Wanneer Tshepo (vertolk deur Johnny Potsanyane) van oorsee af weer in Boskruin aankom, word hy sommer gou-gou by groot storielyne in Diepe Waters (Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET) betrek.
’n Afrigterspos wink, maar gaan hy by Swarts & Swarts aansluit, of gaan Gys (Justin Strydom) sy arm draai om sy talente en insig met Die Swartmarlyne-swemmers te deel?
“Daar is niks vervelig nie. Daar is nie ’n deel waar die storie uitgerek of stadig voel nie. Dis high pace en dit hou ’n mens nogal op jou tone,” vertel Johnny (23).
“’n Mens moet weet wat volgende gebeur, want daar is nou soveel intriges wat inmekaar weef. Dis baie cool,” voeg hy by.
Kripties. Maar as ’n gesoute inwoner van Boskruin self opgewonde raak oor die storielyne wat kom, kan ’n mens nie help om in sy opwinding te deel nie. Hy was immers vir drie jaar van die begin af deel van Diepe Waters.

Boonop is dinge ’n bietjie stram tussen Tshepo en Juvan (Christiaan Ackermann), wat nou met sy eksmeisie Nina (Reze-Tiana Viljoen) uitgaan.
“Ek was verskriklik opgewonde om almal weer te sien. Dit is soos ou vriende wat jy ’n jaar laas gesien het,” verduidelik Johnny.
Ja, dit was ongeveer ’n jaar sedert hy die laaste keer op die Diepe Waters-stel was. Dit was vir Johnny veral lekker om Stiaan Bruwer (wat sy aanneem-pa, Henry, speel), Stephanie Baartman (Lettie) en Justin weer te sien.
Johnny het ook onlangs as Bongi Buthelezi in die Showmax-reeks Reënboogrant verskyn, en dit met mede-akteurs soos Deon Coetzee (Frans), Chartyn van Heerden (Danie) en Xander Venter (Marco).
“Ek het al tevore met eintlik al die nuwe akteurs in Diepe Waters gewerk. So dit is lekker om hulle in ander karakters in ’n nuwe omgewing te sien,” vertel Johnny.
Hyself, nes sy karakter, het ook verander en gegroei.
“As akteur voel ek meer gegrond noudat ek ouer is. Ek het op ander stelle gewerk, en kon die dinge wat ek daar geleer het, weer terugbring Diepe Waters toe,” sê Johnny.
“Dit is ook nogal lekker om nie terug te wees in Boskruin as swemmer nie, maar as afrigter. Dit is ’n heeltemal ander ball game. Ek hou daarvan om nou die ander kant van die swemklub te beleef,” lag hy.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

