kategorieë: Ons menseBekendes

Greteli Fincham oor Matriekafskeidblapsies en Calvinia se “anderste” mooi

Greteli Fincham oor Matriekafskeidblapsies en Calvinia se “anderste” mooi – Zoë Salzwedel. Hooffoto: LORA Photography (verskaf)

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ambisieus, talentvol en hardwerkend is maar enkele woorde om dié jong aktrise te beskryf. Nie net het sy vanjaar matriek geskryf nie, maar ook in twéé KykNET-reekse gespeel en verder aan nóg een geskiet. Tussen dramalesse, skool en rekordeksamen skryf. het sy boonop nog tyd gevind om naam te maak as aktrise. Greteli was vanjaar op die kassie te sien as die 17-jarige Elani Malan in die gewilde familiedramareeks, Alles Malan, en die jong Annabel in KykNET se Dwaalster.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Kyk ’n mens na Greteli op die skerm, sou jy nooit kon raai dat sy eintlik maar taamlik skugter was as klein dogtertjie – drama was juis haar ma se idee om haar skaam dogter uit haar dop uit te laat kruip. Maar sedert Greteli se eerste rol as Heidi in die kleuterskoolkonsert, het sy ’n ver pad gestap. In 2019 het sy haar TV-debuut gemaak met ’n klein rolletjie as die jong Annabel in Dwaalster, en daar en dan besef dat sy in die vermaaklikheidsbedryf wil werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Op haar Instagram-profiel is sy nooit sonder ’n groot glimlag op haar gesig nie, en mens kom vinnig agter dat sy baie lief is vir lees, diere en tussen mense wees, maar wie is Greteli Fincham nou eintlik? Ons het gaan uitvind…

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

                                       Foto deur LORA Photography

1. Jy was vanjaar in matriek aan die Hoërskool Stellenbosch. Hoe het jy ’n balans gevind tussen skool, ’n sosiale lewe en verfilming aan nie net een nie, maar drie kykNET-reekse? 

Ek gaan nie vir jou lieg nie, dít was ongelooflik moeilik! Dwaalster was nie so ’n groot probleem nie, want ons het baie kort geskiet daaraan – dit eintlik net vir my gevoel soos ’n kort vakansietjie, want ons het op Calvinia geskiet, en dit was wonderlik! Die perfekte wegbreekkans.

Alles Malan was ’n ander storie – daaraan het ons 3 maande geskiet! En boonop het ons ook aan die Blood & Water-reeks vir Netflix tydens my Junie- en rekordeksamen geskiet. So dit was baie moeilik, maar ek moet sê die skool het alles in hulle vermoë gedoen om my skedule te akkommodeer. Hoërskool Stellenbosch het my ongelooflik baie ondersteun! Ek onthou ek het tydens die verfilming van Alles Malan sommer in een van die babawinkels waarin ons op daardie stadium geskiet het, op die grond gesit en een van my toetse geskryf. Die skool het my toegelaat om opsteltoetse te skryf. Hulle het ook ’n persoon aangestel om oor my toesig te hou terwyl ek so weg van die skool af vraestelle en toetse moes inhaal.

Ek is hulle baie dank verskuldig, want hulle het my op elke manier moontlik ondersteun.

Hoewel dit nie aldag maklik was om op skool én verfilming te fokus nie, is ek dankbaar vir die hele ervaring. Dit het my van self-dissipline en tydsbestuur geleer, iets wat ek vorentoe in my lewe nog baie gaan gebruik. Jy stap byvoorbeeld soms eers 1 uur die oggend by die huis in, en na ’n lang dag van skoolgaan en op stel wees, moet jy nog leer vir eksamen en klastoetse, maar ook tyd vind om jou woorde vir die volgende dag se tonele in jou kop te kry. So dit was moeilik, maar ek het gevind hoe minder tyd ’n mens het, hoe meer besef jy dit moet nóú gebeur. Jy moet net fokus!

2. Vertel ons van jou matriekafskeid. Wat was vir jou die lekkerste deel van dié spesiale dag? En wat het jy die meeste geniet?

My matriekafskeid was ongelooflik lekker al het dit nie 100% glad verloop nie…

Seker die ergste ding wat met enige meisie op haar matriekafskeid kon gebeur, het gebeur. Toe ek by die vooraf-partytjie buk om ’n knippie wat uit my hare geval het, op te tel, het die rug van my rok geskeur. Ek het paniekerig begin soek na staplers, maar gelukkig was daar ’n gawe vrou wat my dilemma raakgesien het en dadelik ’n naaldwerkstelletjie uit haar handsak gepluk het. Sy kon gelukkig my rok weer mooi vaswerk, maar dis nie al nie…

Met ’n heel rok en ’n verligte sug, stap ek bly by die badkamer uit – mooi netjies vas in die kelnerin wat glase vol sjampanje op ’n skinkbord ronddra. Al wat ek (met ’n rok vol sjampanje en ’n geskokte uitdrukking op my gesig) kon doen, was om te lag. ’n Lekker uit-die-maag-lag lagbui, en skielik was die ys gebreek. Niks kon tog meer verkeerd loop nie, so al wat ek kon doen was om dit te geniet.

Gelukkig het dié blapsies my matriekafskeid onvergeetlik gemaak en het die res van die aand foutloos en perfek verloop.

3. Vertel ons van jou matriekafskeidrok en jou metgesel se kleurvolle strikdas!

My pragtige rok is ontwerp deur Suné Snyman – sy het getoor met haar kuns!

Geel is nog altyd my gunstelingkleur, en ek het altyd gespot en gesê dat my matriekafskeidrok eendag ook geel moet wees. Maar ek het nooit gedink ek sal bold genoeg wees om dit wel te doen nie, want geel is mos maar ’n moeilike kleur en nie altyd almal se gunsteling nie!

Ek het vir Suné ontmoet by ’n Alles Malan-ete en sy sê toe dat sy baie graag my matriekafskeidrok vir my sal wil maak. Ek het haar toe by haar ateljee gaan sien, en met die eerste materiaal wat sy uithaal – die mooiste geel lap ooit– geweet “Daai’s die lap. Daai is mý lap!” Twee aanpas-sessies later, is die rok gemaak en absoluut perfek. Sy is só talentvol! Ek hou van plain, eenvoudig en stylvol, en dis presies wat ek gekry het.

Oor my metgesel, Theunis Botha, se strikdas… Ek is baie lief vir Vincent van Gogh se wêreldbekende skildery “Starry Night”, en ek het vroeër vanjaar vir Theunis “Starry Night”-sokkies gegee. Hy sê toe dat hy sommer dié sokkies na ons matriekafskeid toe gaan dra en dat ons vir hom ’n bypassende strikdas moet soek. Ongelukkig kon ons nie só ’n strikdas in die hande kry nie, en besluit toe maar op ’n hout-strikdas. Ek het toe besluit om sommer self ’n klein weergawe van “Starry Night” op die hout-strikdas te verf – dit was baie spesiaal, en baie sweet van hom gewees om my toe te laat om dit wel te doen.

4. Wat is jou planne vir 2020?

Wel, ek gaan nog nie swot nie…

Ek hoop en bid vir rolle en werk, maar weet ook jy kan nie noodwendig al jou geld daarop sit nie, wat in dié bedryf is ’n mens nie altyd verseker van werk nie. Jy kan soms vir 6 maande by die huis sit sonder enige oudisies wat voorlê of nuwe reekse wat begin, en binne ’n oogwink kan dit nét so verander en jy kan amper nie by al jou verpligtinge uitkom nie…

Maar ek is besig om nou baie hard te werk aan twee klein besighede wat ek reeds op skool begin het – ek doen fotografie (@frambroos) en illustrasies (@heuningbos).

Op hierdie stadium doen my illustrasiebesigheidjie baie goed! Volgende jaar trek ek na ’n kantoor by die P.J. Olivier Kunssentrum waar ek gefokus kan werk aan my passies.

Ek beplan ook om ’n paar kursusse in fotografie te doen en ook ’n hele paar kortkursusse in goed wat ek “agter die skerms” en op stel kan doen (soos grimering, dekor en wardrobe).

Ek voel ’n mens moet maar vir jouself werk skep, want jy is nie noodwendig altyd 100% gewaarborg van ’n werk nie.

5. Wanneer het jy besef jy wil graag eendag in die vermaaklikheidsbedryf werk?

Ek dink ek het op Dwaalster se stel vir die eerste keer besluit dat dít iets is wat ek vir die res van my lewe wil doen. Dit was ook my eerste ervaring voor die kamera. Ook die eerste keer waar ek kon sien hoe die bedryf werk en besef het dat almal op stel eintlik maar net ’n groot familie is met dieselfde passie vir stories vertel.

Ek was baie skaam toe ek jonger was, en het nooit in my wildste drome gedink dat ek dalk eendag ’n beroep in die vermaaklikheidsbedryf sou oorweeg nie. Maar my ma het my vir dramaklasse gestuur en die gogga het gebyt! Maar steeds het ek nie gedink dat ek eendag ’n aktrise wil wees nie. Ek het eers op die stel van Dwaalster besef dat dié iets is waarvoor ek lief is en wat ek geniet.

                                      Foto deur Ramzi Manzour

6. Wat is die opwindendste deel van ’n lewe in dié bedryf?

Sjoe, daar is eintlik soveel opwindende fasette van die bedryf, maar ek dink om die heeltyd nuwe mense te ontmoet en bande te bou is die heel lekkerste. Ek geniet dit ook vreeslik om nuwe karakters te leer “ken” en aan die karakter en stories lewe te gee. ’n Mens kry natuurlik altyd ’n breë oorsig oor jou karakter en sy eienskappe, maar daar is steeds altyd gaps wat jy self moet invul en eienskappe waaraan jy self moet pleister en kap en vorm… En dís vir my baie opwindend. Veral die karakternavorsing: om te kan besluit, hierdie is wat met jou karakter gebeur het, hierdie is die motivering hoekom jou karakter so opgetree het, en hierdie is jou karakter se reaksie hierop…

Dis vir my baie opwindend om stories te kan vertel en jou eie karakter verder te ontwikkel en te leer ken.

Dis ook natuurlik heerlik om bande en vriendskappe te vorm met die mense saam met wie jy werk, veral as ’n mens lank aan iets skiet, soos in die geval van Alles Malan. Almal het vir my soos familie geword en ek het daar werklik lewenslange-vriendskappe gemaak.

7. Watter les(se) het jy by jou karakter, Elani, in Alles Malan geleer?

Genade, Elani het vir my baie lesse geleer. Ek sê elke keer vir Corné en René van Rooyen, wat die regie behartig, net “Wow! Dankie julle. Hierdie girl is amazing. Ek wil meer soos sy wees.”

Een van die grootste lesse wat ek by Elani geleer het, was om te besef dat dit OK is om foute te maak. Solank jy net opstaan en aangaan. Ook om selfstandig te wees en verantwoordelikheid te neem vir jou aksies.

Dit klink dalk partykeer dom as ’n akteur sê “Jissie, ek is so into my karakter” of “Mens sukkel om van jou karakter ontslae te raak” of “Mens leer so baie by jou karakter…” Maar dis die eerlike waarheid! Vir drie maande lank was Elani deel van my lewe. En dis moeilik om soms te onthou dat dit nét ’n karakter is – ek sien nou nog soms in my optrede van Elani se karaktereienskappe, of dink partykeer hoe sy sou dink. Ek het ook baie van haar manierismes aangeleer en moes baie van haar “optredes” afleer na verfilming. Nie noodwendig omdat ek wou nie, maar om “plek te maak” vir ’n nuwe karakter, moes ek. Dit was ’n voorreg om haar te kon leer ken en lesse by haar te leer – ek vat dit in my toekoms in.

8. Watter boodskap neem JY uit Alles Malan uit, en hoekom?

Een van die boodskappe wat ek uit Alles Malan neem (en ja, dis een van my gunsteling lines) is definitief “’n Malan maak ’n plan!”

Vandag is dit so maklik om op te gee en net op te hou probeer, en ek dink ons moet regtig ophou opgee. As iets nie uitwerk nie, probeer net weer. Werk hard, probeer weer. Maar werk nét, want goed gaan nie net in jou skoot val nie! As iets nie uitwerk soos wat jy wou hê dit moes uitwerk nie, aanvaar dit so. Glo  dat jy later die groter prentjie sal sien oor hoekom dit nie uitgewerk het nie – dat jy dalk later kan besef dat dit eintlik beter was so.

9. Wat was vir jou die moeilikste deel van jou rol in Alles Malan – ’n jong vrou wat skielik self op 17 ’n ma gaan word. En hoekom was dít spesifiek vir jou moeilik gewees?

Jinne, ek moet sê dit was ’n moeilike rol om met die deur in die bedryf te val… (Hahaha!)

Ek het nie gedink my eerste groot rol sou een wees van ’n swanger hoërskoolmeisie nie, maar dit was ’n voorreg om die rol van Elani te kon vertolk.

Ek dink regtig wat vir my moeilik was, was eerstens fisies (ek meen, hoe speel jy ’n swanger vrou?). Ek moes baie navorsing doen oor swangerskap, hoe gaan sit jy op dié stadium van swangerskap, hoe loop jy as jy soveel weke swanger is, waar kry jy pyne…

My karakter het ook deur die loop van die reeks hormonale puisies gekry, so ons moes mooi oplees oor op watter stadium en waar is vroue geneig om puisies te kry tydens swangerskap.

Maar ek dink ook om in die space te kom van hoe kom jy tot die besef van “Wow, ek is 17 jaar oud en ek gaan binnekort ’n ma wees.” Hoe hanteer jou karakter dit. So ja, in dié geval was die karakternavorsing vir my die lekkerste, maar beslis ook die moeilikste deel van die rol. As aktrise wil jy tog jou karakter so geloofwaardig moontlik maak en om motivering te kry vir ’n karakter se spesifieke optrede/reaksie wat beslis uitdagend. Ek moes myself in Elani se skoene plaas en probeer uitvind hoe sy die besluit geneem het om die baba te hou en die keuse te maak om ’n ma te wees.

10. Vertel ons hoe jy betrokke geraak het by Dwaalster.

My dramaonderwyser stuur gewoonlik vir ons besonderhede oor oudisies aan – as sy hoor van iets waarin sy dink een van ons sal goed pas, sal sy ons daarna verwys.

Hulle het ’n jonger weergawe van Tinarie van Wyk-Loots nodig gehad vir Dwaalster en ek dink ek was net baie gelukkig omdat ek wel baie soos Tinarie lyk. So, dis al hoekom ek die rol gekry het. Ek dink nie ek was op daai stadium regtig goed nie, net gelukkig genoeg om soos Tinarie te lyk.

11. Wat was vir jou die lekkerste deel van verfilming aan Dwaalster, en hoekom?

Beslis om nie tuis te skiet nie. Ons het op Calvinia geskiet en dit was absoluut heerlik! Calvinia is net ’n ander tipe mooi – droog en dolleeg, maar tog gevul met soveel mooi(soos die soutpanne en die mense). Ek het dit vreeslik geniet op dié klein dorpie en om die mense te leer ken.

Ek dink ons was altesaam ses dae (met ’n breek tussenin) daar en in daai ses dae het ek amper met almal op die dorp gesels want dis regtig ’n klein dorpie waar almal mekaar ken en ondersteun.

12. En laastens wil ons weet: Wie inspireer jou, en hoekom?

Daar is ongelooflik baie goed wat my inspireer – mense, dinge, diere… Ek sê altyd vir ander my lewe is soos ’n blomboks waarin daar ’n klomp verskillende saadjies geplant is wat verskillende areas van my lewe verteenwoordig. En verskillende mense, dinge, diere of gebeurtenisse wat my inspireer, kom maak daardie saadjies nat en veroorsaak dan dat dit groei in sterk plante met die mooiste blomme. En later is dit ’n mooi blomboks as gevolg van ander mense wat my help groei en inspireer.

Maar ek dink mense wat sterk staan in hulle waardes inspireer my altyd, en ook mense wat nie pretensieus is nie en net ís wie hulle is. Mense wat nie probeer om ’n beter prentjie voor te gee om ander te beïndruk nie.

Volg gerus vir Greteli op Instagram.

Deel
Gepubliseer deur
Zoe Salzwedel

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.