Deur Karlien Meiring. Foto’s: Verskaf.
Ná die eerste paar episodes van Een keer om die son se tweede seisoen is dit duidelik dat hierdie omwenteling kykers net so diep soos die eerste raak. Te midde van spanningsvolle oomblikke, komplekse familiedinamika en moeilike keuses, is dit veral die jongste Van Wyk, Sophia, wat stil-stil ’n blywende indruk maak. Die rol word deur die 12-jarige Klara van Zyl vertolk.

Vir Klara was dit ’n besonderse oomblik toe sy hoor sy keer terug vir die tweede seisoen. “Ek was verskriklik opgewonde om weer die kans te kry om met hierdie fantastiese akteurspan te kan speel en by hulle te kan leer,” vertel sy.
Klara is tans ’n graad 7-leerder aan Laerskool Eversdal in Durbanville, en dit maak haar ervaring op stel nóg meer spesiaal dat van haar skoolmaats ook as ekstras in die reeks te sien is.
Sedert die eerste seisoen het sy merkbaar as jong aktrise gegroei. “Ek het geleer dat goeie beplanning en voorbereiding baie belangrik is,” sê sy oor een van die grootste lesse wat sy uit die eerste seisoen saamgeneem het.
“Ek was so gelukkig om verskriklik baie by die hele akteurspan te kon leer,” vertel sy.

Klara se toneelspelreis het begin toe sy tydens ’n laerskoolmonoloogkompetisie die oog van die gesoute aktrise Vinette Ebrahim gevang het. Vinette was ’n beoordelaar en het Klara en haar ouers aangemoedig om so gou as moontlik vir haar ’n agent te kry. Sedertdien was Klara ook in die Showmax-reeks Trompoppie te sien.
Wanneer sy oor die ooreenkomste tussen haar en Sophia praat, is familie ’n groot raakpunt. “Ek is nes Sophia ook baie lief vir my familie, en ons albei hou daarvan om kreatief te wees,” sê sy. Tog verskil hulle ook. “Ek is nie so ’n ywerige entrepreneur soos Sophia nie!”
In die tweede seisoen kry Sophia ’n meer uitgesproke, selfs bietjie sassy kant, iets wat Klara besonders geniet het om te speel. “Dit was vir my so lekker om bietjie sassy te kan wees sonder om in die moeilikheid te kom!” sê sy.
Klein Sophia bly steeds vasbeslote om haar ma, Lani, se nagedagtenis lewendig te hou, en kykers wonder of sy gereed sal wees om iemand nuut in haar pa se lewe te aanvaar. As Klara haar karakter raad vir die res van die seisoen kon gee, sou dit eenvoudig wees: “Ek sou vir Sophia sê dat alles oukei gaan wees en dat sy die grootmensprobleme vir die grootmense kan los.”
Tussen die emosionele tonele was daar ook ligter oomblikke op stel. Een van haar gunstelingherinneringe was toe haar TV-broer (vertolk deur Liam Bosman) sleeptong in die Valentynsdag-episode moes praat, ’n toneel wat groot vermaak op stel veroorsaak het.
Buite verfilming en skool is Klara ’n tipiese 12-jarige met kreatiewe stokperdjies. Sy is mal oor lees, speel klavier en geniet dit om rolskaats te ry. En hoewel sy soms by die skool of in die publiek as Sophia herken word, ervaar sy dit net positief. “Dis so lekker as mense opgewonde is oor Sophia en ek is baie trots om deel te wees van hierdie reeks waaraan almal so hard gewerk het.”
Een keer om die son wys Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.
Lees ook: Jong talent van Bonnievale nou deel van Een keer om die son


