Deur Maryke Roberts. Foto’s: Verskaf
Die derde Gamka Klassiek-fees word van 5-7 Junie op Prins Albert in die Klein-Karoo gehou. Dis die breinkind van Elna van der Merwe, die bekende Stellenbosse pianis. Haar man, Deon, was op Prins Albert op skool en die gesinsplaas net buite die dorp is steeds in hul besit.

Elna van der Merwe (Foto: Verskaf)
“Dit was nog altyd ons droom om ’n kamermusiekfees in hierdie unieke Karoodorp aan te bied. Die fees vier trots die Afrikaanse kultuur, met Afrikaanse musikante wat hul musiek na die platteland en gemeenskappe van die Karoo bring,” sê sy. Elna is die feesbestuurder en dien ook as artistieke direkteur.
Die twee operasterre wat optree, is Magdalene Minnaar (sopraan en artistieke direkteur van Kaapstad Opera) en William Berger (bariton). Die musikante is Elna van der Merwe (klavier); Malané Hofmeyr-Burger (dwarsfluit); Zanta Hofmeyr (viool); Annien Shaw (viool); Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Susan Mouton (tjello). Die fees se gaskunstenaars (opkomend) is Chloë van Loggerenberg (sopraan) en Ryan Hurst (liriese bariton).
Dis heel gepas dat Magdalene een van die kunstenaars is, want sy was een van die jonger lede van die Pretoria Kinderkoor, en was daar deel van dié musikale familie. Sy het ook daar besef hoe nodig musiek in jong kinders se lewe is.

Magdalene Minnaar (Foto: Jesse Kramer).
Magdaleen is die stigter van Little Maestros: dit is interaktiewe klassieke konserte vir gesinne, waar kinders mag rondbeweeg en vrae vra. Dit het later Clever Classical Kids geword wat as deel van die weeklikse kurrikulum by kleuterskole aangebied word.
Terapeute het al telkemale bevestig dat vroeë musiekblootstelling ongelooflike wêrelde vir kinders open en hoe vroeër dit deel van hul lewe word, hoe vroeër bou daardie band en dit lei tot sosiale- en taalontwikkeling.
Deel van haar rol by Kaapstad Opera is om in die gehore én operasterre van môre te belê. Hoe jonger, hoe beter, en dis hoekom Opera Blocks vir babas en peuters – ’n interaktiewe teaterruimte waar ouers en kinders opera op ’n nuwe manier kan ervaar – só suksesvol is.
Gamka Klassiek word aangebied in samewerking met Prince Albert Community Trust (PACT), ’n plaaslike organisasie wat daarop gemik is om jongmense se potensiaal te ontsluit. Hul visie is om die gemeenskap van Prins Albert te ontwikkel en transformeer deur ’n verskeidenheid programme en platforms te skep vir voorheen benadeelde individue: dit geskied deur onderrig, opheffing, kulturele onderneming en die kweek van leierskap onder kinders en jongmense.
Die Gamka Klassiek skop Vrydagoggend om 09:00 af met ’n leesprogram, toneel en boektrommel saam met die Vriende van Afrikaans (VVA) wat deel van die ATKV is, by PACT Youth Centre (Voorskools).
Om 12:00 word ’n kinderkonsert vir plaaslike laerskoolkinders gehou.
Laatmiddag is daar ’n langtafelfees om 16:00 om die verrigtinge amptelik te open, voor almal om 19:00 na die openingskonsert “Afrikaans My Hart” in die NG kerk gaan.
Saterdagoggend is daar ’n fietswedren, almal kan die markie op die dorp besoek, voor die rieldansergroep, die Prins Albert Vastrappers, in die straat voor die markie optree en die middagete konsert “Fluit en Strykers” in die Swartberg Hotel gehou word. Malané Hofmeyr-Burger (dwarsfluit); Zanta Hofmeyr (viool); Annien Shaw (viool); Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Susan Mouton (tjello) sal daar optree.
- Annien Shaw
- Malané Hofmeyr-Burger
Die ATKV-galakonsert “Opera-gunstelinge” word Saterdagaand in die NG kerk gehou. Hier sal William Berger en Magdalene Minnaar; en Chloë van Loggerenberg en Ryan Hurst duette en solo’s saam met die musikante lewer.
- William Berger
- Ryan Hurst
- Chloe Loggenberg
Sondagoggend is daar ’n erediens in die kerk om 09:30 en om 11:30 word die naweek se fees met die “Koffiekonsert” in The Showroom-teater met die Take Four Piano Quartet (Zanta Hofmeyr op viool, Jeanne-Louise Moolman op altviool, Susan Mouton op tjello en Elna van der Merwe op klavier, afgesluit.

Magdalene Minnaar beantwoord ’n paar vrae:
Jy het by die Pretoria-kinderkoor ’n “musikale familie” en die gevoel van behoort ervaar. Hoe kan ’n inisiatief soos Gamka Klassiek help om dieselfde gevoel van verbintenis te kweek by kinders op Prins Albert wat dalk geïsoleerd voel?
Vir kinders om saam te sing, dans en lewendige musiek te beleef, is meer as net dít wat in die oomblik ervaar word. Hulle gaan saam as ’n groep emosies ervaar wat hulle dalk nie in hul gewone huislike omstandighede sal voel nie. Die klanke en kleure van die musiek dring hul lyfies binne en bly daar as meer as net herinneringe – dit word vir ewig deel van hul musikale palet. Musiek is ook helend – om op die mat met toe ogies te lê, kan soms baie ontspannend wees, en ons het al die ongelooflikste stories gehoor wanneer kinders ná die tyd gevra word wat hulle “gesien” het.
Met jou ervaring by Little Maestros en Clever Classical Kids, waar kinders mag rondbeweeg en vrae vra, waarom is dit juis vir kinders uit armer gemeenskappe belangrik dat klassieke musiek nie as “styf” of “eksklusief” aangebied word nie?
Ek glo dat alle kinders tot klassieke musiek toegang moet hê – kinders leer ook deur nuuskierigheid, beweging en deelname. Veral vir kinders wat nie gereeld toegang het tot hierdie wêreld nie, is dit belangrik dat die ervaring warm en uitnodigend voel, eerder as formeel of intimiderend. Sodra ’n kind voel “hier is plek vir my”, verander alles. Vir kinders wat dalk geïsoleerd voel, kan so ’n ervaring daardie gevoel van gemeenskap, veiligheid en trots skep.

Watter spesifieke voordele sien jy vir kinders wat in uitdagende sosio-ekonomiese omstandighede grootword wanneer hulle vroeg reeds met klassieke klanke in aanraking kom?
Musiek help ongelooflik baie met luistervaardighede, taalontwikkeling, konsentrasie en emosionele verwerking. Vir kinders in moeilike omstandighede kan dit ook ’n vorm van stabiliteit en uitdrukking wees. Klassieke musiek stel kinders bloot aan kompleksiteit, emosie en skoonheid – en ek dink dit voed die verbeelding op ’n baie diep vlak.
Gamka Klassiek werk saam met die Prince Albert Community Trust (PACT) om potensiaal te ontsluit. Hoe dien klassieke musiek as ’n voertuig vir die “opheffing en kulturele onderneming” wat PACT vir die jeug van die dorp beoog?
Klassieke musiek leer dissipline, samewerking, fyn luister en selfvertroue – vaardighede wat ’n mens baie verder as die verhoog kan gebruik. Maar dit bied ook blootstelling aan nuwe moontlikhede – ons sien al hoe meer kinders wat in verhoogbestuur, kostuums en die produksie-kant van teater belangstel. Dit wys vir jongmense dat hul stories, talente en stemme waarde het. In daardie sin kan musiek beslis deel wees van opheffing en kulturele groei binne ’n gemeenskap.
As artistieke direkteur van Kaapstad Opera praat jy oor belegging in die “gehore en operasterre van môre”. Glo jy daar skuil onontdekte operatalent in ons plattelandse gemeenskappe wat bloot op ’n geleentheid soos die kinderkonsert wag om geaktiveer te word?
Absoluut. Suid-Afrika het ongelooflike talent, en baie daarvan word nooit ontdek nie, omdat daar nie toegang is nie, of min blootstelling. Ek glo daar is kinders daarbuite met besondere musikale vermoëns wat dalk net een ervaring nodig het om iets wakker te maak – ’n konsert, ’n stem, ’n instrument, ’n gevoel van inspirasie.

Opera Blocks is baie suksesvol vir babas en peuters. Hoe pas jy die benadering aan om die plaaslike laerskoolkinders tydens die Gamka-kinderkonsert op so ’n manier te boei dat die musiek vir hulle toeganklik en relevant voel?
Met kinders moet ’n mens altyd by storievertelling en ervaring begin. Ons probeer musiek iets maak wat lewendig en onmiddellik voel – nie iets onverstaanbaar of “ernstig” nie. Dit beteken interaksie, baie humor, beweging en verduideliking. Sodra kinders emosioneel betrokke voel, raak die musiek toeganklik, ongeag die styl of genre.
Die fees vier Afrikaanse kultuur en musikante. Hoe belangrik is dit dat kinders op die platteland sien dat klassieke musiek en opera ook tuis is in hul eie taal en binne hul eie gemeenskappe, eerder as iets wat net in groot stede gebeur?
Kinders moet hulself in die kunste kan herken – in hul taal, hul stories en hul gemeenskappe. Wanneer klassieke musiek net met groot stede of Europese ruimtes geassosieer word, voel dit verwyderd. Maar wanneer dit in Afrikaans, of binne ’n plaaslike konteks gebeur, besef kinders: “Hierdie wêreld behoort ook aan my.”
Meer inligting oor die naweek by https://gamka-klassiek.co.za of stuur ’n e-pos na info@gamka-klassiek.co.za
Lees ook: Die gravin is op pad na die Goudstad!





