vakansietyd gooi ’n mens se eetpatroon maklik (en héérlik!) omver: jy drink op ’n warm dag gaskoeldrank, koelers of bier; jy gryp in die verbygaan broodrolletjies en Kerskoek pleks van laevet-proteïene en groente; en saans smul jy voort. Vanselfsprekend gaan jou maag kla.

Jou wens sal waar word as … jy die dag begin met ’n groot glas vars water en ’n lae GI-ontbyt sodat jy lank versadig bly. Gesonde kitsopsies is ’n semelryke pap soos All-Bran met piesang en laevet-jogurt en ’n paar amandels; of ’n sny rogbrood met tamatie en maaskaas of eier; of ekstragrowwe beskuit met ’n “slaai” van kaas, ’n paar amandels en ’n appel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

As jy weens hardlywigheid teer is, kry vir jou probiotiese jogurts wat jou dermflora herstel.

Vermy so ver jy kan:

  • wit stysel wat vloeistof soos ’n spons opsuig en die suiker, olie en gis daarin langer kans gee om gas in die dunderm te vorm.
  • sout en soutsnoepgoed soos skyfies wat olierig is en ’n teer maag meer irriteer.
  • gaskoeldrank, wyn en bier met sulfiet as preserveermiddel. Drink liewer tot tien glase doodgewone water
  • die ertjiespruite en rou uie in slaai; ook broccoli, kool en koolslaai en grondbone

Lees ook: Die perfekte dieet vir maagpyn en diarree

Jou maag: Jou tweede brein

Is dit hoekom jy maagpyn het?

Ek wens ek lyk vanaand asof ek elke dag ’n halfuur draf

Jou goeie fee antwoord … jy kan in 24 uur op 48 sessies inhaal, maar dan gaan jy vir seker dood neerslaan en nooit by die partytjie uitkom nie!

Jou wens sal waar word as … jy tog ’n halfuur lank gaan draf. Daar is niks wat gouer ’n mooier blos op jou wange sit as ’n bietjie oefening wat jou asem laat jaag nie.

Die ander goeie fee-kunsie is die Alexander-postuurtegniek. Dit laat jou langer – en dus skraler – lyk. Verbeel jou daar loop ’n loodlyn van jou kop deur jou stuitjie tot by die bal van jou voete. Trek jou maag in en rek jou rug lank uit. Jou skouers sal vanself sak, wat jou nek slanker en langer sal laat lyk.

Lees ook: Swem is uitstekende oefening

Is jy te oud vir oefening?

Oefening met rente

Ek wens ek kan die nag deur dans sonder dat my voete blase kry

Jou wens sal waar word as jy … die heerlike jelkussinkies in jou skoene dra wat selfs in sandale onsigbaar pas. Koop dit by Clicks en DisChem. Dit help ook om jou voetsole te poeier om sweet (en voetreuke) te absorbeer.
As jy die slag uitsit, verfris jou voete ongemerk met die volgende oefeninge: krul jou tone op en onder toe, draai jou enkels kloksgewys en terug en buig jou voete op en af sodat jy jou kuitspiere inspan en ontspan.

Lees ook: Laaf jou voete met kruie uit die tuin

Ek wens ek lyk heeltyd koel

Jou goeie fee antwoord … Vroue het meer sweetkliertjies as mans. Goeie feë weet dat ’n bietjie (vars) sweet mans manliker laat lyk en ruik – en vroue ongelukkig ook.

Wanneer kos vinnig verbrand, word meer hitte vrygestel. Dit beteken van die grootste sweet-“opwekkers” is drankies en ’n kaasbord – alkohol gemeng met ’n hoop suiker en vet.

Jou wens sal waar word as jy … by ligte en laevetprodukte hou: gegeurde water, vetvrye maaskaas of harde kaas (hoe harder die kaas, hoe minder vet is daarin, maaskaas uitgesonder), crudités en vrugteblokkies. Koffie en koek staan nie ver agter nie: kies ligter jelliebasisterte en ystee.

En nog ’n wenk: elke keer wanneer jy koel lug diep inasem, verloor jy verbasend baie hitte. Ons sal vir niemand sê as jy op die hitte van die dag vir ’n paar oomblikke jou kop in die vrieskas steek nie.

Lees ook: Help, my oefenklere stink!

Ek wens ek is nie ná ’n paar glasies wyn die volgende oggend dikkop en suf nie

Jou wens sal waar word as jy … die volgende dag met ’n regmakerontbyt begin: kry ’n groot glas regte vrugtesap, ’n sny roosterbrood met heuning en ’n koppie Marmite-tee (’n eetlepel Marmite in kookwater geroer). Die fruktose daarin breek oortollige alkohol af en die ekstra B-vitamiene herstel die senuskade.

Maar jy weet jy sal jou perke moet leer respekteer, nè? As jy die volgende dag sleg voel, het jy verkeerd gedrink. En elke keer wanneer jy drink tot jy dronk is, sterf 15 000 breinselle permanent.

Die goeie fee gee raad: Gaan só op die regte manier met drank om: Begin verstandig. Eet proteïene en growwe stysel wat lank neem om te verteer vóór jy die glasies klink – Pro-Vita met kaas of ’n rogbroodjie met sardientjies of oesters.

Drink stadig: dit gee jou lewer kans om die alkohol af te breek sodat minder in jou bloed beland. ’n Wenk: lang, smal glase dwing jou om kleiner slukkies te neem en dus stadiger te drink. En bestel gerus ’n beker water saam met jou wyn sodat jy elke slukkie drank met ’n slukkie water afwissel. Dit sal jou help om te hou by die riglyn van twee drankies vir ’n vrou en drie vir ’n man.

Dink wat jy drink: rooiwyn bevat tiramien wat erge hoofpyn by sensitiewe mense veroorsaak. Gasborreltjies neem drank baie vinniger in jou bloedstroom in – daarom dat sjampanje (Cap Classique én vonkelwyn) en drank gemeng met gaskoeldranke en sodawater sommige mense erg hoofpyn gee.

Lees ook: Partytjiedier of drankprobleem?

Ek wens ek kan heeldag op die strand lê sonder om te verbrand

Dié wens sal géén goeie fee jou gun nie. Die risiko op plooie en velkanker is hopeloos te hoog, selfs al is jy blas.
Maar as jy onder ’n donker sambreel sit, elke twee uur sonskerm aanwend, ’n dun, langmouhemp van katoen oorgooi en jou sonbril (UVA- en UVB-bestand) ophou, kan jy soggens van vroeg tot elfuur en dan weer in die middag ná vier buite wees.

As jy klaar verbrand het:
Drink ’n aspirien om die ergste pyn en ongemak te verminder. (Party dokters beveel aan dat jy die aspirien drink vóór jy begin rooi raak.) Week jou seer weg in ’n bad koel water waarby jy ’n koppie asyn of ’n koppie koeksoda ingegooi het. Wend room met aloe vera aan, en rus baie sodat jou liggaam van die brandwonde (dis waarop dit werklik neerkom) kan herstel. Drink die volgende paar dae baie water om die verlore vog te herstel.

Lees ook: Kies die regte sonbrandroom vir (jou en) jou kinders

Ek wens my oë is helderwit en skitterblink

Jou wens sal waar word as jy … jou moeë oë meer knip. Jy is veronderstel om dit in elk geval elke twee sekondes te doen. Die son, droë lug en soutwater irriteer jou oë gou. Die Goeie Fee weet dat as jy jou oë knip, spoel jou natuurlike trane irritasies weg en keer droogheid.

Min goeie feë vertrou oogdruppels. Sodra die effek daarvan (ná ’n paar uur) uitgewerk is, is jou oë droër as tevore. Maak jou oë vogtig met die palmbakkietegniek. Dit werk so: vryf jou handpalms teen mekaar tot hulle warm is en plaas jou hande vir ’n minuut soos bakkies oor elke oog. Dit skep ’n strelende, klam, warm mikro-omgewing.

Lees ook: Hoe om die perfekte sonbril te kies

Ek wens ek sit nie vyf kilo’s in vyf dae aan nie

Jou wens sal waar word as jy … die geheime beginsel onthou: kilojoules in = kilojoules uit. Balanseer die ekstra snoepgoedjies met ekstra aktiwiteite. Hier’s ’n paar idees:

  • Eet nagereg en was dan al die skottelgoed en die vloer. Almal gaan so dankbaar wees terwyl net jy weet hoeveel jy sélf by die werkie baat vind.
  • ’n Glas wyn is gelyk aan ’n halfuur se speel met die kinders én onmeetbaar baie werd vir gesinsverhoudings en gelukkige herinneringe.
  • Werk ’n Kersete weg met drie halfuur-sessies vinnige oefening soos draf, of ses sessies stadige oefening soos stap of swem.
  • Spring twintig minute tou vir ’n sny kaaskoek.

Ek wens ek kan wegkom met knoffel

Jou wens sal waar word as jy … die jongste vars-asem-taktiek probeer: kougom met xylitol. Dié suiker dood werklik mondbakterieë. Jy kan ook chlorofiltablette by jou apteek kry. En vanselfsprekend borsel jy jou tande en tong, vlos en drink baie water?

Ek wens ek het energie vir liefde

Tieners vol giere, veeleisende kleintjies uit hul slaappatrone en skoon- en eie familie klits veral ma’s op. Geen wonder jy is nie geneë nie.

Al raad wat jou goeie fee kan uitdeel is:

  • Luister na jou pa se politieke en godsdienstige menings en sy advies oor jou leefstyl en kinders se opvoeding, maar hou jou menings vir jouself. Mense met Gewigtige Opinies wil dit in elk geval nie hoor nie. As jy dit kan verduur, vra uit sodat hulle hul menings in detail kan hoor. Dis tog maar al waaroor dit gaan.
  • En doen dan net soos jy gewoonlik sou. Bly stem vir jou party, eet en drink soos jy tuis sou doen en hou jou kinders by dieselfde reëls as tuis.
  • Soms hou almal vakansie behalwe ma’s. Wees ferm oor die werklasverdeling sodat jy nie alleen verantwoordelik is vir als van skoonmaak tot kos maak nie.

Dit behoort jou die ekstra emosionele en fisieke energie te gee om tog lief te kan hê …

Lees ook: Hoe om beter oor seks te praat

Waar is die vrede in jou huis?

Ek wens my lippe bly soenbaar

Ek gun jou met graagte dié wens! Die beste nuwe lipstiffies bevat sonskerm – ’n moet in ons klimaat.

  • As jy een van die ongelukkiges is wat herpeskoorsblare kry, moet jy in die partytjiemaande en tye wanneer jy meer stres as gewoonlik verwag, voorkomend optree:
  • Kry ’n lisien-aanvuller by jou apteek wat die virus help onderdruk. Drink elke dag die volle aanbevole dosis.
  • Eet ook meer kos met lisien wat die virus help onderdruk, soos melk, soja en aartappels.
  • Sluit kos ryk aan arginien uit, soos alle jellies (die meeste yskasterte en jellielekkers ook), neute, ertjies, bone en sjokolade.
  • Kyk mooi na jouself: slaap genoeg, en bly uit die son en wind – dit sal jou vel sommer ook plooie spaar.
  • As jy reeds ’n koorsblaar het, drink ’n pynpil vir die koors en seer en kry by die apteek ’n antivirale middel. En hou moed: tyd genees alle wonde.

Lees ook: Jy kan koorsblare kortvat

Ek wens my hoofpyn verdwyn

Hoofpyn is die gevolg van oorstimulasie – te veel geraas, stres, lig, kos waarop jy reageer, drank, ooraktiwiteit, dehidrasie, en so aan.

Jou wens sal waar word as jy … ’n bietjie meer persoonlike ruimte vir jou skep: ’n tydjie om stil te raak; ’n rustige, koel plek; mooi, strelende klanke; ’n koppie egte kamilletee; ’n lekker boek; ’n rustige wandeling in die natuur; of ’n lekker kop-en-nek-massering.

Maar as jy eers hoofpyn het, is dit te laat vir voorkomende stappe soos dié. Drink ’n hoofpynpil voor die pyn te erg word, of probeer die jongste kruiemiddels met siphonochilus-kompleks.

Lees ook: 7 maniere om werklik te ontspan

Ek wens ek kan saameet sonder sooibrand

Goeie feë predik altyd matigheid, maar nou ja … Jou wens sal waar word as jy …

  • Selfs op jou luiste dae oefening doen. Dit help om jou aptyt te beheer en voorkom dat jy eet tot jy oorvol is.
  • As jy klaar te veel geëet het, sluit die ete af met ’n happie harde kaas. Dit bevat rennien, ’n ensiem wat vertering aanhelp.
  • Gemmertee pleks van sterk koffie is ook ’n geskikte manier om ’n groot ete af te rond.
  • As jy klaar sooibrand het, moet jy teensuurmiddels by die apteek gaan haal. Kruiemiddels met sydissel, liquorice, vinkel en kamille ondersteun die lewer.

Lees ook: Ken jy die raad teen sooibrand? Toets jouself

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.