Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Die 13de kykNET Silwerskermfees is tans by The Bay Hotel in Kampsbaai onderweg en loop Saterdagaand met die gesogte Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum ten einde.
- In ‘n gesprek met die vervaardigers, kinematograwe en hoofspelers in die dokkies Vet vannie land en Bliksems van Bothaville deel hulle hul insigte met die gehoor, na afloop van die vertonings.
- In die speelfilm, Carissa, word haar storie hartroerend uitgebeeld deur Gretchen Ramsden.
- Die kortfilm, Alma op pad, se span op die bloutapyt. Die hoofspelers, Amalia Uys en Laudo Liebenberg staan heel links.
Die program is propvol met kortfilms, dokkies en speelfilms, wat almal meeding om met die gesogte trofee vir beste in hul kategorie weg te stap.
Voor elke première kom die sterre in hul mooiste aandklere en paradeer op die bloutapyt, waar die kameraflitse glans verleen en onderhoude gevoer word oor hul rolle.
- Een van die films wat ‘n volsaal getrek het, maar gelukkig binnekort in fliekteaters regoor die land te sien sal wees, is My f*k Marelize! Hier is die regte Marelize Horn, al die pad van Windhoek, met haar fiets op die bloutapyt!
- Die akteurs Neels Clasen en Je-ani Swiegelaar op die bloutapyt. Neels is in ‘n paar films by vanjaar se fees te sien. Hier pronk hulle voor die premiere van My f*k Marelize! Waarin hulle die Horn-ouerpaar speel.
- Nichola Viviers speel Marelize se sussie in die film en hier poseer sy saam met Marelize se sussie in die ware lewe.
- Spanwerk het die film My f*k Marelize! ‘n groot wenner op openingsaand gemaak.
- Die ware Marelize staan saam met Zandelle Meyer, wat haar in die film speel.
- Die films kry elkeen ‘n ster op die bekende bloutapyt.
Smiddae word daar skouer geskuur met regisseurs, akteurs, kinematograwe en nuwe idees vir projekte aan besluitnemers by die Silwermark voorgelê. Dit bied die geleentheid vir in-persoon voorleggings aan beide kykNET en Showmax in ’n verskeidenheid inhoudskategorieë.
Die fees wys ook uitgesoekte films elders in Kaapstad met opwindende gratis gemeenskapsvertonings in minder gegoede woonbuurte.
- Vier dae se fliekpret is tans onderweg in Kampsbaai.
Tina Kruger, Programbestuurder: kykNET Silwerskermfees, sê: “Stories was nog altyd noodsaaklik vir mense om sin van hul bestaan te maak. By die kykNET Silwerskermfees – in die minlike Kampsbaai – word oorspronklike Suid-Afrikaanse stories jaarliks gekoester en gevier.
“Saam met die wêreld- of Suid-Afrikaanse premières van die jongste rolprente, vertoon die Silwerskermfees die werk van jong talent in ’n reeks diverse kortfilms en kort dokumentêre, wat met die fees se finansiële ondersteuning en mentorskap vervaardig is. Kortfilms deur ervare filmmakers is daarop gemik om gehore te roer en opkomende talent te inspireer. Die propvol feesprogram sluit paneelbesprekings, werkswinkels en bedryfsgerigte meesterklasse in wat deur bekende plaaslike en internasionale kenners aangebied word.
Die fees word oor vier dae aangebied en met die potblou hemele, spierwit strande en Tafelberg wat in die verte wink, is dit waarlik die Cannes van Suid-Afrikaanse film.
- By een van die kortfilm-vertonings by Theatre on the Bay, sien ons die aktrise Suraya Sulima en die Kaapstad rapper, PHFat (Mike Zietsman).
- Ansu Visser en Mila Guy kry springmielies voor ‘n lekker fliek in die Rotunda.
- Waldimar Pelser, hoof van premiumkanale van M-NET en kykNET en Nico Scheepers, wie se nuuste film, Hen, sy debuut by die SSF maak.
Kaartjies vir Vrydag en Saterdag se vertonings by The Bay Hotel se Rotunda en Theatre on the Bay ‘n entjie verder in Kampsbaai, is by Quicket te koop.
Lees ook: Boer soek ’n vrou: Die boere ontmoet hul keuses – is daar liefde in die lug?















