kategorieë: ReisOntspanning

Hou groen vakansie

Die begrippe “eko-”, “omgewingsvriendelik” en “groen” word dikwels betekenisloos rondgestrooi. Hoe “eko” kan ’n sewester-eko-lodge in die middel van ’n sensitiewe stuk oerwoud, met elke denkbare luukse, genoeg personeel om gaste hand en voet te bedien en reusagtige 4×4’s om hulle rond te ry, nou eintlik wees?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Om op ’n ekologies verantwoordelike manier vakansie te hou beteken om natuurlike bronne te bewaar of te beskerm, om plaaslike gemeenskappe en hul ekonomie te ondersteun; om ’n positiewe impak te maak op die plek wat jy besoek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Daar is baie vakansieplekke in ons land wat verantwoordelike en volhoubare vakansiehou moontlik maak. Trouens, soms kan die wins uit toerisme help om skaars of bedreigde spesies en habitat te bewaar en verdienstelike projekte te finansier. Maar jy moet jou navorsing doen voordat jy daardie lywige akkommodasie-deposito betaal omdat daar nie ’n gevestigde, uitgebreide graderingstelsel vir die omgewingsvriendelikheid van vakansieplekke in Suid-Afrika bestaan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wanneer jy begin rondbel om te hoor van tariewe en beskikbaarheid, kan jy sommer ook vasstel hoe groen die akkommodasie is wat jy oorweeg. Jy kan begin deur te sê dat jy graag ondernemings wil ondersteun wat omgewingsbewus is en volgens beginsels van volhoubare toerisme bestuur word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hier is ’n klompie vrae wat jy kan stel

  • Is julle omgewingsbewus?
  • Gebruik julle son- of windkrag?
  • Gebruik julle jul gryswater?
  • Oes julle reënwater?
  • Gebruik julle plaaslike produkte, dienste en arbeid?
  • Hersikleer julle plastiek, papier, metaal en so meer?
  • Maak julle jul eie kompos?
  • (As dit ’n plek is wat kos bedien) gee julle dalk afvalkos aan benadeeldes?
  • Kweek julle organiese groente?
  • Wat doen julle om inheemse plante, diere, voëls, vis, insekte of die biodiversiteit van die omgewing te beskerm?

Natuurlik gaan ’n mens skaars ’n plek in die land kry wat tien uit tien vir die lysie vrae gaan kry. Maar dit kan jou help besluit.

Dan is daar jou eie gewoontes. Dis blykbaar ’n wêreldwye verskynsel dat mense hul groen maniere by die huis los sodra hulle met vakansie gaan. Hulle los ligte aan in bad- en hotelkamers, stort lank, tap diep baddens vol water en koop water in plastiekbottels en wegneemkos in massiewe hoeveelhede weggooihouers asof daar geen môre is nie. In die proses genereer hulle baie meer koolstof as by die huis.

Hier is 25 goed om in gedagte te hou

1. As jy vrae oor volhoubaarheid vra voordat jy bespreek, doen jy reeds ’n deeltjie wanneer jy die sakemense in die gasvryheidsbedryf daarvan bewus maak dat hulle hul groen sokkies moet optrek.

2. Hoe eenvoudiger jou verblyfplek, hoe kleiner sal sy koolstofvoetspoor wees. Soek ’n plek wat luuksheid met verantwoordelike toerisme kombineer.

3. Probeer die beplanning en bespreking papierloos doen. Koop jou bus- of vliegkaartjie oor die Internet en skryf die nommers neer wat jy nodig het. Kaarte van die Internet kan op die agterkant van reeds gebruikte papier uitgedruk word.

4. Pak lig. As jy jou hele kos- en klerekas én badkamer inpak, sal meer brandstof nodig wees om jou daar te kry. Die geheim lê in deeglike beplanning.

5. Voor jy vertrek: Trek kragproppe uit van toestelle wat nie gebruik gaan word nie – geisers, TV-stelle, rekenaars, laaiers, mikrogolfoonde …

6. Neem jou eie waterbottel saam, en dalk ook jou filterbeker.

7. Neem jou eie plastiekhouers saam om by kitskosplekke te vra dat jou kos nie in weggooihouers verpak word nie. (Vra is vry!)

8. Neem klam jammerlappies in plastieksakkies of -bakkies saam, pleks van weggooilappies.

9. Neem inkopiesakke saam vir alles wat jy gaan koop.

10. Onthou jou herlaaibare batterye se laaier.

11. Ondersteun die plaaslike ekonomie en koop plaaslike, vars produkte; ook by mense wat nog tradisionele handwerk doen. Hoe jammer sal dit nie wees as daar eendag geen eg Suid-Afrikaanse mandjiewerk, kralewerk of handgekerfde beeldjies is nie.

12. Ons weet almal ’n mens is veronderstel om niks behalwe foto’s te neem nie en niks behalwe voetspore agter te laat nie, maar het jy al daaraan gedink om die plek wat jy besoek het, in ’n beter toestand agter te laat as wat jy dit gekry het? Om ander mense se gemors op te tel en weg te dra?

13. Voor jy hope goed in ’n asblik gooi, stel vas of jy papier, plastiek en organiese afval moet skei. Dalk is daar geen munisipale vullisverwydering nie, of dalk moet jou kombuisafval op ’n komposhoop gegooi word.

14. Skakel ligte af.

15. Om jou plek koel te hou: trek gordyne toe en maak vensters gedurende die dag toe, dit verminder bestralingshitte. Skakel lugversorging af of stel so laag moontlik wanneer jy lank uitgaan.

16. Gebruik water spaarsaam.

17. Het jy geweet dat die meeste hotelle elke gas se wasgoed afsonderlik was om ’n deurmekaarspul te vermy? Dit gebruik megaliters water, seep en elektrisiteit. Was liewer jou eie wasgoed.

18. Maak ’n voorstel aan die plek waar jy gebly het. (Wees tog taktvol!)

19. Moenie ivoor, koraal, skilpaddop, ystervarkpenne of selfs klippe koop nie, ook nie plante of diere wat beskerm word nie. Moenie veldblomme pluk nie.

20. In die veld: Bly op die paadjie sodat die veld so min moontlik versteur word. Waar daar geen paadjie is nie, is dit beter om uit te sprei sodat daar nie ’n nuwe voetpad gevorm word nie.

21. As jy in die veld vuur maak: Gebruik ’n kol waar voorheen vuur gemaak is, of kies ’n plek waar niks groei nie, of gebruik ’n stander. Brand net hout wat afgeval het. Maak minstens drie meter rondom jou vuur skoon en kyk ook dat niks bokant jou kan vlamvat nie. Maak jou vuur dood met water of sand voor jy gaan slaap of vertrek.

22. Seep en tandepasta is sleg vir vis en ander waterlewe! Gebruik natuurlike en bio-afbreekbare produkte waar jy kan. Sprinkel jou gebruikte waswater minstens 100 meter van ’n rivier of stroompie af sodat dit stadig deur die grond kan sypel.

23. Deel jou inligting met ander en gee brosjures en kaarte vir iemand wat belang stel, eerder as om dit weg te gooi – dalk wil jou biblioteek dit hê.

24. Doen of skenk iets om te vergoed vir die ekstra koolstof wat jou vakansie gegenereer het, soos om ’n skenking aan Trees for Africa te maak. Of verbind jou tot ’n omgewingsvriendelike projek wanneer jy huis toe gaan.

25. Onthou ’n bietjie: die meerderheid van die aarde se mense gaan nooit met vakansie nie. Minder as 5% het al in ’n vliegtuig gereis. Om vakansie te hou, is ’n voorreg,  moenie dit misbruik deur met hulpbronne te mors nie.

Ry groen

Volg dié wenke om minder brandstof te gebruik en jou motor minder koolstof te laat vrystel.

1. Laat jou motor versien voor jy ver ry. Lugfilters en olie, byvoorbeeld, moet skoon wees.

2. Die minste wat jy moet doen voor jy vertrek, is om die bande teen die regte druk te laat pomp.

3. Moenie aggressief ry, woes wegtrek, teen bulte versnel nie. Versnel stadig en eweredig.

4. Ry in die regte rat. Skakel so gou moontlik oor na ’n laer rat wanneer jy wegtrek, maar moet ook nie die motor teen bulte of om draaie laat voortsukkel in ’n te lae rat nie.

5. Ry teen ’n eweredige spoed.

6. Stadig met die lugversorger – dit gebruik meer brandstof.

7. Jy gebruik minder brandstof as die vensters toe is.

8. Skakel alles wat energie gebruik af voordat jy die motor afskakel, sodoende het hy minder krag (en brandstof) nodig wanneer hy weer aangeskakel word.

9. Parkeer in die skaduwee as jy kan, dan bly die brandstof digter en is die kans van verdamping minder.

10. Moenie die tenk te vol laat maak nie en maak seker die tenk se doppie is stewig toegedraai!

Lees ook: 5 slim truuks met ’n teesakkie

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.