Deur Maryke Roberts, Foto’s: Clifford Roberts en verskaf.
Decorex Kaapstad is die afgelope naweek in die Kaapstad Konferensiesentrum gehou. Dit was ‘n kleurvolle, kreatiewe klomp mense bymekaar – en dis nie net die stalletjiehouers nie. Daar was hope te sien, hoor, drink, ervaar en die 2025-toekennings was beslis ‘n glansgeleentheid.

Die naweek se koue het die lekker gesellige kuiers by Decorex Kaapstad net dié plek gemaak om te wees.
Meer as 300 uitstallers, belanghebbendes, media en handelsgaste het die geleentheid bygewoon.
- Die bont en kleurvolle stalletjie van Sea Point Gallery het menige kunsliefhebber se hart gesteel.
- Erik Rust van Okra kerse hou een van hul gewilde kers-ontwerpe vas. Dié duo, Erik en Michelle, se kerse het elke dag só vinnig uitverkoop, hy moes saans na die stalletjie by Decorex sluit, nog gaan kerse giet!
- Prettige pienk: By John se speelse ontwerpe was baie gewild.
- Mens kon vir ure staan en kyk na die drukker wat pragtige prente teen die muur verf by Wall Flair se stalletjie. Dis ‘n wonderlike alternatief vir plakpapier en die hoë definisie en ryk kleure laat klim amper die prente uit die muur.
- Sailor Tinkerbell is ‘n multi-dissiplinêre kunstenaar en muurkunstenaar. Sy het al meer as 50 muurkunswerke in Kaapstad voltooi en skougangers kon kyk hoe sy tydens Decorex Kaapstad ‘n reuse kunswerk aanpak.
- Die retro en platpak-meubels van daily. was ‘n groot treffer.
- Hulle het vertel dis die land se grootste matras dié en skougangers genooi om te kom lê om te voel hoe gemaklik dit is! Niemand laat hulle twee keer nooi nie…
- Die koue weer buite het mense sommer outomaties langer by die pragtige skaapwol-produkte van Karoo Baba laat vertoef.
Nege toekennings is in agt kategorieë gekies, bepaal deur ‘n onafhanklike paneel van agt beoordelaars, almal bedryfsleiers, opvoeders, ontwerpers en mediapersoonlikhede in eie reg.
Die wenners het handgemaakte trofeë ontvang, wat van plastiekafval herwin en spesiaal vir die geleentheid deur Nuun (@nuun_concept_space) gemaak is. Hierdie innoverende toekennings is oorhandig deur die radiopersoonlikheid en seremoniemeester van die aand, Africa Melane, saam met Decorex Africa se mede-uitvoerende kreatiewe direkteure, Garreth van Niekerk en Alan Hayward.
“Ons is verheug om die uiters hoë kaliber van werk by vanjaar se skou te sien, in die algemeen, en veral in die geval van die wenners, wat aandui in watter mate ons bedryf floreer, nie net hier nie, maar toenemend op die globale verhoog,” het Gareth gesê.
- Beste Algehele Staanplek en Beste in Kombuis & Badkamer: Atelier 33 Bespoke Design
- Beste Dekor & Meubels en Beste in Gasvryheid: Kraak
- Beste Plan & Bou: Zuberi Flooring
- Beste Produkontwerp: Hutch
- Rising Star Naaswenner: Tusk Studio
- Rising Star Wenner: Hungry Mute
- Decorex Kaapstad Ontwerper van die Jaar: Reform Studio
- Atelier 33 Bespoke Design het die Decorex Kaapstad toekenning gekry vir Beste Algehele Staanplek en Beste in Kombuis & Badkamer. Hier staan hulle saam met Garreth van Niekerk (heel links).
- Kraak se stalletjie waar die tafel en stoele met moeder “oorgetrek” is, het vanjaar se Decorex Kaapstad toekenning gekry vir Beste Dekor & Meubels en Beste in Gasvryheid.
Gaste het tydens die vierdag skou in Kaapstad na verskeie sprekers geluister by die Future Talks-verhoog; kosdemonstrasies by die @home Cooking Studio geniet en met glase vonkelwyn na ontwerpe gekyk.
- Skougangers kon lekker kosdemonstrasies by die @home Cooking Studio geniet.
- Deel van die Future Talks, was ‘n gesprek met vroue van Babylonstoren wat kom gesels het oor wat alles in dié pragplaas se bekende tuin gebeur. Gundula Deutschlander het onder meer vertel hoe hulle deur hul aanplantings vir die toekoms beplan; hoe bome en plante plant, jou deel is om te verseker dat daar ‘n groen toekoms is en dat hulle op organiese maniere met peste afreken.
- Decorex Johannesburg word van 24-27 Julie in die Sandton Konferensiesentrum gehou. Van die hoogtepunte daar is die Decorex Joburg Ontwerper van die Jaar Charles O Job; interaktiewe sones soos die Create Café en @home Cooking Studio; die Future Talks program met bedryfsleiers en vele meer.
Lees ook: Kolskoot vir Shiraz!