Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Nie alleen het die twee nuwe wynmakers pas hul eerste oes agter die rug nie, maar die nuwe Brookdale Red veld-versnit en die nuutste oesjare van ander wyne is ook nou beskikbaar.
Die landgoed is een van die min wynplase in Suid-Afrika wat ‘n veld-versnit kan maak – ‘n wyn wat uit een wingerdblok wat met verskillende kultivars beplant is, kom. Die nuwe rooi Twenty Field Blend volg op die suksesvolle vrystelling van die wit Sixteen Field Blend ‘n paar jaar gelede.

Die nuuste toevoeging tot die wynreeks is die nuwe Twenty Field Blend.
Die vier wyne waarvan die nuutste oesjare geproe is, is die Brookdale Chenin Blanc Old Vine 2023, Sixteen Field Blend 2024, die Bradbourne White Blend 2024 en die nuwe Twenty Field Blend. Die Sixteen en Twenty Field Blends het onderskeidelik 16 en 20 verskillende kultivars in een wyn versny. Die wingerde is só geplant – een kultivar per ry.
Xander Sadie, die nuwe wynmaker en Shanice du Preez, die nuwe assistant-wynmaker, was baie trots om die vier wyne se nuutste oesjare aan gaste voor te stel en ook meer oor hulself te vertel.
Gaste kon ook die Bistro at Brookdale Estate se nuwe winterspyskaart voor die kaggel geniet. Dit word keurig deur die sjefspan, onder leiding van uitvoerende sjef, Gary Coetzee, berei.
- Die sjefspan is van links, Dieter Fourie, sjef de partie, Gary Coetzee, uitvoerende sjef en Jaylon Klaasen, senior sous sjef.
- Die pragtige restaurant is knus en die dekor keurig en verwelkomend.
Xander is die seun van die bekende wynmaker, Eben Sadie en het as’t ware met wyn in sy are grootgeword. Nadat hy by Elsenburg wynkunde studeer het, het hy oorsee gaan wynmaak; toe by Hamilton Russell en Blank Bottle gewerk, voor hy agt maande gelede by Brookdale aangesluit het.
“Ek het met al my rondreis besef dat Suid-Afrika eintlik ‘n wonderlike plek is om te wees en dat die beloftes van Europa nie so rooskleurig is nie. Elke plek het sy probleme.”
Shanice het haarself voorgestel as “die kortste wynmaker wat jy ooit sal ontmoet” en seker ook een van die jongstes wat jy al teegekom het!
Na haar studies by Universiteit Stellenbosch was sy deel van die Kaapse Wynmakersgulde se protégé-program en het onder die land se voorste wynmakers gewerk, waaronder Abrie Beeslaar van Kanonkop, Charles Hopkins by De Grendel en Duncan Savage van Savage Wines. Sy het ook twee oeste oorsee meegemaak – een in Frankryk en een in Portugal.
Sy gee bietjie agtergrond oor die plaas: Tim Rudd van die Verenigde Koninkryk, het die plaas in 2016 gekoop.
“Tim was só nuuskierig en opgewonde toe hy die plaas die eerste maal gesien het, omdat hier hope potensiaal was. Die plaas was erg oorgroei en baie indringerspesies en verwaarloosde wingerde moes verwyder word, voor die bouwerk en nuwe aanplantings kon begin.
“Mense wonder ook oor die naam Brookdale. Hier was reeds ‘n Avondale in die streek en op Doolhof was Grand Dedale Country House, so Tim het besluit dit sal heel gepas wees as daar drie Dales in die Paarl kon wees. Hy het op Brookdale besluit en daar is ook ‘n Brookdale in Brittanje en dis ook in ‘n mooi vallei soos ons s’n hier geleë,” vertel sy.
Tim het baie jare in die Meditereense wingerde deurgebring en hy wou die minder bekende kultivars van Portugal en Italië hier in die Paarl ontgin. Saam met die twee jong wynmakers word fassinerende versnitte, ongewone tegnieke en die vreugde van ontdekking, in elke bottel Brookdale wyn vasgevang.
Die plaas beslaan 67 hektaar en het 25 hektaar onder wingerd – 47% is opgelei en die res is bosstokke. Die plaas lê aan die voete van die Klein Drakensteinberge en Xander vertel die rotsformasies is baie sandsteen met klein kolletjies graniet tussendeur en onder is dit diep kleigrond, met ‘n schist onderlaag. So dis swaar grond wat moeilik dreineer en dis moeilike grond om te bewerk.”
Xander het verduidelik dat hulle by Brookdale “wynmaak soos mens teemaak – hier is geen koffiegeure nie!”
- Die middagmaal skop af met heerlike tuisgebakte foccassia met interessante botters daarby.
- Die voorgereg is spinasie en ricotta Mezzaluna met geroosterde okkerneute, gebrande saliebotter en jong Parmesaan en lemmetjie.
- Stadig-gekookte beesstert in ‘n roosmaryn en rooiwynsous, met geroomde samp, babawortels en uie.
- Sjef Gary se weergawe van ‘n Snicker, met grondboontjie heuningkoek, sjokolade mousse en grondboontjiebotter roomys.
Daar is vier wyne in die Mason Road-reeks en vier wyne in die Brookdale-reeks.

Die middagete is voorafgegaan deur die wynproe.
Die gesprek draai weer terug na die Field Blend, want hierdie tipe wyn is raar vir meeste Suid-Afrikaanse wyndrinkers. Xander verduidelik dat mense gewoond is aan wingerdblokke van een kultivar – veral in Suid-Afrika en die Nuwe Wêreld, want dis oral hoofsaaklik met sewe hoof-kultivars beplant. “En almal is bang vir enigiets anders as dié sewe kultivars.
“Ons is nie. Ons verwelkom dit, omdat baie ander minder bekende variëteite baie goed hier groei. Veld-versnitte beslaan in wese ‘n groot deel van die Mediterreense deel van Europa. Met ‘n veld-versnitplant jy nie voor die voet enige los wingerdstokke nie. Dit word baie noukeurig beplan en met ‘n versnit in die vooruitsig geplant.
“Wat jy met ‘n Field Blend wil hê, is soortgelyk aan wat jy in ‘n rugbyspan wil hê. Dit help nie jy het al die maer ouens aan die kant, maar niemand kan skrum nie. Jy het die groter ouens nodig om laag te gaan en die bal te wen. Jy het ‘n ou nodig wat kan skop. Jy het iemand nodig wat die spel kan lees.
“Toe die wingerd geplant is, is daar dus noukeurig uitgewerk wie watter rol daarin gaan speel. Jy het jou Grenache Blancs, en jou Chenins, dis jou basis in die wyn. Sommige variëteite bring vet, ander bring suur, ander bring sagtheid, ander verouderingspotensiaal.
“Dus, wanneer jy ‘n veldversnit plant, plant jy nie ‘n versnit-komponent vir ‘n wyn nie, jy plant ‘n wyn. Ons gaan nie in die kelder in en versny dit verder nie. Wanneer dit by die wynkelder kom, is dit die versnit wat jy het,” het hy verduidelik.
- Maryna Calow van Wines of South Africa (WoSA) en Annelize Stroebel van die Paarl Wynroete.
- Jacus Marais is die wynverkoopsbestuurder, klink ‘n glasie met Yvonne Coetzee, algemene bestuurder van Brookdale, wie se man, Gary, die uitvoerende sjef vir die Bistro en gastehuis is.
Van die wingerde is oud en gevestig, ander is nuut – soos die twee wynmakers. Maar in Shanice se woorde: “Hoewel ek skrikkerig was vir die oes met ons altwee wat nuut aangestel is en nog nie voorheen saamgewerk het nie, was ons linker- én regterhande in die kelder, Roberto en Byron, ons steunpilare.”
En soos die twee jongmense tereg afgesluit het, “hierdie is net die begin van groot dinge!”

Xander Sadie, die nuwe wynmaker en Shanice du Preez, die nuwe assistant-wynmaker, was baie trots om die vier wyne se nuutste oesjare aan gaste voor te stel.
- Die plaas het ook nou ‘n lekker winter-aanbieding by die restaurant en herehuis, as jy jou kuier wil uitrek en oorbly.