kategorieë: Bekendes

Katherine Heigl: Prontuit

Katherine Heigl sweef die hotelkamer in Manhattan binne – ’n droom in ’n roomkleurige uitrusting van Michael Kors. Haar blonde krulle is op haar kop vasgesteek en haar glimlag is soos die son wat op’n reënerige dag deurbreek. Vandag gesels ons oor haar fliek, Life as we know it, waarin sy die wederhelf van Josh Duhamel, is. Ná haar rol in Grey’s Anatomy, wat haar ’n Golden Globe besorg het, het dié uitgesproke aktrise vinnig ’n suksesvolle oorgang na rolprente gemaak. Eers Knocked Up in 2007, toe 27 Dresses (2008), The Ugly Truth saam met Gerard Butler (2009) en Killers saam met Ashton Kutcher in 2010.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Katherine en haar man, die sanger Josh Kelley, het ’n Koreaanse babadogtertjie, Naleigh, aangeneem. Min mense weet dat Katherine ook ’n aangenome Koreaanse suster het. Sy is uitgesproke en eerlik, en gee nie voor dat alles in hul lewe maneskyn en rosegeur is nie. En net soos alle ander hardwerkende ma’s moet sy heeltyd tussen haar twee rolle kies. Terwyl sy vir die foto vir rooi rose poseer, erken sy: “Alles gaan goed totdat ek werk toe moet ry. Dan begin Naleigh huil. En dan wil my hart breek. As ek haar troos, word dit net al erger. Ek wil by haar bly, maar ek wil ook my werk goed doen. Dit voel altyd vir my asof ek iewers moet wees waar ek nie is nie.” Oor haar huwelik is sy net so verbasend eerlik: “Josh moet meer luister. Hy is so passievol oor sy musiek en raak heeltemal meegevoer, maar vergeet om my te vra hoe my dag was.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Toe ek haar vra hoe hulle hul huwelik vars en opwindend hou, lag sy net: “Anders as wat die meeste mans dink, weet vroue dat romantiese komedies nie die werklikheid is nie. Ons verwag nie ’n fantasieverhouding nie. Hulle moet net soms vir ons iets romanties doen.” Dié selferkende perfeksionis is die jongste van vyf kinders. Afgesien van haar aangenome suster het Katherine drie broers van wie een in 1986 in ’n motorongeluk dood is. Sy is ’n warm, oop en lewenslustige vrou met sterk menings. Tog kan ek nie help om te dink dat as sy ’n man was, daar nie so ’n groot ophef oor haar sterkstandpunte gemaak sou word nie.

Met die verfilming van Life As You Know It, het jy die eerste keer ouerskap in die werklike lewe en in ’n fliek ervaar. Was dit vreemd?

My dogter, Naleigh, het omtrent twee maande vroeër gekom as wat ons haar verwag het. Ons het haar gekry vier dae voor ons Atlanta toe sou vlieg om aan die fliek te begin skiet. Dis was erg. Daar was oomblikke wat ek gedink het ek kan nie albei doen nie, maar ek kon nie kop uittrek nie, want ons moes binne dae aan die fliek begin skiet. Ek het net besluit dat ek dit kán doen. Ek moet net georganiseerd wees en die doekesak reg pak. Dit was eintlik onwerklik. Dis moeilik om die gebeure te onthou, want my kop was op dertien duisend verskillende plekke gelyktydig. Ek het baie goed geleer oor hoe om ’n nuwe ma te wees terwyl ons die fliek gemaak het (lag). Dis amper soos ’n lewende dagboek, want alles wat ek met Naleigh beleef het, het my karakter ook beleef, al daardie klein goedjies wat my altyd sal laat dink aan my eerste paar maande as ’n nuwe ma.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Julle en Josh Duhamel en sy vrou, Fergie van The Black Eyed Peas,is vriende. Was dit nie ongemaklik om hom te soen nie?
Om my man se vriend te soen? Dit was nogal ongemaklik, ja. Maar dis deel van die werk. Ek doen dit al my hele lewe lank. Die moeilikste was toe ek 14 was en dit die eerste keer voor die kamera moes doen. Daarna was dit maklik. En kom ons wees nou maar eerlik, dis nie so moeilik om Josh Duhamel te soen nie. Ek het ook veilig gevoel omdat ek hom ken. Ek kon hom vertrou en hy kan my vertrou. En ons kon almal ná die tyd daaroor lag.

Sal jy teruggaan Grey’s Anatomy toe, en hoekom is jy daar weg?

Ek is ná ses jaar daar weg, want saam met my rolprentwerk het dit te erg geword. En ek wou met ’n gesin begin. Dit het reeds gevoel asof ek ma-wees te lank uitgestel het – ter wille van my loopbaan. Ek dink nie ek sal kan teruggaan nie. Daardie hoofstuk van my lewe is verby. Die karakter is ook op so ’n manier uitgeskryf dat dit nie moontlik sal wees om haar op ’n geloofwaardige manier terug te bring nie.

Daar is ’n wonderlike oomblik in Life As You Know It waar die dogter aan jou vat en “mama” sê. Wat maak van jou ’n ma? En wanneer het jy die eerste keer soos ’n ma gevoel?
My eerste instink was vrees (lag). Dis ’n groot verantwoordelikheid en nou jou plig om die kind veilig, gelukkig en warm te hou en kos te gee. My moedersinstink en onvoorwaardelike liefde het geleidelik gekom ná ek ’n bietjie van die vrees en verantwoordelikheid kon afskud. Nie dat ek nie meer verantwoordelik voel nie, maar dis nou meer instinktief. Dit was dieselfde met my karakter in die fliek. Naleigh het ook na my gekyk en “Mama” gesê, maar dit het langer gevat. Sy het eers “Dada” gesê. Ek was nogal seergemaak (lag), maar Josh is ‘n fantastiese pa. Die dag toe sy uiteindelik “Mama” gesê het, was oorweldigend. Wanneer jy besef dat jou kind die belangrikste ding in jou lewe is, selfs belangriker as jyself, dan is jy ’n ma.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe sien jy jou ontwikkeling as aktrise?
Dit verander elke jaar. Die stories wat my aantrek en die karakters waarop ek verlief raak, verander soos ek verander. Life As You Know It het my aangetrek omdat ek besig was met aanneming. Toe ek die draaiboek lees, kon ek my met die idee van ’n kitsgesin vereenselwig, want dit was besig om met my te gebeur. Dis gewoonlik die geval met elke draaiboek wat ek kies. Sommige akteurs glo jy kan net ’n goeie akteur wees as jy ’n rol vertolk wat glad nie soos jy is nie, en dis seker waar, maar ek is nog nie daar nie. Ek hou daarvan om vroue te speel na wie ek kan opsien en respekteer. As ’n vervaardiger wil ek goeie stories vertel. Ek dink die wêreld het inspirerende, positiewe stories nodig, maar lawwe, snaakse stories ook.

Jy is uitstekend in romantiese komedies. Wat daarvan staan jou aan en waarvan hou jy nie?

Ek hou daarvan om na twee mense te kyk wat goeie chemistry het, te sien hoe hulle ’n konneksie maak en hoe dit in ’n romantiese storie ontwikkel. Ek hou nie daarvan dat sommige vroue dink verhoudings moet soos ’n romantiese komedie verloop nie. Dis ’n baie groot veralgemening. My vriendinne en ek is nie idiote nie. Ons weet dis ’n fantasie, ’n sprokie soos Sneeuwitjie. Ons weet ons verhoudings is meer realisties, so ons mans kan ontspan. Ons verwag nie hulle moet ons soos ridders op wit perde kom “red” nie. Maar ’n titseltjie romanse kan lank hou. Vat my net so nou en dan uit. Dis al.

As dinge moeilik gaan, kom humor dikwels na vore. Hoe hanteer jy al die takies wat met ouerskap gepaardgaan?
Al die nuwe gizmos maak dinge net moeiliker vir ouers. Dis oorweldigend. Daar is te veel opsies. Ek wil die beste karstoel, die beste stootwaentjie en die beste kos vir my kind koop, maar ek weet nie waar om te begin nie. Daar is niks so frustrerend soos wanneer die duur karstoeltjienie in die basis wil inknip nie en die baba huil en jy is haastig. Ek is deesdae pal laat. En ek kry nooit die stootwaentjie weer opgevou nie. Hoekom moet hulle dit so moeilik maak? ’n Jaar later het ek ookgeleer om nie meer soveel goed in die doekesak te pak nie. Sy speel in elk geval nie met haar duur speelgoed nie, maar verkies my leë waterbottel waterbottel. En dis regtig ook nie nodig om vyftig doeke in te pak nie.

Wat is die moeilikste ding wat jy as ouer geleer het, en dink jy dis ’n opoffering om ’n ouer te word?
Ja, jy offer baie van jouself op. Maar ek dink dis ’n goeie ding, want my wêreld het net oor myself gegaan. Ek was dankbaar omdat ek suksesvol was, maar was tog op soek na iets meer betekenisvol. Toe Naleigh in my lewe kom, het ek dadelik geweet sy gaan die belangrikste iets in my lewe wees – nie dat die ander dinge niebelangrik is nie. Dis my grootste stryd as werkende ma: die ewigdurende skuldgevoel. Ek wil werk en hou ontsettend baie van my werk, maar as ek nie by Naleigh is nie, voel ek angstig en skuldig omdat sy by haar oppasser is en waarskynlik ’n fantastiese dag in Central Park beleef en ek kan nie daar wees nie. Dis regtig moeilik om moederskap en werk te balanseer. Toe ek my onlangse fliek klaar geskiet het, het ek besef ek móét eenvoudig net vrede maak daarmee. Wanneer ek by die werk is, werk ek. Wanneer ek by die huis is, is ek mamma en die beste ma wat ek kan wees. Ek kan nie besig wees met ’n toneel en terselfdertyd aan haar dink nie, dit werk net glad nie.

Is dit regtig so wonderlik om op die rooi tapyt te loop, en hoe raak negatiewe opmerkings oor jou klere jou?
Aan die begin was die rooi tapyt ’n ongelooflike ondervinding. Ditwas ’n droom wat bewaarheid is. Ek kon nie glo ek dra ’n ontwerpersrok by ’n geleentheid wat ek jare lank op televisie gevolg het nie. Maar ’n mens is ook onder baie druk. Jy wil indruk maak, en soms waag jy kanse. En wanneer jy die foto’s sien, wonder jy hoekom op aarde jy dit gedra het. Maar dit bly opwindend. Elke meisie wat van mode hou, sal opgewonde wees om ’n ontwerpersrok en fantastiese juwele te kan leen en om voor die kameras te poseer. Dis nie ’n marteling nie, maar daar is baie druk. Ek probeer nog om myself te leer dat dit nie regtig belangrik is nie.

Jy en Josh Duhamel se karakters ontmoet mekaar op ’n toe-oëafspraak in die fliek. Het jy al nare ondervindings gehad met so ’n afspraak?
Ek was nog nooit op so ’n afspraak nie, maar het wel twee baie slegte dates gehad. Die eerste ou was ’n afrigter by my gim. Hy was heel aantreklik, maar het sy beenhare geskeer wat ’n bietjie vreemd was. Voor ons ’n voorgereg bestel het, het hy vir my sy headshot gegee en gevra of ek dit vir my agent sal gee. Ek het baie gou ’n hoofpyn ontwikkel en hom gevra om my huis toe te neem, want hy het vir seker nie in my belang gestel nie. Die tweede ou, kom ons noem hom “Hollywood”, was die hele afspraak deur op sy selfoon, en ek is seker daar was niemand aan die ander kant nie. Hy wou net soos ‘n grootmeneer lyk. Hy was ’n vervaardiger wat nog nooit iets vervaardig het nie, en het heeltyd hierdie kamma-oproepe beantwoord. Ek het maar weer ’n hoofpyn gekry en is huis toe.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.