kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Hoe om beter met jou lewensmaat te kommunikeer

Hoe om beter met jou lewensmaat te kommunikeer deur Anet Schoeman. Foto’s: Unsplash

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Praat met my …”

Gelukkig is ons nie meer op die planeet van “Men are from Mars, Women are from Venus” nie. Byna ’n kwarteeu terug het skrywer John Grey mans en vroue in twee kampe gejaag om die verskille in ons gedrag te verduidelik.

Die nuwe benadering is om jou persoonlikheid en liefdestaal te verstaan om kommunikasie te verbeter. Dis nou à la Gary Chapman se boek The Five Love Languages.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Jou liefdestaal is die manier waarop jy jou liefde vir jou maat wys, en dit is ’n kombinasie van jou agtergrond en persoonlikheid,” verduidelik sielkundige en berader Lesley-Anne Pedlar. “Dit het ook ’n invloed op hoe jy met jou geliefde kommunikeer en konflik hanteer.”

Hoewel daar nie vaste reëls is nie, verduidelik Lesley dat mans en vroue oor die algemeen anders kommunikeer omdat mans in ons kultuur grootword met die fokus op probleemoplossing.

“Mans luister met die oogmerk om die probleem te identifiseer en ’n oplossing te kry. Vroue gesels omdat hulle graag met iemand wil praat. By hulle gaan dit meer oor die proses en vertelling as om werklik ’n oplossing te kry.

“Dit kring ook wyer uit omdat daar gewoonlik van mans by die werk verwag word om probleme op te los. As hy by die huis kom, doen hy dieselfde, want dis hoe hy gekondisioneer is om te dink.”

Colleen Lightbody, ’n leierskapmentor en eienaar van Brainwise Coaching and Learning Systems, stem saam dat heelwat faktore kommunikasie kan beïnvloed, maar dat die biologiese rolle ’n groot rol speel.

“In ons samelewing word mans nie geleer om hul emosies te verwoord nie. Hulle het dikwels nie eens die woordeskat om te verduidelik hoe hulle voel nie, en word as ongevoelig en koud beskou as hulle nie emosie wys nie.”

Hier is ses dinge waarop jy bedag moet wees:

1. Introvert frustreer ekstrovert

“Teenoorgesteldes trek mekaar aan, maar dit kan tot misverstande lei as tekens verkeerd gelees word,” sê Lesley.

“As jou metgesel ’n introvert is en ná ’n dag by die werk stilstuipe het en jy babbel opgewonde, vertolk jy sy stilswye as negatief. ‘Is hy vies vir my?’ ‘Stel hy nie meer in my belang nie?’

“Jy sien voor jou geestesoog die grafskrif vir die verhouding of huwelik, en hy is salig onbewus van die probleem en net bly om ná ’n lang dag van praat by die werk weer rustig en stil te wees.”

Dit lei tot misverstande wat sonder grondige redes die doodskoot vir ’n verhouding kan wees.

Lees ook: Kommunikeer beter met jou kollegas

2. Jy kan niemand dwing om probleme te bespreek nie

Jy pak die kwessie verkeerd aan as jy iemand wil dwing om oor ’n probleem te gesels wanneer hulle nie gereed is nie, sê Colleen.

“As jy iemand dwing om iets te bespreek skep jy spanning. Dit verhoog die vlakke van die streshormoon kortisol, sowel as adrenalien, wat die simpatiese senuweestelsel in die liggaam aktiveer en ’n swetterjoel fisiologiese gevolge het. Jou spiere word dadelik met ekstra glukose en bloed oorlaai om jou reg te maak vir die oeroue veg-of- vlug-reaksie. Jou are vernou en jou hart klop vinniger om die bloed gouer by jou spiere te kry.”

Nou het jy ’n geliefde wat reg is om jou teen ’n aanval van ’n mammoet te verdedig maar allermins toegerus is om helder te dink en probleme en emosies op ’n kalm en konstruktiewe wyse te bespreek.

Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?

3. Linkerbrein, regterbrein?

“Tradisioneel gebruik mans eerder hul linkerbrein – wat gefokus is op logiese, rasionele denke en sistematiese probleemoplossing – om probleme op te los,” sê Colleen.

“Vroue is geneig om meer op hul regterbrein staat te maak waar intuïsie ’n rol speel en die geheelbeeld eerder as individuele dele belangrik is. Mans is meer geneig om tot aksie oor te gaan om die probleem op te los. Vroue kyk die kat eers uit die boom en pluis dinge stadig uit.”

“Albei benaderings is nodig vir probleemoplossing, maar dit kan konflik skep as paartjies nie die verskille respekteer nie.

“Onthou, kommunikasie is ’n spansport. Die oplossing lê nie in wie reg en wie verkeerd is nie, maar daarin dat julle daaroor kan gesels en tot ’n vergelyk kan kom,” verduidelik Lesley.

Lees ook: Verbeter die kommunikasie tussen jy en jou kind

4. Jonger geslag is openhartiger

“Heelwat jonger mans van in die twintig, dertig, kom gesels met my oor hul beroep en/of verhoudings,” sê Lesley.

“Hulle is baie openhartig oor hul probleme en soek gouer hulp as mans van veertig en vyftig.

“Die een probleem wat ek wel by die jonger geslag opmerk, is dat hulle nie altyd genoeg tyd maak vir gehalte-kommunikasie nie. Hoewel tegnologie kommunikasie makliker maak, is dit noodsaaklik om mekaar in die oë te kyk. Persoonlike kontak raak ’n ander aspek van die verhouding.”

Lees ook: Ons pad met outisme

5. Wees eerlik

“Eerlikheid is een van die hoekstene vir ’n suksesvolle verhouding,” sê Jonell Bester, ’n berader en psigometris by MyPlayers, ’n organisasie vir Suid-Afrikaanse rugbyspelers.

“As julle vir mekaar dinge wegsteek, gaan dit jou iewers aan die hakskeen byt. Soms wanneer ’n man ’n probleem het, wil hy sy vrou die bekommernis spaar, maar in ’n verhouding kan julle net sterk staan as julle saamstaan. Egskeidings kan vermy word as paartjies openlik kommunikeer, maar soms is een party te trots om hul gevoelens te deel as hulle voel dat hulle gefaal het.”

Maar onthou, dit help nie jy vra jou lewensmaat moet eerlik wees as jy nie die waarheid wil hoor nie.

“Jou reaksie gaan bepaal of hy volgende keer sy eerlike mening gaan gee. Vroue is meer geneig om emosioneel te reageer en in trane uit te bars. Jy moet bereid wees om kritiek te aanvaar. Klein verskille wat jy met ’n noodleuentjie verdoesel, kan vir jou onbenullig voel, maar hoe julle kleiner probleme oplos, gaan bepaal hoe suksesvol julle groot krisisse hanteer,” waarsku Jonell.

Lees ook: Hoe om respek te kweek

6. Hoe soek jy ’n terapeut?

Soms is professionele hulp nodig.

Maar dis noodsaaklik dat iemand eers erken dat hy ’n probleem het en bereid is om hulp te soek. Daarsonder gaan daar nie vordering wees nie. Dis belangrik dat die persoon van die terapeut hou.

Vra jou huisdokter, want sy ken jou en kan makliker die regte terapeut aanbeveel.

Google andersins “Family therapist” en die omgewing waar jy woon en kyk wat jy kry. As julle mekaar nie ná die eerste sessie vind nie, soek ’n ander terapeut.

Of kontak Famsa by www.famsa.org.za, Lifeline by 011 715 2000, 082 231 0805 of www.lifeline.co.za om ’n sentrum in jou omgewing te kry.

(Lees The Five Love Languages deur Gary Chapman en besoek www.rooirose.co.za vir inligting oor ’n app wat met ’n vraelysie verduidelik wat jy en jou geliefde se liefdestaal is en wat jy kan doen om jou maat in sy liefdestaal aan te spreek.)

Lees ook: Vir nog goeie verhoudingraad, klik hier

Meer inligting by:

• Colleen Lightbody: www.brainwise.co
• Lesley-Anne Pedlar: www.beyondsuccess.co.za

Kry kommunikasie reg – 5 dinge wat jy moet weet

  1. Wees bedag op mekaar se behoeftes ná werk en gun mekaar tyd om ná die dag te herstel.
    As jy die ekstrovert is, wil jy dalk ’n klas by die gim bywoon waar jy gesels en energieke musiek hoor, terwyl hy (die introvert) liewer alleen wil gaan hardloop, of die koerant rustig wil sit en lees.
    Daarna is julle gereed om saam gehaltetyd deur te bring.
  2. Vroue kan oorsensitief wees en ’n man se stilswye persoonlik maak.
    Pleks van persoonlike boodskappe in sy stilswye te lees, verstaan dat hy bloot nie lus is om te gesels nie. Dis nie oor jou nie, dis net hoe hy voel.
  3. Verduidelik hoekom jy iets met hom bespreek.
    “Ek het ’n oplossing vir my probleem by die werk nodig,” of “Ek is so ontsteld oor wat vandag gebeur het, ek het ’n klankbord nodig.”
    Gee vir hom duidelike riglyne oor wat jy van sy reaksie verwag. In die eerste geval soek jy ’n oplossing vir ’n probleem, in die tweede geval soek jy ondersteuning en probeer jy sin maak van ’n situasie deur daaroor te gesels.
  4. Kyk of jy ’n patroon kan identifiseer as julle gedurig misverstande het.
    Probeer kyk wat aanleiding gee tot die konflik en probeer dit vermy.
  5. Ja, mans hoor dit die eerste keer.
    Om elke keer daaroor te kla gaan niks verander nie.

7 dinge wat jy moet weet oor die bespreking van probleme

  1. Almal ken die skaakmatsituasie wanneer een ongelukkig lyk, maar niks sê nie en ontken dat iets skort.
    Soms is dit makliker om ’n gesprek oor ’n veilige onderwerp te begin wat dan die deur oopmaak vir ’n dieper, emosionele gesprek.
  2. Die taal wat ons gebruik, speel ’n groot rol in konflikhantering.
    Dink eerder wat jou aandeel in die probleem is as om iemand te blameer oor wat hy verkeerd gedoen het.
  3. Besef dat mans ook buie het.
    Soms het hy net ’n drukkie nodig om die spanning ná ’n lang dag te verlig.
  4. Doen iets saam wat nie konfrontasie tot gevolg het nie.
    Gaan stap en gesels oor alledaagse onderwerpe tot die situasie reg is om oor ’n probleem uit te vra.
    Jonell se ervaring is dat mense makliker oor hul probleme gesels nadat hulle fisiek aktief was. Moenie gaan stap met die opdrag dat julle dinge nou gaan uitpluis nie. As jy iemand in ’n drukgang plaas, gaan jy nie ’n eerlike gesprek hê nie, of net meer konflik veroorsaak.
  5. Emosionele uitbarstings maak jou maat senuweeagtig en gespanne.
    Sê jy is te ontsteld om nou daaroor te praat. Wag tot jy kalm is voor jy die kwessie aanroer.
  6. Moenie hom uit die bloute met ’n emosionele kwessie konfronteer waarvoor jy ’n oplossing verwag nie.
    Gee hom tyd om daaroor na te dink. Verduidelik wat jou probleem is: “Ek hou nie daarvan dat jy my voor vriende oordonder nie.” Vra of julle die volgende dag daaroor kan gesels. Dan is die kans ook beter dat julle dit sonder opgehoopte emosies kan bespreek.
  7. Dit help om probleme neer te skryf.
    “Soms kry jy perspektief deur dit te verwoord,” sê Jonell.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.