Jy kan herstel van trauma

Deur Anet Schoeman. Foto: Ridofranz/istock images

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Teleurstelling en pyn is deel van die lewe, sê dr Tessa van Wijk, traumatoloog en skrywer van die boek Trauma: riglyne vir slagoffers. “Tog is trauma een van die moeilikste dinge waarmee jy vrede moet maak en aanvaar. Die meeste mense ervaar teleurstelling en emosionele pyn erg persoonlik. Hulle voel maklik dat hulle die enigste mense is wat al so iets beleef het. Dis asof ons perspektief verloor en te veel fokus op hoe goed dit met ons vriende en familie gaan en ons dan oormatig met hulle vergelyk.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Kry perspektief

Tessa glo dis uiters belangrik om so gou moontlik ná ’n pynlike ervaring of teleurstelling perspektief te kry. “Dis moeilik om perspektief te kry as jy in die situasie is, daarom stel ek voor dat jy met iemand praat – dit kan ’n vriend wees. As jy eers ’n bietjie afstand gekry het, is dit makliker om realisties na jou trauma te kyk. Gebruik ’n vriend as ’n klankbord – dit werk fantasties.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wees geduldig

“Moenie verwag om dadelik lig in die donker tonnel te sien nie. Dit duur ’n rukkie, maar namate jy deur jou teleurstelling en pyn werk, sal jy weer die mooi in die lewe begin raaksien. Dis belangrik om jou pyn in die oë te kyk. Dit help nie jy vee dit onder die mat in en hoop dit gaan verdwyn nie. Hoe gouer jy die kwessie takel, hoe gouer gaan jy helderheid kry.”

Wat het ek geleer?

Dis moontlik om uit ’n terugslag te leer, mits jy oop is vir groei. “Vra jou af wat jy uit die ervaring geleer het, en hoe jy jou lewe kan herrangskik om daarmee saam te leef. Of wat kan jy anders doen om ’n herhaling te voorkom? As jy ’n student is wat gedruip het, kan jy kyk hoe jy dinge anders kan doen om te verseker dat jy die volgende jaar slaag. Pyn en teleurstelling dwing ons soms om ingrypende besluite te neem, soos om na ’n ander dorp te verhuis, of veranderinge aan ons lewenstyl en waardestelsel te maak.”

Oorwin skaamte en vernedering

Tessa sê vernedering en skaamte is hekkies wat dit moeilik maak om oor trauma te kom. “’n Tegniek wat ek baie doeltreffend in terapie aanwend, is om ’n persoon te begelei om die skaamte en vernedering te konfronteer. Dit help nie jy loop draaie om die kwessie, of probeer dit ignoreer nie. Jy kan net vorder as jy aan jouself erken dat jy skaam of verneder voel oor wat gebeur het.

“Dit help as jy die woorde hardop vir iemand sê. Dan vra jy jou af of daar enigiets is wat jy kan doen om die situasie te verander. Gewoonlik is die antwoord nee. Die volgende stap is om aan jouself te erken dat dit nie help om tyd te mors op iets waaraan jy niks kan verander nie. Gevoelens van skaamte en vernedering gaan dit ook nie verander nie.

“Wat kan jy doen? Sit die skaamte in ’n spreekwoordelike pakkie in jou kop, draai ’n rooi strik daarom en laat dit gaan.” Tessa grond hierdie prentjie in die werklikheid deur voor te stel dat ’n mens langs ’n verbygaande trein staan en wanneer die trokke verbyflits, gooi jy elke ding waaroor jy skaam is op ’n trok. As die trein verby is, moet jy vir jouself sê: “Nou is dit klaar.” As die negatiewe gedagtes terugkom en jou teister, moet jy jou daaraan herinner dat jy dit afgehandel het en nie meer daarmee hoef te worstel nie.

Hanteer emosionele pyn so

Die gemeenskap ondersteun mense in gevalle van siekte of die dood. Maar wanneer ’n liefdesverhouding verbrokkel, of jy deur ’n skande worstel, staan jy soms alleen in die storm. “Dis belangrik om die pyn in die oë te kyk en dit te prosesseer. Praat met ’n terapeut of ’n vriend daaroor. As daar niemand is met wie jy kan praat nie, moet jy ander maniere kry om uiting aan jou emosies te gee sodat jy nie die pyn onderdruk nie. Onthou, die kans is groot dat jou vriende, familie of kollegas nie verstaan waardeur jy gaan nie. Die onus is op jou om maniere te kry om hierdie pyn te verwerk.”

Dis bevrydend om daaroor te skryf en al hou jy ’n joernaal net vir jouself, of skryf e-posse aan ’n denkbeeldige vriend, gaan dit jou help om sin van jou emosies te maak.

Moenie terugkyk nie

As jy nie oor die pyn van jou trauma kom nie, bly jy hunker na die verlede toe dinge anders was. Dit help nie. Die pyn is ’n werklikheid en ontkenning werk nie. “Haal die pyn uit, ervaar dit, huil of skree dit uit. Raak in jou privaatheid of in terapie daarvan ontslae. Hoe meer jy daarmee omgaan, hoe vinniger haal jy die angel uit die trauma. Hoe meer jy dit onderdruk, hoe groter word die pyn.

“Tog moet jy ook by ’n punt kom waar jy vir jouself kan sê: ‘Dis nou genoeg.’ Dan neem jy ’n wilsbesluit om die pyn af te sluit en dit gaan gewoonlik ook met vergifnis gepaard. Jy maak jou los van die pyn en neem weer beheer van jou lewe. Dis harde werk, maar die pyn gaan nie weg omdat jy dit probeer vergeet nie. Jy moet doelbewus aan genesing werk.”

Waar kry jy hulp?

As jy vashaak in jou pyn en huilerig en buite beheer bly voel, is dit die beste om dadelik ’n professionele terapeut te gaan spreek. Al is dit net vir twee of drie sessies. Hou aan soek tot jy die regte pasmaat in ’n terapeut kry. Ons gaan spreek maklik ’n ander spesialis vir ’n tweede mening, maar gooi tou op as ons nie openlik met die eerste terapeut kan praat nie. Dis belangrik dat jy die persoon met jou emosies kan vertrou. Ná ’n paar sessies kan jy besluit of dit genoeg is. Medikasie is net nodig wanneer jy ’n chemiese wanbalans het. Uit studies het dit geblyk dat oefening soms net so doeltreffend soos anti-depressante is om jou beter te laat voel. In die regte omstandighede is medikasie goud werd, maar dit gaan nie die pyn verwerk nie. Dít moet jy steeds op jou eie doen.

Sê tog iets

Nie alle mense praat maklik oor hul gevoelens nie. Mans is oor die algemeen minder geneë om emosionele sake voor jou uit te pak en laat ander magteloos voel in hul pogings om te help. Tessa sê dis belangrik om eers te bepaal wie die regte mens is om met hulle te praat.

“Dit hoef nie noodwendig sy vrou te wees nie. Soms voel mans skaam oor wat gebeur het (soos in geval van bankrotskap), of hy is bang dat jy hom gaan verwyt. Vra dus: ‘Met wie sou jy graag oor jou probleem wou praat?’ Laat hy die persoon identifiseer en berus daarby. Onthou ook om te vra wat hy wil hê jy vir hom moet doen. As jou man eerder alleen wil wees, respekteer dit.”

Trek ’n streep

As dit by trauma kom, werk die “kop in die sand”-tegniek glad nie. Jy dink dalk jy oorwin daardie emosies deur dit iewers in ’n donker hoekie weg te steek, maar die oomblik wanneer enige ander krisis gebeur, oorval dieselfde magtelose gevoel jou weer en word die uitwerking daarvan elke keer ’n bietjie erger.

Karin Carstens was tien jaar gelede in ’n mislukte motorkaping. Die mans wou met haar wegry maar sy het met hulle gestoei toe hulle haar wou saamvat. ’n Verbyganger het haar gered en sy het ongedeerd daarvan afgekom, maar die emosionele littekens was meer verreikend. “Ek het ’n paar sessies by ’n berader gehad en het gevoel ek is oor die ding. Ek het steeds nagmerries gehad, maar gereken dis normaal.”

“Twee jaar gelede was daar ’n rooftog by ons gastehuis en die sekuriteiswag is in die kattebak van die motor
gedwing en hulle het van outobank tot outobank met hom gery. Ek was nie eens by die gastehuis toe dit gebeur nie en die wag is weer by die gastehuis afgelaai, maar dit het my skielik teruggeneem na my aanvanklike trauma asof dit daardie dag gebeur het.”

“Ek kon my so goed voorstel hoe die wag moes voel en die trauma wat nog op hom gewag het. My wêreld het aan skerwe gespat. Hierdie keer het ek meer beradingsessies gehad en dit voel nou vir die eerste keer asof ek die uitwerking van die kaping oorwin het en ’n streep daardeur kan trek.”

Praktiese wenke

  • Vergewe jouself. Dalk het jy ’n ongeluk veroorsaak,bedrog gepleeg, in die tronk beland … Jy gaan nie genesing ervaar voor jy jouself nie vergewe het nie.
  • Omring jou met positiewe mense. Soms is ondersteuningsgroepe ’n redding, soms trek dit jou verder af. Jy moet besluit of dit vir jou werk. As jy gedurig met mense omgaan wat “Ag, siestog” en jou vertel van ander in jou situasie se smart en ellende, gaan jy sukkel om positief te voel. Negatiewe gesprekke pak net houtjies op jou selfbejammeringsvuurtjie.
  • Onthou, optimisme is ’n aangeleerde vaardigheid, nie ’n persoonlikheid waarmee jy gesëen is nie. Lees na oor die onderwerp en werk daaraan.
  • Moenie in die strik trap en ’n slagoffermentaliteit van magteloosheid en hulpeloosheid kweek nie. Werk elke dag daaraan om iets goeds vir jouself te doen en daadwerklik jou pyn te verwerk.
  • Leer uit jou foute. Wanneer jy ’n terugslag of trauma reg hanteer, kom jy sterker anderkant uit. Terapie gaan jou bemagtig sodat jy volgende keer emosionele pyn beter verwerk. As jy uit jou foute leer, gaan jy dit nie weer herhaal nie. Beskou dit as ’n geleentheid vir groei en nie net trauma nie. Dis ook belangrik om jouself nie te straf vir die fout nie. Erken jy het ’n fout gemaak en kyk hoe jy dit ’n volgende keer kan voorkom.
  • Moenie dat jou trauma jou definieer nie. Soms word daardie een oomblik van trauma die lens waardeur jy jouself vir ewig sien. Daardie teleurstelling of oortreding word dan die kern van jou identiteit. Tree terug en kyk eerder wat is die sterk punte wat voorheen deel van jou identiteit was en werk daaraan om dit te ontwikkel sodat jy kan groei. Sien dit as ’n vurk in die pad en ’n nuwe hoofstuk waarin jy jouself moet herontdek en herdefineer.
  • Fokus op wat jy kan beheer en nie op wat buite jou beheer is nie. Wat gebeur het, het gebeur. Jy kan dit nie verander nie. Word stil en leef bewustelik, eerder as om soos ’n blaar op die rivier meegesleur te word. Dink elke dag wat jy kan doen om jou situasie te verbeter. Kuier saam met vriende, bederf jouself, kry ’n stokperdjie …
  • Help ander. Uit studies het dit geblyk dat as jy ander mense in nood begin help, voel jy beter oor jou eie probleme. Daar is soveel organisasies wat hulp soek en waar jy ’n bydrae kan lewer. Dit kan ook uiters bevredigend wees om met diere te werk. Trauma kan jou isoleer en hierdie is ’n ideale manier om jou wêreld te vergroot en te besef dat jy ander se trauma kan verlig.

* Wenke verskaf deur Lesley-Ann Pedlar, sielkundige en leierskapkenner.

Lees ook: My manier om trauma te verwerk

Nuwe begin na hartseer

Skryf ’n nuwe hoofstuk

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.