kategorieë: Ons menseBekendes

In gesprek met Pierre van Pletzen

Ons het in die Junie 2017-uitgawe van rooi rose met Pierre van Pletzen gesels oor oudword (of eerder, oor nie oud word nie!) Hy het gulhartig ’n opvolgonderhoud aan ons toegestaan waar ons gesels oor sy vertrek vanuit die sepiewêreld (vir nou) en die veelvuldige opsies wat hom nou in die gesig staar.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Jy het in ’n onlangse onderhoud met rooi rose genoem dat jy nog lank nie klaar is met optredes en vertolkings nie. Het jou onlangse ervaring by 7de Laan jou afgeskrik van optree, of dink jy dit skep ’n geleentheid om alternatiewe opsies te verken?

Nee, ek word nie maklik afgeskrik nie. My ervaring van die afgelope tyd het geen impak op my as akteur of regisseur gemaak nie. Dis my werk en daarmee gaan ek aan. Dit het slegs veroorsaak dat nuwe geleenthede en alternatiewe opsies my kant toe kom – en daaroor is ek uit my vel uit opgewonde!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Noudat jy nie meer die perke van ’n sepie se werksure het nie, voel jy dat dit jou oopstel vir nuwe geleenthede?

Ja! Permanente sepie-werk hou jou baie gebonde, en jy het nie eintlik beweegruimte om iets anders te doen nie. Wat mense nie besef nie is dat om aan ’n sepie deel te neem van die hardste werk is wat jy in ons bedryf kán doen. Die ure, die aanhoudendheid, die elke liewe dag se woorde leer – dit alles weeg werklik hard op jou wese dag na dag. Nie enige van die ander variasies in die vermaaklikheidsbedryf kom naby aan daardie druk om elke dag nuwe woorde te leer en te act nie. Sodra jy vandag jou, sê maar, 5 tonele klaar opgeneem het, lê daar… raai wat… môre se 5 tonele om te gaan leer. En om nie meer aan dáárdie werksure en druk gebonde te wees nie is vir my op dié stadium ’n geweldige vryheid en dit duisel my kop as ek dink aan die projekte wat nou voorlê.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sal jy weer in ’n sepie wil speel? Of is dit nou deel van die verlede?

O, ek sal beslis weer in ’n sepie wil speel! Ek hou van sepie-werk; dis binne-in ’n ateljee, wat ek verkies, en die dissipline wat daarmee gepaard gaan pas my persoonlikheid. Video, met multi-kamera’s, lê so halfpad tussen teater en film – en dis vir my lekker.

As jy op straat herken moes word vir enige karakter wat jy al vertolk het behalwe vir Oubaas, wie sou dit wees?

Spike, uit Orkney Snork Nie. Mense het my al aangespreek as “Oubaas Spike.” Dis eintlik ’n voorreg om onthou te word vir twee sulke nimlike karakters.

Oubaas is ’n huishoudelike naam. Hy is ook ’n baie spesifieke komiese persoonlikheid wat jy skerp uitgebeeld het. Is jy al ge-typecast en hoe het jy dit probeer teëwerk?

O, ja. Typecasting loop saam met énige akteur, of jy nou ’n Hollywood-ster is of nie. As jy só ’n ster is, besit jy natuurlik baie geld en kan jy agteroor sit en rolle kies om jou veelsydigheid aan te dui. Maar dis nie die geval met ons gewone akteurs nie. Die eerste rol wat jy speel wat ’n impak maak, word gewoonlik as ’n “model” gebruik om jou te typecast en dit vat jou letterlik jare om daardie beeld af te skud. Dieselfde geld vir ’n rol wat jou baie bekend maak. Al hoe jy dit kan teenwerk is die keuse van jou rolle en ook om die karakters wat jy speel so uiteenlopend as moontlik te vertolk.

Jy is bekend vir jou komiese rolle. Wat is die belangrikste eienskap van ’n komiese akteur, en hoe pak mens so rol aan?

Ja, gepraat van type-casting … My eerste 10 jaar van toneelspeel was meestal op die verhoog en toe het ek meerendeels “ernstige” rolle vertolk. En toe kom Orkney [Snork Nie]. En daarna is ek bekend as ’n komiese speler. Maar ja, ek hét sekerlik heelwat “komiese gene” wat in my rondhol, want ek glo beslis jy word daarmee gebore en dat dit nie iets is wat jy sommer kan aanleer nie. Natuurlik moet jy “comic timing” hê, maar verder pak jy dit aan soos enige ander rol, met eerlikheid.

Geniet jy meer ernstige rolle ook?

Natuurlik geniet ek ernstige rolle ook! Omdat ek ’n groot deel van my loopbaan komiese rolle gespeel het, is meer dramatiese rolle dit wat ek op hierdie punt sal verkies. Ek is nie getroud aan die idee om snaaks te wees nie, ook veral nie in my gewone lewe nie (alhoewel ek en Sandra verskriklik baie lag). Dis interessant, ek het in my loopbaan méér vir ernstige rolle nominasies of pryse gewen as vir die komiese goed.

Beplan jy om weer betrokke te raak by regie?

Regie, soos toneelspeel, is in my bloed, ek kán en wíl nie daarmee ophou nie. Jou vraag dui half aan asof daar ’n onderbreking was in my regie-werk, óf dat ek ‘n besluit geneem het om nie meer “betrokke” te raak nie. Dis glad nie die geval nie. Niks wat die afgelope tyd gebeur het, het enigsins ’n emosionele impak op my gemaak dat ek besluit het om so-en-so nie weer te wil doen nie. Ek wil dit net met ander mense, op ander plekke en onder ander omstandighede voortsit.

As jy in enige toneelstuk kon speel, wat sou dit wees en watter karakter sal jy wil vertolk?

Dis ’n interessante  vraag. Ek kén baie dramas en ek het en moes in my lewe báíé daarvan lees, so daar is ’n groot hoop van hulle wat ek graag in sal wil speel of die regie van wil doen. Maar niks spring netso uit die bondel uit nie. Ek is 65, en op hierdie ouderdom is jou keuses beperk. Ek weet ook nie of daar in vandag se dae nog gehore is wat werklike goeie teater wil bywoon nie. Ek weet van ’n senior akteur wat graag Koning Lear wou speel, en toe die geleentheid daarvoor kom, was daar geen bywoning nie. Maar ek sal jou dit sê, dit sal tien teen een ’n ernstige rol bo ’n snaakse rol wees wat ek sal kies. Verkieslik ook iets modern en nuut.

Sal jy graag nog draaiboeke wil skryf? Sou dit verhoog, TV, of ’n film wees?

Ek hou baie van skryf, hetsy vir televisie, verhoog of film. My skryfwerk was meer verhooggerig tot dusver, maar ek het ook al my hand aan televisie en film probeer. As ek so daaroor dink dan reken ek ’n toneelstuk of film sal op hierdie stadium voorrang geniet vir my om nou te skryf.

Dink jy ons sal baat deur amptelike teatergeselskappe te hê?

Ja, ja, ja, ja! Dit is sekerlik een van die grootste tragedies in die Suid-Afrikaanse Teater dat die streeksrade in die negentigs afgeskaf is. Onder één dak, in één gebou word Opera, Ballet, Toneel, Musiek aangebied; dit is absoluut wonderlik en geskoei op die Europese geskiedenis van die Uitvoerende Kunste. Ja, hulle kon die hele sisteem verander het om aan die eise van die nuwe regering en sosiale omstandighede gehoor te gee, by all means, en ek was déél van hierdie oorgangsproses, maar om dit af te stel en toe te maak – dit was ’n swak besluit. ’n Besluit waaronder ons uitvoerende kunste nog jare gaan ly.

Sou jy weer betrokke wou wees in die bestuur van geselskappe en tonele, of verkies jy eerder om op die planke te wees?

Nee, daarby sal ek nie sommer weer betrokke wil wees nie. Ek was vir 14 jaar Hoof van Toneel (eers by SUKOVS en toe by TRUK), en ek reken ek kan opreg sê ek het die T-shirt en sal met gemak verkies dat iemand anders dit sal doen.

Watter tipe films vanuit Suid-Afrika wil jy meer sien?

Enigiets, solank ons net aanhou en aanhou om dit te maak. Ons aantal kykers is min en dit kortwiek die bedryf, maar as ons ’n wye spektrum van stories kan uitbring, sal ek bly wees. Die regering móét meer betrokke raak met befondsing, met ander woorde meer finansies daarstel, ontslae raak van die korrupsie en meer aan die kunste in die algemeen bewillig.

Waarheen sal jy Suid-Afrikaanse teater, film, en TV wil sien beweeg in die volgende paar jaar?

Alle rigtings, met meer hulp van die regering, soos ek bo genoem het. Ek wil ook hê dat ons net moet deeglik kyk na ons skill-levels! Ons móét ons vaardighede ontwikkel en nie verval in ’n mind-set van “ons weet alles” nie. Te veel mense, veral regisseurs en skrywers, word aangestel deur individue wat sélf nie van beter weet nie en dan ly die eindproduk daaronder. Ons houding spesifiek teenoor skrywers in Suid-Afrika is swak: hulle word te min betaal, en tekste word nie genoeg ontwikkel nie. Die houding is een van dat die teks nie eintlik belangrik is nie, dat enige gekrabbel op papier aanvaarbaar is. Ek sien té veel Suid-Afrikaanse films waar ek dink “ek wonder wát hulle geskiet het, die eerste of die tweede draft?’” Dis ’n verskriklike situasie! Hulle moet begin besef dat die teks die éérste en belangrikste stap is tot die sukses van hul films.

Wat is jou vrese rakende Suid-Afrikaanse drama?

‘Skuus, maar ek doen nie vrees nie. Drama is die ontstaan van die Uitvoerende Kunste, toe die eerste storie met liggaamsgebare en taal in oertye vertel is. Dit sal altyd bestaan, in een of ander vorm. Dit kan nie onderdruk word nie. Daarom moet dit voortbestaan en vertak in al die rigtings waarin dit vandag in ons land gebeur. Ek is gelukkig daarmee. Goeie, briljante werk sal vorendag kom, en ook horrible goed. Ek het vertroue in die toekoms daarvan. Dit is weliswaar in ’n dip, en die [Kunste]Feeste is die enigste rêrige hulp met die regering wat skitter in hul afwesigheid, maar …the show will go on.

Watter maatskaplike rol speel drama in Suid-Afrika, volgens jou?

Ek sal hierdie een moet laat oorstaan tot ‘n tyd waarin ek meer ure in ‘n dag het om te antwoord. Behalwe dit: die kunstenaar is nog altyd deur die eeue heen die vooraf-waarskuwing, die rooi lig, die alarm wat voor die tyd afgaan, die megafoon van wat gaan kom. Die gemeenskap moet gehoor gee daaraan, en doen gewoonlik, maar die politici níé, en dan beland hulle in die moeilikheid.

Watter raad sal jy gee vir jong akteurs wat hul loopbane nou begin?

Werk hard, hou áán om jouself op te lei (die Dramaskole gáán jou nie alles leer wat jy móét weet nie want té min lektore het ondervinding van die Bedryf self), hou aan om te wil léér tot aan die einde van jou loopbaan, en wees nederig en eerlik.

Watter akteurs het ’n invloed in jou loopbaan en op jou spel gehad?

Snaaks genoeg, nie te veel nie. Maar ek het die genie, Charles Chaplin, oor en oor gekyk vandat ek ’n klein seuntjie was. Cobus Rossouw, Jack Lemmon, en ander mense hét ’n invloed gehad en dan na-aap jy hulle onbewustelik, en so. Daar was wel ook ’n paar regisseurs wat tegniek by my bevorder het, onder andere die briljante François Swart.

Watter slaggate dink jy trap akteurs te maklik in, en hoe voel jy kan dit vermy word?

Dat hulle dink hulle is alwetend, goed opgelei, die afwesigheid van eerlikheid in hul spel, swak voorbereiding, swak dissipline. Ook geen kennis van die beroep se geskiedenis in die algemeen nie (hulle lees min, of géén, boeke oor Teater nie): vra jy hulle oor Sarah Bernhardt, Laurence Olivier of Elenore Duse dan kyk hulle jou aan asof jy mal is. En hulle verstáán nie eers hoekom dit vir hulle nodig is om van dié mense en ander te wéét nie. Sorry boys an’ girls, you gotta know the pond you’re swimming in. Daar is ook sekere sindrome waarin hulle verval (enige crew van ‘n sepiestel sal dit vir jou uitwys) en dit is die “ek is op die lug,” die “ek is op die voorblad” en die “ek is nou bekend”- sindrome. En hulle dink sodra hierdie drie bereik is wéét hulle als oor toneelspel, tegniek, ensovoorts.

Jy het onlangs die rockgroep, Harrebaarde, begin saam met Frank Opperman, Anton L’Amour en Leon Ecroignard. Was die ervaring van om musikaal op te tree anders as om as akteur op die verhoog te verskyn?

Ah, nóú vra jy my ‘n vraag wat my na aan die hart lê! Ek is só trots op wat ons vier al bereik het die laaste ongeveer 10 weke, en ek is so lief vir hierdie ouens – man, ons gaan nog baie speel en baie mense verras met ons rock-klank. Ons is klaar met opnames vir nou maar Harrebaarde gaan voort. Ons het ‘n bestuurder, Giep van Zyl (báie bekend in teater- en musiekkringe) en ons hoop en glo dat ons live-gigs sal toeneem. Die tweede deel van die vraag: Nee, ek was al baie op die verhoog in al sy vorme en daar is nie veel verskil tussen die twee, musikaal en toneel, nie. Dit kom altyd neer op dieselfde ding: Jy oefen, jy voer dit wat jy geoefen het uit, en jy geniet dit.

Watter Suid-Afrikaanse musiekgroepe geniet jy op die oomblik?

Natuurlik Bittereinder (my seun, Peach, se groep), Black Cat Bones, Donovan Borne, Piet Botha en die lys gaan aan …

Met watter musikant sal jy graag mee ’n liedjie wil speel?

Enigiemand, if they would have me. En Peach, my seun, obviously.

Watter liedjie sou julle speel?

Oe nee, jong, ek luister na té veel musiek om nou een uit te kies! Ek is ‘n Rocker; ek glo ‘n dromstel moet gemoker word. So miskien een van die ouer bands se liedjies, soos die Rolling Stones, Led Zeppelin, Deep Purple, byvoorbeeld, maar daar is so baie om van te kies! En moenie van Blue Man Group vergeet nie!

Is daar enigiets anders op jou “bucket list” wat jy wil aanpak?

Ja! Méér tyd om Bybelstudie te doen! Ek smag daarna en kan nie wag om eendag weer by dit uit te kom nie.

Lees ook ons onlangse gesprek met Pierre van Pletzen hier

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.