Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
‘n Groot groep wynmakers, -verkopers en joernaliste is genooi om hul slag met kleiduifskiet te gaan waag.
Internasionale Shirazdag word op 24 Julie gevier, maar Suid-Afrika het ons eie vieringe vir Nasionale Shirazdag op 21 Augustus en dié geleentheid was net die regte voorsmakie van wat kom.
- Riaan Möller (voorsitter van Shiraz SA), Morné Kemp van Laffort (borg), Izele van Blerk (senior wynmaker by KWV The Mentors en seremoniemeester vir die dag) en Andrew de Groot van Fermentis SA (borg).
- Die groepie het van Citrusdal, van Cederberg Wines gery. Van links is Elsabet van Wyk, Thinus Botha en Anzelle Acker.
Die plek waar al die aksie gebeur het, was Lourensford wynlandgoed op Somerset-Wes, waar die Hottentots-Hollandberge, pragtige fynbos en die see wat in die verte wink, waarlik ‘n besonderse dag in die natuur verseker het.
- Die pragtige Lourensford buite Somerset-Wes strek tot aan die hange van die Hottentots-Hollandberge.
- Maryna Calow van Wines of South Africa (WoSA) en Clifford Roberts, joernalis, wag hul beurt af om te skiet.
Almal is met koffie en ‘n muffin ingewag, voor die spanne ingedeel is en toe met wildkykvoertuie na Clay Pigeon Adventures diep op die plaas versteek, vervoer is.
Met droëwors in ‘n oulike padkos-sakkie en koue water om die fokus te behou, kon elkeen sy hand waag aan dié sport. Vincent Botha, vuurwapen-instrukteur, het gehelp om die goeie skut in elkeen te laat ontwaak.
- Droëwors vir padkos hou almal gefokus in die koel wintersluggie.
- Die kleiteëls wat gebruik word in die kleiduifskiet.
- Almal kon hul goeie skietvermoëns met ‘n glas Lourensford Cap Classique vier.
Die wenner van die drie spanne, Côte Rotie, Stellenbosch en Barossa het vir die eerste plek op die podium meegeding en Juandré Bruwer (Diemersdal Wyne), Vernon van der Hoven (Anthonij Rupert Wyne) en Richard Duckitt (Bellingham Wyne) het aangetree vir die finale uitskiet.
Dit was ‘n naelbyt affêre! Richard Duckitt is gekroon as die 2025 Shiraz ShootOut-kampioen en kon toe ‘n spesiale skoot vuur met die sluipskutter-wapen, die Accuracy International AT-X 6.5 CM geweer wat ‘n trefafstand van 500 meter het. Dit klink soos ‘n kanonskoot en die glimlag op Richard se gesig was groot!
- Juandré Bruwer (Diemersdal Wyne) en Vernon van der Hoven (Anthonij Rupert Wyne) het hul man gestaan teen Richard Duckitt van Bellingham, maar moes die aftog blaas.
- Juandré Bruwer (Diemersdal Wyne) en Richard Duckitt (Bellingham) betree die tweede en eerste plekke onderskeidelik. Saam met hulle is Vincent Botha, vuurwapen-instrukteur.
- Richard mag as wenner een skoot gevuur het met hierdie sluipskutter-wapen.
Almal is toe terug vervoer na die beginpunt by Clay Pigeon Adventures, waar heerlike burgers, chips en Shiraz gewag het. Daar was ook ‘n gelukkige trekking en Richard het sy kroon van Izele van Blerk (senior wynmaker by KWV The Mentors en seremoniemeester vir die dag) ontvang.
- Burger, chips en Shiraz – ‘n wenkombinasie.
- Richard is die koning van die skutte vir die dag! By hom staan Izele van Blerk (senior wynmaker by KWV The Mentors en seremoniemeester vir die dag)
Aan die einde van die dag was almal wenners in hul eie reg, want daar was Shiraz in hul glase!
Lees ook:Nuwe eet-ervaring by Paul Clüver Family Wines laat kos en wyn saam pronk