kategorieë: Leef gesondGesondheid

Goeie energieplanne wat altyd werk

As jy 20 minute het, sit in die son

Jy voel op en wakker as jou melatonienvlakke bedags laag is – mits dit die vorige nag behoorlik hoog gestyg het. Maar gestel jy het al ’n paar aande hierdie maand baie laat gewerk (jy is seker ’n vryskutjoernalis …) en nou sukkel jy om aan die slaap te raak? Sit vroegoggend ’n rukkie in die son. Dit sal jou liggaam help om sy bioritme te herstel sodat jy kort voor lank weer goed sal slaap.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Nog ’n rede om mooi na jou melatonienvlakke te luister: een van die jongste klasse antidepressante werk op die beginsel dat dit jou melatonienvlakke verhoog, omdat serotonien met die vervaardiging van ekstra melatonien ook opgestoot word. Serotonien is een van die vernaamste goedvoel-hormone. Dus: sit in die son, slaap goed en voel uitstekend in selfs die bedrywigste tyd.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Lees ook: Hoekom voel ek so moeg?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

As jy ’n aand het, sosialiseer

Navorsing wys die gevoel van ondersteuning wat ons ervaar wanneer ons sosialiseer, is ’n wonderlike stresontlaaier. Aan die ander kant is niks so negatief vir ons energievlakke soos ’n diep kuier met Johnny, die Kaptein, JC en Hans nie. Maak dit ’n aand van genot sonder spyt. Eintlik maak jy ’n gek van jouself as jy gekuier raak. Dit gebeur nie sommer met die eerste of tweede glasie nie. Vir party van ons gebeur dit ook nie ná die vyfde glasie nie, aangesien mense verskillende toleransievlakke het wat afhang van hoe groot jou lewer is. Maar gestel iemand maak ’n spesiale bottel oop, of die gasvrou skink Dom Pedro’s vir nagereg? Saamdoen is sosiaal, ás jy ná nog ’n glasie met ongeskonde waardigheid daarvan kan afkom. Kan jy nog een skink, of moet jy dié keer verbyhou?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Dis goed om jouself dop te hou,” sê Sarah-Jane Oosterberg, SANCA-terapeut van Durbanville se Binnepasiënte-behandelingsentrum. “Ons is almal altyd met ’n binne-gesprek besig. Niemand kan jou so goed soos jyself monitor nie. Meet jou aan hierdie vyf vrae:

• Wys my “ware” self reeds? Jou persoonlikheid verander, jou inhibisies verdwyn en jy is impulsief. Jy word die ekstroverte flankeerder en siel-van-die-partytjie. Of die buffel wat met een en elk skoor soek. Of die waaghals wat op elke ingewing van die oomblik ’n oënskynlike stuk pret aanvang.

• Praat ek nou makliker? Aan die ander kant praat party mense al minder en/of voel hulle hartseer.

• Dink ek nog flink? Jou konsentrasie verswak, jy sukkel om jou gedagtes agter mekaar te kry as jy op ’n vraag moet antwoord, en jy volg nie die gesprek nie.

• Hoe is my tong en oog-hand-voet-koördinasie? Voor jy begin rondval, word jy effe lomp, eet jy slordiger, laat jy goed val, moet jy fokus om iets raak te vat, sukkel jy om woorde skerp en afgerond uit te spreek, begin jy lispel en/of praat jy in frases eerder as in volsinne.

• Is ek wakker? Jy voel vaag, tam, lui, pap, afwesig, asof jy sweef. Jy kan vaak voel, jou kop knik kort-kort en jy wil-wil wegdommel.

* Uitkomkans of waagkans? “Ek vra myself altyd af wat die voor- en nadele vir mysélf is? Wat gaan ek wen as ek daardie een te veel drink? Wat kan ek verloor? Die koel meisie is nie onnosel nie.”

As jy 10 sekondes het, drink ’n vitamienpil

Vital se Gold is ’n briljante kombinasie van 32 vitamiene, omega 3’s en minerale wat selfs jou kalsium insluit. Die jongste riglyne is dat ons moet ligloop vir oordosisse van aanvullers omdat hulle jou organe harder laat werk. Aan die ander kant verskaf ons kos nie noodwendig genoeg van alles wat ons nodig het nie. Die oplossing is die goue middeweg: soveel gesonde, vars kos as wat jy kan, saam met ’n vitamienpil wat jou nie ooreis nie. Vital Gold is vir my uitstekend. Dit bevat tot 600 keer die aanbevole daaglikse toelaag (ADT) van vitamien B, waarvan jou liggaam in tye van stres baie meer kan gebruik en baie maklik ontslae raak as jy te veel kry. Maar dit bevat net 67% van ADT van vitamien E sodat jy nie daarvan te veel kry nie. Oorgenoeg van die regte goedjies en nie te veel van die noodsaaklikes nie. ’n Medalje vir Vital – Hulle het pas oorgeskakel na hervulbare houers vir hul produkte, ’n groen idee wat ondersteuning verdien.

Lees ook: 13 wenke vir meer energie

As jy ’n aand tuis het, klim vroeg in die bed

Jy kan weke lank elke nag ’n uur minder slaap as wat jy nodig het en daarmee wegkom. Maar jy bou slaapskuld op. Jy weet jy slaap te min as jy nooit soggens vanself en uitgerus wakker word nie. Haal in op jou slaapskuld en steek vroegaand die kerse aan, of demp die ligte – dit fnuik jou brein om slaaphormone te begin afskei. Kry al jou aandtake klaar en gaan bad met al die bederfgoedjies wat jy vir spesiale geleenthede spaar.

Klim in die bed met ’n lekker boek en musiek. Lees … en dommel salig weg.

As jy ’n Saterdag het, hou ’n geskenkpartytjie

Nie vir jouself nie maar vir minderbevoorregtes. Dit bly ’n waar woord dat dit ’n mens geseënd voel as jy gee. Voel dit vir jou asof die R10 of R100 wat jy kan gee te min is om ’n duik in die tekort van ’n liefdadigheidsorganisasie se Kersbegroting te maak? Hou ’n maak-’n-las partytjie waar elke gas iets bydra sodat julle saam ’n skaflike geskenk bymekaarsit. Idees: ’n kontantskenking; bad- en eetgoedjies vir bejaardes; sagtespeelgoed vir ’n kindersaal; ’n T-hemp en/of ’n paar tekkies vir die nagskuiling se inwoners. As jy van bak en brou hou, doen gerus iets spesiaals, maar jy kan dit ook eenvoudig hou deur ’n pizza-, of vis-en-skyfies-aand te hou waartoe almal bydra. Tapas, broodjies en ’n groot slaai is ook eenvoudig en heerlik gesellig.

As jy 5 minute het, verdwaal op Pinterest

Raak geïnspireerd. Jy kan byna enige woord intik en vir seker sal iets interessants op jou skerm opduik. ’n Woordjie in jou oor: soek ons daar as rooi rose tydskrif of klik hier.

Lyk minder moeg met hierdie skoonheidskulkunsies

As jy 15 minute het, maak mooi met blomme

Koop op pad huis toe ’n bos blomme en ’n paar los takkies groenigheid. Rangskik hulle. En staan terug en slaan jou handewerk gade. Niks is so bevredigend soos om ’n taak suksesvol én met kreatiewe flair af te handel nie. Moenie bang wees nie. Blomme vergewe syferkoppe, tienduimiges en ander onkreatiewes sonder voorbehoud. Die geheim is om óf baie óf net een óf drie te koop.

Nog ’n plus: blomme is kitskleurterapie. Baldadige geel, helder oranje, salmpienk en/of seriesrooi sal die energie deur jou lyf laat bruis en jou kop opnuut in toprat gooi.

Jy kan ook jou eie kombuistuin maak. Klik hier vir ons wenke.

As jy 90 minute het, kry ’n massering

“Neem ’n paar minute en raak bewus van wat in jou hart en lyf aangaan,” sê Dineo van die Woodlands Center for Wellbeing & Day Spa in Muldersdrift. “Is jy moeg? Of eerder gespanne? Die ideale massering is terapie wat pas by jou liggaams- en gemoedstoestand.” Hier is ’n paar soorte masserings:

• Thai-massering werk op jou liggaam se drukpunte en meridiane. Uitstekend as jy oormoeg is.

• Sportmassering werk diep in jou spiere. Uitstekend as jy soggens seer en styf opstaan, of fisiek intens aktief is.

• Massering met aromatiese olies waarvan die olies op die senustelsel inwerk. Kies die olie wat pas by wat jy die nodigste het: nerolie, laventel en ilang-ilang as jy onder baie druk verkeer; swartpeper en gemmer as jy ’n detoks nodig het ná ’n rits oordadige partytjies; of enige van die sitrusolies of ment of roosolie om jou energievlak op te stoot.

• Intonga-massering vir limfdreinering. Uitstekend as jy opgeblaas voel, sukkel met waterretensie of somerallergieë.

As jy een minuut het, eet heuning

Niks laat jou energievlakke so vinnig hoog-skop soos ’n bietjie suiwer glukose nie. ’n Lepel goue heuning is die ideale bron. Kies organies (verkieslik in Suid-Afrika gemaak deur ons eie bye vir die ware, onverdunde Jakob) en kry jy ook ’n bietjie bye-antibiotika (MGO) wat uitstekend vir ’n seerkeel en mondseertjies is. Heuning help ook allergie effens verlig.

Heuning bied ook baie skoonheidsvoordele. Lees meer hier.

As jy een uur het,  gesels hart tot hart

Nooi jou beste vriendin vir koffie of ’n glasie vonkelwyn ná werk, of oor middagete of sommer in die middel van ’n Maandagoggend. Niks is so luuks as om lighartig en geheel en al pligvry op ’n weeksoggend in die vroeg-somer in ’n teetuin te sit en gesels nie.

Is jy moeg weens te min yster?

As jy 30 sekondes het, drink water

Teen die tyd weet ons daardie bottels water wat ons ten duurste in die supermark koop, is gesonder as gaskoeldranke en vrugtesap maar nie groen nie omdat jy daarmee jou plastiekvoetspoor dieper trap. Daar is ’n oplossing: die Bobble. Hierdie stylvolle, kleurryke bottels is elkeen met ’n klein filter toegerus wat chloor en organiese besoedeling uit die water haal. Jy tap doodgewone kraanwater in en drink heerlike gesuiwerde water daaruit. Jou bottel kan 150 liter water filtreer, wat beteken dat jy die klein 385 ml Bobble byna 400 keer kan vol maak voor die filter vervang moet word. Kry by @home, Due South, Totalsports en Cape Union Mart.

As jy 10 minute het, maak ’n gladdejantjie

Maak ’n smoothie met ’n lae GI en jy het energie vir die hele aand, of vir die dag daarna. Hier is ’n paar idees:

• 1 k gekapte aarbeie + 1 e gekapte amandels + 1 e sesamsaad
• 1 fyn gedrukte piesang + ’n hand vol rosyne + 1 e pekanneute + 1 t heuning
• 1 k papaja of mango + 1 grenadella + 1 e sonneblom- of pampoensaad

As jy 40 minute het, sweet!

Enige soort oefening breek streshormone af en help jou liggaam om van opgehoopte afvalstowwe ontslae te raak juis omdat jy meer water moet drink. Oefening sorg ook vir daaglikse gereeldheid. Letterlik enigiets tel – van stap met die hond tot ’n springtou spring.

Ek is gek na my Zumba-DVD, wat in my skootrekenaar se DVD-gleuf bly. Met net twee knoppies (computer /Drive F) klink ’n vrolike samba op wat enige paar voete laat jeuk en jou alle spanning (en ’n gram of twee vetjies) laat uitsweet.

Vir ’n ontspannende opsies kyk by jou naaste Sportsmans Warehouse vir pilates-CD’s vir ’n lekker strek, of vir ’n balansbal-CD om jou maagspiere te versterk.

As jy ses minute het, doen ’n sjokolademeditasie

As jy ’n hele blok sjokolade verslind, skiet jou bloedsuikervlak die hoogte in, net om binne ’n halfuur nog laer te val as daarvoor. ’n Sjokolademeditasie is iets heel anders.

Jy eet (“waardeer”) net een blokkie sjokolade, wat te min is om jou bloedsuiker omver te gooi. Meditasie beteken maar net dat jy jou brein ’n blaaskans gee en aflei van sy werkstake deur volkome op iets wat baie eenvoudig en sonder eise is te fokus. Maak so:

• Breek jou blokkie sjokolade af en luister hoe dit kraak – met ’n dowwe klik of ’n klein skerp knalletjie.

• Bekyk die blokkie ’n paar oomblikke. Kyk na die diep, ryk kleur, die randjies en die vorm. As jou gedagtes dwaal, fokus van voor af op die blokkie.

• Hou dit voor jou neus en asem die geur diep in. Blaas die lug deur jou mond uit. Herhaal ’n paar keer. Watter geure bespeur jy?

• Druk die blokkie teen jou lippe en ervaar die tekstuur en temperatuur daarvan. Watter sensasies skep dit?

• En nou vir die proe. Maak jou oë toe en sit die blokkie in jou mond. Moenie kou nie. Laat dit stadig smelt. Ervaar die warm, ryk opwelling op jou tong, teen jou verhemelte en agter in jou mond.

• Ervaar elke molekule van daardie blokkie sjokolade, tot die laaste daarvan verdwyn. Herroep al jou sensasies en dink met dankbaarheid aan die voorregte wat jou sintuie vir jou bring.

•Haal diep asem en maak jou oë oop.

• En glimlag.

(Wat van jou dieet? Die kenners sê dat as jy “mindful” eet sal een blokkie jou bevredig, en jou eerder op koers hou as jou dieet in die wiele ry.)

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.