kategorieë: Bekendes

Krabbelkunde

Dis geen lighartige veld nie, help dr. Cecelia Rosa van Graphanex: Institute of Professional Graphology in Johannesburg my reg toe ek haar na krabbels uitvra. Net soos handskrif is krabbels “breintaal” wat jou onbewuste verwoord en baie oor jou innerlike uitlap, sê sy. Dr. Rosa het ’n doktorsgraad in opvoedkundige sielkunde en het daarna opleiding in handskrifontleding gekry en gee ook klas aan die Universiteit van Johannesburg. Kyk gerus na die kommentaar van ons proefkonyne nadat dr. Rosa hul krabbels ontleed het. Almal was verstom oor hoe reg sy was en hoeveel sy uit hul gekrabbel wys geword het. Let wel: sy het nie geweet wie se krabbels sy ontleed nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Krabbels verklap jou bui

Hoewel krabbels minder persoonlikheidseienskappe as handskrif aandui, werk dit op dieselfde basis, want dit bring iets in jou onbewuste na vore. Daar is meer detail in handskrif, wat uiteraard meer inligting oor jou persoonlikheid kan weergee.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Maar krabbels verskaf wel inligting oor jou persoonlikheid, én dit verklap baie van jou bui op daardie spesifieke oomblik. Kenmerke in handskrif bly staties, maar krabbels kan na gelang van jou gemoedstoestand verander. Mense is meer geneig om te krabbel as hulle verveeld of gespanne is omdat dit hulle iets gee om op te konsentreer en hul gedagtes af te lei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Uit studies blyk dit dat ’n gekrabbel studente help om te konsentreer eerder as om in dagdrome te verval. As jy krabbel, hoor jy steeds wat die lektor sê, terwyl jy heeltemal afskakel as jy dagdroom omdat dit belangrike sentra in die brein gebruik. Krabbels gebruik net ruimtelike en visuele prosesse.

Dr. Jackie Andrade van die Universiteit van Plymouth, het bevind dat krabbels een van die beste maniere is om verveling teë te werk en dagdromery te stop. In haar studie moes veertig deelnemers na ’n voorafopgeneemde telefoonoproep van twee en ’n half minute luister en notas maak. Gedurende die oproep is van die helfte van die groep verwag om tien beelde van sterre en sirkels in te kleur. Niemand het geweet dat hulle later ’n geheuetoets gaan doen nie. Die krabbelgroep het agterna die beste onthou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Eie aan jou

Dr. Rosa sê geen twee mense se krabbels sal dieselfde wees nie. Elkeen het unieke krabbels en al teken mense dieselfde soort prentjies, soos sterre of blomme, hang dit baie af van waar op die bladsy jy die krabbel plaas, hoe groot dit in verhouding met die res is en hoeveel drukking jy op die pen uitoefen.

Drukking kan die energie in ’n persoon weergee. Dis ook gewoonlik waar handskrifvervalsers kleitrap.

“Dis vir vervalsers moeilik om drukking eweredig en konstant te hou en dis waar namaaksels ontmasker word,” sê dr. Rosa.

Pasop ook vir voor die voet interpretasies, waarsku sy. Daar is lang lyste verduidelikings van krabbels, maar jy kan hulle nie in isolasie interpreteer nie. Dit hang van ver-skeie faktore af, soos die plek op die bladsy en die grootte van die krabbel. Wanneer daar ander krabbels is, verander dit ook die betekenis van ’n enkele een en dit moet altyd as ’n geheel geïnterpreteer word. Pyle kan ambisie aandui, maar as jy dit teen die ander elemente in die krabbel sien, verander die interpretasie dalk.

Handskrif

“Handskrifontleding berus baie op sielkunde en word algemeen as ’n hulpmiddel in kriminologie en algemene sielkunde gebruik,” sê dr. Rosa.

Baie maatskappye gebruik deesdae handskrifontleding voor hulle mense aanstel. “Sowat 80% van groot maatskappye in Frankryk en Switserland en verskeie groot maatskappye in Amerika soos Boeing, Deloitte & Touche en Peugeot Motors gebruik dit as deel van die keuringsproses vir nuwe aanstellings. In Israel is dit die persoonlikheidstoets wat die meeste gebruik word.”

Jo da Silva
7de Laan-aktrise

Die krabbels dui op ’n begeerte om uiting aan idees te gee, ’n sagmoedige, vertroetelende, ekstroverte geaardheid, ’n liefde vir die natuur, ’n begeerte om deur mooi dinge omring te word en dat familiebande baie belangrik is. Daar is ook ’n romantiese ingesteldheid, ’n goeie selfbeeld en ’n behoefte om sonder beperkings te wees. Maar dit lyk of daar dalk ’n angstigheid of frustrasie op die gebied van die liefde kan wees. Daar’s ook ’n moontlikheid van ’n behoefte aan geborgenheid en om hom/haarself teen seerkry en teleurstelling te beskerm.

Jo se reaksie: Ek was verstom oor die akkuraatheid van die ontleding. Ek is ’n hopelose romantikus met ’n liefde vir die aarde en mooi dinge. My tuiste en klein gesin is my vesting. Wat die vrees vir ’n gebroke hart betref: net iemand wat dit nog nie beleef het nie, sal dit nie vrees nie!

René Kalmer
Marathon-kampioen en lid van die SA Olimpiese span

Dié persoon het ’n positiewe, geesdriftige uitkyk op die lewe en is vriendelik, gesellig, sentimenteel en deernisvol. Hy/sy toon sterk ambisie en is baie doelgerig, hoewel aanpasbaar, en toon ’n groot behoefte om te groei en te ontwikkel. Daar kan ’n teësinnigheid wees om hom/haarself te bemark (nederig). Die persoon is onafhanklik en ’n goeie organiseerder met ’n goed ontwikkelde vaardigheid om te fokus en te konsentreer, maar kan geneig wees om te dagdroom. Ten tye van die krabbel was daar heelwat innerlike spanning en dit wil lyk of daar ’n begeerte is om vry daarvan te wees.

René se reaksie Ek kan nie glo hoe akkuraat die ontleding is nie. Ek het vir seker ’n love life-ingesteldheid. Ek is mal oor ’n avontuur en nie bang om op my eie te ontdek nie. Dis juis wat ek die meeste van my hardloop geniet: dat ek die wêreld vol kan toer en soveel dinge beleef. Hardloop het my ook van jongs af geleer om onafhanklik te wees – dit is geneig om mense af te skrik.

Ek is doelgerig en baie aanpasbaar danksy die sport. Ek is in ’n mate georganiseerd en wil alles beplan, maar my administrasie is maar droewig. Op die oomblik is daar vir seker senuwees wat knaag, want die naweek is dit die Twee Oseane-halfmarathon, volgende naweek is dit die SA Atletiekkampioenskap en ek is aan die einde van April ’n pasaangeër in die London Marathon.


Helen Zille

Ek weet nie of hierdie werklik ’n “krabbel” is nie, omdat dit meer lyk soos iemand wat sy gedagtes in snelskrif neergeskryf het. Krabbels is onbewustelike eerder as berekende optrede. Al wat ek van die persoonlikheid kan agterkom uit wat op die papier gegee is, is dat dit ’n sistematiese, versigtige, sorgsame en pligsgetroue mens is. Uit die handskrif sien ek onafhanklikheid, doelgerigtheid, goeie waarnemingsvermoë, ’n behoefte aan ruimte en dalk ’n klein mate van isolasie.

Helen se reaksie Dit is definitief ’n raak beskrywing van my persoonlikheid. Ek het eintlik in snelskrif geskryf, so dit was streng gesproke nie ’n krabbel nie, maar ek is nie juis ’n krabbel-mens nie.

Gerhard Steyn
Sanger

Die persoon het ’n veeleisende persoonlikheid met baie dryfkrag en energie. Hy dink op ’n logiese, konstruktiewe manier, is georganiseerd, bekwaam en toegewyd. Hy het ’n oog vir detail en kan baie ingewikkelde situasies redelik maklik hanteer. Hy het baie opgekropte energie, kan onverdraagsaam, koppig, intens en soms ongeduldig en geïrriteerd wees. Sy ambisie en aspirasies kan aggressief wees, omdat hy ’n kompulsiewe behoefte aan bevordering en ontwikkeling het. Hy is mededingend en het ’n behoefte om te wen. Hy het baie selfvertroue, het ’n behoefte aan ruimte en hou nie van beperkings nie. Hy is ’n ekstrovert en hou van aandag.

Gerhard se reaksie Die analise is baie korrek. Tog sien hy hom as ’n introvert sowel as ’n ekstrovert – hy is ook gelukkig wanneer hy alleen is. Hy is nie so seker dat hy van aandag hou nie.



Sjef Reuben Riffel

Hoewel die persoon ’n vriendelike, gesellige en sensitiewe geaardheid het, is hy ook baie prakties en ’n logiese denker met ’n wakker verstand. Hy/sy is metodies en gee nie gou moed op nie. Aan die ander kant is daar ’n groot behoefte aan vrede, gemak en mate-riële sekuriteit – waaroor daar ’n effense angstigheid is.

Reuben se reaksie Dis interessant hoe in die kol die ontleding is. Ek is miskien nie meer as ander op finansies gefokus nie, maar ek is wel op my medemens ingestel. Ek dagdroom ook baie.

Dis waar die krabbels vandaan kom. Interpreteer jou krabbels.

Onthou dat jy krabbels nie in isolasie kan interpreteer nie en dat vele faktore in ag geneem moet word. Hierdie lys kom van die Britse grafologiese webwerf: www.britishgraphology.org

Gesigte:

  • Die uitdrukking op ’n krabbel se gesig is goeie aanduiding van jou bui.
  • Mooi, netjies getekende gesig: jy sien die mooi in ander.
  • Grillerige skets van ’n lelike gesig: jy vertrou mense nie maklik nie.
  • Kinderlike krabbels: jy wil graag die middelpunt van belangstelling wees.
  • Profiele wat na links kyk: jy’s ’n introvert. skaakbord

Blomme:

  • Sagte, ronde blare om ’n ronde kern: inskiklik en gesinsgerig. Ook warm, sagmoedig en deernisvol.
  • Die kern is rond, maar die blare skerp: jy steek ’n sagte hart agter verdedigende prikkelbaarheid weg.
  • ’n Bos vrolike blomme: jy’s sosiaal, maar as die blomme se koppe hang, rem bekommernisse jou af.

Ingewikkelde patrone:
Obsessiewe geaardheid wat nie van ambisies of geliefdes afstand kan doen nie. Gewoonlik ’n ekstrovert met goeie administratiewe vaardighede en bestuurstalente.

Trappe of leer:
Ambisieus en bereid om jou “pad boontoe” te werk. Jy’t ’n langtermyndoelwit, of dit dui op ’n geestelike verryking soos ’n strewe om gelukkiger te wees.

Pyle:
Dit dui op doelgerigtheid en ’n spesifieke doelwit. Skerp, hoekige pyl: die doelwit is waarskynlik iets soos ’n nuwe werk waarvoor jy aansoek doen, of ’n situasie wat jy by die werk moet hanteer.

Sagter en voller versierings:
Die doelwit kan met ’n hartsbegeerte te doen hê, of iets waaroor jy hartstogtelik voel.

Enige vorm van vervoer:
Jy wil aan ’n situasie ontsnap, of jy het ’n behoefte om vordering te maak.

Huis:
Behoefte aan geborgenheid. ’n Netjiese skets dui op ’n gelukkige tuiste, ’n slordiger skets (veral sonder vensters) dui op ongelukkige huislike omstandighede.

Spinnerak:
Jy voel vasgevang, of jy wil iemand anders in ’n verhouding of situasie betrek.

Name en voorletters:

Jy wil die middelpunt van aandag wees. Tieners krabbel soms net hul eie naam of voorletters sonder die van, wat kan aandui dat hulle van die gesin wil wegbreek en hul eie ding wil doen. Iemand anders se name: jy dink aan hulle. Dit kan romanties wees, of omdat hulle ’n probleem skep.

Sterre:
Jy’s ambisieus. ’n Klomp klein sterretjies dui op optimisme, en een groot, versierde ster sê jy het ’n spesifieke doel voor oë.

Boksies en vierkante:
Jy wil in beheer van ’n situasie wees, of jy is besig om ’n probleem te deurdink. As jou vierkant ’n kubus word, is jy gewoonlik ’n baie doeltreffende, analitiese mens wat moeilike situasies sonder probleme kan hanteer.

Sigsag patrone:
Patrone wat uit vloeiende lyne bestaan, dui op ’n romantiese, vroulike benadering en reguit lyne op meer aggressiewe, manlike eienskappe. Dit dui ook op energieke denke en ’n begeerte om dinge af te handel.

Stokfigure:
Algemeen onder hoogs suksesvolle mense. Jy’s in be-heer van jou emosies en geweldig gefokus op jou doelwitte.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.