kategorieë: Leef gesondGesondheid

Het jy te véél yster? Dis dodelik!

Het jy te véél yster? Dis dodelik!  Deur Salomé Delport. Hierdie artikel het oorspronklik in die Maart 2008-uitgawe van rooi rose verskyn. Onthou om altyd jou dokter te spreek sodat jy die korrekte behandeling kry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Het jy te véél yster? Dis dodelik!

’n Ystertekort? Ja, toets daarvoor, want elke tweede vrou ly daaraan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ysteroorlading? Nee wat, dis ’n skaars genetiese toestand.

Dis presies wat dokters by ons mediese skole tot onlangs geleer is. Maar toe stel dr. Maritha Kotze en haar medewerkers vas dat vele Suid-Afrikaners ’n genetiese draer is van die gene wat ysteroorlading, oftewel hemochromatose, veroorsaak.

Omdat dokters oor die algemeen onbewus is van hierdie verwikkeling, word dié maklik behandelbare toestand dikwels verkeerd gediagnoseer en behandel. Gevolglik kan een uit elke 115 van ons hemochromatose ontwikkel.

Dit sluit drie van die algemeenste siektes in Suid-Afrika in – onverklaarbare diabetes, artritis en hartprobleme.

Lyers is ook kenmerkend moeg, nog een van die algemeenste klagtes waarmee dokters te doen kry.

Gelukkig kan jy jou risiko laat bepaal en ’n plan maak … en terselfdertyd jou bloedfamilie help.

Lees ook: Wat jy moet weet oor ystertekort

Het jy hemochromatose?

Tot in jou dertigerjare sal jy nie weet nie, sê dr. Melissa Yssel, ’n Johannesburgse patoloog en ’n hemochromatoselyer.

“Ek was net ontsettend moeg, maar moegheid het soveel oorsake dat ’n genetiese basis nie eens by my opgekom het nie. Ek was aan die spesialiseer en oorwerktheid was ’n veel meer voor die handliggende oorsaak.”

Wat gebeur, is dat jou geenfout veroorsaak dat die meganisme wat beheer hoeveel yster jou liggaam uit jou dieet opneem, nie werk nie. Dus neem jou liggaam alle yster in jou dieet op – veel meer as wat jy benodig of normaalweg kan verloor.

Die ekstra yster word in jou organe gedeponeer. Tot op dertig, veertig kan jou organe die oormaat op ’n manier hanteer – daarom dat jy nie van die begin af ernstig siek is nie.

Organisasies soos die Canadian Hemochromatosis Society gee ’n lys van ‘n rits vroeë tekens.

Opvallend vreemde simptome sluit in spesifiek pyn in die litte van die wys- en middelvinger, ‘n permanente brons sonbruinvel en buikpyn, regs net onder die ribbetjies. By die see raak klein skrapies maklik etterige seerplekke, want lyers is baie vatbaar vir Vibrio vulnificus, ‘n organisme wat in seewater leef.

Die ander simptome is vaag soos episodes van diarree sonder oorsaak, liggaamshare wat onverklaarbaar uitval, ereksieprobleme by mans op ‘n redelike jong ouderdom, ‘n lae libido by mans en vroue, buierigheid en ligte geheueverlies.

Lees ook: Die oorsake van lae libido onder mans

Lees ook: Wat jy moet weet oor erektiele disfunksie

En dan moegheid, intense moegheid.

Dis alles simptome wat aan enige van ’n groot verskeidenheid ander oorsake toegeskryf kan word – of net aan veroudering. Boonop is hulle minder ernstig en nie die soort goed waarmee jy noodwendig die dokter pla nie. En as jy dokter toe gaan, toets hy jou moontlik vir ’n ystertekort omdat die vroeë simptome van oorlading en ’n tekort baie ooreenstem. Omdat die spreekkamer-hemoglobientoets (die vingerprik-bloedtoets) vanselfsprekend wys jou ystervlakke is goed, lei hy af alles is reg … al is dit inderdaad ver anderkant erg verby.

Wanneer jou organe ysterversadig raak, verhewig die simptome. Die gewrigpyne slaan oor in artritis en jig omdat yster op jou gewrigte neerslaan. Die lewer raak ernstig beskadig en die buikpyn raak ’n teken van sirrose.

Lees ook: Wat jy kan doen oor inflammasie

Die ysterlading in jou pankreas veroorsaak eers insulienweerstandigheid en kort voor lank diabetes. Senuskade lei vermoedelik tot onbeheerbare Parkinsonagtige bewe-bewegings, geheueprobleme en selfs moontlik tot Alzheimersiekte.

Lees ook: Is diabetes jou voorland?

Hoe sal jy weet?

Die sleutelleidraad is “onverklaarbaar”.

As jy weet jy leef gesond en jy “verdien” nie jou kwale vanweë jou leefstyl nie, of as jy sonder goeie rede sukkel met die genoemde simptome, kan jy gerus hemochromatose as oorsaak ondersoek.

’n Tweede leidraad is jou familiegeskiedenis. Melissa se oupa en sy broer en suster is aan orgaanversaking oorlede – méér as wat toeval kan verklaar. Gesels met jou dokter as jou bloedfamilie aan een van hierdie toestande ly of jonk daaraan oorlede is.

Lees ook: Is jy gereed vir jou gene? Wat jy moet weet oor genetiese toetse

Wat om te doen oor hoë ystervlakke

Hemochromatose is ’n goeie-nuus-siekte, want dis maklik om op te spoor en te voorkom, en as jy dit ontwikkel, kan dit hééltemal suksesvol en goedkoop beheer word. Al wat jy moet doen is:

  • Ysterstudies
    Vra jou dokter of ’n patologiepraktyk vir hierdie reeks toetse wat jou ystervlakke, ferritienvlakke in jou lewer en persentasie ystersaturasie in die bloed insluit. Die toetse kos sowat R80 elk.
  • Skenk bloed
    As dit bo bepaalde vlakke is, is die terapie doodeenvoudig gereelde bloedskenking (in Suid-Afrika gratis by enige bloedoortappingsdiens). Aan die begin sal jy dalk elke week bloed skenk tot jou ystervlakke normaal is, en daarna elke drie maande.
  • Monitor
    Laat jou dokter jou bloedystervlakke sesmaandeliks of jaarliks monitor.
  • Toets jou bloedfamilie
    Laat die ysterprofiel van jou ouers, broers, susters en kinders bepaal om lyers op te spoor en te behandel.
  • Oorweeg genetiese toetsing
    Dit is ten opsigte van jouself dalk net interessant, maar vir jonger bloedfamilie is dit belangrik omdat dit die enigste manier is om vas te stel of hulle ’n geenpaar dra en hulle van jongs af opgepas en gemonitor moet word.
  • Eet versigtig
    Al is bloedskenking jou beste terapie, maak dit tog sin om ysterryke kos te beperk. Onthou, baie van hierdie kossoorte bevat hope ander vitamiene wat jy benodig. Eet dus alles, net nie te veel van die ysterryker voedselsoorte nie. Dis wel belangrik om nié vitamien C en ysterryke kos te kombineer nie, omdat dit die opname van yster aanhelp. As jy vleis eet, moenie ’n glas lemoensap daarmee saamdrink nie. ’n Koppie tee of glas melk is beter keuses, want hulle belemmer ysteropname. Of maak jou hamburger van laevetvleis en maak dit gaar in die oond of vlambraai dit, sit kaas by en drink ’n melkskommel daarmee saam. Terloops, koejawelsap is ryk aan albei – en nié goed vir jou nie.

Lees ook: Wat elke vrou oor hartsiekte moet weet

Hoë ystervlakke en jou dieet

Minder potjiekos, meer tee en ander dieetwenke …

Jou liggaam se enigste ysterbron is jou dieet. Jy moet dus yster-arm eet. Hier is die Canadian Hemochromatosis Society se wenke.

Belemmer ysteropname so:

  • Drink tee saam met jou etes
  • Eet baie suiwel soos kaas, melk, jogurt en sjokolade (binne perke!), asook okkerneute, appels en orego
  • Neem ’n kalsiumaanvulling en ’n goeie antioksidant
  • Die skil en doppe van swartdruiwe en pruime is ook goed

Verminder ysterinname so:

  • Sny op rooivleis (skaap en bees) wildsvleis, kalkoen, niertjies, lewer, biltong en droëwors
  • Vermy rosyne, semel-ontbytpappe en hawermout
  • Sny op peulplante soos boontjies en geblikte sousbone
  • Vermy tofoe
  • Moenie te gereeld potjiekos eet nie omdat die potyster in die kos inloog
  • Vermy ysterverrykte kos soos sekere ontbytpappe
  • Kyk aanvullers goed deur en kies dié sonder yster (soms genoem ferritien of ferrous of ferro- ).

Dis goed vir jou:

  • Sjokolade … omdat die kalsium daarin ysteropame belemmer en die antioksidante die oormaat yster help stabiliseer. Maar dit beteken steeds net ’n blokkie hier en daar …

Dis sleg vir jou:

  • Soesji, sasjimi en skulpvis soos oesters, perlemoen en mossels … omdat hulle dikwels Vibrio vulnificus dra, ’n kiem waarvoor mense met ysteroorlading baie vatbaar is. Dit veroorsaak erge diarree en velblase. Jy mag skulpvis nie eens met jou kaal hande hanteer nie, want as jy ’n stukkende plek het en die kiem beland in jou bloedstroom, kan jy fatale toksiese skok opdoen.

‘Ek het hemochromatose’

Toe dr. Melissa Yssel op 28 kla sy is doodmoeg was uitputting die logiese antwoord.

“Hoe dan nou anders as jy besig is om te spesialiseer en dag en nag werk en leer? Almal het gereken ek het net ’n bietjie meer rus nodig. Maar ek het gewéét dis nie ’n kwessie van slaap nie. Ek was tot in my beendere moeg. Meer rus het niks gehelp nie. Ek is van internis na internis, sonder ’n oplossing. Die derde een het my glad na ’n sielkundige verwys.

Per toeval is ek hospitaal toe vir ’n operasie. Omdat ek onverwags geweldig gebloei het, is my bloedystervlakke ontleed. Toe dit baie hoog is, het almal gereken die laboratorium het ’n fout gemaak, en ons het weer bloed ingestuur.

Maar, helaas, dit was nie ’n fout nie – en dis hoe ons vasgestel het ek ly aan hemochromatose.

Gelukkig het ek nog nie skade opgedoen nie.

Dis so interessant hoe ons familieprentjie soos ’n legkaart inmekaarpas: My oupa, sy broer en een suster is aan orgaanversaking oorlede, wat ons nou weet weens hemochromatose moes gewees het.

My pa is ook ’n lyer – hy is juis gediagnoseer ná my diagnose. My ma is ’n draer, soos my een sussie, terwyl my ander sus ’n saamgestelde draer van twee van die tipiese genetiese defekte is.

Dis nou tien jaar later, en dit gaan só goed met my. Ek het genoeg energie om voltyds te werk, ’n klein kookskool – ons kook Mediterreens – te bedryf, piouterwerk te doen en bonsaiboompies te kweek.

Al wat ek doen, is om kwartaalliks bloed te skenk, koejawelsap en vitamien C-aanvullers te vermy, en klein porsies rooivleis te eet – wat in elk geval vir almal ’n gesonde keuse is.”

Lees ook: Haal die angel uit artritis

Foto: Pixabay

Die simptome van te veel yster

Het jy die tekens van hemachromatose?

  • Moegheid
  • ’n Vergrote, dikwels pynlike lewer
  • Maagkrampe, by baie lyers spesifiek regs bo net onder die ribbekas
  • Pyne in jou gewrigte, spesifiek in die litte van jou wys- en middelvinger, en dikwels ook in die knieë en skouers
  • Chroniese moegheid
  • Insulienweerstandigheid en later diabetes
  • Hartprobleme, spesifiek kongestiewe hartversaking, ’n onreëlmatige hartklop en perikarditis
  • Lae libido
  • Mans sukkel om ’n ereksie te kry en die testes krimp
  • Vroue sukkel met onreëlmatige menstruasiesiklusse en spontane vroeë menopouse
  • Infertiliteit
  • Verbronsing – die vel kry ’n sonverbruinde kleur
  • Doofheid
  • Diskinesie, of onbeheerbare bewegings byna soos Parkinsonsiekte
  • Onverklaarbare lae kalsiumvlakke
  • Liggaamshare val uit
  • Depressie en buierigheid

Belangrik

Onthou om altyd jou dokter te spreek vir ’n korrekte diagnose en behandeling.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.