Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Mens hoor nie baie van GlenWood buite Franschhoek nie, behalwe wanneer die plaas se wyne pryse inpalm of groot mylpale vier. Die windjie roer liggies in die wingerde, toe ons die afdraai na Robertsvlei neem om ‘n baie groot hoogtepunt saam met die eienaar en sy span te gaan vier.
Dis vanjaar 40 jaar sedert Alastair Wood op die Nature’s Window-koppie bokant GlenWood sy hart op die plaas verloor en ‘n aanbod ingesit het om dit te besit. Dis ook 25 jaar sedert die eerste wyn hier gemaak is.

Alastair Wood, eienaar en DP Burger, keldermeester van GlenWood.
Alastair se ontvangs is gul en hy druk ‘n glas vonkelwyn in my hand. Op ‘n vaatjie agter hom, staan die eerste drie wyne: Die drie eerste wyne wat gemaak is, is die Glenwood Chardonnay Wooded 2000, die Glenwood Shiraz 2000 en die Glenwood Semillon 2000. Ek vra heel onskuldig of dit op die spyskaart is vir die dag en die lag in sy oë beloof groot verrassings later.
Ons proe die Glenwood Vigneron’s Selection Chardonnay 2024, 2020 en 2015 ; Grand Duc Chardonnay 2023, 2018 en 2011; en die Grand Duc Syrah 2023, 2015 en 2011. Dis ongelooflik om te sien hoe goed die wyne verouder het en hoe wynmaker, “DP” Burger – wat ook intussen wingerdboukundige, hoof-botteleerder en sommer alles tussenin gedoen het – se wyne sy stempel op die wyne afgedruk het.
- Die vertikale proe het twee stelle wit- en een stel rooiwyn ingesluit.
- Die vertikale proe van die eerste stel witwyn was die Glenwood Vigneron’s Selection Chardonnay 2024, 2020 en 2015.
- Die vertikale proe van die tweede stel witwyn was die Grand Duc Chardonnay 2023, 2018 en 2011.
- Die vertikale proe van die Grand Duc Syrah 2023, 2015 en 2011 het ook gewys hoe goed die rooiwyne verouder.
Ná die proe vertel Alastair dat sy aanbod om te koop, slegs onderhewig was aan grondmonsters wat die geskiktheid vir die produksie van topgehalte wyne moes bewys Hy koop 53 ha ongerepte onontwikkelde plaasgrond, 8 km vanaf die landboudorpie Franschhoek, in die hartjie van die natuur.
Wat as ‘n droom begin het, het in boerdery en wynproduksie ontwikkel. Alastair het nie ‘n boerdery-agtergrond nie – en steeds in die bestuurskonsultasiebedryf – het hy onmiddellik met kundiges in gesprek getree en ‘n jong DP Burger, wat pas sy studies op Elsenburg voltooi het, genader om saam met hom te werk, om sy drome te verwesenlik.
DP kom uit ‘n vierde-generasie Franschhoek-familie en was ywerige om te leer. Dit het daartoe gelei dat DP ‘n integrale deel van die GlenWood-storie geword het. Die wynmaakreis het begin met die besluit om Semillon (die tradisionele Franschhoek-kultivar) en ook Chardonnay, Sauvignon Blanc, Shiraz en Merlot, te plant.

Die drie eerste wyne wat gemaak is, is die Glenwood Chardonnay Wooded 2000, die Glenwood Shiraz 2000 en die Glenwood Semillon 2000.
Onderstamme is sorgvuldig uitgesoek om by die verskillende grondtipes – wat ontstaan het as gevolg van die feit dat Bergrivier oorspronklik deur die Robertsvlei-vallei gevloei het, voordat dit deur die streek herlei is waarin die Bergrivierdam nou geleë is – te pas. Natuurbewaring was ook nog altyd een van Alastair, DP en hul spanne se hoogste prioriteite, wat hulle in 2024 die WWF-bewaringskampioentoekenning besorg het.
Toe die wingerde goed gevestig is, was die volgende 30 jaar se fokus: om druiwe aan plaaslike wynkelders te verkoop, om uitstekende wyne onder hul eie etikette te maak, terwyl hulle hul eie GlenWood-wynproduksie-avontuur begin. Dit sou aanvanklik met klein hoeveelhede Semillon en Chardonnay – wat vir GlenWood deur ‘n ander wynkelder geproduseer word – begin.
Hulle het gou besef dat hulle – as ‘n boetiekwynmakery – nie maklik met groter wynkelders op hul terme kon meeding nie, en dus op ‘n spesifieke kultivar moes fokus, wat – soos ons vandag weet – Chardonnay sou wees. GlenWood het uiteindelik bekend geword as “Tuiste van Chardonnay, Franschhhoek”.
In 2018 het die handelsmerk uitgebrei en ‘n restaurant bygevoeg. Met die koms van Covid, en die afname in internasionale gaste, het hulle weer eens voor uitdagings te staan gekom, oor hoe om besoekers na die plaas te lok, asook om ‘n gaping in die Franschhoek-restaurantportefeulje te vind. Die antwoord was soesji, wat nie net ‘n gewilde kookstyl is nie, maar ook uitstekend pas by die GlenWood se Chardonnays. Hulle het ‘n top-soesji sjef gewerf, wat 18 jaar lank saam met die eerste Japannese Meester-soesij-sjef in Suid-Afrika gewerk het, en in 2021 is hul soesji-restaurant vir die publiek geopen.
- DP Burger, keldermeester, Natasha Pretorius, wynmaker en Ludwig Maske van La Cotte Inn Wine Sales.
- Natasha Pretorius, die wynmaker, Ludwig Maske van La Cotte Inn Wine Sales, Michael Fridjhon, internasionaal-erkende wynbeoordelaar en -skrywer en DP die keldermeester.
Vandag is DP die keldermeester en Natasha Pretorius die wynmaker, wat in 2018 by GlenWood aangesluit het as assistent-wynmaker.
Steeds het einde niet. Toe hulle moes besluit of wingerde in daardie blokke – wat die einde van hul ekonomiese lewensduur bereik het – herplant moes word, het hulle ‘n aantal opsies oorweeg, maar uiteindelik op fynbos besluit. Daar is 4.5 ha bergbruidjie, ook bekend as “Die Trots van Franschhoek” (Serruria Florida), Koning Proteas (Protea Cynaroides) en Speldekussings (Leucospernum) geplant wat oornag na Aalsmeer naby Amsterdam uitgevoer word.
- Die tafel is gedek vir ‘n feesmaal buite onder die prieel met ongerepte uitsigte oor die wingerde en berge.
- Die hoogtepunt van die middag is die plaas se gewilde soesjibote wat wonderlike pasmaats vir die wyne – veral die Chardonnays – is.
Terwyl ons aan soesjie en wyn knaag onder die prieel buite, vra iemand of Alastair dit alles weer sou doen?
“Daar is geen twyfel dat ek dit weer sou doen nie, mits ek ‘n eiendom so mooi soos GlenWood het en dieselfde span het, om dit saam met hom te ontwikkel.”
Só ‘n bek moet jêm – of Chardonnay – kry!
- Nikki de Havilland van GlenWood saam met Tim en Vanessa Hoek. Tim is die keldermeester by Haute Cabrière.
- Hierdie groep entrepreneurs van Johannesburg, is ook baie ywerige wynliefhebbers en het van Gauteng gereis om die middag op die plaas mee te maak. Van links is Lerato Nage, Theo Ngobeni, Thabo Matlhako, Prof William Gumede, en Matthews Chauke.
Lees ook: Die Investec Trophy Wine Show vereer land se beste premium wyne