kategorieë: Inspirasie

Gom vir groepe

Ons leef in ’n samelewing met ’n verbruikersmentaliteit waar die klem op die individu, verbruikers en deskundiges val. Eintlik kontrakteer ons ons lewens uit: ons betaal skole om ons kinders groot te maak, medici om ons gesond te hou, die polisie om ons te beveilig en ouetehuise om vir ons bejaardes te sorg. Hierdie soort verbruikersdruk bied gekoopte oplossings vir menswees, maar nie die belewenis van gemeenskap nie. Gewone mense met hul kennis en kundigheid word nie na waarde geskat nie. Dit veroorsaak ’n breuk in ons verbondenheid. Maar daar is ’n metodologie wat hierdie instelling kan omswaai en die belewenis van “behoort“ ’n werklikheid kan maak. Die Amerikaanse topverkoperskrywer Peter Block het vroeër vanjaar gemeenskapswerkwinkels in Suid-Afrika aangebied om dit te illustreer. Getrou aan sy filosofie het hy nie op ’n podium kom staan om sy idees te verkoop nie, maar saam met die deelnemers in kleingroepe gesit, geluister en geleer sodat hy ons verhaal beter kon verstaan. Hierdie benadering het my so geïnspireer dat ek verder by Peter gaan kers opsteek het in Cincinatti, Ohio. Hy is deel van ’n netwerk van vrywilligers genaamd A Small Group, wat hulle beywer vir die skepvan ’n herstelde en versoenende gemeenskap in die stad. Die lede van hierdie beweging is ses jaar lank besig met die uitleef en toepassing van Peter se metodologie. Hulle het my laat tuis voel en vir my omgegee op maniere wat ek nog nie voorheen beleef het nie. By Peter se openbare werkwinkels het hy ook belewenisse geskep wat ’n vlak van intimiteit in die kleingroepe gebring het wat ons as deelnemers nou nog laat kontak hou, al leef ons op verskillende vastelande.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Nuwe moontlikhede vir jou kleingroep
As narratiewe gespreksvennoot en fasiliteerder glo ek in die krag van die verhale wat ons oor ons lewe vertel. Peter se eenvoudige metode stel mense in staat om hul verhale te vertel en bemagtig luisteraars om dit met respek te ontvang. Verhale kan vertel word sonder dat daar oplossings of verduidelikings hoef te wees. Deelnemers word ook uitgedaag om die pen op te neem as skrywers van hul eie lewensverhale en die moontlikhede wat daarin opgesluit lê. Hierdie metodologie sien die kleingroep as ’n ruimte vir transformasie en konneksie. Dis die plek waar álmal se stem gehoor en erken word en deelnemers vir mekaar “geskenke” gee. Intimiteit, gasvryheid en verbondenheid staan sentraal. Dit skep ’n ruimte waar ons wonde kan genees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Basiese reëls
l Die kleingroepleier skep die ruimte waar die kennis van elke deelnemer wat besluit het om op te daag, erken en ingenooi word. Deelnemers raak betrokke by die skep van ’n nuwe toekoms gegrond op inklusiwiteit en gasvryheid. Verbondenheid gaan altyd die bespreking van inhoud vooraf omdat ons van mekaar leer slegs wanneer ons werklik aan mekaar verbind is. Leiers bevorder gedeelde eienaarskap deur die manier waarop hulle mense bymekaar bring en die aard van die vrae waardeur hulle deelnemers betrek. Dié soort leierskap probeer nie standpunte verdedig of vinnige antwoorde en oplossings gee nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Gasvryheid oorbrug die grense tussen deelnemers. Ou praktyke wat mense verdeel het in “ons” en “hulle”, kenmerkend van onder meer die apartheidstyd, word vervang deur die siening dat verskille ’n gawe is. Almal is welkom, ook mense wat soos ons lyk en dieselfde taal praat, maar anders as ons dink.
l Deelnemers word genooi om te kom, deel te neem, en eienaarskap van die byeenkoms te neem. Deelnemers kom dikwels bloot om te sien wat die leier aanbied, maar hier word hulle mense wat die byeenkoms kan beïnvloed deur die manier waarop hulle opdaag en deelneem. Elke deelnemer moet toesien dat hulle kry waarvoor hulle gekom het. Hulle kan hulle die volgende afvra:

l Hoe is die manier waarop jy by die kleingroep opdaag ’n voorbeeld van jou lewe? l Watter soort “behoortgevoel” skep ons wanneer ons bymekaar kom?

l Gespreksvennote word op ’n sekere manier gekies
. As die groep uit meer as vyf bestaan, deel julle in groepe van drie. Kies altyd mense wat jy die minste ken en sit met jul knieë 30 cm uitmekaar. Deelnemers mag enige tyd kies om nie aan ’n gesprek deel te neem nie, en het twee tot drie minute om die vraag te beantwoord.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

l Raad gee is onwenslik. Die gespreksruimte is heilig en mense se eienaarskap van hul eie verhaal en moontlikhede word gerespekteer. Dis dus aanvaarbaar as kwessies onopgelos bly.

l Moenie probeer help nie, bly net nuuskierig deur vrae te vra waarop jy nie die antwoorde ken nie. l Moenie raad gee nie, maar bly geïnteresseerd. Die wortels van advies en hulp lê in die gedagte dat die een meer weet van die ander se lewe as hy- of syself, en is gegrond op ongelyke houdings en verhoudings.

Die vertrek as gespreksgenoot

Elke vertrek waarin ons bymekaarkom, kan ’n voorbeeld wees van die alternatiewe toekoms wat ons wil skep. Ons keuse van vertrekke is belangriker as wat ons dink. Dit kan aan deelnemers kommunikeer dat hulle saak maak. Mense dink die beste wanneer daar hoë plafonne is en vensters wat natuurlike lig en lug inlaat, en wanneer die natuur buite sigbaar is.

Die vrae wat ons vra
Hierdie metodologie se doel is om ’n alternatiewe verhaal vir die toekoms te skep deur vrae pleks van deur antwoorde. Die vrae word doelbewus ontwerp om die isolasie wat deur ons verbruikers- en individualistiese samelewing geskep word te bowe te kom en is altyd meervoudig (ambiguous), persoonlik en uitdagend.

Refleksie as vaardigheid
Ná elk van die gesprekke wat hieronder verduidelik word, is daar tyd vir refleksie. Deelnemers bly in hul groepe van drie en word gevra om dit wat hulle in die gesprek getref het, te bespreek. Daarna word hulle genooi om hul refleksies met die groter groep te deel sodat hulle onthou dat hulle deel is van iets groters. Dit leer deelnemers om oor hul ervarings na te dink en refleksie deel te maak van dit wat gemeenskappe saam doen.

Die ses gesprekke wat tel
Die ses gesprekke wat volg, het ten doel om die behoort en omgee terug te sit in kleingroepe en ook die groter gemeenskap te transformeer. Omdat die klem op diepte, intimiteit, geskenke en gasvryheid val, kan enige van dié gesprekke na ’n volgende lei. Hulle help om ’n kultuur van verantwoordbaarheid en verwantskap met mekaar te skep en is op transformasie gemik. Hieronder word die bedoeling van elke gesprek aangedui, gevolg deur die vraag wat die gesprek moontlik sal maak. Lesers kan meer hieroor lees in Peter Block se boek Community: the structure of belonging of die notas aflaai by http://asmallgroup.ning.com

Hoe anders sal die verhale van ons land klink as ons begin fokus op die geskenke wat ons van mekaar ontvang!
1 Uitnodiging eerder as dwang/mandaat Transformasie word geskep deur keuse en vryheid en nie deur mense te dwing om iets te doen nie. Daarom word deelnemers met hul vryheid gekonfronteer en het hulle altyd die reg om “nee” te sê. Hoekom is dit vir jou belangrik om vandag hier te wees?

2 Eienaarskap teenoor blamering As ons bly kla oor die byeenkoms waaraan ons deelneem, bly óns transformasie van ander se transformasie afhanklik. Die prys wat ons vir blaam betaal, is om te sit en wag dat dinge verander. Die voordeel is dat ons niks daaraan hoef te doen nie. Die eienaarskapgesprek voorveronderstel dat ons medeskeppers is van ons wêreld – van hierdie kleingroep, organisasie, omgewing en gemeenskap. Wat is die situasie/probleem waaroor jy gedurig kla? Wat is jou bydrae tot die skep of instandhouding van hierdie probleem?

3 Moontlikhede teenoor probleemoplossing Om moontlikhede vir ons lewe openlik te verklaar, is dikwels op sigself ’n vorm van transformasie. Dié gesprek vra deelnemers om die moontlikhede wat ’n nuwe toekoms moontlik maak met mekaar te deel, as alternatief

4 Andersdenkendheid teenoor lippediens In hierdie gesprek kan deelnemers hul onsekerheid en twyfel deel sonder om dit te verdedig, te verantwoord of te verduidelik Werklike verbintenis (commitment) begin met die moontlikheid om “nee” te sê ten einde uit te vind waarvoor ek “ja” wil sê. Wanneer mense nie die geleentheid gegun word om hul onsekerheid en vrese in ’n veilige omgewing te lug nie, sal hulle jabroers bly. Waaroor twyfel jy? Watter bedenkinge of voorbehoude het jy? Wat is die “nee” wat jy verswyg? Wat is die “ja” wat jy nie meer bedoel nie?
5 Verbintenis teenoor ruilhandel Hierdie gesprek raak die beloftes wat lede maak oor die bydrae wat hulle bereid is om te lewer. Daar is geen verwagting dat deelnemers iets sal ontvang in ruil vir dit wat hulle gee nie, en hulle hoef geen prys te betaal as hulle weier om hul verbintenis in hierdie stadium te verwoord nie. Watter belofte is ek bereid om te maak rakende hierdie saak? Watter prys is ek bereid om te betaal vir die sukses van hierdie poging?

6 Geskenke teenoor tekortkominge Ons samelewing is so behep met tekortkominge en swakhede dat dit groot struikelblokke in die pad van ons genesing plaas. Hierdie metodologie skep ’n ruimte waar deelnemers aanvaar en waardeer kan word vir die geskenke wat hulle bring. Wanneer geskenke openlik verklaar en ontdek ontdek word, skep dit die “behoortgevoel” wat die gemeenskap bou. Geskenke is dit wat ons van elke deelnemer ontvang het in die gesprek waaraan ons deelgeneem het – dit wat ons geraak het, byvoorbeeld: “Rina, dankie vir die geskenk van jou openhartigheid tydens die vertel van jou verhaal.” Daarop antwoord die gewer met: “Dankie”, “Vertel my meer” of “Dit is wat dit vir my beteken”. Reaksies soos “Nee, dis nie waar nie” of verduidelikings is ontoelaatbaar.

Die ses gesprekke kan in enige volgorde vloei, behalwe dat die verbintenisgesprek altyd laaste gevoer word. Ná elke gesprek word daar in die kleingroep gereflekteer oor wat deelnemers tydens die gesprek getref het; die kleingroep se refleksies word met die groter groep gedeel; en geskenke word met elke kleingroeplid gedeel. Gesprekke om etenstafels en braaivleisvure fokus so dikwels net op dit wat verkeerd is met ons land. Hierdie metodologie nooi ons uit om eienaarskap van hierdie probleemstories te neem wanneer ons as kleingroepe en families gesprekke voer. Hoe anders sal die verhale van ons land klink as ons begin fokus op die geskenke wat ons van mekaar ontvang! Elke alternatiewe verhaal kan ’n alternatiewe toekoms, los van die probleme van die verlede, produseer. Ons het die vermoë om saam aan ’n ander verhaal te skryf. Kom ons skep ’n nuwe Suid-Afrika, een gesprek op ’n slag. 

Dr. Chené Swart werk met individue, spanne, organisasies en gemeenskappe. Meer inligting, ook oor haar en Peter Block se pamflet wat sy metodes met die narratiewe benadering kombineer, by 083 467 1891, chene@transformations.co.za of www. transformations.co.za Peter Block is deur Symphonia (www.symphonia. net) na Suid-Afrika gebring. Sy jongste boek is Abundant community: awakening the power of families and neighbourhoods met medeskrywer John McKnight.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.