kategorieë: InspirasieJou lewe

G’n einde aan rooibostee en planne nie

Deur Rentia Mynhardt

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Melissa en Janeske Rademan het in die grendeltyd besluit dat hulle ’n onderneming op die been wil bring waar hulle as vroue hul sterk punte kan inspan om ʼn volhoubare inkomste te verdien. Rooiboslief was van dag een af ’n platform waar hulle dit kan doen én in die gemeenskap terugploeg.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Op ’n plaas buite Citrusdal styg die kwik in die somer tot 40 grade, wat dit die perfekte plek maak om rooibostee te verbou. Die plaas is al 36 jaar in die bedryf en vervaardig jaarliks meer as 800 ton rooibostee. Die kundigheid waarmee dié vierdegenerasieboer rooibostee vervaardig, het Melissa en Janeske Rademan laat besluit om hom te nader, en in Augustus 2020 het hulle amptelik begin om hierdie tee van uitstaande gehalte onder die Rooiboslief-vaandel te versprei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Foto: Kyra Welch

Melissa het vandat sy ’n kind was maklik vriende gemaak en was en is steeds mal oor sport. Sy het, soos dit ’n entrepreneur betaam, van kleins af haar eie kop gevolg, en hoewel sy keuring vir medies gehad het, het haar loopbaan interessante draaie deur die skoonheidsbedryf, premierskantoor en selfs die bestuur van Mediclinic gemaak. Haar ambisie en dryfkrag het haar laat besluit dat sy eerder vir haarself wil werk. Nadat sy en haar man, Heindré, ’n ruk oorsee was, het sy deeltyds met rooibos begin eksperimenteer en haar dogter het ook al hoe meer saam met haar die moontlikhede van ’n onderneming begin raaksien.

As deel van ’n groot gesin kom Janeske baie goed met uiteenlopende persoonlikhede oor die weg. Met ’n skoolbaadjie propvol balkies het sy besluit om ná skool drama by Maties te studeer. Sy het heelwat stelontwerp vir rolprente, reekse en advertensies gedoen, asook vir Netflix en Warner Brothers. Janeske is by Radio Tygerberg betrokke waar sy haar stories kan vertel en steeds stelle kan ontwerp. Hierdie blondekop wie se oë saam met haar mondhoeke lag, is ’n bondel fikse energie met ’n onlangse warrior race op haar kerfstok, maar haar liefde vir kultuur sorg dat sy ’n gebalanseerde milleniër is, al kan jy haar met ’n roomys omkoop.

’n Linker- en regterbrein bymekaar mag wel soms die rook laat draai, maar Melissa voel dat hul      verskille dit júís makliker maak om saam te werk omdat elkeen op haar sterkpunte fokus. “Dit sal my emosioneel dreineer om op goed soos teksgroottes en grafika te besluit,” sê Melissa. Janeske laat dadelik van die kant af hoor: “Ek love dit! Ek haat weer die finansiële deel. My ma is baie goed en presies daarmee.”

Hier is wedersydse respek en hulle luister na mekaar se menings al mág hulle van mekaar verskil, maar dít doen hulle in liefde. “Sy is eerstens my ma en daarna my sakevennoot. Ek leer so baie van sake by haar.”

Foto: Kyra Welch

Rooiboslief het drie aandeelhouers: Melissa, Janeske en Alisia, nog ’n dogter in die gesin wat as ingenieur in Bahrein in die Persiese Golf werk. Sy is agter die skerms ’n belegger in Rooiboslief en speel veral ’n      rol as dit by strategiese beplanning kom. Melissa, wat ook ’n trotse ouma is, staan as besturende direkteur aan die hoof van die maatskappy en hanteer die finansies en besigheidsontwikkeling. Janeske sit soms ’n handjie by met die sakebedrywighede, maar háár fokuspunt is bemarking en kreatiewe ontwerpe. Deesdae word selfs die jongste seun, Adriaan, wat besig is met sy graad in rekeningkunde, ingespan om met die papierwerk te help! Hier was die een hand beslis die ander. Ma en dogter stem saam: “Grense en verskillende rolle is daar om ons almal te beskerm; ons onderneming, maar ook ons verhoudings.”

Hulle het klein begin, maar die deure het vinnig oopgegaan en Rooiboslief is nou in Suid-Afrika by onder andere Dischem, Takealot, Checkers, plaasmarkte en restaurante beskikbaar, asook in Namibië, Botswana, Kenia, Duitsland, China, Frankryk, Rusland en selfs Saoedi-Arabië. Melissa vertel hoe hulle nie net halsoorkop wou begin uitvoer nie. “Ek het deur Wesgro ’n kursus gedoen om eers mooi agter die kap van die byl te kom voordat ons eerste besending tee middel 2023 die wêreld ingestuur is.”

Rooibostee het in 2021 ’n groot hupstoot in die uitvoermark gekry toe dit die heel eerste produk in Afrika geword het wat deur die Europese Unie met PDO- (protected designation of origin) en GI-status (geographical indication) toegeken is. Hierdeur word rooibostee baie spesifiek aan sy geografiese ligging gekoppel en kan rooibosprodukte tot by die plaas waar dit verbou is, nagevolg word.

Jy kan hoor dat Melissa haar teestorie ken: “Rooibossaad word in Augustus en September gesaai, wat dan eers die volgende Julie met takke en al gesny word. Hierdie tee staan as groen rooibostee bekend, wat nóg meer antioksidante as rooi rooibostee bevat. Die rooibos begin daarna in bosse groei, en die fermentasieproses begin wanneer die plant geoes en gesny word, wat veroorsaak dat die natuurlike ensieme binne die plant oksideer. Dit is in hierdie stadium wanneer die plant sy rooi kleur kry, en dit word op sementbane binne twee windstil dae in die somer gedroog.”

Sy erken blatant: “Ek is ’n regte rooibosteesnob! Omdat Rooiboslief ’n fantastiese produk is, vergelyk jy outomaties ander tee daarmee. Ons is regtig bederf met die beste. Vir my is rooibostee die keuse om ’n    gesonde drankie te drink. Ons gebruik dit in ysies, roomys, smoothies en ystee terwyl ons met verskillende geure eksperimenteer. In die winter speel ons weer met gemmer en suurlemoen.” G’n wonder dat Rooiboslief onlangs drie geure by hul reeks kon voeg nie.

Dit lyk kompleet asof die ketel begin kook wanneer Janeske oor die voordele van rooibostee begin praat. “Omdat dit geen kafeïne bevat nie en ryk is aan vitamiene C en minerale is dit selfs vir babas veilig. Rooibostee sit elektroliete ná ’n harde oefensessie terug en help só met die herstelproses. Wanneer jy in rooibos bad, help dit om sonbrand te verlig, en boonop kan ’n paar slukkies rooibostee jou help om te ontspan. Vir my voel ’n koppie rooibostee soos ’n drukkie.”

Melissa is ewe selfversekerd: “Ek glo met alles in my dat ons rooibostee ’n ongelooflike produk is, en dit is hoekom dit so maklik is om dit aan ander te verkoop. Rooiboslief is ’n 100% organiese produk, wat beteken dat daar geen chemiese kunsmis en plaagdoders gebruik word nie, en dat die grond wat bewerk word met tye tussenin toegelaat word om te rus sodat dit kan herstel.”

Die Rooiboslief-sakemodel fokus daarop om met ander klein- en middelslagondernemings (KMO’s) wat verkieslik deur vroue besit word hande te vat, met die doel om ’n verskil in hul gemeenskap te maak en terug te ploeg.

“Dit is juis die rede hoekom ons sekere van ons prosesse uitkontrakteer, soos ons verskillende verpakkings wat deur ’n organisasie sonder winsbejag in Muizenberg hanteer word. Die organisasie, wat deur vroue besit word, bedryf talle projekte regoor die Wes-Kaap wat ’n impak op die omgewing maak. Wanneer hulle ons verpakking doen, kan hulle ook meer werk skep en families voed.”

Ma en dogter se harte klop dieselfde as dit by vroue kom. “Ons wil nie net ’n onderneming hê waar ons geld vir persoonlike gewin maak nie, ons wil regtig ’n verskil maak. Ja, ons wil ’n onderneming opbou en ja, ons wil internasionaal uitbrei, maar ons wil dit nie doen ten koste van verhoudings nie. Daar moet ’n      balans wees en dit moet ’n doel dien.”

Foto: Kyra Welch

Soos enige jong onderneming het Rooiboslief ook sy uitdagings. Melissa wys uit dat blootstelling en befondsing die grootste hiervan is. “Jy moet jou naam daarbuite kry en met gevestigde handelsmerke in die bedryf meeding sonder om te veel te spandeer, want ons ploeg nou nog al die geld wat ons maak in die onderneming terug.”

Die Wes-Kaapse departement van landbou het die potensiaal in Rooiboslief raakgesien en dit in 2023 vir hulle finansieel moontlik gemaak om hul produkte individueel te kon verpak. “Dit is nie dat daar nie fondse vir kleinsakeondernemings beskikbaar is nie, dit is net om uit te vind hoe om dit in die hande te kry. Dit is maar ’n leerskool, maar ons is nie skaam om te vra nie en ons bid baie!”

Rooiboslief het ook deel geword van ’n opleidingsprogram van Athari Africa (African Agri Council) waar hulle in kontak met strategiese vennote kom, asook leer hoe om besigheidsbefondsing beter te verstaan. “Die program maak veral vir ons deure vir uitvoer oop.”

Melissa se raad aan entrepreneurs is op die man af: “Jy moet selfs méér deursettingsvermoë as passie hê, want as daar nie geld in die bank is nie, moet jy kan vasbyt. Glo in jouself en in jou produk. Fokus op jou sterkpunte en begin eerder om twee goed ordentlik te doen, as wat jy tien goed half doen. Erken jou swakpunte en kry hulp as dit nodig is. Moenie ’n klomp skuld aangaan as jy nie weet hoe jy dit gaan terugbetaal nie. Wees innoverend, buigbaar en ingelig. Werk volgens ’n begroting en kry ’n mentor. Kom oor jouself en vra! Dit is hoe jy leer.”Melissa en Janeske droom dat hul handelsmerk nasionaal en internasionaal bekender sal word, dat hulle suksesvolle projekte sal aanpak, en dat die regte deure sal oopgaan. Dit is waarskynlik hul onderskeie lewensleuses – The joy of the Lord is my strength en carpe diem – wat dié drome gaan waar maak. Hierdie ma-en-dogter-kombinasie is soos ’n glas ystee op ’n warm somersdag – sambreeltjie, suurlemoenskyfie en al! Nie rooibostee óf planne gaan binnekort vir hierdie twee Rooiboslief-entrepreneurs opraak nie!

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: 10 redes waarom jy die April-uitgawe van rooi rose móét lees!

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Die beste eierbroodjie

Die beste eierbroodjie Lees ook: Spek-en-eier-pasta

28 mins Gelede

Is jy ’n perfeksionis? Hoe vind jy balans?

Deur Maretha Botes Perfeksionisme is ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant motiveer dit jou…

17 hours Gelede

Besoek Stellenzicht se unieke ekowyn-pod vir ’n uitsonderlike wynproe-ervaring

Soos jy aankom, word jy deur welige wingerde en groen heuwels begroet. Die wyn-“pod” self…

19 hours Gelede

Geurige roerbraairys

Hierdie geurige roerbraairys kry die lekkerste dadel-en-sjerrie-hoender by.

22 hours Gelede

Die beste gebruik van herfsblare in jou tuin

Die helder skakerings van oranje, rooi, geel en bruin blare gedurende die herfs is werklik…

23 hours Gelede

Leer jou breipatrone beter verstaan

Ons deel breilesse uit ons argiewe.

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.